• No results found

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.9 DIE BEHANDELING VAN AANDAGTEKORT-HIPERAKTIWITEITSVERSTEURING BY

2.9.4 Volhoubaarheid van die behandeling

Aangesien daar geen geneesmiddel vir ATHV is nie, is die bestuur van die gevolge van ATHV ʼn voortdurende onderneming. Die individu met ATHV se doelwit moet wees om by ʼn spesifieke styl van funksionering aan te pas, dit te optimaliseer, en om toepaslike hanteringstrategieë deel van haar daaglikse roetine te maak. Spesifieke hanteringstrategieë en hulpbronne wat ná afloop van terapie gebruik kan word, behels die voortdurende persoonlike opvoeding oor ATHV en die inskakeling by ondersteuningsnetwerke wat behulpsaam kan wees met die langtermynbestuur van ATHV (Ramsay & Rostain, 2015). Verder is die ontwikkeling van selfvoorspraak (“self-

advocacy”) en positiewe selfspraak spesifiek van toepassing op volwassenes met ATHV

(Murphy, 2005). Studente moet hulle unieke bates wat dikwels deur die ATHV verberg is, verder op die langtermyn tot die voordeel van hulleself en die gemeenskap ontwikkel (Ramsay & Rostain, 2015). Vervolgens word ʼn oorsig van navorsing oor universiteitstudente se belewing van ATHV weergegee.

68

2.10 ’N OORSIG VAN NAVORSING OOR UNIVERSITEITSTUDENTE SE BELEWING

VAN AANDAGTEKORT-HIPERAKTIWITEITSVERSTEURING

Die oorgrote meerderheid van studies onder volwassenes en studente met ATHV is kwantitatief van aard ten einde die epidemiologie van ATHV onder studente en volwassenes met ATHV te bepaal (DuPaul et al., 2009; Harpin, 2005; Weyandt & DuPaul, 2008). Gevolglik het daar ʼn beduidende gebrek aan kennis oor die belewing van ATHV ontstaan. Net só is daar ʼn beperkte hoeveelheid inligting beskikbaar oor hoe universiteitstudente met ATHV hulle tersiêre omgewing beleef en bestuur.

In Suid-Afrika is daar slegs ʼn beperkte aantal kwalitatiewe studies oor ATHV in die skoolkonteks onderneem. Hierdie studies fokus hoofsaaklik op ervaringe en uitdagings van onderwysers en ouers van kinders met ATHV (Hariparsad, 2010; Kendall, 2008; Kleynhans, 2005; Neaves, 2009; Tom, 2010). Verder is daar ʼn beperkte aantal studies oor die belewing van kinders en adolessente met ATHV onderneem (Jones & Hesse, 2014; Kendall et al., 2003; Krueger & Kendall, 2001). Slegs twee studies (A. Engelbrecht, 2009; Muthukrishna, 2007) is gevind wat die belewing van kinders en adolessente met ATHV beskryf.

Geen studies oor die belewing van ATHV-studente in die Suid-Afrikaanse universiteitskonteks is gevind nie. Daar is wel tien internasionale studies opgespoor wat fokus op die belewing van tersiêre studente met ATHV. Slegs een van die laasgenoemde studies het die belewing van die dubbele stigma van homoseksuele en transgender universiteitstudente met ATHV nagevors (Bowman-Campbell, 2013). Twee studies het onderskeidelik gefokus op twee spesifieke kulturele groepe (Afro-Amerikaans en Chinees-Amerikaans) met ʼn diagnose van ATHV en die wyse waarop psigososiale en kulturele faktore hulle akademiese belewing in die universiteitskonteks beïnvloed het (Poe, 2011; Young, 2012). Lawrence (2009), Coon (2011) en Flowers (2012) het die ervaringe van ATHV-studente in gemeenskapskolleges ondersoek. Morgan (2012) het die belewing van die oorgangstadium van hoërskool na universiteit van eerstejaarstudente met ATHV nagevors. Aangesien die doel van die onderhawige studie is om universiteitstudente se belewing van ATHV te beskryf, word die resultate van die drie relevante studies (Gallo, 2007; Perry & Franklin, 2006; Thorlakson, 2010) kortliks bespreek.

