• No results found

Individuele karaktereienskappe van die slagoffer en die oortreder

ONTWIKKELING SELF

3.4 GRADELESING 2: SEKSUELE MISBRUIK

3.4.3 MISBRUIK AS SOSIAAL-GEKONSTRUEERD

3.4.3.3 Individuele karaktereienskappe van die slagoffer en die oortreder

i) Die slagoffer

Voorafgaande navorsing sowel as die aangetoonde verhale van my gespreksgenote in hierdie hoofstuk dui daarop dat swak verhoudings in die gesin die kinders kwesbaar laat vir misbruik. Die bandvormingspatrone van kinders speel ’n belangrike rol in die lewe van ’n slagoffer. Kinders wat ’n vermydende lewenstyl aanneem, ervaar ouers as kontrolerend, verwerpend, inmengerig en agiterend (Bacon 2001:46). Hulle leer om ’n veilige afstand te behou, om hulle spanningsdruk te ontken of weg te steek. Die gevolg is dat hulle kontak met hulle gevoelens verloor, of slegs emosies kan uitleef in die vorm van aggressiewe gedrag (Bacon 2001:36). Alexander (1992:188) beskryf ook ’n vermydende of weerstandige bandvormingspatroon met die tema van rolverwisseling. Kinders neem hier die rol en verwagtings van die ouers oor deur seksueel by een van hulle betrokke te wees of om as versorger van een of albei op te tree eerder as om versorg te word. Sy kan byvoorbeeld haar moeder versorg deur haar vader se seksuele maat te wees. Wanneer die kind se behoeftes nie erken word nie, is sy meer blootgestel aan misbruik buite die gesin. Daar bestaan ook bewyse dat kinders van onbetrokke ouers makliker betrokke raak by bloedskande deur sibbe (Bacon 2001:46).

Volgens McWhirterer (2004:82) bring die gebrek aan sekere lewensvaardighede mee dat kinders/tieners makliker slagoffers word.

o Probleme in vaardigheidsareas. Basiese akademiese vaardighede, oorlewingsvaardighede en selfvaardigheidsverwagtings bring mee dat hierdie kinders apaties en teruggetrokke is weens ’n swak selfbeeld.

o Die konsep van self en selfbeeld. Selfbeeld verwys na die mate waartoe die kind/tiener waarde aan haarself heg, glo dat sy van belang is en dat sy iets het om tot die samelewing by te dra. Selfkonsep verwys na die oorsigtelike veronderstellings oor wie sy is. Die omgewing waarin die moontlike slagoffer haar bevind, beïnvloed die waarde wat sy aan beide hierdie konsepte heg.

o Verbondenheid is ’n altydteenwoordige ervaring van die self in verhouding tot die wêreld wat ’n begrip van die waarde van hegte verhoudings met ander insluit. Kinders en adolessente wat ’n gebrek aan verbondenheid beleef, ervaar sosiale isolasie of verwerping en neig om aan groter stresvlakke te ly.

o Hanteringsvaardighede. Die gebrek aan die vaardigheid om angs en spanning effektief te hanteer onderskei kinders wat ’n hoër risiko loop om misbruik te word van ander. Kinders of tieners in die hoë risiko groep sukkel om belangrike besluite te neem en kan nie konstruktiewe en bereikbare doelwitte daarstel nie. Hulle vorm ’n groot deel van die groep slagoffers wat lank oor die misbruikende gebeure stilbly.

Die belangrikste keuse vir die slagoffer is of, en indien wel, wanneer sy die gebeure openbaar moet maak te midde van die manipulering en dreigemente van die oortreder. Hier is die perspektiewe van die slagoffer, die oortreder en die persoon aan wie die gebeure openbaar gemaak word ter sprake. Die slagoffer het die verwagting dat sy veilig sal wees, dat sy geglo sal word en dat sy ruimte vir openbaarmaking gegun sal word. Die vertroueling van die slagoffer wil weet dat die probleem ten gunste van die slagoffer opgelos kan word, dat verhoudings intak sal bly, dat die kind so min as moontlik skade sal ly en dat onbetrokkenes nie daarvan te hore sal kom nie.

Nadat die gebeure openbaar gemaak is, kan verdere polarisering in verhoudings plaasvind. Die betrokkenes kan verskillende persepsies, opvattings of belange ten opsigte van die gebeure huldig wat skerp teenoor mekaar staan. Hierdie verskille word verder verdiep weens die samehang daarvan met verskillende lojaliteite wat beïnvloed word deur eie ervarings of die identifisering met een van die partye (Ganzevoort & Veerman 1999:130).

ii) Die persoon met ’n pedoseksuele gerigtheid

Om as oortreder geklassifiseer te word, moet die toestand vir ’n periode van meer as 6 maande by die persoon teenwoordig wees. Die seksuele drange en/of aktiwiteite moet benadeling in belangrike areas van die individu se dag-tot-dag bestaan meebring (Spies 2006:6). Gedrags-patrone wat dui op ’n pedoseksuele gerigtheid, is volgens McGregor (2008:146):

o Aandrang om ’n kind te omhels, aan te raak, te soen, kielie of stoei teen die kind se wil.

o Die persoon praat baie oor, of stel baie vrae oor die seksualiteit van die kind. o Die skep van geleenthede om alleen met die kind te verkeer.

o ’n Groot deel van die persoon se vrye tyd word saam met kinders gespandeer. o Die persoon bied gereeld aan om kinders gratis op te pas of om hulle met

vakansie of op uitstappies te neem.

o Die koop van duur geskenke sonder enige rede. o Die uitsluit van ouers of versorgers.

o Maak gereeld inbreuk op die kind se privaatheid deur “per ongeluk” in die kamer of badkamer in te loop terwyl hy/sy besig is om te verklee of te bad.

o Dring daarop aan dat die kind by hom in die bed moet slaap.

o Beheer die kind ten opsigte van besluitneming, sy/haar buitemuurse aktiwiteite of besoeke aan vriende.

o Praat onwelvoeglik oor seks met kinders.

o Gebruik die kind as vertroueling of beste vriend-/in. o Besoek kinders se gesprekkamers op die internet.

Oortreders word in alle vlakke van die samelewing aangetref en is dikwels verantwoordelike en gedissiplineerde lede van die samelewing (McGregor 2008:135). Hulle kan manlik, vroulik, oud of jonk wees en is dikwels bekend aan die slagoffer (McGregor 2008:139,140). Daar bestaan nie ’n enkele empiriese bevinding wat die oorsprong van molestering suksesvol kan verduidelik nie (Richter et al 2004:61). Literatuur bied ook baie min inligting oor die eienskappe van oortreders in die geval van bloedskande tussen sibbe. Verder suggereer ondersoeke dikwels dat seksuele oortredings ’n alleenstaande gedragspatroon is (Spies 2004:101).

Die identifisering van bydraende faktore word bemoeilik deurdat oortreders nie eerlik is wanneer hulle antwoorde oor hulleself en hulle dade moet verskaf nie. Die rede hiervoor is dat oortreders ter wille van selfbeskerming dikwels die misdaad ontken (Spies 2004:102). Baie van die oortreders verstaan nie hoekom hulle die dade gepleeg het of waarom hulle aangetrokke tot kinders is nie (McGregor 2008:147). ’n Oortreder is gewoonlik ’n persoon wat onveilig en ongemaklik voel in verhoudings met ander volwassenes. Hy/sy is dus iemand met ’n uiters swak sosiale selfbeeld en min selfvertroue in verhoudings met volwassenes (Fourie 2006:38). Hierdie persoon is iemand met swak probleemoplossings-vaardighede in die meeste lewensituasies. Oortreders kan egter uitstekende maskerdraers wees deurdat hulle verskillende persoonlikhede volgens die eise van die situasie openbaar.

Hoewel die oorsake van misbruik nog nie definitief uitgeklaar kon word nie, dui die siklus van misbruik op ’n kousale verband tussen slagofferskap en misbruik. Ambridge et al (2003:167) het gevind dat daar toenemende bewyse is dat vele oortreders self slagoffers was. Wanneer volwassenes wat self slagoffers was nood ervaar en verward of beangs is, word hulle bindingsisteme geaktiveer. Hierdie sisteme was egter in die verlede gekoppel aan seksuele pyn, opwekking en opwinding. Nood en angs word daarom verlig deur seksueel-georiënteerde gedragsresponse. Verdere disfunksies soos alkoholisme; dwelmverslawing; kompulsiewe ooreet; selfmoord; erge depressive; paranoïese gedrag en gedrag gekoppel aan ’n bipolêre gemoeds-versteuring kan ook in die gesin van oorsprong voorkom (Lew 1988:22).

Data toon aan dat oortreders wat seuns misbruik beduidend hoër vlakke van fisiese mishandeling beleef het as diegene wat dogters verkies (Richter et al 2004:79). In studies waarby gevonniste oortreders betrek is, is gevind dat oortreders wat seuns misbruik het ’n laer vlak van egosterkte en identiteitvorming getoon het as dié wat vroulike slagoffers gehad het (Townsend et al 2004:84). ’n Ondersoek in 2000 het aangetoon dat die ouderdom van die eerste geleentheid van misbruik, die geslag van die oortreder, die aard van die slagoffer-oortreder-verhouding en die tipe molestering ’n beduidende effek op die misbruikende dade van die oortreder gehad het (Townsend et al 2004:80).

Soos aangetoon, kon die oorsake van misbruik nog nie onteenseglik geformuleer word nie. Dit is egter duidelik dat subtiele meganismes van magsverskil, relasionele oorwig, lojaliteit en manipulering van die slagoffer se behoefte aan koestering en behoort by die oortreding betrokke is.

In die voorafgaande gedeelte is aangedui dat die fenomeen van molestering ’n normatiewe en politieke kwessie is en behels ook belangrike sosiologiese en antropologiese kwessies. Molestering vind plaas binne die komplekse interaksie tussen binne mikrososiale en makro-sosiale invloede. Aangesien daar in die postmoderne samelewing nie ruimte gelaat word vir ’n oorkoepelende storie wat die samelewing saambind nie, verander laasgenoemde kontekste voortdurend, wat deurlopende en ingewikkelde aanpassingsprosesse vereis. Aanpassing word verder bemoeilik deurdat kinders en adolessente groeiende organismes is, wat weens hulle opgroei voortdurend blootgestel word aan verandering ten opsigte van voorkoms, denke, gevoel en gedrag (Weiner & Elkind 1972:235). Misbruik het daarom ’n diepgaande fisiese, psigiese en spirituele impak op genoemde fasette van die belewing en hantering van die ontwikkelingstake gekoppel aan die adolessente lewensfase. Vervolgens word die aard van die impak van misbruik ondersoek en sal dit in hoofstukke 5 en 6 gebruik word as basis vir refleksie in die ontwerp van ’n narratiewe pastorale betrokkenheid by slagoffers van misbruik.