• No results found

ADOLESSENTE SPIRITUALITEIT IN ’N POSTMODERNE KONTEKS

’N PRAKTIES-TEOLOGIESE VERKENNINGSTOG

4.4 ADOLESSENTE SPIRITUALITEIT IN ’N POSTMODERNE KONTEKS

Realiteit word in ’n postmoderne wêreld gesien as sosiaal-gekonstrueerd en bring ’n onstabiliteit in die konsep van betekenis mee (Phillips 1995:254). Selfs in teologie maak verskillende “Christelike” teologieë aanspraak op etlike weersprekende meta-

narratiewe. Die meta-narratiewe van ander religieë maak in dieselfde mate aanspraak op die waarheid (Phillips 1995:254). Pluralisme vereis hier ’n verdraagsaamheid ten opsigte van alle sienswyses op grond daarvan dat geeneen die absolute waarheid is nie (Phillips 1995:258). In die proses word inbeweeg in die meta-teoretiese komponente soos norme, waardes en geloofsoortuigings wat ’n rol speel in geloofsgedrag, religieuse simbole en metafore, asook die ontwikkeling van spiritualiteit (Louw 1999a:12).

Verskeie skrywers oor spiritualiteit (nie Christelike spiritualiteit nie) bied verskillende oplossings om die spirituele leemtes in die lewe van die mens in die postmoderne era te vul. Die gewildste temas handel oor spiritualiteit, inspirasie en hoop (Downey 1997:6). Die term “spiritualiteit” kan hier verskillende praktyke aandui, naamlik naturopatiese medisyne; produkte wat ’n “goed-voel” spiritualiteit aanbied; die New Age beweging; Oosterse wysheid; die teenwoordigheid van die heilige in die aarde, bo-natuurlike lewe en die elemente; selfhelp-bewegings soos die Twaalf Stappe van Alkoholiste Anoniem en die feministiese spiritualiteit (Downey 1997:8-11). Spiritualiteit is dus in die eerste plek nie begaan oor religieuse opvattings nie, maar oor die “experience of the sacred precisely as experience” (Downey 1997:8). Spiritualiteit geskied daarom:

… wherever we struggle with the issue of how our lives fit into the greater cosmic scheme of things… An idea or practice is “spiritual” when it reveales our personal desire to establish a felt-relationship with the deepest meanings or powers governing life (Coleman 2006:303).

Die afleiding kan gemaak word dat spiritualiteit begin en gekoester word in die lewe en ervaring van die alledaagse man, vrou of adolessent, of hulle religieus is, al dan nie. Die fenomeen van spiritualiteit oorspan dus in terme van die “geleefde lewe” of “ervaring” religieuse, kulturele sowel as nasionale grense (Kourie & Ruthenberg 2008:76). Dit is hier belangrik om daarop te let dat die mens ’n spirituele wese is en dus nie volledig objektiveerbaar nie, veral wanneer dit gaan om die dinamiese verband tussen spiri-tualiteit en die menslike soeke na sin (Louw 1999a: 156).

’n Postmoderne tiener soek na ’n manier om betekenis te genereer na die val van meta- narratiewe in die postmoderne era (Bouma 2011:2). Die millennium-generasie is dus baie geïnteresseerd in die spirituele omdat hulle wil sin maak van ’n gefragmenteerde

wêreld (Bouma 2011:2). Hulle is skerp bewus van die spirituele leemte in hulle lewe, maar identifiseer nie met een religieuse tradisie nie, is minder geneig om ’n plek van aanbidding te besoek en onderskryf nie sommer die credo van ’n dominante wêreldreligie nie (Collins-Mayo 2010:1). Postmoderne soekers word sodoende die versamelaars van religieuse idees en ervarings en kombineer dikwels idees van verskillende religieë in ’n persoonlike credo of ’n spirituele laslappiekwilt. Die postmoderne jeug word dus gelaat met ’n verskeidenheid mikro-narratiewe soos aangedui deur die woorde van die liedjie Same direction van Hoobastank (Mueller 2006:108).

So why does there only have to be one correct philosophy? I don’t want to go and follow you just to end up like one of them. And why are you always telling me what you want me to believe? I’d like to think that I can

Go my own way and meet you in the end.

Dit is dus moeilik om te bepaal hoe, en watter adolessente by godsdiens betrokke raak. Konteks speel ’n rol in die lewe van die bekeerling deur al die fases van bekering. Regnerus en Uecker (2006:218) het gevind dat die mikro-konteks vir spirituele en religieuse transformasie geleë in die gesin, vriende, etniese groep, religieuse gemeenskap en woonbuurt hier ’n belangrike rol speel. Verder het kontemporêre spiritualiteit: “… increasingly related to all of life and has become infiltrative or permeative of all life” (Kourie & Ruthenberg 2008:84).

Gerard Kelly (Mueller 2006:107) het gevind dat die ortodokse Christensdom nie meer die primêre invloed op populêre spiritualiteit is nie. In die plek hiervan ontstaan ’n nuwe generiese spiritualiteit wat menslike ervaring, pluralisme en selfvervaardigde credo’s prioretiseer. Die invloed van hierdie perspektiewe is diepgaande, en raak vele aan wat hulleself nie as religieus beskou nie. Die nuwe klem op spiritualiteit sal die individu se keuse en uitdrukking van geloof beïnvloed, maar sal ook ’n impak hê op die manier hoe die populêre kultuur die Christelike kerk beoordeel.

