• No results found

DIE TEODISEE-VRAAGSTUK AS PRAKTIES-TEOLOGIESE PROBLEEM

MISBRUIK IMPAK

4.6 DIE TEODISEE-VRAAGSTUK AS PRAKTIES-TEOLOGIESE PROBLEEM

Praktiese teologie word onderskei van ander teologiese dissiplines omdat die oorsprong daarvan in die menslike ervaring lê. Die menslike ervaring is die “plek” waar die Evangelie begrond, beliggaam, geïnterpreteer en uitgeleef word (Swinton & Mowat 2006:5). Dit vereis dat die vrae wat ten opsigte van teologiese tradisies en die Skrif gevra word altyd vanuit die konteks ontstaan. Binne die kader van hierdie paragraaf is dit onmoontlik om die totale probleem van lyding aan te spreek. Daarom word gefokus op gespreksgenote se vrae oor God se rol in die voorkoms van hulle lyding wat voortspruit uit hulle ervaring dat God hulle in die steek gelaat het omdat die misbruik in elk geval plaasgevind het. Verder is die teodisee-vraagstuk een van die sentrale probleme in die geloofsontwikkleing van adolessente (Ganzevoort 1994a:280).

Geloof in God is geen waarborg teen lyding nie, maar is slegs ’n uitweg in lyding (Van Niekerk 2005:117). Die lewe soos die mens dit ken, en dikwels vrees, is “… ’n slingerpad oor hoogtes van vreugde en deur dale van wanhoop … ’n siklus van uitsig en rondtas in die donker “ (Van Niekerk 2005:117). Wie heil, heling en gesondheid te berde bring, veronderstel dus tegelykertyd ook onheil, gebrokenheid en siekte (Van Egmond 1990:41). Van Egmond (1990:41) stel dit verder dat “… iedereen uit zichzelf weet, wanneer hij onrecht lijdt, … elkeen maar zo kan zijn omdat God ons deze kennis in het hart gelegd heeft!”. Die mens se persepsie van die moontlikhede van Goddelike transformasie van ’n bepaalde situasie word getoets teen die realiteit van wat, gegewe die situasie en wie die mens daarbinne is, moontlik is (Gerkin 1986:73).

Dit is egter belangrik dat in al die spreke oor lyding, die lydende nie uit die oog verloor moet word nie. Die bose verwys na vernietiging en kwaadwilligheid, terwyl lyding wys in die rigting van menslike nood(Louw 2003:386). Lyding sluit die mens se onderneming om vrede te maak met pynlike lewensgebeure en om “heel” te word in. Volgens Louw (2008:1) stam die behoefte vir ’n pastorale antropologie voort vanuit die teodisee en die ervaring dat lyding twee vrae ontlok, naamlik: “Wie is ek?” en “Wie is God?”. Na aanleiding van Jer. 32:35 en 1 Joh. 3:5 skryf Hume (Meadors 2009:185) die volgende:

Is he (God) willing to prevent evil, but not able? Then he is impotent. Is he able, but not willing? Then he is malevolent.

Is he both able and willing? Whence then is evil?

Lyding omspan die hele lewe deurdat die mens se pogings tot interpretasie van wat besig is om te gebeur ’n herondersoek van waarin geglo word impliseer. Vrae wat rondom die onverstaanbaarheid van lyding ontstaan, is: Waar kom lyding vandaan? Hoekom laat ’n liefdevolle en almagtige God dit toe? Wat is die sin van lyding? Teodisee is dus die poging om God se regvedrigheid en goedheid te midde van die ervaring van die bose en lyding in die wêreld te regverdig en raak spesifiek vrae rondom die almag, goedheid en liefde van God aan (Vos & Müller 1990:6). Die antropodisee- vraag ten opsigte van waarom onskuldige en regverdige mense ly sluit hierby aan.

Hoe die vrae aangaande die betekenis van lyding beantwoord word, word grootliks bepaal deur die beeld of beelde wat die vraagvraer van God het (Louw 2000:98). Binne

’n teologiese sisteem waar die voorsienigheid en almag van God bely word, word die gevolgtrekking gemaak dat God ook met lyding te doen het. As God verantwoordelik is vir die goeie in die lewe, staan Hy sekerlik nie los van die slegte nie. Die probleem met die rol wat God speel in lyding, is dat die kwaad soveel vorme aanneem: sonde, siekte, sinlose lyding, dood en onreg (König 2002:22). König (2002:16) maak daarom gebruik van die voorsienigheidsleer wat dui op hoe God by die totale skepping betrokke is. Hierdie leer plaas die mens “… vierkant in die werklikheid, of liewer in die stukkendste en seerste deel van die werklikheid” (König 2002:16). Dit is hierdie mense wat ly, wat ontnugter is, wat voel dat hulle aan die einde van hulle lewe gekom het, wat die vrae oor geloof vra.

