• No results found

OP DIE SPOOR VAN DIE TEKS VIR HIERDIE NAVORSING

2.3 PROBLEEMSTELLING EN FOKUS

2.6.2 POSTMODERNISME/POSTMODERNITEIT

Alle wetenskaplike navorsing geskied vanuit ’n sekere paradigmatiese vertrekpunt. In ‘n postmoderne samelewing interpreteer mense hulle wêrelde anders as vantevore en gebruik dus ’n ander taal as vorige generasies (Dill & Kotzé 1997:2). In die modernistiese era “… the text was made to fit our modes of knowledge and control” (Brueggeman 1993:1). Die modernistiese paradigma staan dus die siening voor dat die wêreld verstaan word as seker, georden, georganiseerd, voorspelbaar en rasioneel (Jansen 2007:22). Modernisme het op die gebruik van ’n vaste en seker metode om te bou op ’n onwankelbare fondasie staatgemaak en het dus van ’n fundamentele navorsingsbenadering gebruik gemaak. Die groot ideaal was effektiwiteit, verbruik en prestasie, maar dit is nooit bereik nie.

Postmodernisme het ontstaan as vorm van kritiek op die herhaalde mislukkings om hierdie ideaal te bereik. Vir Van Huysteen (1998:5) is postmodernisme nie net ’n nuwe kulturele fase, ’n geloofsisteem, ’n teorie of ’n doktrine wat na modernisme gekom het nie. Hy beskryf post-modernisme eerder as “… an attitude, a radically different way of looking at the world of modernity, a mood that has slowly and pervasively infiltrated into the way we think, and especially now into the way we do theology and science”. Postmodernisme, as die era wat modernisme opgevolg het, is volgens Vanhoozer (2003:xiv) die: “… ‘exodus’ from the constraints of modernity, as a plea to release the other, as a demand to let particulars be themselves rather than having to confirm to the structures and strictures of the prevaling ideological or political system”. Brueggeman (1993:12) beskryf postmodernisme as ‘n tyd waarin die vryheid ervaar word “… to be our confessing selves in a faithful community”.

Postmodernisme breek dus totaal met die modernistiese paradigma, verwerp daarmee die aanspraak van modernisme dat die realiteit objektief kenbaar is en staan daarenteen die sosiale konstruksie van kennis voor. Lyotard (1988:28) stel dit dat: “Het postmoderne weten zelf vindt zijn grond niet in de homologie van die experts, maar in de paralogie van de ontdekkers”. Realiteit is dus nie vir almal dieselfde nie, wat ’n pluraliteit van realiteite meebring sodat kennis langs ’n interaktiewe weg geskep word. ’n Voortdurende ondersoek van die wêreld vereis ’n kontekstuele navorsing waar ek self deel van die konteks is (Dockery 1995:14). Ek is daarom betrokke by, en besig met, die

verstaan van die realiteit en die lewe ten tyde van die navorsingsproses. Waarby uitgekom word, is “… in part autobiographical: it reflects our personal narrative, our particular site and voice in the world” (Nieuwenhuis 2007:64).

Taal is dus relatief, gelaai met betekenis en dra ’n ideologie oor. Die aandag verskuif vanaf die wêreld soos dit is en sentreer rondom weergawes daarvan, wat ’n verhoogde sensitiwiteit ten opsigte van die sosiale konstruksie van realiteit meebring. Gebeure het nie ’n intrinsieke waarde nie, daar is slegs die voortdurende interpretasie van die wêreld (Dockery 1995:14). Die taal wat gebesig word om hierdie konstrukte te beskryf word dus nie bepaal deur die gebeure per sé nie. ’n Gedeelde verstaan is baie moeilik en gebeur deur “… testing and checking each other’s talk, by questioning and challenging it, reformulating and elaborating it, and so on” (Shotter 1993:1).

Teologies bring dit mee dat daar geen vaste kaders meer is waarin die mens kan beweeg nie. Dit beteken nie dat stellings van die Christelike waarheid verkeerd of onbevredigend is nie, maar dat dit misleidend is wanneer dit slegs op feite gebaseer is sonder om die vrae en worstelings waaruit dit ontstaan het, in ag te neem (Endean 2005:224). Daar kan dus nie meer staatgemaak word op vaste waarhede en absolute waardes nie (Müller & Van der Meer 2011:elektroniese bron). Die postmoderne beweging staan daarom ’n totale alternatief vir modernisme voor. Beide die postmoderne epistemologiese pluralisme en modernisme dra daarom by tot die marginalisering van religieuse betekenis (Van Huyssteen 1998:xii). Die oorgang na ’n postmoderne benadering stel sodoende besondere uitdagings, maar daarmee saam ook besondere geleenthede aan die teologie asook aan navorsing. Een uitdaging is om ’n kontinuïteit te midde van die diskontinuïteit tussen modernisme en postmodernisme te vind (Malan 2001:624).

