• No results found

6.1 ’N PERSOONLIKE REIS NA ONDER

7.4 GESIN/FAMILIE

Gesin is ’n eksklusiewe begrip wat gewoonlik verwys na ’n kerngesin wat met bloedverwantskap gevorm is en bestaan uit ’n pa en ma en een of meer kinders. Die realiteit is egter dat baie “gesinne” aan die begin van die 21ste eeu anders lyk en nie meer aan hierdie omskrywing van die konsep voldoen nie. Baie kinders het net ’n pa of net ’n ma en is dus deel van ’n enkelouer-gesin. Sommige kinders bevind hulle na egskeiding en weer trou in hersaamgestelde gesinne waar hulle dikwels ’n week-pa en ’n ander naweek-pa het. Ander kinders het net ’n ongetroude ma of pa. In sommige kinders se lewens het oupa en ouma eintlik die pa- en ma-rol oorgeneem. Daar is ook ’n toename in enkellopendes as gevolg van jongmense wat langer wag voor hulle trou en mense wat enkel bly na ’n egskeiding of die afsterwe van ’n lewensmaat. Vanweë die veroudering van die bevolking is daar ook al hoe meer getroude pare sonder kinders in die huis – die leë-nes-familie. Amoateng en ander (2004:xiii) sê van hierdie situasie: “There is a gap between idealization of the family and the reality which affects all South African communities as they find themselves living in conditions, which make it difficult to actualize cherished beliefs about what families are and should be.” In die lig van die realiteite met betrekking tot die verskeidenheid van gesinstrukture en samestellings wat aan die begin van die 21ste eeu voorkom, is dit nodig dat daar in die kerk meer insluitende taal met betrekking tot gesinne gebruik behoort te word. Gemeentes behoort ook te verbeter in die verwelkoming

van “nie-tradisionele” families in hulle midde (Thatcher 2007:134). Richter en ander (2003:10), met verwysing na Edgar, verklaar in dié verband: “Without due recognition of the diversity of family forms, there is a real danger of idealizing the family as an abstraction. For this reason, it is preferable to talk about families in the plural in formulating policy.” Marler (1995:28) waarsku tereg dat daar in die kerk nog te maklik gewerk word met die eksklusiewe konsep gesin as gevolg van ’n nostalgiese vashou aan dit wat in die verlede van die familie belewe is. Die fout wat dikwels gemaak word, is om die kerngesin met die broodwinner-vader en die huisvrou-moeder te verhef tot Goddelike norm vir die familie in plaas van om te besef dat hierdie familievorm die produk was van die radikale differensiasie tussen huis en betaalde arbeid wat met die Industriële Rewolusie na vore gekom het en nie die Goddelik gesanksioneerde familievorm van die Bybel is nie (Browning 1995:73).

Daarom word daar doelbewus gekies om in die navorsing eerder die meer inklusiewe konsepte familie(s), familielewe en familiebediening te gebruik as die tradisionele konsepte gesin, gesinslewe en gesinsbediening. Waar daar met ’n bepaalde outeur in gesprek getree word wat die tradisionele konsepte gebruik, word in verwysings na die outer en binne die konteks van die gesprek, die outeur se terminologie gebruik. Om die konsep familie te omskryf is egter glad nie maklik nie. In die lig van die groot diversiteit van familiestrukture gaan Bateman (in Richter et al 2003:10) selfs so ver om te sê: “What people regard as their family is their family and this is the reality we, as service providers, must deal with.” Cahill (2000:xi) is selfs van mening dat dit amper onmoontlike geword het om die “outer boudaries of family” te definieer en in sekere opsigte onverstandig is om dit te probeer doen as jy ’n inklusiewe en ondersteunende benadering tot die familielewe wil bevorder wat nie sekere familievorme verkleineer en uitsluit nie. Daarom spreek sy die mening uit dat die formulering van Christelike ideale met betrekking tot die familielewe eerder moet fokus op funksie “(fostering gospel-informed commitments and behavior)” as op spesifieke vorme.

In die verslag oor die AJK Familie-Gemeente Projek van die NG Kerk, in samewerking met BUVTON en die Hugenote Kollege, is die gevolgtrekking dat in die lig van die realiteite met betrekking tot die familielewe aan die begin van die 21ste eeu daar in die omskrywing van die konsep familie wegbeweeg behoort te word van die verstaan van familie “as ’n getroude paartjie met kinders (as hulle het),” na ’n omskrywing van familie “as die mense wat hulleself toewy om familie te wees vir mekaar” (Van der Watt & Thesnaar 2005:31). In hulle boek oor familiebediening gee Olson en Leonard (1996:25-26) juis uitdrukking hieraan met die volgende definisie van die konsep familie: “We understand the concept of

family to mean any network of two or more people linked over time emotionally, and usually biologically and legally, sharing such things as home, spiritual and material resources, interpersonal care giving, memory, common agenda, and aspirations.” Thesnaar (2003:19) sluit hierby aan wanneer hy die konsep

familie met reg soos volg omskryf: “’n Familie is ’n veilige plek waar die lede van die familie die ervaring van “behoort” het; sorg dra vir mekaar; saamgebind is deur hulle storie; bewus van en ingestel is op mekaar se agendas en aspirasies vir die toekoms; en wat leef en wandel in die teenwoordigheid van die Here en dit

na buite toe uitleef.” Hierin kom die kern van familiewees tot uitdrukking en in die navorsing sal aangesluit word by hierdie inklusiewe verstaan van die konsep familie.