Die teodisee-vraagstuk bied tradisioneel die belangrikste grond vir ongeloof (Van Niekerk 2005:118). Die kwaad is, soos God self, ’n misterie waar misterie altyd agter ’n sluier aangemeld word (Van Niekerk 2005:133). Dietrich Bonhoeffer het tydens sy gevangeskap in Auschwitz geen nodigheid gesien om God te regverdig in die teenwoordigheid van die bose nie (Aubert 2011:49). Die kern van alle dinge is volgens Bonhoeffer Christus en daarom moet alles verstaan word in die lig van Christus se dood en opstanding (Aubert 2011:49). In die Bybel bestaan daar geen eenduidige en koherente teorie omtrent die kwaad nie. Die boeke Habakuk en Job verklaar of verduidelik op geen stadium die werklikheid van die kwaad nie. Job sien nie wat die oplossing van die probleem van die kwaad is nie, maar wel wié God is as Skepper, wat ook nie deurvors kan word nie. Heitink (1979:54) sluit as volg aan aan by (Hebr 1:3): “… hoe de Bijbel ook gelezen wordt, het moet corresponderen met hem die ‘de afstraling van Gods heerlikhijd en de afdruk van Zijn wezen’”. Volgens Van Niekerk (2005:131) is kwaad en lyding die gevolg van die risiko wat God geloop het om die mens te skep- “… mense in die sin van persone of volwaardige agente met die werklike vermoë om te kan kies tussen goed en kwaad”.

Dit het dus implikasies vir die teologies-antropologiese siening van die mens as beeld van God. As die mens beelddraers van God is, dan is hulle agente van God se Vryheid. Louw (2000:99) is hoofsaaklik besorg oor die vraag: “Will Christians maintain a God-image and an understanding of provision which must satisfy our need for development, achievement and survival or a God-image which deals with our human misery and opens up new horizons of hope?” Volgens hom word die beeld wat die

mens van God het dikwels beïnvloed deur die konteks en kultuur waarin die lydende verkeer. Verder klink die “verklarings” wat vir lyding aangebied word, dikwels eerder na Godslastering (König 2002:22). Hierdie verklarings volg op die vrae wat ten opsigte van lyding gevra word oor die oorsaak van lyding, wie die oorsaak daarvan is, watter rol God in die gebeure gespeel het en hoe lyding draagliker gemaak kan word. Lydendes is nie teoloë nie, maar dit maak nie hulle vrae ongeldig nie. Ek het met verskeie mense gesels nadat hulle op een of ander manier deur lyding getref is. Die vrae wat hulle gevra het, word vanuit die oogpunt van die lydende, vanuit die praktiese teologie sowel as teologiese teorie verwoord.

4.6.1 HOEKOM? WIE IS VERANTWOORDELIK VIR LYDING?

Tradisioneel is eers in die algemeen gevra hoe God by die mens se lewe betrokke is en dan is die konkrete kwaad eers later ter sprake gebring (König 2002:22). Volgens Louw (2000:99) kan die verskillende benaderings tot die probleem in twee groepe ingedeel word, naamlik: die inklusiewe benadering wat lyding sien as die wil van God, en die eksklusiewe benadering wat lyding nie sien as die wil van God nie. Irenaeus het geen probleem daarmee gehad om God in die eerste en laaste instansie verantwoordelik te hou vir die kwaad en lyding in die wêreld nie (Van Niekerk 2005:124). God is egter volgens hom nie ’n moedswillige kosmiese sadis nie. Kwaad en lyding bied noodsaaklike stimuli en weerstand wat, as die mens reg daarop reageer, die geleentheid bied om as morele wese te groei (Van Niekerk 2005:124). Volgens Calvyn (König 2002:113) het God tot in die ewigheid letterlik elke ding wat gebeur, en ook hoe dit gebeur, vooraf bepaal. Hy sluit die sondeval met al sy vernietigende gevolge hierby in. Die probleem van hierdie standpunt is dat God dan ook die outeur van die kwaad word. Vir Augustinus (König 2002:113) was die skepping een groot harmoniese geheel waarin alles goed inpas, al is daar sonde en die kwaad wat dit ontsier. Hy vergelyk dit met die kleur swart, wat op sigself ’n morbiede kleur is, maar wat ’n noodsaaklike funksie in ’n skildery vervul. Vir Müller (2011:135) is alle Godsbeelde uiteindelik maar taalkonstrukte wat die mens óf help óf belemmer in hulle pogings om God te verstaan. Dit is eerder belangrik dat die mens daartoe moet kom om “… ons nie aan slegs één begrip van God uit te verkoop nie, maar oop te wees vir die onuitspreeklike veelkantige misterie van God” (Müller 2011:135).

Louw (2000:99) kom tot die gevolgtrekking dat:

… theodicy can never explain suffering at a rational level. It can only describe and express the complexity of suffering and our human attempt to come to grips with our own misery … every attempt to justify suffering using logic, reason or morality is unsuccessful from a pastoral perspective.

