• No results found

DIE STORIE VAN KOÖRDINATE

3.3 GRADELESING 1: ADOLESSENSIE

3.3.3 ADOLESSENTE MENSWEES IN DIE POSTMODERNE ERA

3.3.4.7 Kognitiewe ontwikkeling

Weens toename in die vermoë tot abstrakte denke, word adolessente in staat gestel om mekaar se gedagtes en gevoelens te konseptualiseer. Vriendskappe vereis daarom ’n redelike mate van selfopenbaring wat moontlik gemaak word deur ’n selfverstaan wat ontwikkel vanuit ’n introspektiewe kwaliteit (Cole & Putnam 1992:178). Die kognitiewe element van die mens dui hier op die individu se standpunte, perspektiewe, opvattinge en lewensbeskouinge (Louw 1999a:296). Verder behels dit ook haar gevoel, ervaring, toekomsvisie en kreatiwiteit (Louw 2005:21). Kognitiewe ontwikkeling beïnvloed dus nie net adolessente se skoolprestasies nie, maar alle aspekte van hulle lewens (Louw & Louw 2007:298). Traumatisering affekteer die verstandelike organisering, geheue, identiteitsvorming, emosionele en spirituele ontwikkeling van die kind (Bacon 2001:47). Al drie my gespreksgenote sukkel om te konsentrasie, hulle korttermyngeheue is aangetas en hulle tree impulsief op.

Volgens Piaget (Heaven 2001:19) vind kognitiewe ontwikkeling in vier fases plaas, met die laaste stap die formeel-operasionele fase van kognitiewe ontwikkeling wat begin by kinders tussen die ouderdom van 11 en 12 jaar. Hierdie denkproses stel adolessente in staat om minder in die hede te dink en meer logies en sistematies in die analisering van idees te wees (Seifert & Hoffnung 2000:462). Arnett (Louw & Louw 2007:301) het egter gevind dat Piaget oor-optimisties was ten opsigte van sy voorspellings van adolessente se denkvaardighede. Verdere kritiek teen Piaget se teorie is dat formele operasies so moeilik is dat mense dikwels nie gebruik maak van hierdie denksisteem nie (Heaven 2001:21). Ander is ook van mening dat formeel-operasionele redenering nie wyd

genoeg is om die vele dimensies betrokke by die rypwording van kognitiewe funksionering tydens adolessensie te onderskryf nie (Louw & Louw 2007:302).

Calverley et al (1994:197) het gevind dat die mens se bewussyn, in teenstelling met Piaget se teorie, uit een koherente geheel bestaan wat verdeel is in vele onafhanklike dele. Wanneer die kind in ’n gesonde omgewing ontwikkel, ontstaan daar ’n koördinasie tussen sommige domeine (Calverley et al 1994:197). Hierdie koördinasie is volgens (Calverley et al 1994:197) een van die belangrikste ontwikkelingsprosesse. ’n Kind wat in ’n gesonde omgewing opgroei, ontwikkel ’n positiewe selfagting, erken dat hy/sy ook negatiewe eienskappe besit, maar neig na die positiewe wanneer die self geëvalueer word. Kognisie kan wel opgebreek word in die volgende elemente: abstrakte en analitiese denke, morele ontwikkeling en sosiale kognisie.

i) Abstrakte en analitiese denke

Adolessente dogters is nie net nuuskierig nie, hulle is ook baie kreatief (Olson 2006:144). Die groeiproses kan gesien word in die skuif van konkrete na abstrakte denke by adolessente waar sin gemaak word van simbole en idees. Adolessente wat meer abstrak kan dink, is meer ingestel op die fyner nuanses van kommunikasie en denke (Olson 2006:147). Dit lei tot die vermoë om te onderskei tussen die na-binne- gerigte, sowel as die na buite gerigte kwaliteite wat bydra tot die ontluikende self (Dean 2001:31). Hierdie nuwe vermoë is noodsaaklik vir die ontwikkeling van beide die morele en spirituele lewe, deurdat sy in staat gestel word om nader aan ’n perspektief van God te beweeg (Dean 2001:31).

Zoe: Tannie moet vir my sê wat ek moet doen, ek weet nie. Aan die een kant weet ek ek moenie na die partytjie toe gaan nie, want daar gaan drank wees. Aan die ander kant gaan daar so ’n oulike ou wees. Hy is al twintig, maar dit maak nie regtig vir my saak nie. Jeanine: Ek het in die bus bly sit, want ek was nie lus om saam met die

ander skoolkinders oral rond te loop in die dieretuin nie. Die meisies is so kinderagtig. Ek wil nie met hulle geassosieer word nie.

