• No results found

Die konteks van makro sosio-kulturele en ekonomiese invloede

ONTWIKKELING SELF

3.4 GRADELESING 2: SEKSUELE MISBRUIK

3.4.3 MISBRUIK AS SOSIAAL-GEKONSTRUEERD

3.4.3.1 Die konteks van makro sosio-kulturele en ekonomiese invloede

i) Sosio-kulturele invloede

Volgens RAPCAN (Resources Aimed at the Prevention of Child Abuse and Neglect) kom verkragting en misbruik in alle klas- en ras kategorieë voor, ongeag rykdom, geloof, vlak van armoede of enige ander breër sosiale kategorie (Townsend & Dawes 2004: 69). In die pastoraat is dit dus belangrik dat rekening gehou word met kulturele eiesoortighede met die oog op die verstaan van persoonlike en emosionele probleme. Die konsep van wat as normaal beskou kan word, is wyd omdat die mens binne ’n pluralistiese samelewing met ’n diversiteit van gesinstyle, waardes en moraliteit bestaan. Die afleiding kan gemaak word dat die mens ’n rol te speel het in ’n “major corporate responsibility” (Shotter 1993:23).

Die mens is nooit alleen in ’n ruimte nie en die bewustheid van waar die mens hom- /haarself bevind sluit die bewustheid van verhoudings en die mag wat in die betrokke plek heers in. Volgens Louw (2008:105) maak die kwessie van persoonlikheid en persoonlikheidseienskappe nie soseer deel uit van lewensprobleme nie, as die menslike respons op die magspel binne die ruimte van verhoudings. Om as vrou op te groei beteken dat haar sin van die self dít reflekteer wat sy in haar omgewing geleer het. Groei ontstaan volgens die feministiese benadering in die opvoeding van ’n dogter om versorger te wees, en seuns om versorg te word (Bons-Storm 1998:10).

Dit bring mee dat vroue dikwels nie erkenning gee aan hulle behoeftes nie en kan daarom selde hulle behoeftes identifiseer of uitspreek. Vroue betaal daarom ’n hoë psigologiese prys vir hulle vermoë om te kan versorg (Eichenbaum & Orbach 1996:

187). Hulle behoefte om deur hulle genote gekoester te word, word deur die sosiale kultuur ontken. Moeders dra onbewustelik hierdie selfverstaan asook die verstaan van hulle sosiale rolle aan hulle dogters oor. Die feministiese benadering is gesetel in die postmoderne paradigma wat mag in enige vorm teenstaan. Aangesien die impak van misbruik tot in die kerk strek en slagoffers se behoeftes as minder belangrik gehanteer word kan ’n verband getrek word tussen die feministiese benadering, misbruik en die praktiese teologie.

Die aanleer van sosiale rolle en geslagsidentiteit vind primêr in die gesin plaas. Volgens Goldberg (1981:13) kry die ervaring van vroue eers betekenis wanneer dit in verhouding staan met die belangriker aktiwiteite van ’n man, wat beteken sy “experience a nothingness”. Dit sluit aan by die argument onderliggend tot die terrein van feminisme, naamlik: dat ongelyke geslags- en magsverhoudings endemies tot ’n patriargale samelewing (en onderhou deur sosialiserings- prosesse) tot ’n groot mate verduidelik waarom mans vroue en kinders misbruik (Townsend & Dawes 2004:64).

Faktore wat deur die feministiese perspektief uitgelig word as bydraend tot misbruik, is die invloed wat sosialisering en kinderopvoedingspraktyke op die voorkoms van molestering uitoefen. Seuns leer in ’n patriargale samelewing dat dit aanvaarbaar en selfs verkieslik is om dogters te beheer en te intimideer en dogters aanvaar hierdie dinamika as normaal (Townsend & Dawes 2004:65). Opvoedingspatrone fundamenteel tot die patriargale ideologie sowel as die meeste religieuse doktrines, vereis dat kinders hulle ouers, ander gesagsfigure sowel as klerikale amptenare sonder voorbehoud moet gehoorsaam en vertrou (Townsend & Dawes 2004:65).

Zoe: Die genogram het nogal ’n groot lig vir my laat opgaan. Ek het nooit besef dat mishandeling en misbruik iets is wat al oor geslagte in die familie gebeur nie. My ma en my ouma doen niks daaraan wanneer hulle mishandel word nie, want hulle is vroeg uit die skool uit en kan nie werk kry nie. Ek dink dit is vir hulle makliker om eerder stil te bly en te weet daar is iemand wat die finansies hanteer.

Die feministiese benadering het egter sekere tekortkomings. Volgens Hall en Lloyd (1993:11) is die belangrikste tekortkoming dat dit ’n ideologie is deurdat die blaam vir molestering geplaas word op die struktuur van die samelewing waar manlike dominansie heers. Die ideologie sê ook baie min oor manlike slagoffers of vroulike oortreders. Die argument ten opsigte van manlike dominansie is ongegrond as aanvaar word dat manlike kinders die magteloosheid van vroue en kinders deel. Dit spreek ook nie die aspek van disfunksionele gesinne aan waar die disfunksionaliteit bestaan het voordat die misbruik plaasgevind het nie. In studies wat onafhanklik van die feminisme onderneem is, is bevind dat slagoffers hulleself meesal in ’n gedisorganiseerde en spanningsvolle familieopset bevind (Alexander 1992:185; Hall & Lloyd 1993:11).

Die beeld wat die samelewing van ’n moeder skep, is een van versorger en koesteraar wie se rol dit is om voort te plant en om instrumenteel tot ’n gelukkige gesin te wees (Hall & Lloyd 1993:10). Die feministiese siening van moeders in gesinne waar misbruik plaasvind, is dat sy geïsoleerd is, dat sy konformeer tot ’n vroulike rolmodel waar sy arbiter en versorger van almal in die gesin is en dat sy die bewaarder van geheime is, wat haar in ’n magtelose posisie laat (Hall & Lloyd 1993:10). Moeders kan egter ook misbruik inisieer, daaraan deelneem of dit goedkeur. Dit plaas dan die slagoffer in ’n baie moeilike posisie omdat sy misbruik word deur die persoon van wie sy versorging verwag het. Dit laat haar geïsoleerd voel en sy neig dan om die gebeure te verswyg.

Hall en Lloyd (1993:11) handhaaf egter die siening dat die feminisme tog wel ’n dinamiese benadering tot die kwessie van misbruik is. Dit is ook die vertrekpunt vir die denke en praktyk wat in hierdie studie gevolg word. Ek gaan van die standpunt uit dat die oortreder, manlik of vroulik, sy/haar magsposisie misbruik ten einde molestering moontlik te maak. Dit is ook hierdie magsposisie wat dikwels die stilswye van die slagoffer meebring. Die verwagting is dat die kinderjare die beste tyd van die mens se lewe behoort te wees en dat hulle veronderstel is om sorgvry en gelukkig te wees. Kinders moet egter sin maak van ’n heelal en word voortdurend blootgestel aan verwarrende en weersprekende boodskappe (Lew 1988:67). Die tradisionele beeld van ’n gesin waar die vader hardwerkend, sober en streng maar regverdig is, en die moeder koesterend, versorgend en wys is, is nie die norm nie (Lew 1988:68). Die waarheid is dat nie alle kinders gewens is nie en nie alle volwassenes in staat is om vir hulle

kinders te sorg nie. Kinders se krag en ondernemingsgees word dus oor die algemeen onderwerp aan probleme vanuit die omgewing.

Wat oortreders betref: deurdat die oortreder geëtiketteer word as psigopaat, alkoholis of pedofiel word hy/sy beskou as iemand wat behandeling nodig het. Die feministe dring egter daarop aan dat oortreders verantwoordelikheid vir hulle dade moet aanvaar. Sodoende kan slagoffers ontslae raak van die skuldlas waarmee hulle oor die algemeen as gevolg van die gebeure opgesaal is (Hall & Lloyd 1993:10). Kulturele gesindhede en persepsies kan egter ook misbruikende gedrag normaliseer, sodat dit as die norm deur die oortreder aanvaar word. Misbruik vind egter nie slegs in verhoudings plaas waar ’n volwassene die oortreder is nie.

Tydens ’n studie wat in 2001 is deur die Human Rights Watch onderneem is, is gevind dat daar ’n hoë insidensie van misbruik tussen skoolkinders voorkom (September 2004: 313). Die Human Sciences Research Counsel het in ’n verdere studie aangetoon dat daar aansienlike verskille voorkom in die wyses waarop skole reageer op aantuigings van misbruik deur beide onderwysers en leerders (September 2004:313).

Die omvang van misbruik wat via die internet plaasvind, word dikwels onderskat, omdat die rapportering daarvan nie op groot skaal plaasvind nie. Volgens Richter et al (2004:147) was daar in 2004 80 000 pornografiese webwerwe op die internet, met 200 nuwes wat daagliks bygevoeg word. Kinderpornografie word hoofsaaklik gekommunikeer deur middel van inteken-gebaseerde groepe of bulletinborde vir mense met soortgelyke voorkeure. Adolessente is baie vaardig met die benutting van die virtuele aanlyn omgewing en die eksplorasie van verskillende webwerwe. Tienerdogters tussen die ouderdomme van 13 en 17 jaar word hoof-saaklik die teikens van seksuele predatore deur die internet (Spies 2004:25). Die oortreder oortuig soms die kind om hom/haar persoonlik te ontmoet, terwyl ander nie verder gaan as die aanlyn misbruik nie.

Die 1996 Film en Publikasie Wet verklaar dat die invoer, vervaardiging, besit en verspreiding van kinderpornografie onwettig is en nuwe wetgewing van 1998 het die 1996 wet ook op die internet van toepassing gemaak (Richter et al 2004:147). Die oortreder se kans om naamloos en ongemerk sy/haar dade voort te sit, is egter groot.