Die konsep familie sal in die navorsing ook gebruik word met verwysing na die gemeente as geloofsgemeenskap. Dit word gedoen omdat dit uiters belangrik is dat gelowiges moet besef dat hulle almal ook gekoppel is aan die breër gemeentelike en kerklike familie. In die verband, en in aansluiting by sy bogenoemde inklusiewe definisie van familie, maak Thesnaar (2003:19) ’n baie sinvolle onderskeid, naamlik tussen die konsepte mikro-familie, vir ’n huishouding, en makro-familie, vir die gelowiges in ’n gemeente.

7.5 PRAKTIES-TEOLOGIESE EKKLESIOLOGIE

In die dogmatiek of sistematiese teologie word nagedink oor die wese van die kerk en veral oor die vraag: Wat is die kerk en behoort dit te wees? Die klem word geplaas op die algemene waarhede met betrekking tot die kerk en die kerk word dus idealitêr en staties beskryf. Dit gee egter nie antwoorde of advies op die vraag hoe hierdie wese van die kerk in die bedieningspraktyk gerealiseer kan word sodat gemeentes effektief kan funksioneer nie (Burger 1991:17). ’n Prakties-teologiese ekklesiologie se fokus is juis hierop. Dit wil in die lig van wat die kerk wesenlik is, besin oor die vraag hoe funksioneer die kerk en hoe word dit georganiseer hier en nou. ’n Prakties-teologiese ekklesiologie wil dus wat die kerk is, vertaal in hoe die kerk moet doen, wat dit is, en hoe die kerk dit wat sy doen moet organiseer (vergelyk Van Gelder 2000:37) ten einde ’n effektiewe plaaslike gemeente te kan wees. Dit is dus ’n soeke na ’n kontekstuele ekklesiologie, na hoe om onder leiding van die Woord en Gees hier en nou in ’n spesifieke plek en tyd kerk te wees. Hendriks (1997:12) beskryf dit as ekklesiologie in spanning: “Dit beweeg in die spanning tussen openbaring en tradisie aan die een kant en die nood en behoeftes van mense aan die ander kant.” ’n Prakties-teologiese ekklesiologie is dus ’n ekklesiologie wat ontwikkel word in ’n korrelatiewe hermeneutiek tussen Skrif en konteks, tussen Woord en wêreld ten einde die ontwikkeling van funksionele gemeentewees te bevorder.

7.6 JEUGBEDIENING

Jeugbediening word, in aansluiting by Nel (vergelyk punt 6.5 hierbo), gebruik as omvattende begrip wat die bediening van kinders en adolessente insluit. In sommige literatuur verwys die begrippe “youth ministry” of “youth work” duidelik net na die bediening van adolessente en in sulke gevalle word die begrip jeugbediening so gebruik. Uit die konteks waarin hierdie begrip gebruik word, sal dit duidelik blyk wanneer dit net na die bediening van adolessente verwys.

7.7 KINDERBEDIENING

As aanvanklike vertrekpunt word die begrip kinderbediening in die navorsing gebruik om spesifiek te verwys na die bediening in en deur gemeentes wat gerig is op en/of waarby kinders in die ouderdonsgroep 6 tot 12 jaar (vergelyk 7.1 hierbo) betrokke is. Aan die einde van die navorsing sal die konsep kinderbediening in hoofstuk 5 volledig bespreek word. Omdat kinders nie net objekte van bediening is nie, maar ook subjekte van bediening, word hier doelbewus gekies om nie te praat van “die bediening aan kinders” nie, maar eerder van “die bediening van kinders”.

7.8 KINDERTEOLOGIE

34

Aangesien Kinderteologie ’n nuwe begrip en studieveld is, en op diverse maniere beoefen word, bestaan daar nog nie ’n algemeen aanvaarbare omskrywing van die konsep en benadering tot hierdie veld van studie nie.35 Trouens, Bunge (2006b:572) is van mening dat net soos wat “feminist, black, liberation, and other forms of contemporary theology are diverse, theologies of childhood and child theologies, too, are bound to be plural and take varied approaches.” Kinderteologie word in die navorsing gebruik as ’n omvattende begrip wat verskeie dimensies bevat.36 Dit sluit in “Theologies of childhood” wat volgens Bunge (2006a:1) die verskillende perspektiewe van die Bybel en die Christelike tradisie met betrekking tot kinders en kindwees in ag neem om so “sophisticated theological understandings of children and childhood and our obligations to children” te voorsien. Ander aspekte wat onderskei kan word, is “Children’s theology” wat kinders se eie teologisering is, “Children’s Spirituality” wat meer die klem plaas op kinders se unieke geestelike ervaringe, “Theologies for children” wat veral in die Duitse wêreld aandag geniet, en die tradisionele “Christian and religious education” (vergelyk Bunge 2006a:1). Kinderteologie sluit al hierdie dimensies in, maar is terselfdertyd ook meer as hierdie dimensies.