Kognitiewe selfregulering het te doen met beplanning en besluitneming in die daaglikse lewe. Dit stel ook die mens in staat om vordering te monitor en aksies wat onsuksesvol was, aan te pas (Louw & Louw 2007:307). Adolessente word dikwels oorweldig deur die magdom moontlik-hede waaruit hulle kan kies. Hulle pogings om tussen alternatiewe te kies misluk daarom dikwels, wat lei tot impulsiewe besluitneming en gewoontegerigte handeling. Tieners word meer deur psigososiale faktore, soos emosies en die begeerte om deur ander aanvaar te word, beïnvloed in hulle besluitneming (Louw & Louw 2007:307).

ii) Morele ontwikkeling

Moraliteit behels ’n sensitiwiteit en kennis van wat reg en verkeerd is (Seifert & Hoffnung 2000:467). Waardes speel ’n belangrike rol in die vestiging van identiteit en volwassenheid, en is ’n bepalende faktor in die lewe van elke mens (Louw 1999a:257). Lewenswaardes word deur Erikson gestel as hoop; wil; doelgerigtheid; betroubaarheid; liefde; sorgsaamheid en wysheid (Louw 1999a: 257). Binne ’n pastorale konteks is dit dus belangrik om die rol wat waardes in die ontwikkeling van my gespreksgenote speel na te speur (Louw 1999a:256).

Karla: Ek is ’n lojale vriendin en probeer my bes dat my vriende altyd op my kan staatmaak. My woord is vir my belangrik.

Anna: Aangesien my ma my nie meer saans wou laat uitgaan nie, het ek een Vrydagaand deur die venster geklim sodat ek saam met Helena na die paartie toe kon gaan.

Muslin en Luwes (1993:85) is van mening dat verbintenis, mutualiteit, en sorg sentraal staan in die adolessente dogter se sin vir moraliteit. Dogters sien nie geregtigheid as abstrakte beginsels wat op spesifieke situasies van toepassing is nie. Hulle ontwikkel eerder ’n etiek van sorg, waar beginsels integreer met die konteks waarbinne oordele gevel moet word (Seifert & Hoffnung 2000:473). Hulle besorgdheid ten opsigte van konteks en andere se behoeftes maak konven-sionele morele geregtigheid belangrik waar die mening van die portuurgroep van belang is (Seifert & Hoffnung 2000:473).

Nadat Kohlberg by Piaget oorgeneem het, het sy teorie van morele ontwikkeling navorsing in verskeie lande, insluitende Suid-Afrika gestimuleer (Louw & Louw 2007:343). Kohlberg het egter sy teorie gebaseer op inligting wat hy verkry het uit studies wat net manlike deelnemers ingesluit het. In teenstelling met Kohlberg was ander navorsers van mening dat kognitiewe redenering, persoonlike eienskappe en omstandigheidsfaktore ook morele besluitneming beïnvloed (Louw & Louw 2007:345). Die rol wat emosies, onderrig, die ouerhuis, skool en kulturele ervarings in morele ontwikkeling speel, kan nie buite rekening gelaat word nie (Louw & Louw 2007:345). Die morele onvolwassenheid van my gespreksgenote is nie net gesetel in die feit dat hulle nog besig is om te ontwikkel nie, maar weens die trauma van hulle geleefde ervaring van misbruik.

iii) Sosiale kognisie

Sosiale kognisie verwys na die wyse waarop oor ander mense, sosiale verhoudings en sosiale instellings gedink word (Louw & Louw 2007: 304). Perspektiefneming is een aspek van sosiale kognisie en dui op die vermoë om die gedagtes en gevoelens van ander in ag te neem (Louw & Louw 2007:304). Wedersydse perspektiefneming beteken dat interaksie met ander wedersyds plaasvind waar die besef dat die ander se standpunt van ’n eie siening kan verskil, intree. Vir my gespreksgenote is dit moeilik, omdat hulle behoeftes en standpunte ten opsigte van misbruik nie in ag geneem is tydens die gebeure nie.

Perspektiefneming van sosiale en konvensionele stelsels beteken dat tieners begin besef dat hulle sosiale perspektiewe, asook dié van ander, ook deur hulle rolle in die groter samelewing beïnvloed word (Louw & Louw 2007:304). Adolessente se beskrywing van ander geskied in terme van meer abstrakte persoonlikheidstrekke en op ’n meer georganiseerde wyse as by jong kinders.

Vervolgens word die verskillende adolessente ontwikkelingsfases saamgevat in ’n mikrokaart waarin die belangrikste aspekte van hierdie ontwikkelingsfase in een oggopslag waargeneem kan word.

3.3.4.8 Opsommend