• No results found

PRAKTIESE TEOLOGIE EN DIE NARRATIEWE BENADERING

’N PRAKTIES-TEOLOGIESE VERKENNINGSTOG

4.3 PRAKTIESE TEOLOGIE: ’N PAD DEUR ’N WOUD?

4.3.5 PRAKTIESE TEOLOGIE EN DIE NARRATIEWE BENADERING

Daar is volgens Ganzevoort (2012:214) ten minste drie dimensies in narratiewe benaderings te vind. Die eerste dimensie maak gebruik van narratiewe vorme soos gevind in praktiese bediening en religieuse kommunikasie, soos prediking en pastorale sorg. Die tweede behels empiriese analise en dekonstruksie van religieuse subjektiwiteit wat inherent narratief is. Die derde bemagtig gemarginaliseerde stemme deur ’n gehoor te skep vir hulle verhale. Hierdie drie dimensies is vervleg, wat dit onmoontlik maak om ’n eenvoudige beskrywing van narratiewe benaderings te bied. Die primêre fokus van ’n narratiewe benadering is egter mense se uitdrukking van hulle ervarings van die lewe (White 1997:elektroniese bron) waardeur hulle vorm gee aan hulle lewe en hulle lewe organiseer (Hauerwas & Jones 1989:2). Dit gaan hier oor kontekstuele ervaringe wat ’n narratiewe vorm aanneem (Müller 1996:3). Hauerwas en Jones (1998:2) vat die tese van die narratiewe teologie as volg saam:

Narratives function to sustain the particular moral identity of a religious (or secular) community by rehearsing its history and traditional meanings, as these are portrayed in Scripture and other sources. Narrative shape and sustain the ethos of the community. Through our participation in such a community, the narratives also function to give shape to our moral characters, which in turn deeply affect the way we interpret or construe the world and events and thus effect what we determine to be appropriate action as members of the community.

Die narratiewe benadering dra by tot ’n beter verstaan van die konsep van kommunikatiewe handelinge sowel as dié van phronẽsis. Dit bring ’n inklusiewe denkraamwerk mee vir die nuttige gebruik van informasieteorie; krisisteorie; spelteorie; algemene kommunikasieteorie en die algemene sisteemteorie (Müller 1996:4). Die

narratief dien dus as ’n “way of knowing” (Dreyer 2003:313) en bied die taal waarmee persoonlike identiteit gespesifiseer word (Thiemann 1989:320). Dit gaan dus oor ’n samehang tussen verlede, hede en toekoms. Dít is waarmee die verhalende navorser werk en nie met objektiewe waarhede nie.

Taal speel ‘n sentrale rol in die konstruksie van die gespreksgenoot se sosiale realiteit. Ricoeur (Dreyer 2003:325) onderskei tussen die “sense of the narrative” en die “referent of the narrative”. Die “sense” verwys na die immanente betekenis van die narratief as die interne sisteem van kodes en reëls wat te doen het met die taalkundige betekenis van begrippe. Die assosiasies wat gepaard gaan met die gebruik van taal is ook hierby ingesluit. ’n Narratief het ook ‘n “referent” wat dui op die betekenisse in die narratief wat terugverwys na die verlede en vorentoe projekteer op die toekoms (Dreyer 2003:325).

Die sosiaal-gekonstrueerde orde waarbinne die mens ”… think and move and have our being” (Vanhoozer 2003:13) word aangedui deur taal. Probleme ontwikkel wanneer mense die sosiale gesprekke wat hulle inperk toelaat om hulle te beperk tot ’n ”… narrow description of self” (Freedman & Combs 1996:48). Elke taalwêreld ontwikkel ‘n eie woordeskat en die taalgrense van elke wêreld moet gerespekteer word. Bird (2000:xii) gebruik die term “living respect” en sê: ”It is within this environment of living respect that we can direct our hearts and minds towards an engagement with the complexities of people’s lived experience”.

