• No results found

6.1 ’N PERSOONLIKE REIS NA ONDER

6.5 DIE ROETEKAART VAN HIERDIE REIS

“Theology is a not a noun; it is a verb” (Hendriks 2004:24). Daarom is Hendriks se definisie van teologie, soos hierbo weergegee, terselfdertyd ’n metodologie. Alhoewel hierdie metodologie in die navorsing nie volledig nagevolg word nie, het dit gehelp om duidelikheid te kry oor die roetekaart wat in die navorsing gevolg word.

Volgens Herzog (2005:21) is daar aan die begin van die 21ste eeu twee bronne wat teologiese aandag aan kinders stimuleer en eintlik noodsaaklik maak. Aan die een kant is daar die konteks waarin kinders opgroei wat dui op ’n globale krisis met betrekking tot kinders en hulle lewenskwaliteit (vergelyk Hendriks se verwysing na “wider contextual situation” hierbo). Aan die ander kant is daar die Skrif self wat ons uitdaag

om opnuut teologies oor kinders na te dink (vergelyk Hendriks se verwysing na “Scripture and tradition” hierbo). In die eerste deel van die navorsing, naamlik hoofstukke 2 en 3, word daar op die eerste bron, naamlik die sosiale en kerklike konteks van kinders, gefokus. In die tweede deel van die navorsing, naamlik hoofstuk 4, word daar op die tweede bron naamlik die diverse getuienisse van die Bybel met betrekking tot kinders, gefokus.

Die navorsing is gestimuleer deur die ontdekking dat gemeentes in die bedieningspraktyk sukkel om as inklusiewe intergenerasionele ruimtes waarin kinders en volwassenes God saam dien en saam geestelike groei te funksioneer. Dit het onder andere die volgende vrae na vore geroep: Wat presies gaan hier aan? Hoekom bestaan hierdie probleem? Wat is die oorsake daarvan? Wat is die diepste nood? Om hieroor duidelikheid te probeer kry, word in die eerste fase van die navorsing by die wyer kontekstuele situasie begin. Eers is die sosiale konteks30 waarin kinders aan die begin van die 21ste eeu leef in hoofstuk 2, ondersoek. Daarna is die kerklike bedieningspraktyk met betrekking tot die bediening van kinders in hoofstuk 3 ontleed ten einde te bepaal wat die kerk op die oomblik met betrekking tot die bediening van kinders doen. Die gegewens verkry uit die literatuurstudie is aangevul met statistiese data verkry vanaf die Eenheid vir Godsdiens en Ontwikkelingsnavorsing aan die Universiteit van Stellenbosch, en uit publikasies van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Statistiek Suid-Afrika, UNICEF en die verskillende uitgawes van die Kerkspieël-verslae oor empiriese navorsing met betrekking tot die NG Kerk. Die keuse om eerder van bestaande empiriese gegewens gebruik te maak as om selfstandig empiriese navorsing te doen, is nie ’n prinsipiële keuse nie, maar ’n praktiese keuse.

Nadat die prentjie van die empiriese werklikheid duideliker geword het, is die fokus in hoofstuk 4 verskuif na die tweede fase van die navorsing naamlik die interpretasie van die normatiewe bronne van die verlede. Daarom is in hierdie deel van die navorsing ’n teologiese ondersoek gedoen na die diverse Bybelse getuienisse met betrekking tot kinders en God en Christelike geloofsgemeenskappe se betrokkenheid by en versorging van kinders. Hierdie ondersoek is gelei deur vrae soos: Hoe sien God kinders? Waarheen is God met kinders op pad? Wat leer die tekste oor kinders se wandel met God en hoe hulle daarin begelei kan word? Wat is die implikasies van die kerk se identiteit as God se gestuurdes in die wêreld vir ’n gemeente

29 Met betrekking tot die boek The child in the Bible verklaar Bunge (2008:10) pertinent: “The contributors...reexamine selected biblical texts throught the “lens” of the “child.” In other words, they keep in mind or “foreground” questions and concerns about children and childhood as they interpret biblical texts.”