Louw (2000:99) maak gebruik van ’n metaforiese teologie, wat hy beskryf as “kwesbare getrouheid”, waarvan die beste voorbeeld gesien word in die kruis. Vir my gaan dit daaroor dat die vrae oor lyding in die teenwoordigheid van God gevra moet word.

4.6.2 HOE IDENTIFISEER GOD MET DIE MENS SE LYDING?

Barth redeneer dat aangesien Christus God se oplossing vir lyding is, moet enige Christelike debat oor teodisee begin by Christus en die kruis (Vorster 2007:153). ’n Positiewe teodisee is daarom net in Christus moontlik. Moltmann sien God se lyding aan die kruis as vertrekpunt van die Christelike teologie en beklemtoon daardeur God se solidariteit met lyding (Moltmann 2008:102). Van Niekerk (2005:233) stel dit dat: “Die kruis van sy Seun is die grootste bewys dat Hy harte kan ‘oopbreek’, sy vyande sy vriende kan maak”. Hier openbaar Louw (2000:99) die kritiese belang van ’n teologie van die kruis deur van die kern argumente van Moltmann gebruik te maak. Hy brei egter uit op Moltmann se benadering deur klem te lê op die belang van die pneumatologie vir ’n interpretasie van die kruis. Vir König (2002:228) is dit die mag van God in die kruis van Christus wat Hom uniek maak, maar dit maak nie sin sonder die opstanding nie, omdat die dood oorwin is. Paulus verklaar in 1 Kor 15:12 - 58 dat die Christelike geloof op die opstanding van Christus berus. Die kruisgebeure maak dus nie sin sonder die opstanding van Jesus Christus nie. My verstaan van hierdie tema gaan daaroor dat lyding by God is en dat God in die lyding is deur middel van die verbond wat Jesus aan die kruis met ons gesluit het.

4.6.3 WAAR IS GOD? HOE WORD GOD IN DIE GESKIEDENIS EN DIE GEBEURE IN DIE MENS SE LEWE GEVIND EN WAT IS SY WIL IN LYDING?

Vir Turl (2011:51) gaan dit oor God se begeerte vir ’n skepping wat verantwoordelike besluite neem en “… involved self-imposed uncertainties that can nevertheless be incorporated into a predictable framework on a sufficiently large scale” (Turl 2011:51). Die plasing van God se skeppingsdaad buite die ruimte-tyd raamwerk maak slegs ’n verskil aan sy almagtigheid as daar ’n indeterminisme in die heelal is, anders sal alles wat gebeur voorspelbaar wees (Turl 2011:53). Louw (2007:100) se antwoord hierop is deurslaggewend vir die pastoraat:

Most fundamental in finding the will of God is our being function – our new status in Christ … Impressions and emotions easily lead to guesswork and speculation … Personal desires can often be most misleading and are driven by selfish motives and egotistic objectives. Circumstances might provide a contour … but they do not communicate a final yes or no … What indeed exists is the person who makes decisions. And for our decisions we need the guidance of the Spirit, the direction of the Word of God, trust in His faithfulness and the wisdom of the church – the body of Christ.

Die sin van die geskiedenis is die koninkryk van God en sy heerskappy met die oog op gemeenskap met God. Die koninkryk van God is nie God self nie, maar die mens en die ganse kosmos wat in gehoorsaamheid buig voor die heerskappy van God se dade.

4.6.4 WANNEER SAL LYDING OORKOM EN GETRANSFORMEER WORD?

Van fundamentele belang hier is die dinamiek van, en die voortgaande verbonds- verhouding met God, wat Homself geopenbaar het in die persoon van Jesus Christus. Hoewel lyding sinloos is, kan dit sinvol aangewend word. Elke nuwe dag is ’n uitdaging vir die komende ryk van God. Dit behels troos; bystand; bestryding van onreg; verbetering van die wêreld en die opheffing van mens-onterende dade. Sy lewe, dood en opstanding en Gees betrek dus die mens by ’n lewe van responsiwiteit en verwantskap aan die ander (Louw 2000:100).

4.6.5 DIE UITEINDELIKE VRAAG HANDEL DUS NIE OOR DIE BETEKENIS VAN LYDING NIE, MAAR EERDER WATTER BETEKENIS AAN LYDING GEGEE KAN WORD.

In Johannes 9:2 vra die dissipels aan Jesus: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”.

Vir Richards (1987:177) dui die sin in lyding op:

To be human is to be vulnerable and to know pain. From the beginning, the glory of God has been displayed, not in any immunity to suffering which God has granted his own, but in unique good which has worked in us through suffering.

Lyding word dan ’n uitnodiging en ’n geleentheid om God se genade, meelewing, uiterste getrouheid en troos opnuut te ontdek in die manier waarvolgens gelewe word in die mens se “Life Together” (Louw 2000:101). Lyding kan dan ’n roeping word deurdat geloof nie midde-in die pyn stagneer nie. Geloofsgroei vind plaas in die innige gemeenskap met die opgestane Christus en met die oog op getuienis na die wêreld en die gemeente as die liggaam van Christus.