• No results found

ONTWIKKELING SELF

3.4 GRADELESING 2: SEKSUELE MISBRUIK

3.4.2 FASES VAN MISBRUIK

Die uniekheid van misbruik is daarin geleë dat die slagoffer dit as traumaties beleef weens die subtiele proses wat dikwels daarmee gepaard gaan (Spies 2006:45). Volgens Coetzer (2009:35-51) en Spies (2006:45-51) volg seksuele misbruik dikwels ’n tipiese fase-orde:

3.4.2.1 Kondisionering

Hierdie fase dui die aanvang van die molesteringsproses aan en kan beskou word as ’n bewustelike en opsetlike strategie om die kind te betrek. Die oortreder trek aanvanklik hierdie kind voor, raak op ’n nie-bedreigende manier aan haar wat dan gevolg word met die betreding van haar grense. Die kondisioneringsproses kan maande of selfs jare duur voordat enige fisiese kontak ’n aanvang neem.

Zoe: Ek was baie lief vir lekkerruikseep en sjokolade en my oupa het altyd vir my gekoop. Hy het gesê dit is omdat ek so soet is en ek mag nie vir my niggies wys nie, want hulle is stout.

Karla: Die ooms wat by my ma gekuier het, of wat van tyd tot tyd saam met haar gebly het, was altyd spesiaal vriendelik met my en het altyd speelgoed aangedra.

Jeanine: My oom het my altyd voorgetrek, daarom was ek baie lief vir hom. Anna: Die pop wás mooi, maar as jy goed gekyk het, sou jy die spot in haar

oë gelees het (Lötter 2004:19).

Die oortreder buit dikwels disfunksionele gesinsverhoudings uit deur die kwesbaarste kind as slagoffer te identifiseer en hierdie kind dan met lekkers, geskenke, vakansies, spesiale voorregte en belonings te oorlaau. Die slagoffer word dus stelselmatig voorberei om toe te gee aan die eise van die oortreder.

3.4.2.2 Fisiese kontak wat oënskynlik gepas voorkom

Sekere speletjies kan met die kind gespeel word waartydens sy gewoond gemaak word aan die fisiese kontak wat net effens verder as die aanvaarbare grense gaan. Fisiese kontak kan dade soos hande vashou, rugmasseer, streel van die kop of drukkies insluit.

Zoe: Wanneer ek in die middag vir my oupa koffie kamer toe gevat het, moes ek by hom op die bed sit, sodat hy oor my rug kon vryf. Dit was lekker, want dit het my lekker warm, veilig en spesiaal laat voel.

Anna: Hy het my gekielie totdat dit gevoel het of die lag al die asem uit my longe druk (Lötter 2004:16)..

Die hoofdoel is fisiese en psigiese binding. Aanraking verhoog die plesier van interpersoonlike binding wat weer betekenis gee aan fisiese kontak. Intieme betrokkenheid en fisiese kontak word vervolgens gekoppel aan liefde. Haar gevoel van ongemak word oorskadu deur die plesier van die koestering wat sy ervaar. Die slagoffer worstel altyd agterna met die selfverwyt dat sy haarself toegelaat het om die oortreder te vertrou. Al het die oortreder nie aan die kind geraak nie, het sy verleidelike gesindheid alreeds ’n reaksie by haar uitgelok.

3.4.2.3 Konkrete seksuele misbruik.

Gedurende hierdie fase sal die oortreder die kind betrek by ontoepaslike seksuele kontak deur die verhouding wat in die voorbereidingsfase opgebou is, te manipuleer. Die molestering kan wissel van betasting tot penetrasie. Gewoonlik raak die misbruik al meer kompleks hoe langer dit voortduur. As die kind dit nie die eerste keer aangemeld het nie, sal die oortreder veiliger plekke vind vir die volgende ontmoetings. Soms gebeur dit dat sy die toenadering weier. Die oortreder verkies dan om nie geweld te gebruik nie, maar eerder te reageer met ’n onskuldige nie-eisende liefde jeens die slagoffer. Dit kan gesien word as ’n manier van omkoop of beloning ter voorbereiding vir die volgende ontmoeting.

