• No results found

DIE NARRATIEF-HERMENEUTIESE BENADERING TOT NAVORSING

OP DIE SPOOR VAN DIE TEKS VIR HIERDIE NAVORSING

2.3 PROBLEEMSTELLING EN FOKUS

2.6.4 DIE NARRATIEF-HERMENEUTIESE BENADERING TOT NAVORSING

van geleefde ervaring saamgestel word as aksies wat dui op wat besig is om te gebeur. ’n Verstaan van hierdie uitdrukkings van subjektiewe ervarings, en die impak van hierdie uitdrukkings dra by tot ’n “ryk” en “vol” beskrywing van die gebeure.

Inligting hieruit verkry bied dus ’n ryk databasis wat vir ’n verskeidenheid van doelwitte gebruik kan word. Vetere en Dowling (2005:9) dui op ’n veelheid van gelyktydig bestaande verhale waar die gespreksgenote gelyke bydraers is in ’n medewerkende terapeutiese benadering. Nuwe betekenis word verkry soos wat gedagtes uitgespreek, verhelder en uitgebrei word. Die primêre navorsingsdoelwit is dus die insameling van kennis aangaande praktiese sosiale situasies en prosesse ten einde tot ’n beter verstaan van die kwaliteit van sosiale aksie te kom.

2.6.4 DIE NARRATIEF-HERMENEUTIESE BENADERING TOT NAVORSING

Die begrip van hermeneutiek dui oorspronklik op die werk van Hermes wat die boodskap van die gode aan die mens moes oordra (Ganzevoort 12994a:11). Schleiermacher het egter later die nadruk geplaas op die verstaan van hermeneutiek as “tot verstaan komen” (Ganzevoort 1994a:11). Volgens Swinton en Mowat (2006:107) is hermeneutiek verwant aan die algemene wetenskap van interpretasie en het te doen met die maniere waarvolgens die mens die wêreld interpreteer en sin maak daarvan. Dit behels ’n proses van ontmoeting waar die leser en die teks mekaar interpreteer (Louw 1999a:22).

Ek maak in hierdie studie gebruik van die narratief-hermeneutiese benadering soos begrond in die praktiese teologie. Die sleutelaspek van kwalitatiewe navorsing is die “… frequent orientation towards narrative” (Swinton & Mowat 2006:38). Om te verstaan is stories nodig, daarom vereis ’n hermeneutiese benadering dat met verhale gewerk word (Müller 1996:20) en dat ’n ontmoeting met die verhaal van God in die proses plaasvind. Sodoende word wegbeweeg van die modernistiese teorieë en tradisionele navorsingsmetodes, soos byvoorbeeld kwantitatiewe navorsing geskoei op ’n empiriese, positivistiese uitgangspunt. Daar het ‘n verskuiwing weg van die kerugmatiese verkondiging na interpretasie en storie-vertelling, wat bekend staan as die

narratief-hermeneutiese benadering, plaasgevind (Louw 1999a:22). Swinton en Mowat (2006:107) definieer hermeneutiek breedweg as die kuns en wetenskap van interpretasie. Die proses van interpretasie en verstaan speel deurgaans ’n rol in die refleksie oor en vertolking van sosiale instellings se konvensies, etos en identiteit (Dreyer 2003:314). Vir Lyotard (1997:35) is die hermeneutiese diskoers gebore vanuit die stelling dat ware kennis altyd indirekte kennis is. In aansluiting by die epistemologie van postmoderniteit word kennis gesien as saamgestel vanuit gerapporteerde stellings soos geïnkorporeer in die meta-narratief van ’n subjek, wat dan legitimiteit meebring.

Hermeneutiek, as die dinamika in die interpretering van tekste, word die paradigma vir die verstaan van alle interpretasie (Stiver 2003:178). Volgens Ganzevoort en Visser (2007:96) is die doel van die hermeneutiese benadering om tot verskillende taalsisteme deur te dring sodat die geheim agter spontane menslike begrip ontdek kan word. In die pastoraat speel metafore daarom ’n belangrike rol. Taal dien hier as metafoor en medium waardeur uitdrukking aan die interpretasie van die lewe gegee word. Dit is deur lewenstories soos geformuleer deur hierdie taal dat ’n primêre verstaan van identiteit en lewensdoel geformuleer kan word (Gerkin 1986:30). Die feit dat die mens taal gebruik, is egter geen historiese toevalligheid nie, maar is te wyte aan die feit dat die mens aktief leef, en daarom ‘n geskiedenis kan besit (Hauerwas & Jones 1989:65). Ek sluit aan by hulle argument dat “… the formal quality of experience through time is inherently narrative” (Hauerwas & Jones 1989:66).

