• No results found

OP DIE SPOOR VAN DIE TEKS VIR HIERDIE NAVORSING

2.3 PROBLEEMSTELLING EN FOKUS

2.6.6 DEELNEMENDE AKSIE NAVORSING

Deelnemende aksie navorsing is ‘n tipiese kwalitatiewe benadering tot data wat impliseer dat daardie gegewens nie gereduseer kan word tot syfers nie (Louw 1999a:565). Kwalitatiewe navorsing maak gebruik van beskrywende data in die

deelnemer se eie geskrewe of gesproke woorde ten einde lig te werp op die navorsingsomgewing. Die navorser kom sodoende meer te wete oor die sosiale praxis van drie adolessente meisies wat misbruik is. Ek en hierdie dogters is saam betrokke in die ko-konstruering van ‘n beter verstaan van onsself, mekaar en die realiteite van ons lewens. Deelnemende tienermeisies se verhale van verlies en gebrek aan hoop na molestering dien as ontginningskonteks vir hierdie studie, en geskied in die wete dat elke mens ’n interpreterende wese is. Kennis van “die ander” stel die navorser in staat om tot ’n indiepte verstaan te kom van diegene met wie sy in ontmoeting tree en juis graag beter wil verstaan. Hierdie modus van kennis gee ’n stem aan ’n spesifieke groep en bring mee dat voorheen verborge lewenservarings en narratiewe na vore gebring word sodat die groep ’n openbare stem kry.

Ek tree as pastorale terapeut by drie verskillende skole in Kroonstad en omgewing op. My drie gespreksgenote kom vanuit verskillende gemeenskappe en kulture, maar is almal skoliere. Daar is etlike onderhoude oor feitlik die hele verloop van die studie met hulle gevoer. Hulle het baie onnatuurlik opgetree as ‘n bandopnemer gebruik is. Die gesprekke is dus met behulp van aantekeninge soos wat die gesprekke plaasvind, neergepen, en daarna is ‘n meer volledige verslag opgestel. Die verbatim aanhalings is neergeskryf soos wat dit nodig gevind is, en word in kursiewe formaat in die studie weergegee. Ten einde hulle vertroue te behou, sowel as om etiese redes, is alle aantekeninge van ons gesprekke aan hulle weergegee. Ongestruktureerde oop einde vrae is aan drie tienerdogters wat gemolesteer is, as medenavorsers in hierdie ontdekkingstog, gevra. Deelnemers het toestemming gegee dat hulle verhale vir hierdie studie gebruik mag word. Ter wille van vertroulikheid en beskerming van hul privaatheid is pseudonieme, soos deur elkeen gekies, gebruik.

Die fokus is op die betrokkenheid en deelname van alle rolspelers in die spesifieke navorsings-projek (Strydom 1998:408). Die gespreksgenote word nie as subjekte gesien nie, maar as mede-deelnemers aan die navorsingsreis (Strydom 1998:410). Om etiese redes is dit belangrik dat die navorser sensitief omgaan met die verhale van haar gespreksgenote, sodat hierdie sensitiwiteit die medereisiger teen die afdwing van die navorser se idees en waardes beskerm (Bird 2000:25). In die proses eksploreer die navorser dus die realiteit van die deelnemende tienerdogter subjektief vanuit laasgenoemde se perspektief (Swinton & Mowat 2006:227). Sy word sodoende aktief

deel van die navorsingsproses. Dit beteken dat, al deel die terapeut nie die wêreld- beskouing van haar gespreksgenoot nie, ontwerp beide kliënt en terapeut ‘n gesamentlike woordeskat vir die terapeutiese gesprek sodat hulle mekaar kan verstaan (Müller 2000:75).

In ’n poging om sin van die lewe te maak, rangskik die mens gebeure in volgorde oor ’n tyd op so ’n wyse dat ’n samehangende weergawe (narratief) van die self en die wêreld om hulle gemaak kan word (White & Epston 1990:10). Die vraag ontstaan egter oor hoe ons vanaf ’n storie as ‘n liniêre ketting van gebeure na ’n storie as ’n simulasie van ‘n baie komplekse interpersoonlike wêreld beweeg (Cupitt 1991:22). Sirkulêre vrae dien hier om weg te beweeg van uitsiglose interpretasies sodat oorgegaan kan word na die politieke vertelling van die verhaal (Müller 2000:75). Die praktyk-teorie-praktyk- benadering van Browning (1991:7) sal gevolg word in die kartering van die deelnemende aksie navorsingsproses waarin literatuur ook ’n rol sal speel.

2.6.7 LITERATUUR

Die navorser wat vanuit die kwalitatiewe navorsingsparadigma werk, maak ook gebruik van literêre bronne aangesien sy haarself moet posisioneer as ’n “multicultural subject” (Fouché & Delport 1998:80). Literatuur word aangebied aan die hand van die metafoor van kartografie, daarom word inligting telkens saamgevat in die vorm van ’n diagram as mikrokaart. ’n Mikrokaart skep die geleentheid om belangrike besonderhede wat ’n groot terrein dek, met een oogopslag waar te neem en sin te maak daarvan. Bestudering van die literêre kennisbron bied die geleentheid om leemtes in navorsing oor die besondere fenomeen uit te lig. Literatuur beklee dus ’n belangrike plek in die navorsing en help om die navorsingsproses te rig. Die idees en navorsing van ander kan ook dien as stimulasie vir verdere navorsing soos aangedui deur Osmer (2008: viii):

Bernard of Chartres used to say that we are dwarfs on the shoulders of giants, so that we can see more than they, and things at greater distance, not by virtue of any sharpness of sight on our part, or any physical distinction, but we are carried high and raised up by their giant size.

Die induktiewe beredenering waarvan hier gebruik gemaak word, bied ‘n essensieel- omvattende en geïntegreerde oorsig van ‘n verskeidenheid van beskikbare bronne. Toepaslike literatuur vir die keuse van die paradigma van postmoderniteit binne die kwalitatiewe navorsingsbenadering sal in die navorsingsproses aan die orde gestel word. Bronne verkry vanaf die internet bied hier ook waardevolle navorsingsmateriaal. Geen bron kan egter alles oor ‘n onderwerp sê nie. Daarom sal deurlopende temas sowel as tekortkomings in die literatuur uitgewys word. Dit is egter belangrik om te meld dat “… the best people to research a given topic are those who have the most experience of it” (Swinton & Mowat 2006:225). In die geval van hierdie studie dui hierdie persone op drie gespreksgenote wie se verhale verbatim aangedui sal word. In die sirkulêre beweging tussen praktyk en teorie soos aangedui deur (Browning 1991:34- 39) word die basis gevind vir die verkryging van inligting van medenavorsers sowel as die literatuur.

Gedigte soos geskryf deur verskillende anonieme persone wat seksueel misbruik is, soos aangehaal vanuit verskeie bronne, sal dien as saambindende skakels in die navorsingsproses. Verdere skakels word gevind in die woorde van my medenavorsers, asook dié van die karakter, Anna, wie se geleefde ervaring van misbruik in die boek Dis Ek, Anna vertel word. Anchien Troskie het haar verhaal deur die karakter van Anna vertel, onder die pseudoniem van Elbie Lötter. Hierdie inligting bied bykomende verheldering van die terrein wat op ‘n gegewe oomblik in die navorsingsproses bestudeer word. Verder is die wortels van die outobiografies gemotiveerde bron “… firmly planted in the whisperings of generations past and the louder memories and stories of childhood” (Bird 2000:vi).