3.4.2.4 Handhawing van misbruik en geheimhouding deur dreigemente en voorregte.

Die oortreder se doel tydens hierdie fase is om die seksuel-misbruikende verhouding voort te sit. Hy sal sy mag gebruik om die kind te domineer, om te koop, te dreig of af te pers. Fisiese dreigemente kan verband hou met liggaamlike leed, gemik op die slagoffer self of iemand na aan haar. Psigologiese dreigemente is ewe kragtig.

Zoe: My oupa het gesê hy sal tronk toe gaan as ek vir my ouma sê en dan sal daar niemand wees om vir ons te sorg nie.

Karla: Die ooms het gesê niemand sal my glo nie, want my ma kan nie sonder hulle geld oorleef nie.

Jeanine: My oom het gesê hy sal die gebeure ontken en almal sal vir my lag.

Anna: Ek wil jou nie pak gee nie, meisie. Jy moenie weer stout wees nie. Moenie terugpraat nie. Nie met my nie, nie met jou ma nie. Doen wat ek vir jou sê, en alles sal goed gaan (Lötter 2004:37). Dit was ’n dreigement waarmee hy vroeg reeds gekom het: as ek durf waag om my ma te vertel, sou hy ons uit die huis jaag (Lötter 2004:67).

Die vrees wat by die slagoffer geskep word, is genoeg om stilswye te koop. Geheimhouding is die dinamiek in die verhouding wat die slagoffer in ’n staat van vrees en stilswye hou en dra by tot die pyn en onaangenaamheid van die ervaring. Dit is ook ’n sterk bydraende faktor tot latere afwykende gedrag by ’n slagoffer.

3.4.2.5 Openbaarmaking

Slagoffers beleef ’n geweldige ambivalensie wanneer hulle die eerste keer hulle verhaal verbaliseer omdat die woorde hulle herinner aan die storie wat hulle eintlik probeer vergeet (Coetzer 2009:24). Dit is dus belangrik dat sy leer om haar eie stem te kan hoor, te kan sê wat vir haar aanvaarbaar is en wat sy vrees.

Zoe: Ek het net op ’n dag gevoel die geheim raak vir my te groot, en ek het vir my ouma gaan sê. Sy het my geglo en het dadelik die hulp van die maatskaplike werker ingeroep.

Karla: Die tannie by die kleuterskool het gesien dat ek sekere seksuele gedrag toon wat nie by my ouderdom gepas het nie. Sy het die maatskaplike werker gekontak. Ek het vir haar vertel wat met my gebeur omdat ek gevoel het sy gee regtig vir my om.

Jeanine: Ek het dadelik vir my ma gesê wat my oom gedoen het, maar sy wou my nie glo nie. Ek kan dit nog steeds nie hardop vertel nie. Die enigste manier is om die gebeure in my dagboek te skryf en vir tannie te gee om te lees.

Anna: Ma! Hy verkrag my! Omtrent elke nag. Anna, moenie snert praat nie! Ek wil nooit weer hoor dat jy so iets sê nie. Waar dink jy sou ons gewees het sonder hom? Anna is hierna deur haar ma en stiefpa aangerand en vir drie dae in haar kamer toegesluit.

Volgens Doyle (1998:109) word armoede, sosiale isolasie, disfunksionele gesinne en swak ouer-kind-verhoudings met misbruik geassosieer. Die oortreder en die slagoffer vorm dus beide deel van ’n spesifieke omgewing waar die realiteit sosiaal gekonstrueer word. Realiteit verwys hier na ’n “… quality appertaining to phenomena that we recognize as having a being independent of our own volition (we cannot ’wish them away’)” (Berger & Luckman 1966:13).