Ek kies vir postmoderniteit as paradigmatiese sowel as epistemologiese uitweg tot teologiese refleksie omdat dié beweging die bydraes van die teoretiese rede erken, maar wil dit temper met behulp van “oop dialektiek” (Van Aarde 2004a:505). Dit is ’n werkbare opsie omdat die ryk bronneveld van menslike rasionaliteit steeds benut word te midde van ’n pluralistiese postmoderne kultuur (Van Huyssteen 1998:165). Dit bied aan my ’n kartografiese perspektief van ’n prakties-teologiese landskap waar relatiwisme nie koersloos gekoester word nie (Van den Berg 2006:165). Hier word

verstaan dat die mens nie beskik oor “… truth in a definitive, uncontested way, but that one’s theology is worthy of being contested” (Stiver 2003:185). Deur gebruik te maak van ’n rasionaliteit wat outentieke pluralisme respekteer, word ’n weg gevind waar gesprek tussen die twee epistemologieë gevoer kan word en waar tradisies gekritiseer kan word terwyl in die tradisie gestaan word (Van Huyssteen 1998:29, Hermans 2002:139). ’n Egte pluralisme laat ’n legitieme diversiteit toe deur voorsiening te maak daarvoor dat gesprek gevoer word tussen persone wat om heel verskillende redes daarby betrokke is (Van Huyssteen 1998:29,30). Postmoderniteit erken dus die bestaan van die werklikheid en die Skrif, maar vra wel vrae daaroor. Sodoende word ’n gedeelde verstaan bereik terwyl die onversoenbaarheid van sienswyses terselfdertyd erken word. Dekonstruksie dien hier funksioneel te wees tot die skep van lewenskragtige denke deur die destabilisasie van onwrikbare identiteite in die filosofie (Müller & Van der Meer 2011:elektroniese bron).

My keuse vir postmoderniteit word verder ondersteun deur sekere winspunte soos uitgewys deur Van den Berg (2006:166-170):

o Postmoderniteit wys op die onhaalbaarheid van die modernistiese ideaal van objektiwiteit. Deurdat ’n subjektiewe verstaan aan bod kom word die navorsingsveld vir die verstaansaksente van ander oopgestel en word my eie verstaan geïnformeer en selfs gewysig.

o Volgens Müller (1996:29) is die doel van taal in die terapeutiese proses herstrukturering en uiteindelik rekonstruksie. Postmoderniteit bied egter volgens Van den Berg (2006:171) die erkenning van die beperktheid van taal. Die misterie van taal stel dit dan dat vrees weens ‘n versluierde kennis van die geheel onsekerhede uit die weg ruim, sodat pastoraal-terapeuties met die gespreksvennoot as reisgeselskap op weg gegaan kan word (Van den Berg 2006:171).

o Deurdat taal beperk is en God daarom nie binne ’n definisie vasgevang kan word nie, kan God slegs as misterie bely word. Die Christelike geloof behels ’n ontmoeting met die lewende God. Hoe intellektueel hierdie geloof ook al is, moet die misterie daarvan nie verlore gaan nie (Schuurman 2011:elektroniese bron). Die taal van die Bybelse stories oor God geskied altyd in ‘n metaforiese vorm. God word dus verberg sowel as openbaar in

menslike stories. Hierdie verhale word metafories aangebied omdat dit die enigste manier is waarvolgens die mens oor God kan praat. ’n Misterie word verstaan as “’n vorm van onduidelikheid oor iets wat ons (veronderstel is om te) ‘ken’” (Van Niekerk 2005:64). Daar is nie duidelike antwoorde nie, en laat die mens met die vermoede dat alles nog nie duidelik is nie, “… dat daar êrens ’n surplus van insig oorbly wat moontlik nog nie verwerf is nie” (Van Niekerk 2005:65). Kennis omtrent God as misterie, dui hier op ’n onvolledige wete van God wat steeds aangevul kan word. ’n Verruimde insig in ’n misterie bring eerder ’n terugkeer na die misterie mee, as om bemoeienis met die misterie te laat vervaag of verdwyn (Van Niekerk 2005:68). o Die verstaan van die werklikheid interpreteer die genererering van kennis

aan die hand van die betekenis van die tradisie; die verdiskontering van kontekste se betekenis as sosiaal gekonstrueer sowel as die verkenning van interdissiplinêre betekenis met moontlike betekenis vir ander kontekste. Die betekenis van konteks dui verder daarop dat die woorde van God gehoor moet word in die kompleksiteit van die lewe self. Aangesien die antwoorde wat tydens navorsing verkry word menslike konstrukte is, is daar nie sprake van onteenseglike bewyse nie.

Die oorgang tussen postmodernisme en postmoderniteit lei tot die vraag: “Who are we? Who am I?” (Hassan 2011:elektroniese bron). Hierdie moraal en identiteit word volgens die epistemologie van postmoderniteit in verhale oorgedra en dra dus ’n narratiewe karakter. Die vraag oor hoe die Evangelie in hierdie era uitgedruk kan word, ontstaan vanuit die hernude fokus op verhale.