• No results found

DIE STORIE VAN KOÖRDINATE

3.3 GRADELESING 1: ADOLESSENSIE

3.3.2 ADOLESSENSIE AS EPIGENETIESE FASE

ten einde tieners uit die arbeidsmark te onttrek in tye van hoë werkloosheidsyfers.

Dit is nie maklik om hierdie lewensfase af te baken nie, omdat die algemene kenmerke van adolessensie moeilik is om te definieer. Die ouderdom waarop adolessensie as afsonderlike lewensfase begin, wissel tussen 11 en 13 jaar, en dit eindig tussen 17 en 21 jaar (Louw & Louw 2007:279). In Suid-Afrika eindig adolessensie volgens die Kinderwet op die ouderdom van 18 (Louw & Louw 2007:279). Vir die doel van hierdie studie word gefokus op tienerdogters tussen die ouderdomme van 11 en 18 jaar. Zoe, Karla en Jeanine is onderskeidelik 14, 17 en 18 jaar oud, en is gekies as gespreksgenote weens die verskillende ontwikkelingsfases waarin hulle hulself bevind. Die uiteenlopende aard van hulle ervarings, sowel as die impak wat misbruik op hulle ontwikkelingsfases en hulle Christelike spiritualiteit gehad het, was verdere bydraende faktore.

Die doel is om gebruik te maak van resente teoretiese en empiriese tendense in die sosiale sowel as psigologiese literatuur ten einde ’n geheelbeeld van vroulike adolessensie daar te stel. Die rede is dat die pastoraat ’n gesofistikeerde bewustheid van menslike ontwikkeling toon vanweë die primêre belang van individue se historiese ervaring (Gerkin 1997:87). Uitsprake word nie as algemeen geldend beskou nie, maar dien as algemene aanduidings van wat die verskillende ontwikkelingstake behels as konteks waarbinne die impak van misbruik verstaan kan word.

3.3.2 ADOLESSENSIE AS EPIGENETIESE FASE

Vir ’n pastorale benadering is dit belangrik om met die beginsel van ontwikkeling sowel as verandering rekening te hou aangesien genade nie los staan van menslike organiese groei deur die verskillende lewenstadia nie (Louw 1999a:248,286). Die terapeut moet bewus wees van die maniere waarvolgens die gespreksgenoot se ontwikkelingsvlakke die interpretasie van haar wêreld raak. Dit is egter volgens Wickham en West (2002:78) normaal vir ’n slagoffer om te regresseer tot ’n laer ontwikkelingsvlak as gevolg van traumatisering.

Wanneer die persona van ’n spesifieke generasie geïdentifiseer word, moet drie kenmerke volgens Mueller (2006:86) in gedagte gehou word, naamlik:

o Lede van ’n spesifieke generasie deel ’n waargenome lidmaatskap. Adolessente kom agter dat hulle ’n identiteit deel wat verskil van dié van die jonger en ouer generasies. Dogters ontwikkel hulle identiteit deur middel van verhoudingspatrone en interaksie, terwyl seuns gebruik maak van aktiwiteite en kompetisie. Die self word dus sosiaal gekonstrueer.

o Tieners deel gemeenskaplike oortuigings en gedragsisteme. Die millennium- generasie bevind hulleself in ’n postmoderne wêreld, wat hulle onderskei van die vorige generasies.

o Adolessente beset ’n plek in die geskiedenis wat gekenmerk word deur unieke gebeure en stromings.

Veranderinge in die puberteitstatus van tieners word geassossieer met veranderinge in sekere psigiese konstrukte, naamlik selfbeeld, kognitiewe vaardighede, gesins- verhoudings en seksualiteit (Dubas & Peterson 1993:3). Hulle werk aktief daaraan om hierdie veranderinge te integreer met hulle definisie van die self, wat kan aanleiding gee tot onsekerheid en frustrasie (Dubas & Peterson 1993:3). Ten einde die gedagte van ontwikkeling en groei aan te vul en verder te verduidelik, is dit belangrik dat kennis gedra sal word van Erikson se groeimodel.