30 Alhoewel die navorsing fokus op kinders binne die Gereformeerde denominasies en veral die NG Kerk (vergelyk paragraaf 4 hierbo oor die afgrensing van die navorsingsveld), word hierdie kinders groot in ’n pluralistiese sosiale werklikheid. Hierdie werklikheid, en veral die invloed van die globale konteks op die lokale konteks, kom duidelik na vore in die volgende uispraak van Herzog (2005:71): “The future of our children is unavoidably tied to global forces. It does not only take a village to bring up a child, but every village and every city is determined by global market forces, global media, and global politics.” Om hierdie pluralistiese sosiale werklikheid te verstaan kan daar in die analise van die sosiale konteks hier aan die begin van die 21ste eeu nie net volstaan word met ’n fokus op die meer Westers-georiënteerde deel van die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Daarom word in die analise van die sosiale konteks die breër globale en Afrika kontekste, en die totale Suid-Afrikaanse konteks, in ag geneem. Die begrip “sosiale konteks” verwys dus oorkoepelend na hierdie werklikheid met sy baie gestaltes.

se verhouding met kinders? Dit het gelei tot die formulering van ’n aantal Bybels-teologiese perspektiewe wat in die gemeentelike bediening van kinders in ag geneem behoort te word.

In die derde fase van die navorsing is die perspektiewe vanuit die sosiale en kerklike konteks en die Bybels-teologiese perspektiewe met mekaar in gesprek gebring en worstelend en biddend probeer om te onderskei wat God se wil met betrekking tot die bediening van kinders in ’n tyd soos hierdie is, sodat gemeentes in hul interaksie met kinders ’n hoopvolle teken kan wees van God se koninkryk wat aan die kom is. Vanuit die perspektief van Kinderteologie en ’n prakties-teologiese ekklesiologie is die volgende ses basisteoretiese rigtingwysers of lense vir ’n gesprek oor die ontwerp van ’n praktykteorie (visie en missie-stelling) vir die bediening van kinders aangetoon en bespreek:

• Hoe oor God gedink word;

• Hoe oor kinders en hul kindwees gedink word; • Hoe oor families en familiebediening gedink word; • Hoe oor gemeentes gedink word;

• Hoe oor geloofsvorming gedink word; en • Hoe oor kinderbediening gedink word.

Vir die insameling van die data langs hierdie roete, is hoofsaaklik gekonsentreer op die bestudering van toepaslike bestaande literatuur van veral Amerikaanse, Europese en Suid-Afrikaanse oorsprong. Enkele bronne vanuit Afrika en Asië is ook betrek. Daar is ook gepoog om na verskeie vroue se stemme te luister. Wat die navorsing bemoeilik het, is dat in die teologiese nadenke oor en publikasies ten opsigte van jeugbediening, die fokus dikwels baie sterk en soms selfs uitsluitlik op die bediening van adolessente val. ’n Interessante voorbeeld is die boek “Four views of youth ministry and the church” onder redaksie van Senter (2001). In sy bydrae tot die boek gebruik Malan Nel (2001), bekend vir sy akademiese bydrae tot die ontwikkeling van Jeugbediening as vaksdissipline veral in Suid-Afrika, dikwels die begrippe kinders en adolessente saam (so ook in Nel 1998, 2003). Hy sê duidelik dat hy onder die term jeug, en dus by implikasie onder die term jeugbediening, beide kinders en adolessente insluit (2001:19; 2003:82). Sy teologiese denke is dus van toepassing op beide adolessente en kinders. Twee van sy gespreksgenote, Black (2001) en Clark (2001), gebruik in hulle bydraes net die term adolessent en dit is duidelik dat hulle glad nie aan kinders dink nie, maar in hulle teologiese denke fokus op die jeug-subkultuur. Op grond van die feit dat die beginsel van kontinuïteit tussen die bediening van kinders en adolessente dikwels in die teorie beklemtoon word, kan daar soms vanuit die teologiese nadenke oor die bediening van adolessente wel geldige afleidings gemaak word ten opsigte van die skrywer se siening van die bediening van kinders. In die praktyk van jeugbediening gebeur dit ook dikwels dat kontinuïteit in sekere opsigte “agteruit” toegepas word: Wat in die bediening van adolessente gebeur, word later oorgeneem in die bediening van kinders. ’n Verdere kompliserende faktor is dat baie literatuur oor die bediening van kinders geskryf is net vanuit die perspektief van die kerk se onderrigtaak (Christian/Religious education) en dus net aandag gee aan

geloofsvorming of die kategese en nie aan die omvattende taak en veld van kinderbediening nie. Boonop is daar, veral in Suid-Afrika, baie min gepubliseer ten opsigte van teologiese nadenke oor die kerklike bediening van kinders. Die meeste publikasies is eerder gerig op die voorsiening van programme vir kinderbyeenkomste, riglyne vir kinderdienste en –preke, en praktiese advies vir ouers.