Die unieke klem van Kinderteologie is dat dit kinders in die midde van alle teologiese refleksie wil plaas en dus as te ware die fundamentele Christelike dogmas en praktyke van die kerk wil herbesoek deur kinders as lens te gebruik. Volgens White en Willmer (2006:6) is Kinderteologie “an investigation that considers central themes of theology – historical, biblical, and systematic – in the light of the child standing beside Jesus in the midst of the disciples.” Bunge (2006b:574) sluit hierby aan as sy verklaar: “The lens of the child – just like the lens of gender, race, or class – can also help re-examine central beliefs and practices of a religious tradition and expose some of its neglected or distorted elements.” Nog meer, “[d]eveloping vibrant religious understandings of children can also empower religious communities to rethink their

34 Die omskrywing wat hier gegee word, moet gelees word met inagneming van dit wat reeds onder punte 6.3 en 6.4 hierbo oor die begrip geskryf is.

35 Vir die bespreking van verskillende benaderings wat reeds na vore gekom het, vergelyk Bunge (2006b:572-573) se verwysing na ’n aantal studies wat hierdie diversiteit illustreer.

ministries to children and to strengthen their support for all children in need” (:574). Volgens Tan (2007:28) wil Kinderteologie God en sy manier van dinge doen beter leer verstaan met die hulp van kinders.

Die kinders wat as lens gebruik word mag egter nooit ’n algemene abstraksie van kindwees of kontekslose kinders wees nie, want dan dreig die gevaar dat Kinderteologie weer verval in “teologie-van-bo-af” wat niks te doen het met die konkrete lewenswerklikhede van kinders nie en daarom nie meer getrou is aan die aard van bevrydingsteologie as “teologie-van-onder-af” nie.37 Tereg verklaar Herzog (2005:72): “Just as feminism in the seventies had to learn that sisterhood is not ‘universal,’ but comprises different ethnic, national, and religious women’s movements, so the postmodern and postcolonial discourse on children has to take multiple forms depending on geography, culture, politics, gender, and religion.”

8. OPERASIONALISERING

Die operasionalisering van die navorsing vind plaas aan die hand van die navorsingsmetodiek wat hierbo bespreek is. Daarom word die navorsing in die volgende vier hoofstukke uiteengesit:

Hoofstuk 2 - Die situasie van kinders in hierdie wêreld: Perspektiewe vanuit die sosiale konteks aan die begin van die 21ste eeu;

Hoofstuk 3 - Die situasie van kinders in die kerk: Perspektiewe vanuit die kerklike bedieningspraktyk binne die konteks van die 21ste eeu;

Hoofstuk 4 - Kinders in die midde van die diverse getuienisse van die Bybel;

Hoofstuk 5 - ’n Ander weg vir die bediening van kinders: Perspektiewe vanuit Kinderteologie en ’n prakties-teologiese ekklesiologie.

36 Jeyaraj (2006:3) se omskrywing van Kinderteologie as “the theology to protect, care and empower all children particularly children at risk” dui wel ’n belangrike aspek van Kinderteologie aan, maar is nie omvattend genoeg nie.

37 ’n Illustrasie van wat hiermee bedoel word, is die bespreking van die dogma “sonde” tydens die Child Theology

Movement se konsultasie in Kaapstad (Willmer 2007:12-22; Bunge 2006b:571-572; Collier 2004:16-19). Die dogma

oor sonde is herbesoek nie deur ’n kontekslose kind in die middel van die bespreking te plaas nie, maar wel ’n dogter van 13 wat in prostitusie ingeforseer is en ’n seun van 12 wat gedwing is om ’n soldaat te word te visualiseer. Daar is eers met mekaar ware verhale oor sulke gevalle gedeel ten einde die situasie van sulke kinders meer werklik en reëel te beleef. Die volgende stap was “to ask explicitly how the doctrine of sin interprets these children for us and how these children speak to our thinking about sin” (Collier 2004:17). Hierdie verbeeldingryke oefening het nie net die deelnemers se nadenke gefokus op die harde lewensrealiteite van kinders nie, maar dit het hulle ook gedwing om hulle eie verstaan van sonde te herbesoek “to make room for both the realities of violence against children as well as a child’s own agency. They had to ask new questions in regard to sin and theological anthropology in general, particularly in regard to selfhood, moral agency, conscience, free will, innocence, embodiment, and sexuality” (Bunge 2006b:572). Dit is dus ’n proses waarin dogmas en teologiese temas ondersoek word aan die hand

HOOFSTUK 2

DIE SITUASIE VAN KINDERS IN HIERDIE WÊRELD: