• No results found

DIE NARRATIEF-PASTORALE BENADERING AS KONTOER VIR ’N REIS DEUR DIALOOG

5.2 DIE NARRATIEWE BENADERING TOT TERAPIE

wat er in de pastorale ontmoeting gebeurt en hoe het verhalen van mensen en het verhaal van God elkaar raken en beïnvloeden”. Die eiesoortige karakter van die pastoraat sal dus tweedens aan die orde gestel word. Die narratiewe pastoraat vloei derdens hieruit voort. Die verhale van my gespreksgenote sal in die volgende hoofstuk aan die orde gestel word.

5.2 DIE NARRATIEWE BENADERING TOT TERAPIE

Kwalitatiewe navorsing behels die sorgvuldige eksplorasie van die maniere waarvolgens menslike wesens in ’n ontmoeting tree met hulle wêreld. Dit neem die menslike ervarings ernstig op en poog om hierdie ervarings op verskillende wyses te verstaan en te interpreteer (Swinton & Mowat 2006:31). Wanneer dus na narratiewe terapie verwys word, is dit belangrik om die volgende opmerking van Freedman en Combs (2002:17-19) in gedagte te hou:

We think about information as being generated rather than ‘gathered’ in therapeutic conversations … We do not think of people or relationships as having stable, quantifiable identities or “typical” characteristics, so we do not try to discover or gather information about such characteristics. Instead, we think of people’s lives as being multi-storied and we believe that each new telling generates new possibilities for interpretation and action.

Die postmoderne mens leef dus in ’n konteks wat gekenmerk word deur ’n veelvuldige wyse van kennis en besluit oor sake. Vir slagoffers beteken dit dat alles nie meer deur algemeen-geldende waarhede bepaal, of binne ’n enkele raamwerk ingepas te hoef word nie (Müller 2002:22). Dit is daarom belangrik dat die narratief-pastorale benadering binne konteks verstaan moet word.

5.2.1 KONTEKS

In die interaksie tussen geloof en misbruik is die konteks ’n sentrale faktor. Die konteks word saamgestel deur persone, verhoudings en strukture sodat dit die bron van

gebeurtenisse bied wat vra om geïnterpreteer te word (Ganzevoort 1994a:330). Narratiewe terapie is gebaseer op die siening dat kennis ontstaan binne ’n gemeenskap van “knowers” deurdat die realiteite van ’n persoon dít is wat onderhandel word met andere (Freedman & Combs 1996:20). Volgens die perspektief van postmoderniteit:

… narratives form the matrix of concepts and beliefs by which we understand our lives, and our world in which our lives takes place; and there is a continuing interaction between the stories we tell ourselves about our lives, the ways we live our lives, and the further stories we tell (Payne 2000:20).

Na aanleiding van die postmoderne epistemologieë is dit die onmiddellike, alledaagse, konkrete en persoonlike begrip van die lewe, soos uitgedruk in die verhale wat oor die self en die geskiedenis vertel word, wat primêr kenbaar is (Payne 2000:20). Die take van ’n benadering van postmoderniteit tot terapie behels volgens Parry en Doane (1994:27, 28) en Johnson (2007:132) die volgende:

o Die gespreksgenoot word aangemoedig om haar verhale te legitimeer. Legitimering beteken dat haar verhaal geldig is omdat daar geen maatstaf bestaan waaraan dit gemeet kan word nie. Narratiewe terapie word dus gebaseer op die idee dat mense se lewens en verhoudings gevorm word deur die legitieme stories wat hulle vertel en by betrokke raak ten einde betekenis te gee aan hulle ervarings.

o Die gespreksgenoot word bewus gemaak daarvan dat, wanneer sy haar verhaal in haar eie woord oordra om haar eie ervaring te vertel, niemand die legitimiteit daarvan in twyfel mag trek nie. Indien die mens as objek waaroor sekere waarhede bestaan benader word, lei dit tot ontmensliking aangesien hy/sy soos ’n masjien in ’n monteerlyn gehanteer word.

o Die terapie word nie vanuit die oogpunt van vaste waarhede toegepas nie, maar die terapeut werk saam met haar gespreksgenoot om nuwe voorkeurverhale te ko-konstrueer. Volgens postmodernisme is daar beperkings op die vermoë van die mens om die heelal op enige presiese wyse te meet en te beskryf, daarom is daar geen vaste waarhede nie.

o ’n Verdere taak van die hedendaagse narratiewe terapeut is om mense te help om hulle los te maak van ’n enkele dominante reeks opeenvolgende verhale (Parry & Doane 1994:28). Agter elke verhaal lê daar nog ’n verhaal.

o Die bewustheid dat elke mens ander en die self waarneem deur die bril van sy/haar eie narratiewe. Dit beteken om, in plaas daarvan om ander of die self as gemeen of pervers te etiketeer, eerder gedrag te interpreteer as die uitvloeisel van angs, pyn en verwarring.

o Elke mens word onderwerp aan die invloede van die huidige wêrelde en tale. Postmodernisme is geïnteresseerd in die betekenis van hierdie invloede.

o Deurdat mense se verhale gesien word as interpretasies van die teks wat uitloop op ongelukkige ervarings, kan hulle tydens gesprekke gehelp word om meer bevredigende interpretasies daar te stel. Hierdie interpretasies word verkry deur verhale na vore te bring wat meer kongruent is met die lewe wat hulle graag sou wou leef.

o Die terapeut is ’n deelnemer aan die gesprek wat bereid is om ook persoonlike narratiewe te deel. Beide gespreksgenoot en terapeut word dus in mekaar se leefwêrelde ingelaat.

Die sentrale beginsel van narratiewe teorie is dat die self gekonstrueer en gestorie word deur interaksie met ander en dat taal binne hierdie konteks betekenis gee, sodat dit nie slegs ’n weergawe van gebeure bied nie (Gower et al 2005:155). ’n Narratiewe paradigma maak gebruik van die sosiale konstruksie van kennis wat nuttig gebruik maak van idees oor hoe daar met mag, kennis en die “waarheid” gehandel kan word in verskillende kontekste. Sosiale konstruksionisme het alreeds in hoofstukke 2 en 4 aan bod gekom, daarom word die volgende praktyke wat geassossieer word met sosiale konstruksionisme slegs kortliks genoem:

o Realiteite word sosiaal gekonstrueer.

o Realiteite word deur middel van taal saamgestel.

o Realiteite word deur narratiewe georganiseer en onderhou. o Daar is geen essensiële waarhede nie.

Ten einde te verseker dat ’n narratief/sosiale konstruksionistiese posisie gehandhaaf word, word sekere vrae deur Freedman en Combs (1996:40) geformuleer. Daar geword gebruik gemaak van vrae, omdat voorskrifte nie inpas by hierdie paradigma nie.

o Vra ek vir beskrywings van meer as een realiteit?

o Luister ek met die doel om tot verstaan te kom van hoe die gespreksgenoot se ervaring van realiteit sosiaal-gekonstrueerd is?

o Aan wie se taal word voorkeur gegee? Poog ek om die gespreksgenoot se taal te aanvaar en te verstaan? Wat is die impak van die verskillende taalkundige onderskeide wat tydens terapie na vore getree het?

o Watter stories ondersteun haar probleme? Is daar dominante verhale wat haar lewe inperk? Watter gemarginaliseerde verhale hoor ek? Is daar aanduidings van gemarginaliseerde verhale wat nog nie genoem is nie? Hoe kan ek hierdie persoon uitnooi tot ’n “insurrection of knowledge” ten opsigte van hierdie verhale?

o Fokus ek op betekenis eerder as op feite?

o Evalueer ek die persoon, of nooi ek haar uit om ’n wye reeks van haar eie ervarings te evalueer?

o Plaas ek my menings in my eie ervarings? Is ek deursigtig ten opsigte van my konteks, my waardes en my bedoelings sodat die gespreksgenoot die impak van my vooroordele kan evalueer?

o Word ek vasgevang in patologiese of normatiewe denke? Werk ons saam om die probleme te definieer gebaseer op wat problematies in haar ervarings is? Bly ek weg van “ekspert” hipoteses of teorieë?

Die narratiewe teorie wat my navorsing ten opsigte van die narratiewe pastoraat dus rig, kan in ooreenstemming met Ganzevoort (2001:48) saamgevat word in ses dimensies, naamlik: struktuur (insluitend opeenvolging van tyd en konseptuele storielyne); perspektiewe (insluitend die sosiale posisie van die verteller en die kwessie van mag); ervaring (insluitend die evaluering en die dialektiese interaksie van emosies, liggaam en interpretasie); roltoekenning (die toekenning van rolle aan die self, ander en God); relasionele posisionering ( die gebruik van narratiewe ten einde verhoudings te skep, te onderhou, te verander of te beëindig) en gehoor (insluitend om toegespreek te word

deur ’n betekenisvolle ander asook om verslag te lewer van die persoon se lewe voor ander).

5.2.2 DIE BELANG VAN STORIES BINNE DIE RAAMWERK VAN NARRATIEWE TERAPIE

Narratiewe terapie is veral geskik om mense te voorsien van ’n ervaring waar hulle ’n stem kan gee aan hulle trauma, hulle interpretasies kan evalueer, hulle gevolgtrekkings oor hulle identiteit kan heroorweeg en hulle lewensverhale kan herskryf vanaf slagofferskap tot oorwinning en hoop (Duvall & Béres 2007:233). Volgens White en Epston (1990:11) word ervaring georganiseer deur narratiewe strukture en word betekenis gegee aan ervaring op die volgende wyse:

… persons face the task of arranging their experiences of events in sequence across time in such a way as to arrive at a coherent account of themselves and the world around them. Specific experiences of events of the past and the present, and those that are predicted to occur in the future, must be connected in a linear sequence to develop this account (White & Epston 1990:10).

Mense gebruik dus stories om sin te maak van gebeure in hulle lewe. Die belang van die narratief is volgens Golberg (1981:62) nêrens belangriker en geregverdiger as in die weergee van ’n lewe nie. In aansluiting hierby definieer Cupitt (1991:ix) stories as:

… interpretative resources, models and scenarios through which we make sense of what is happening to us and frame our own action (and) are stretched out in time, as melodies are. They shape the process of life. It is through stories that our social selves, which are our real selves, are actually produced. We are the collections of stories that we are acting out, the stories that proliferate and reproduce themselves in us.

’n Storie is dus nie slegs ’n weg tot die oordra van kennis nie, maar is ’n wyse van interpretering van geleefde ervaring. In ’n narratief-pastorale benadering word kennis van die lewe dus saamgestel uit die geleefde ervaring van mense waar die verhaal van

God en die verhaal van mense mekaar ontmoet (Ganzevoort 2007:100). Hoop word volledig gekoppel aan die trou van God (Louw 1984:17). Goldberg (1981:17) wys as volg op die rol van God se verhaal in die lewensverhaal van mense:

We cannot have a human Christ unless we have a historical Christ, that is, unless we know his history. That is why the writers of the four Gospels tell the good news in the form of the story of Jesus’ life. The events described are not intended as fiction but as God’s way of changing the course of history in a human person.

Aangesien alle verhale ’n begin (geskiedenis), middel (hede) en ’n einde (toekoms) het, word die interpretasie van gebeure net soveel deur die toekoms as die verlede bepaal (White & Epston 1990:10). Die kartering van gebeure oor tyd is dus essensieel vir die waarneming van verandering (White & Epston 1990:2). Verder maak die narratiewe benadering voorsiening vir die prosesse wat ryk en vol beskrywings daarstel as fondasie vir die uitdrukkings, opvoerings en vertellings wat volg (White 2010:elektroniese bron). Die narratief is dus soos ’n goue draad wat stories omtrent die persoon self; haar vaardighede; worstelings; aksies; begeertes; verhoudings; werk; belangstellings; oorwinnings en mislukkings aaneen skakel (Morgan 2000:5). White (2010:elektroniese bron) voeg hierby die idees; begeertes; gemoedstoestande; doelwitte; hoop; intensies; motiewe; drome; passie; besorgdheid; waardes; standpunte; fantasieë en toewyding van die gespreksgenoot. Hierdie benadering beklemtoon orde en opeenvolging, en is geskik vir die bestudering van verandering in- en die ontwikkeling van die lewensiklus (White & Epston 1990:3). ’n Sentrale beginsel van die postmoderne paradigma waarop die narratiewe benadering geskoei is, is dat standpunte, wette, sosiale gewoontes en kultuur ontstaan vanuit sosiale interaksie oor tyd (Freedman & Combs 1996:23).