Erikson, opgelei as psigo-analis, koppel die vraagstuk van identiteit en groei aan, wat hy noem, die epigenetiese prinsipe. Hy was van mening dat die kinderjare ingedeel kan word in ontwikkelingsfases wat elk suksesvol afgehandel moet wees voordat na die volgende aanbeweeg kan word (Erikson 1983:94). Volgens Erikson geskied ontwikkeling of groei in agt fases en elke fase verteenwoordig ’n krisis wat geskep word deur die individu se ontwikkelingsvlak en hoe hy/sy die samelewing se eise hanteer. Adolessensie word gesien as die mees beslissende groeifase (Erikson 1968:94). Die menslike bestaan word vanuit die kragte van die krisis enersyds, en die poging om die krisis te voorkom of te verwerk aan die ander kant verstaan (Ganzevoort 1994a:7). Optimale groei is afhanklik van hoe die individu die verskillende krisisse hanteer met identiteitsvorming die hoofkrisis tydens hierdie lewensfase (Erikson 1968:94). Hierdie krisis word egter nie deur Erikson as ’n katastrofe verstaan nie, maar as ’n draaipunt

wat gekenmerk word deur ’n dinamiese bipolariteit, naamlik: identiteit versus verwarring; temporele perspektief versus verwarrende tydservaring; selfversekerdheid versus selfbewustheid; roleksperimentering versus rolfiksasie; leerjare versus verlammende stagnasie; seksuele polarisasie versus outoriteitsverwarring; ideologiese toewyding en oorgawe versus morele en normatiewe verwarring (Louw 1999a:255). Die krisis van identiteit bevat egter ook sekere positiewe komponente van identiteitsvorming wat dui op: identifikasie; antisipasie en roldefiniëring; selfstandigheid en selfaanvaarding binne die wederkerigheid van ondersteunende verhoudings (Louw 1999a:256). ’n Ander belangrike komponent van Erikson se navorsing oor die lewensiklusse van die mens is die plek wat hy aan hoop en wysheid skenk (Louw 1999a:257).

Daar word soms na hierdie lewensfase verwys as ’n tyd van oorgang, storm en drang, asook ’n tyd wanneer adolessente die kans staan om gemarginaliseer te word (Weiner & Elkind 1972:171; Seifert & Hoffnung 2000:432). Die adolessente fase kan ook gesien word as die kulminasiepunt vir verskillende groeiprosesse (Heaven 2001:xiii). Tieners word gekonfronteer met die afhandeling van sekere ontwikkelingstake wat hoofsaaklik kultureel bepaal word. Die samelewing stel hier verskillende eise waaraan adolessente moet voldoen, naamlik: die vorming van onafhanklikheid, aanpassing by tydgenote, verhoudings wat heteroseksueel van aard is, formulering van ’n geslagsrol, voorbereiding vir opleiding en die arbeidsmark en vestiging van persoonlike en sosiale waardes. Hoe suksesvol hierdie take afgehandel word, sal daarom baie afhang van hoe die behoeftes van adolessente deur die sosiale omgewing aangespreek word.

Hoewel die verskillende adolessente ontwikkelingstake vervolgens afsonderlik aan bod gaan kom, word dit gedoen vanuit ’n holistiese mensbeeld waar die mens verstaan word as ’n psigofisiese geheel waarvan die liggaamlike, psigiese, kognitiewe en spirituele dimensies nie geskei kan word nie. Omdat die ontwikkelingsfases so ’n sentrale rol speel in hoe adolessente hulle ervarings van die lewe interpreteer, moet die gekose terapeutiese benadering ’n sensititweit hiervoor toon.

’n Tiener word tydens die adolessente groeifase gekonfronteer met ’n innerlike fisiese, psigiese en kognitiewe revolusie. Terselfdertyd moet oorweeg word hoe die verskillende intellektuele, sosiale en toekomsgerigte besluite gehanteer moet word. Wanneer hierdie take gekompliseer word, word die interpretasie van haar wêreld en van

haarself negatief beïnvloed (Vernon 2002:10). White (2004:47) beskryf identiteit as ’n “territory of life”. Volgens Snodgrass (2011:9) dui identiteit op daardie sin van self en self-verstaan wat dien as raamwerk vir die mens se aksies, wat aan ander kommunikeer wie die persoon is, en die agenda daarstel vir die dade van die persoon. Wanneer die individu getraumatiseer word, is daar merkbare inkrimping van hierdie terrein. Dit is dus belangrik dat die verskillende prosesse betrokke by identiteitvorming gedekonstrueer word.