Die wesenlike aard van die mens se bestaan is narratief van aard omdat die mens wesenlik ’n storiemaker en luisteraar is (Shotter 1993:1). Die taak van die interpreterende navorser is hier om te kyk, te luister, te vra, op te teken en om te ondersoek. Verstaan is egter altyd ’n proses wat op weg is en word nooit afgehandel nie (Kotzé & Kotzé 1997:32). Die aard van hierdie taak word deur Ganzevoort en Visser (2007:100) beskryf as “… probeert te expliciteren wat er in pastorale ontmoeting gebeurt en hoe het verhaal van mensen en het verhaal van God elkaar raken en beïnvloed”. Die soeke na betekenis en die proses van interpretasie vorm die kern van kwalitatiewe navorsing (Swinton & Mowat 2006:101). Taal bied hier die parameters vir beide verstaan en ervaring en word gebruik ter singewing en interpretasie. Taal bestaan egter nie as ‘n voorafbepaalde kode om die innerlike psigologiese gebeure aan uiterlike gebeure in die sosiale lewe te skakel nie (Kotzé & Kotzé 1997:30).

Die hermeneutiese perspektief sien alle menslike taalsisteme, insluitende teologie, as pogings om die misterie van wat buite menslike verstaan lê te penetreer en sin te maak daaruit (Gerkin 1984:19). In die pastoraat speel metafore daarom ’n belangrike rol om “… metafisiese konstruksies oor God binne die hermeneutiese konteks van ’n ontmoetingsgebeure te plaas” (Janse van Rensburg 1998:67). ’n Sentrale doel van narratiewe terapie is juis om die gespreksgenoot van die probleemgevulde beskrywings van haar lewe en verhoudings te skei (White & Epston 1990:39). Dit word bewerkstellig deur ’n nuwe verstaan en alternatiewe weë vir die konstruering van sosiale rolle en verhoudings te fasiliteer (Muntgli 2004:138). Die narratief-pastorale navorser en ’n tienerdogter wat misbruik is raak as gespreksgenote in ‘n verhalende proses betrokke sodat ‘n verhaal met ‘n hoopvolle toekoms geformuleer kan word. Gerkin (1986:100) se narratiewe aanpak dui daarop dat die pastor self ’n tolk en interpreteerder van verhale word in ‘n dialogiese proses waar ‘n versmelting van betekenis en verstaan plaasvind (Gerkin 1984:44). Die pastorale hermeneutiek word in hierdie studie gesien as ‘n hermeneutiese proses van teologiese denke wat verhelderend inwerk op die verstaansproses binne die raamwerk van die sinvraagstuk (Louw 1999a:4).

Ek stem saam met Cupitt (1991:ix) dat die mens die versameling is van daardie stories wat hulleself in ons vermenigvuldig en reproduseer terwyl hulle uitgeleef word. In elke situasie van die lewe “… we must draw upon our stock of actforms in order to find a way of making an intelligible story out of what is going on around us, and what we ourselves are going to do about it” (Cupitt 1991:5). Vrae ten opsigte van hoe hierdie verhale en mense in die verhale geïnterpreteer word is daarom van primêre belang in die verstaan en reaksie op enige situasie waarby mense betrokke is.

Die narratiewe of sosiaal-konstruksionistiese benadering forseer die navorser om eerstens na die stories van mense wat ’n stryd voer in werklike situasies te luister (Müller 2004:295). Tydens die gesprek met die medenavorser word sosiale konstruksie binne ’n reële konteks ernstig opgeneem. Die geïnterpreteerde ervarings van die gespreksgenoot vorm haar stories, want ‘n interpretasie kan net gemaak word as daar verbande tussen sake gelê, en dit binne ‘n tydsraamwerk geplaas word (Müller 2000: 13). Die konteks moet dus verreken word. Volgens White en Epston (1990:9) word die mens se kennis van die lewe in die konteks van geleefde ervaring opgedoen. “Ervaring” verwys volgens Downey (1997:91) na ’n term wat gebruik word “… to

describe whatever enters into the actual living of our lives, whether it be religious, mystical, theological, ethical, psychological or physical”. Mense se lewens word gevorm deur hulle respons op, en betrokkenheid by hierdie faktore soos wat dit op die lewensweg teëgekom word. Daarom is geleefde religie of religieuse praxis van belang in die konteks van die kwalitatiewe aard van hierdie studie. Volgens Louw (1999a:8) dui die transformasieproses met die oog op diens aan die wêreld op die ontwikkeling van ’n deurleefde spiritualiteit. Geleefde Christelike spiritualiteit word deur Downey (1997:90) as volg omskryf:

Christian spirituality is concerned with the whole of Christian life. At issue here is the fullness of life in Christ by the presence and power of the Holy Spirit, being conformed to the person of Christ and united in communication with God, others, and all creation.

Die faktore wat die konteks van ’n individu vorm, soos die gespreksgenoot se verhouding met God tydens en na misbruik, moet dus in oënskou geneem word indien ervaring as die vertrekpunt vir die spirituele lewe oorweeg wil word. Die konteks van geleefde ervaring speel daarom ’n belangrike rol in Gergen (1991:161) se redenasie oor die ontstaan van die narratiewe posisie in postmoderniteit:

If texts do not derive their persuasive power from ‘the ways things are’, but from textual maneuvres, the attention must be directed to the ‘world as presented’. The rhetorical techniques of representation, of constructing the word, have a critical and often unwitting impact on social life. Our understandings become subject to metaphor, narrative form, plain talk, irony and the like.

Die metodologiese epistemologie vir hierdie studie is dus konteksgebonde en dui op die sosiale konstruksionisme waar die ervaring van die self in die voortdurende interaksie met ander gekonstrueer word (Freedman & Combs 1996:17).