Hierdie literatuurstudie is verryk deur my eie bedieningservaring. Soos reeds vermeld, was ek van Januarie 1996 tot einde Oktober 2001 en weer vanaf Januarie 2005 tot datum ’n personeellid van Petra Kollege. Hier was ek ten nouste betrokke by navorsing oor kinderbediening, die ontwikkeling van opleidingsmateriaal en die aanbied van opleiding in kinderbediening. In die proses was daar voortdurende gesprekvoering en interaksie met studente, kinderwerkers, gemeenteleiers en die verskeie personeellede van Petra Kollege. Vanaf 1996 het ek ook talle gemeentes uit verskillende denominasies binne en buite Suid-Afrika besoek om opleiding aan te bied en as fasiliteerder gemeentes se strategiese beplanning met betrekking tot die bediening van kinders te begelei. Deur middel van deelnemende waarneming het ek baie kennis opgedoen van wat op gemeentelike vlak met betrekking tot die bediening van kinders gebeur. Hierdie blootstellings het ’n wesenlike invloed gehad op my denke oor kinders en die bediening van kinders. Die teoretiese grondslae met betrekking tot kinderbediening waarmee daar gewerk word by Petra Kollege het op verskeie punte ’n invloed uitgeoefen op die interpretasie van, en die keuses wat ek gemaak het met betrekking tot die versamelde data. Daar word, met toestemming van Petra Kollege, ruim gebruik gemaak van konsepte wat by die Kollege ontwikkel is. Omdat ontwikkelingswerk by Petra Kollege dikwels in spanverband, waarby ekself ingesluit was, plaasgevind het, en dus nie altyd aan ’n spesifieke persoon toegeskryf kan word nie, en ook nie altyd amptelik gepubliseer is nie, is dit soms moeilik om die nodige erkenning daaraan te gee. Waar moontlik word wel verwys na ongepubliseerde stukke of word net Petra Kollege as verwysing aangegee. Gedurende 2006 het ek die voorreg gehad om twee konsultasies van die Child Theology Movement, naamlik die Internasionale Konsultasie in Penang, Maleisië, en die Afrika Konsultasie in Debrazeit, Ethiopië te kon bywoon. Hier kon ek met persone wat ’n leidende rol in hierdie beweging speel, soos Marcia Bunge, John Collier, Sunny Tan en Keith White, asook ander internasionale deelnemers aan hierdie konsultasies soos Dan Brewster, Allan Harkness en JB Jeyaraj, ongestruktureerde onderhoude voer. Nie net het hierdie gesprekke my gehelp om te groei in my eie kennis van en insig in Kinderteologie en Kinderbediening nie, maar is ek ook toegang gebied tot literatuur wat andersins vir my ontoeganklik sou gewees het.31

31 Hier word nêrens spesifiek na hierdie onderhoude verwys nie. Daar word egter wel verwys na talle literatuur waarvan hierdie persone die outeurs of mede-outeurs was en wat in die bibliografie opgeneem is. In die onderhoude met hierdie persone kon ek beter insig kry in hulle werk en standpunte en het dit ’n invloed uitgeoefen op die navorsing.

7. KONSEPTUALISERING

In die navorsing word ’n aantal sleutelbegrippe gebruik wat reeds op hierdie punt om verheldering vra. Sommige van hierdie begrippe word in die hoofstukke waar dit van belang is, verder bespreek. In hierdie afdeling word nie alle belangrike begrippe bespreek nie. Sommiges begrippe sal eers in die relevante hoofstukke waar dit gebruik word, verduidelik word.

7.1 LAERSKOOLKINDERS

Met betrekking tot die omskrywing van die konsep “kind” sê Burke (2004:819) die volgende:

A child has been defined as any person below a notional age of majority, but this has been variously interpreted and there have been many differences throughout history in the ways that societies have come to recognize the exact beginning and end of childhood. The United Nations Children's Fund (UNICEF) has for its purposes identified childhood as that stage of life experienced by any person between birth and fifteen years. Article 1 of the 1989 United Nations Convention on the Rights of the Child states that a child is any person under the age of eighteen. Childhood has thus been identified as a stage of life, associated with chronological age, located between infancy and youth, and including adolescence.