Perry en Franklin (2006) het 10 studente se belewing van ATHV aan ʼn Amerikaanse universiteit bestudeer. In dié kwalitatiewe studie is vier kategorieë geïdentifiseer, naamlik: 1) lewe met ATHV; 2) adolessensie met ATHV; 3) universiteit en ATHV; en 4) raad vir studente, fakulteitspersoneel en ouers. Al die deelnemers het erken dat dit uitdagend is om met ATHV saam te leef. Meer spesifiek, die ATHV-diagnose het hulle selfpersepsies en hoe om die simptome te hanteer, beïnvloed. Die negatiewe invloed van die ATHV-diagnose is ook duidelik in hulle selfassesserings van belangrike lewensvaardighede, soos geheue, aandagspan en

inligtingprosessering, gerapporteer. Aan die positiewe kant het meeste van die deelnemers gerapporteer dat die ATHV ook positief “inbreuk maak” op hulle gedagtes deur hulle meer sensitief te maak vir diversiteit en kwessies van andersheid.

Baie van die deelnemers het negatiewe ervaringe van hulle ouers en hoërskoolonderwysers se houding oor die ATHV-diagnose oorgedra. Al die studente het ook ʼn vrees vir ander se reaksie op hulle ATHV-simptome gerapporteer. Byvoorbeeld, ʼn vrees vir isolasie weens hulle ervaringe van toetse en eksamens wat in ʼn aparte lokaal geskryf word en ʼn vrees dat hulle misverstaan of anders deur ouers en dosente behandel sal word. Hierdie vrese kan ook studente se onwilligheid verklaar om hulleself by die akademiese ondersteuningsentrum op kampus te registreer. Meeste van die studente se besluit om aan ʼn universiteit te registreer, is grootliks deur die aanmoediging van hulle ouers beïnvloed.

Die deelnemers het ook inligting rondom strategieë wat hulle gehelp het om die akademiese uitdagings suksesvol te hanteer, gedeel. Dit het duidelik geblyk dat die ondersteuning van ouers en medestudente sowel as akademiese konsessies, ʼn belangrike rol in hierdie studente se akademiese loopbane speel. Die deelnemers aan die studie was sensitief vir die akademiese eise van die universiteitskonteks, asook vir hulle eie vermoëns om die eise van hulle eie ATHV- simptome en die akademiese kurrikulum te hanteer. Hulle het getuig van effektiewe studiemetodes om hulle ATHV-simptome te akkommodeer, die samestelling van ʼn kombinasie van modules om aan die minimum kredietvereistes van ʼn kursus te voldoen, en die uitdaging om met behulp van daaglikse beplanningkalenders georganiseerd te bly. Verder het hierdie studente geleer om vir hulleself voorspraak te maak by die ondersteuningsentrum op kampus deur hulp te versoek in die vorm van die afneem van aantekeninge of die gebruik van ʼn tutor. Alhoewel die ondersteuningsentrum baie behulpsaam was in die voorsiening van akademiese konsessiebriewe, het die deelnemers gerapporteer dat ʼn groot aantal dosente die konsessiebriewe met negatiewe houdings aanvaar het.

Die deelnemers het die volgende aanbevelings vir ouers, administrateurs, fakulteitspersoneel en voornemende studente met ATHV, gemaak. Die deelnemers het die belangrikheid van die voorsiening van ʼn ondersteunende omgewing en voortdurende positiewe versterking vir studente met leerhindernisse beklemtoon. Administrateurs kan ook ander keuses vir die tradisionele toelatingseksamen ondersoek om die “one-size-fits-all”-metode van assessering uit te skakel. Die volgende behoeftes is ook deur die studente geopper: ʼn empatiese houding van fakulteitspersoneel; die ontwikkeling van leerstrategieë; en die voorbereiding vir universiteit op hoërskool. Raad aan voornemende studente met ATHV het ook die gebruik van ondersteuningstrukture, soos die ondersteuningsentrum en ATHV-ondersteuningsgroepe, ingesluit.

70 Gallo (2007) het die ervaringe van drie universiteitstudente met ATHV aan ʼn Amerikaanse universiteit ondersoek. Die bevindinge wat uit die studie voortgespruit het, kan in twee kategorieë verdeel word: 1) glo in myself, en 2) die aanleer van geleenthede, strategieë en ondersteuning. Uit die eerste kategorie het twee temas ontwikkel. Eerstens, die houdings van onderwysers en ouers jeens die deelnemers het hulle houdings en selfbeeld direk beïnvloed. Tweedens, die interaksies met onderwysers het nie slegs ʼn direkte invloed op hulle opvoedkundige ervaringe gehad nie, maar ook op hulle houdings en persepsies van hulleself as leerders. Die volgende drie temas het uit die tweede kategorie gespruit: eerstens, studente met ATHV benodig voortdurende ondersteuning en toepaslike modellering soos wat hulle begrip van ATHV vermeerder; tweedens, hulle benodig die ontwikkeling van toepaslike strategieë en studievaardighede; en derdens, studente met ATHV het dikwels ʼn onbestendige akademiese en persoonlike belewing van die universiteitskonteks.