Dit is duidelik dat die progressiewe impak van sekularisasie; die lewensiklus; kognitiewe ontwikkeling en biografiese effekte; veranderende paradigmas en die veranderende

aangesig van adolessensie alles bydra tot die Christelike spiritualiteit van adolessente. Christelike spiritualiteit dui volgens Osmer (2008:27) op ’n “… openness to the guidance of the Holy Spirit as she forms and transforms them (people) toward the image of Christ in his body and in the service of the church’s mission”. Na aanleiding van die vele narratiewe in die lewe van ’n adolessente meisie, vra sy daarom die vraag: “Wat beteken dit alles vir my?” (Louw 1999a: 165). Volgens Hyde (1990:78) vloei die vraag: “Wat beteken God in dit alles?” by adolessente hieruit voort. Hier moet daarop gelet word dat adolessente groepe verskillend saamgestel word in verskillende gemeenskappe en dat ervaring in die gemeenskappe varieer volgens onder andere sosiale klas, geslag, etnisiteit en vaardighede.

Die Christelike geloofsperspektief en die kwessie van Christelike spiritualiteit staan dus in verband met die fundamentele eksistensiële vraag na die sin en toekomsgerigtheid van lewe (Louw 1999a:20). In hierdie studie kom die impak wat misbruik het op die Christelike spiritualiteit en geloofsperspektief van adolessente dogters wat die trauma van molestering beleef het, aan bod. Die rede vir die fokus op genoemde perspektiewe is omdat hulpverlening aan ’n slagoffer van misbruik ’n kontekstuele en sosiale dimensie verkry waarin dit nie net gaan om geloofsvraagstukke nie, maar om die sinvraagstuk. Hierdie sinvraagstuk word geplaas binne die breë raamwerk van lewensvraagstukke (Louw 1999a:20), wat in hierdie studie dui op die vraagstukke wat ontstaan weens die impak van misbruik op die geleefde ervarings van slagoffers.

Wanneer adolessente betrokke is by ’n gewortelde teologie dui dit op betrokkenheid by ’n religieuse narratief wat oorgeërf is van ’n gelowige gemeenskap (Dean 2001:30). Die beelde en taal van hierdie storie klink vir hulle waar, maar hulle het dit nog nie krities ondersoek nie. Adolessente met hierdie tipe teologie se belydenis sê: “Ek glo …” (Dean 2001:30) en kan maklik bedreig word wanneer gekonfronteer word met kritiese denke. Die alternatief vir genoemde teologieë word volgens Dean (2001:30) gevind in ’n deurdagte teologie wat gekenmerk word deur ’n verstaan van geloof deurdat die jong persoon teologiese aannames en praktyke sorgvuldig ondersoek en deurdink. Dit is dus nie ’n rasionele oefening gekenmerk deur kritiese denke nie, maar ’n “faith seeking understanding” (Dean 2001:30). ’n Adolessent wat hierdie teologie leef, sê: “Ek glo omdat …” (Dean 2001:30). Die “hoekom” vraag lei hier na God, selfs al is dit die onbekende God (Dean 2001:30).

Adolessente is besig met die ontwikkeling van die vaardigheid van derdepersoon perspektiefneming en beskik daarom oor die vaardigheid om te reflekteer op die verhouding tussen die self en die wêreld (Dean 2001:31). Tieners ontwikkel dus ’n bewustheid van die “ander” waar die aanvaarding van die ander en die verdraagsaamheid jeens die ander op die voorgrond staan (Nel 2000:39). Hierdie vaardigheid is belangrik vir ontwikkeling van beide die morele en spirituele lewe. Die keuse vir die ander binne ’n era wat gekenmerk word deur pluralisme word egter steeds gemaak op grond van persoonlike oorwegings.

’n Adolessent ontwikkel ’n na-binne-gerigtheid wat ’n bewustheid van eksterne kwaliteite insluit. Hulle laat dus ruimte vir ander opinies, ook dié van God. Dit bring vrae oor God, hulleself, asook hulle doel en plek in die kosmos mee. Bevindings vanuit ’n empiriese studie onderneem deur Babin (Hyde 1990:78) het daarop gedui dat adolessente dogters ’n sensitiwiteit getoon het vir die beskrywing van God as vertroueling, vriend beskermer en vertroostende teenwoordigheid. Hulle was ook meer ontvanklik vir die liefde van God as die seuns.

In die vorige hoofstuk is aangedui dat identiteitsvorming die belangrikste ontwikkelingstaak tydens adolessensie is. Teologies dui die essensie van identiteit daarop dat die persoon word wat hy/sy alreeds is. Dit vereis dat teruggekeer word na God se skepping van verhoudings. Die mens is voortdurend op soek na kontak met God in hierdie veranderde wêreld. Die jeug sowel as gelowiges is in Christus, selfs al verstaan hulle dit nie volledig nie, of al leef hulle nie hierdie Christelike verstaan uit nie (Nel 2000:101). Weens die mens se skepselmatigheid as beeld van God is hulle dus ook religieuse wesens (Highes 1989:55).

4.5 DIE BELANG VAN ’N TEOLOGIESE ANTROPOLOGIE VIR DIE PASTORALE