Volgens artikel 28 (3) van die Suid-Afrikaanse Grondwet beteken “kind” iemand onder die ouderdom van

18 jaar ([Online]. Available from: <http://www.constitutionalcourt.org.za/site/theconstitution/afrikaans.htm> [Accessed 18 November 2005]).

Dit is egter nie moontlik om in die navorsing kinders vanaf geboorte tot 18 jaar in te sluit nie. Daarom is besluit om in die navorsing te fokus op ’n breë sosiale kategorie van kinders, naamlik laerskoolkinders. Laerskoolkinders val gewoonlik in die ouderdomsgroep 6 tot 12 jaar. In terme van die stadia van die ontwikkeling van kinders word daar soms van hierdie groep van kinders gepraat as die middelkinders (vergelyk Louw et al 1998). Die navorsing word dus toegespits op die middelkinders, kinders in die ouderdomsgroep 6 tot 12 jaar. Alhoewel daar na adolessente ook verwys kan word as kinders, word hulle nie hierby ingesluit nie. Ongelukkig is min statistiese gegewens met betrekking tot hierdie spesifieke ouderdomsgroep beskikbaar. Daarom word daar dikwels statistiese gegewens aangehaal wat hierdie ouderdomsgroep insluit, maar nie noodwendig daarmee saamval nie.

Die term “adolessent” word gebruik met verwysing na die groep kinders ouer as 12 jaar. Waar daar na outeurs verwys word of met hulle in gesprek getree word wat eerder die term “tiener” gebruik, sal die term “tiener” wel gebruik word. Die terme “jeug” en “jongmense” word ook soms as wisselterme gebruik vir hierdie ouderdomsgroep. Die konteks waarin dit gebruik word, is bepalend vir die term wat gebruik word. Daar word gepoog om deurgaans die meervoud “kinders” te gebruik omdat die konsep “die kind” gewoonlik verwys na ’n spesifieke kind en altyd die vraag oproep na watter kind verwys word. Om dus die

konsep “die kind” in die navorsing te gebruik sou beteken het dat “die kind” ’n abstraksie of ’n sosiale konstruk sou word wat nie bestaan nie32 en die navorsing wil juis voortdurend ’n herinnering daaraan wees om nie net in abstraksie oor kinders te dink nie, maar altyd konkrete kinders ingedagte te hou. Tereg verklaar Thatcher (2007:12): “Children are a class, but there are no children in the abstract, only children-in-relationship.” Boonop kan die gebruik van die enkelvoud die indruk skep dat hier gewerk word met ’n individualistiese antropologie wat kinders losmaak van mekaar en die natuurlike verbande en sosiale sisteme waarin hulle lewe. Die gebruik van die meervoud maak dit ook makliker om inklusiewe taal ten opsigte van geslag te kan gebruik.33 Die konsep “die kind” sal net gebruik word waar dit binne die konteks nie anders kan nie.

7.2 GENERASIE

Die konsep generasie kan in die eerste plek genealogies verstaan word. Volgens die HAT (Odendal & Gouws 2000:274) verwys dit dan na al die individue wat behoort tot dieselfde trap in ’n afstammingsreeks. Dit kan egter ook na ’n groter kollektiewe groep in die samelewing verwys, naamlik na mense van ongeveer dieselfde ouderdomsgroep. Die belangrike vraag is egter: Wat is die ouderdomspan wat ’n generasie konstitueer? J W White (1988:20) wys daarop dat mense in die algemeen aanvaar dat ’n generasie strek oor die aantal jare wat die interval tussen die ouderdom van die ouers en die geboorte van die kinders verteenwoordig, so ongeveer 25 jaar. Hulle werk dus in ’n sekere sin met ’n drievoudige klassifikasie van generasies naamlik kinders…ouers…grootouers.

Harkness (2000a:52) wys daarop dat die ouderdomsverskil minder mag wees as die kronologiese interval tussen ouers en kinders en dat op ’n gegewe stadium die ouderdomsverwante verskille oor die totale bevolking van so ’n aard kan wees dat dit eintlike ses tot sewe generasies verteenwoordig. J W White (1988:20) gaan ietwat verder wanneer hy daarop wys dat ’n paar jaar ’n groot verskil maak ten opsigte van veral die jeug en dat daar dus selfs ’n saak daarvoor uitgemaak kan word dat net 3 jaar ’n generasie kan konstitueer. Hy verkies om met ’n definisie van “generasie” te werk wat net ’n paar jaar insluit eerder as een wat ’n hele klomp jare insluit.

Generasies verskil nie net van mekaar omdat hulle hulself, as gevolg van hul biologiese ouderdomsverskille, in verskillende ontwikkelings- of lewensfases bevind nie. Hulle verskil ook van mekaar veral omdat die wêrelde waarin hulle in die verlede opgegroei het en tans in opgroei so radikaal van mekaar verskil dat hulle as gevolg daarvan verskillende waardesisteme of lewens- en wêreldbeskouinge ontwikkel. Alexis de Tocqueville het tereg reeds in die 1830 opgemerk: “Each generation is a new people” (in Carroll & Roof 2002:61).

In die navorsing word die konsep “generasie” dus verstaan nie net as ’n groep individue wat in dieselfde tydspan van min of meer 20 tot 25 jaar gebore is en daarom op grond van lewensfase bepaalde ooreenkomste vertoon nie, maar ook as ’n groep mense wat op grond van die feit dat hulle min of meer in dieselfde sosiale konteks opgegroei het en dieselfde historiese gebeure ervaar het, ’n gemeenskaplike waardesisteem of lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel het.

In hoofstuk 2 word die konsep “generasie” en die generasieteorie vollediger bespreek.

7.3 INTERGENERASIONEEL(E)

Dit is ’n nuwe woord wat geskep moes word vir die Engelse konsep “intergenerationalism”. Prins (1995) gebruik in sy artikel die konsep “intergeneratiewe” en praat van “intergeneratiewe verhoudinge”. Swart (2000) skryf oor die ontwikkeling van ’n “intergeneratiewe erediens”. Ek het egter besluit om nie die konsep “intergeneratief” te gebruik nie op grond van die betekenis van die konsep “generatief” wat met die konsep “intergeneratiewe” geassosieer kan word. Die HAT (Odendal & Gouws 2000:274) verklaar “generatief” soos volg: “b.nw. 1 Wat die vermoë het tot, in verband staan met voortplanting; geslagtelik, geslags-: ’n Generatiewe orgaan, sel. 2 (taalk.) Wat deur ’n aantal formele reëls met beperkte middele ’n onbeperkte aantal sinne kan voortbring: Generatiewe grammatika.” Ek gebruik dus eerder die konsep “intergenerasioneel” omdat dit makliker met die konsep “generasie”, waarmee dit in verband staan, geassosieer kan word. In die literatuur word ook soms die begrippe “multigenerational”, “tansgenerational”, “all-age” of “inter-ouderdom” gebruik om dieselfde saak te beskryf.

Die konsep intergenerasioneel het aanvanklik in die VSA binne sosiaal-wetenskaplike kringe ontwikkel as ’n tegniese term vir ’n bepaalde vorm van dienslewering (Newman et al 1997:xi-xii). Sosiaal-wetenskaplikes het al meer waargeneem dat daar al minder sosiale interaksie tussen kinders en ouer mense in die samelewing is, dit wil sê ’n al groter wordende generasiegaping tussen die oudste en jongste generasies. Hierdie gebrek aan sosiale interaksie tussen kinders en ouer mense het veroorsaak dat hulle al minder aan mekaar verbonde was en sosiaal-wetenskaplikes was van oordeel dat dit bygedra het tot gedragspatrone soos byvoorbeeld eensaamheid en depressie by ouer mense en gevoelens van onsekerheid, afhanklikheid en vrees vir die toekoms onder kinders. Sosiaal-wetenskaplikes het gevolglik tot die oortuiging gekom dat ter wille van goeie psigososiale ontwikkeling verhoudinge en dus verbondenheid tussen jonger en ouer geslagte, soortgelyk aan die in multi-generasie families, bevorder moet word sodat hulle mekaar kan koester en ondersteun. Die term intergenerasioneel is begin gebruik vir hierdie bymekaar bring van die oudste en jongste geslagte. Later het die tendens ontwikkel om intergenerasionele programme doelbewus te gebruik om sosiale probleme, wat ontstaan het as gevolg van die agteruitgang van sosiale

33 In die navorsing gaan dit onder andere oor inklusiwiteit en word daar dwarsdeur gepoog om taal so inklusief as moontlik te gebruik. Waar dit nie gedoen word nie, is dit ’n fout wat ek as skrywer gemaak het.