• No results found

Die verband tussen ’n teologiese antropologie en misbruik

’N PRAKTIES-TEOLOGIESE VERKENNINGSTOG

4.5 DIE BELANG VAN ’N TEOLOGIESE ANTROPOLOGIE VIR DIE PASTORALE BENADERING IN HIERDIE STUDIE

4.5.1 WIE IS DIE MENS?

4.5.1.2 Die verband tussen ’n teologiese antropologie en misbruik

Die alomteenwoordigheid van misbruik daag die Christen uit om ernstige teologiese vrae te vra oor die verstaan van die menslike natuur. Sekere vrae word aan die orde gestel:

o Is misbruik die gevolg van sonde of die vervreemding van die mens van sy/haar ware identiteit as skepsels na die beeld van God? Deudat die kernverhouding waarin die mens lewe, naamlik dié tot God, deur die sonde aangetas is, is ook alle ander verhoudinge waarin die mens se lewe afspeel, deur die sonde besmet (Heyns 1988:179).

o Gebeur dit omdat die ander op een of ander wyse gesien word as minder mens en dus as objek vir eksploitasie, of is dit die resultaat van ’n onvermoë om selfloos, soos Christus, lief te hê?

Misbruik kan hier gesien word as ’n biologiese en psigologiese funksionalisme vanuit die wil om mag en beheer uit te oefen en behels ’n seksuele immoraliteit waar seks gebruik word vir immorele doelwitte. Dit dui op die skeiding van seks en seksualiteit van liefde as ’n uitdrukking van selfrespek en respek vir die ander (Louw 2009:104). Seksualiteit word gebruik as uitdrukking van woede, frustrasie en gewelddadige eksploitasie van die self en ander.

Die skeppingsmandaat kom in Gen. 1:28 en Ps. 8:5-8 aan bod, terwyl menslike seksualiteit aangedui word in Gen. 1:27 en 2:23-24. In Gen. 1:26-28 word kollektief verwys na die mens as manlik en vroulik deurdat hulle as persone en nie as geslagte nie, aangespreek word. Volgens Anderson (1982:108): “… the same Word which summons personhood into being summons it into existence in a modality of being experienced as creaturely sexuality, male and female, male or female”. Betekenisvol is die verwysing na hulle kapasiteit as seksuele wesens (vermeerder), nie na hulle verhouding nie (Schmutzer 2008:792). Dit kom eers ter sprake in Gen. 2:23, 3:6, en dui op die doel van die Skepper (Gen. 1:26b).

Die mens as beeld van God dui op die unieke verhouding tussen God en die mensdom. Dit bied die posisie aan die mens van “onderkoning” wat beide die morele visie en

funksionele kapasiteit bied om op ’n wyse wat waardig is aan die Skepper te heers (Schmutzer 2008:793). Seksuele misbruik is daarom ’n vergryp teen God waardeur die oortreder op ’n selfsugtige wyse regte aan hom-/haarself toe-eien, sonder om die verantwoordelikheid ooreenkomstig hierdie regte te aanvaar en uit te leef. Interpersoonlike verhoudings vorm ’n essensiële deel van die mens as skepsel van God. Dit mag nie vernietig word deur onder meer seksuele mishandeling nie. Die holistiese aard van die mens (Louw 1999a:203) impliseer dat seksualiteit nooit gedegradeer mag word tot ’n bloot biologiese aktiwiteit nie (Vorster 2007:77). As die heelheid van die ander persoon ontken word, gaan die uniekheid van daardie persoon verlore. Seks word fundamenteel gekoppel aan die teologies-antropologiese motief, menswees en menslike spiritualiteit. Indien seks bloot op ’n biologiese aksie neerkom, is dit onderworpe aan die wet van outomatisme soos gevind op die terrein van die diereryk. Wanneer die outentisiteit van die ander persoon as beeld van God na wie omgesien moet word vanweë hierdie posisie, nie gehuldig word nie, word die liefde van God weerspreek (Ef. 5:21-33).

Die koninklike, priesterlike en herderlike bedoeling van die Skepper vir sy skepsels word paradoksaal uitgelig wanneer dit deur misbruik vernietig word. Misbruik kan gesien word as verraad deurdat die “… foundational element of paradise - sexual innocence in community - has been spoiled” (Schmutzer 2008:785). Misbruik dra ’n unieke verwoestingsfaktor omdat dit die realiteite van wat dit beteken om mens te wees, naamlik beliggaamde menswees vernietig; gedelegeerde gesag word destruktief; seksuele uitdrukking is verdraaid; intra-persoonlike vertroue word vernietig en die diepgaande metafore vir God word vermink (Schmutzer 2008:786). Hierdie aspekte verenigbetekenisvol rondom die beeld van God.

Soos aangedui in die vorige hoofstuk, word die eksploitasie van die persoon gekenmerk deur ’n gevoel van hulpeloosheid; verlies; kwesbaarheid; skaamte; vernedering; degradering en ander emosionele trauma. Die gedwonge stilswye dra by tot die trauma omdat dit op die oortreder se voorwaardes geskied. Misbruik depersonaliseer dus die slagoffer omdat dit die nẽphẽsh-heelheid van die persoon versplinter. Nẽphẽsh beskryf die menslike bestaan in terme van geskapenheid en verantwoordelikheid voor God (Louw 1999a:36). Nẽphẽsh staan dus in verband met “… ’n unieke lewenservaring waarin dit gaan om ’n bepaalde lewenskwaliteit waarby verskillende aspekte van ons

menswees betrokke is” (Louw 2005:12). Misbruik stuit die missiologiese aspek van seksualiteit deurdat dit die opdrag om te vermeerder aantas. As ’n komponent van beliggaming, word die Skepper se ontwerp van die seksuele anatomie ’n skeefgetrekte simbool van eksploitasie. Dit disoriënteer die slagoffer se seksuele self, asook haar totale selfbesef omdat die daad deur ’n medebeelddraer gepleeg word.

As beelddraer is die mens ’n beliggaamde siel, daarom tas misbruik die totale beliggaamde menswees aan. Selektiewe amnesia bring mee dat die sõma verlaag kan word tot ’n onderworpe dop, sodat sy dit onmoontlik vind om die betekenis van die trauma in haar eie vel sonder terapie te kan verstaan (Schmutzer 2008:793). Indien sy nie terapie ontvang nie, kan haar selfhaat oorgaan tot selfmutilasie, aangesien fisiese pyn die emosionele pyn verdoof.

Die mens, as beeld van God en as versorger van die skepping, is diep betrokke by ’n interafhanklike verhouding met die hele skepping sodat die taak van onderwerping in tandem met die posisie van heerskappy verkeer. Alle aksies moet geskied in diens van, en in oriëntasie met God, se mandaat (Schmutzer 2008:796). Volgens Louw (2005:12) is die beste vertaling van nẽphẽsh die mens as: “beliggaamde lewenskrag, liggaamlikheid as besielde lewe, doelgerigte en Godgegewe lewe”. Misbruik word dan ’n teken van kwaadwillige leierskap en die skeppings-missie raak ontspoor. Dit is dus vir die slagoffer baie moeilik om ’n gevoel van vertroue in volwassenes wat wel betroubaar is te ontwikkel. Dit is ook baie moeilik om kontrole te verkry in situasies wat onvoorspelbaar is of mag te verkry in situasies wat die boodskap van hulpeloosheid kan oordra terwyl al wat sy tot haar beskikking het, ’n onvolwasse psigologiese verdediging- sisteem is. Sy sukkel dus dikwels vir die res van haar lewe met vertroue in verhoudings.

Die uniekheid van elkeen se menswees tree op die voorgrond in ’n verhouding. Om mens te wees behels daarom ’n individuele en kommunale bestaan. Menswees is beliggaam in tyd en ruimte, in verwantskap tot God en ander. Nordling (Schmutzer 2008:800) stel dit as volg: “Thus, to be human is essentially to be a ‘who’ (a personal, intellectual moral agent) called forth into existence as a unique embodied ‘what’ (a biological entity)”. Om met en vir die ander te wees, is die kern van menswees en is die

uitdrukking van ’n vryheid om mens te wees en om die verantwoordelikheid om mens te wees te aanvaar (Anderson 2001:312).

Misbruik sny egter die band tussen die “wie” van menswees en die “wat” van beliggaamde lewe af omdat die gebeure deur liggaam, siel en verstand onthou word. Die slagoffer ervaar daarom ’n: “… crushing alienation; the affirmation they desperately need they can no longer risk” (Schmutzer 2008:800). Misbruik ontneem dus die slagoffer van die uniekheid van ’n seksuele identiteit. Sy ontwikkel die persepsie dat sy deur God en haar medemens in die steek gelaat is. Die slagoffer raak verlam in die spektrum van die lewe sowel as intieme verhoudings sodat sy uiteindelik deel word van ’n wêreld van sonde, skuld en skaamte. Die gawe wat God aan die mens gee, naamlik sy Gees (Müller 1996:39) en verskeie kenmerke van die menslike ervaring wat die stempel van God se beeld in die mens dra, naamlik persoonlikheid; spiritualiteit; rasionaliteit; moraliteit; gesag en kreatiwiteit word hierdeur aangetas (Cameron 2005:56). Die totaliteit van die mens as eenheidswese, word dus aangeraak. Hier is dit belangrik om die geroepenheidsvisie in gedagte te hou, naamlik dat ’n sondige mens die waardigheid van sy/haar Godgegewe roeping volgens Gen. 1:26-28 en Gen. 9:6 behou (Sands 2010:36). Die imago Dei is dus ’n teologiese konsep met etiese implikasies (Sands 2010:39), veral vir die pastoraat.

Etiek dui hier op die “behoort te” van menslike gedrag en het diepgaande implikasies vir die pastoraat deurdat die antropologiese ingesteldheid van die berader haar gesindheid jeens haar gespreksgenoot direk raak:

o Die mens beskik oor ’n onvervreembare waardigheid wat gerespekteer moet word.

o Die menslike lewe behoort beskerm en na waarde geag te word. o Magsideologieë behoort teengestaan te word.

o Sonde wat in die konteks van hoop gesien word.

o Die belang van hoop in ’n seksuele etiek en estetiek moet in ag geneem word.

’n Kritiese refleksie op praxis wat egter nie menslike lyding in ag neem nie, is blote praxeologie wat die mees gekompliseerde “praktiese” kwessie van almal, naamlik teodisee en die skakel tussen God, die bose en lyding, omseil (Louw 2003:385).

4.5.1.3 Implikasies vir die Christelik-spirituele identiteit van ’n slagoffer van