Sommiges stuur ’n kamera na die slagoffer, wat dan eksplisiete foto’s van hulleself aan die oortreder moet e-pos (McGregor 2008:52). Sommige kinders word oortuig dat die oortreder in haar ouderdomsgroep val. Die pedofiel maak dan geleidelik ‘n hoër ouderdom bekend en omdat die slagoffer alreeds ’n vertrouensverhouding met haar gespreksgenoot opgebou het, word die oortreder die leuen makliker vergewe. Die ekonomiese omstandighede waarin die oortreder sowel as die slagoffer hom-/haarself bevind, speel ook ’n belangrike rol in die voorkoms van misbruik.

ii) Ekonomiese invloede

Ondanks verskeie empiriese studies wat sekere sosio-ekonomiese data daargestel het, kon nog nie met sekerheid bepaal word of sekere opvoedkundige ervarings, opvoedkundige vlakke en/of arbeidstatus bydra tot die voorkoms van misbruik nie. Die geïndustrialiseerde samelewing van vandag het egter meegebring dat die werkplek verskuif het vanaf die woonplek na die bedryf (Louw 1999a:63). Die generering van ’n inkomste geskied boonop in omgewings waar kinders nie toegelaat word nie. Sodoende verbeur kinders ’n voltydse koesterende omgewing.

Verder het die politieke doelwitte van apartheid die gesinslewe van anderskleuriges ernstige skade berokken. Families is vir lang tye geskei weens geforseerde migrasie, toestromingsbeheer, armoede, opvoedkundige voorsiening en beperkings op woonareas (Louw & Louw 2007:253). Die nuwe bedeling het ook verstedeliking moontlik gemaak. Verstedeliking en armoede is egter die groot oorsaak van plakkerskampe wat ’n heenkome bied vir haweloses, kinders van werklose ouers en VIGS wesies van alle bevolkingsgroepe (Louw 1999a:63). Die afleiding kan tereg gemaak word dat daar ’n nuwe soort uitgebreide familie (uniek aan Afrika) ontwikkel waar afkoms en bloedverwantskap nie meer die rede is waarom mense in een huis of groep saamwoon nie Louw (1999a:63). Hierdie hersaamgestelde groepe dien as ruimte vir ’n disfunksionele “gesin” as teelaarde vir onreg, misbruik, konflik en geweld (Louw & Louw 2007:352; Coetzer 2009:30). Armoede bring verder mee dat meer as een geslag in een vertrek moet slaap (Dippenaar 1998:20). Kinders word sodoende blootgestel aan seksuele aktiwiteite wat hulle privaatheidsgrense oorskry.

Die demokratisering van die samelewing met die klem op menseregte problematiseer die aspekte van dissipline en gesag. Die moderne geglobaliseerde kultuur van eenvormigheid bring verdere morele verwarring mee. Identiteit en menswees word al meer deur die internasionale produksiesisteem, elektronika en rekenaars bepaal (Louw 2005:64). Die internet speel ook ’n belangrike rol in die kommersiële eksploitasie van die slagoffer.

Kommersiële misbruik geskied teen die agtergrond van vele kontekste, insluitende bordele, netwerke daargestel vir seksuele doelwitte, klubs en die internet. Pornografie waarby kinders betrek word, sluit volgens Spies (2004:24) die volgende in: “… the sexual exploitation or degradation of children, and includes any visual depiction that includes pictures, photographs, drawings, videos, movies and computer-generated or electronic images”. Die media verteen-woordig ’n multimiljoenrand-industrie waarin die eksploitasie van kinders ’n groot rol speel (Lew 1988:263). Kinders word in advertensies uitgebeeld as verleidelike objekte vir die vervulling van volwasse seksuele begeerte. Wanneer beswaar aangeteken word, word die rookskerm van menseregte voorgehou (Lew 1988:264). Verder bevind kinders wat wees gelaat is weens die impak van die HIV-/VIGSpandemie hulle in die posisie om uitgebuit te word ter wille van oorlewing.

Die HIV-/VIGSpandemie het ’n direkte impak op die voorkoms van molestering. Daar bestaan ’n mite dat seksuele omgang met ’n maagd die oortreder sal genees van die HIV-infeksie. Volgens Townsend & Dawes (2004:72) bestaan die vermoede dat die verhoging van statistiek ten opsigte van misbruik gedeeltelik hieraan toegeskryf kan word. Dit kon egter nog nie bewys word nie. Die pandemie het bygedra tot ’n groot aantal wesies wie se ouers oorlede is weens HIV/VIGS. Volgens ’n beraming deur die South African Law Commission sal daar in 2015 tussen 3,6 en 4,8 miljoen VIGS-wesies wees (Townsend & Dawes 2004:72). Baie van hierdie kinders sal volgens hierdie studie grootword in ’n omgewing waar daar geen volwasse toesig is nie. Hulle bied dus ’n groot “voorsieningsbron” vir oortreders.