Volgens Landman (2010:elektroniese bron) dui die hermeneutiek op die mens se betrokkenheid by sy/haar wêreld soos gekenmerk deur persoonlike singewing waardeur gebeure of verhoudinge ’n persoonlike betekenis kry. Die hermeneutiese perspektief sien alle menslike taalsisteme, insluitende teologie, as pogings om die misterie van wat buite menslike verstaan lê te penetreer en sin te maak daarvan (Gerkin 1984:19). Die sentrale doel van narratiewe terapie is juis om die gespreksgenoot van die probleemgevulde beskrywings van sy/haar lewe en verhoudings te skei (White & Epston 1990:39). Hierdie skeiding vind plaas in die vorm van eksternalisering sodat die probleem as die probleem gesien word en nie die mens nie. Sodoende word ’n nuwe verstaan en alternatiewe weë vir die konstruering van sosiale rolle en verhoudings gefasiliteer (Muntgli 2004:138). Die daarstelling van alternatiewe verhale wat sodoende geskied, dien om hoop te bied vir iemand wat hom-/haarself in ’n vasgeloopte verhaal

bevind. In die narratiewe benadering val die klem daarom op aksie en nie op die probleem nie. Die eie lewenstorie verkry sin in intersaksie met die stories van ander.

Hierdie verhale speel ’n belangrike rol in die pastorale proses. Dit gaan in die narratiewe pastoraat primêr oor die gesprek oor God in aansluiting by die wyse waarop God binne die geloofstradisie in verhale, simbole, rites en gebruike verwoord word (Ganzevoort & Visser 2007:219). Die doel daarvan is die “… onder woorden brengen wat ons te boven gaat aan vreugde en verdriet met behulp van beeldende en verhalende taal vanuit de Schrift en de geloofstraditie om vorm en rigting geven aan ons leven” (Ganzevoort & Visser 2007:219). Die Evangelieverhaal kan uiteindelik ’n impak op die geïnterpreteerde menslike realiteit hê sodat die verhaal van die gespreksgenoot oopgebreek kan word vir herinterpretasie en transformasie (Gerkin 1986:68). Die volgende belangrike afleiding oor die ontstaan van die postmoderne narratiewe posisie word deur Gergen (1991:108) gemaak:

If texts do not derive their persuasive power from “the ways things are”, but from textual maneuvers, then attention must be directed to the “world as represented”. The rhetorical techniques of representation, of con- structing the world, have a critical and often unwitting impact on social life. Our understandings become subject to the maneuverings of metaphor, narrative form, plain talk, irony and the like.

Daar kan dus nie sprake wees van absolute feitelike gegewens nie. Woorde het daarom ’n relatiewe betekenis tot die taalsisteem waarin dit funksioneer. Dekonstruksie dien dan om na versteekte betekenisse van tekste te kyk en nuwe moontlikhede in die vorm van alternatiewe verhale beskikbaar te stel (Dill & Kotzé 1997:21). Die idee om te soek na verborge betekenis (dekonstruksie) kom van die werk van Jacques Derrida (Derrida 1997:100) en Michael Foucault (Foucault 1988:1). Derrida wou in sy dekonstruksie die tradisie wat die Westerse denke gedomineer het, en wat die “roots of understanding” (Kotzé & Kotzé 1997:37) vorm, ongedaan maak en terselfdertyd van die gereedskap van hierdie tradisies gebruik maak. Hoe inligting ingewin word deur middel van die proses van dekonstruksie aan die hand van die dekonstruktiewe luister vir unieke uitkomste, eksternalisering en die ontdek van landskappe van aksie en bewustheid, sal in die volgende hoofstuk aan die orde gestel word.

Ek maak in hierdie studie gebruik van die metodologie van induktiewe navorsing deurdat ’n in-diepte bestudering van slegs ’n paar individue deur middel van onderhoud- voering gedoen word. Inligting word dus verkry “uit die materiaal uit” (Heyns & Pieterse 1990:81). Aangesien enige wêreldsiening egter gefiltreer word deur die lense van taal, geslag, sosiale klas, ras en etnisiteit kan die kwalitatiewe navorser gebruik maak van enige strategie asook metodologiese en empiriese materiaal wat beskikbaar is (Denzin & Lincoln 1998:3). Die empiriese dimensie van prakties-teologiese navorsing word daarom vervolgens aan die orde gestel.