Verder het die deelnemers aanbeveel dat die akademiese personeel se kennis oor ATHV moet verbeter deur die bywoning van personeelontwikkelingsprogramme om hulle bewustheid van ATHV te verbeter en om die behoeftes van studente met ATHV beter aan te pak. Sodoende sal die personeel ʼn beter ondersteuningsdiens kan lewer en positiewe verhoudings met die studente kan stig. Aangesien studente met ATHV soms voel dat hulle lastig is en ontydig om ondersteuning aanklop, is daar ook voorgestel dat daar meer ondersteuningspersoneel aangestel moet word, sodat die struikelblokke wat studente met ATHV ervaar en wat hulle kanse op akademiese sukses verskraal, uitgeskakel of verminder kan word.

Thorlakson (2010) het die akademiese belewing van nege universiteitstudente met ATHV aan ʼn Kanadese universiteit ondersoek. Die fokus van die studie was spesifiek op die interne en eksterne faktore wat hulle leerprosesse bevorder of geïnhibeer het, en die wyse waarop hierdie faktore tot die algehele leerproses meegewerk het. ʼn Aantal faktore het die leerproses van die studente bevorder. Deelnemers het dit behulpsaam gevind wanneer hulle in ʼn klein groep gestudeer het. Die persoonlike interaksies het hulle gehelp om hulle aandag op die akademiese inhoud gefokus te hou. Die voorsiening van die nodige struktuur in terme van instruksies en verwagtinge aangaande akademiese werkstukke het tot die suksesvolle voltooiing van werkstukke bygedra. Medikasie (in sommige gevalle) het die studente gehelp om te fokus en hulle in staat gestel om hulle leerdoelwitte te bereik. Al die deelnemers het beaam dat aanvaarding en kennis van hulle persoonlike bates ʼn belangrike komponent van hulle sukses was.

Die studente het ook die interne en eksterne faktore uitgelig wat die leerproses geïnhibeer het. Die belewing van stres, frustrasie en emosionele pyn wat tydens misverstande met diegene rondom hulle ervaar is, het probleme vir hierdie studente geskep in terme van leer sowel as

hulle emosionele en fisieke welstand. Die wete dat hulle “anders” is en die sosiale gevolge wat dié wete meegebring het, het studie by die meeste van die deelnemers geïnhibeer. Verder het studente ook gesukkel om te fokus wanneer studiemateriaal op so ʼn wyse uiteengesit is dat dit nie stimulerend, interessant of relevant was nie.

Die interne omgewing van die studente het beduidende inhiberende faktore vir studie geskep. Vier bronne van interne afleiding is geïdentifiseer: 1) ʼn gebrek aan duidelikheid (“lack of clarity

of mind”); vlietende gedagtes wat lei tot die onvermoë om op een aspek te fokus; 3) die

geneigdheid om so vinnig van een gedagte na ʼn ander te spring dat hulle hul gedagtegang verloor; en 4) ʼn brein wat uitskakel (“zone-out”) wanneer hulle op ʼn taak moet fokus. Emosionaliteit was vir al die deelnemers ʼn beduidende faktor wat hulle studie verhinder het.

Elke student het verskillende interne faktore geïdentifiseer wat hulle studie bevorder het. Elkeen het oor verskillende bates beskik wat hulle gehelp het om ʼn verskeidenheid van studiemateriaal te bemeester. Deursettingsvermoë, inherente nuuskierigheid en intellektuele vermoëns het hulle deur moeilike skooljare tot by universiteit gehelp. Hulle het voortdurend oor hulleself geleer terwyl hulle verdere strategieë ontwikkel het om die hindernisse en uitdagings van universiteit die hoof te bied. Die meeste van die deelnemers het ook vreugde geput uit die voortdurende leerproses.

Die optimale eksterne omgewing vir studie is verskillend deur die deelnemers beleef. Sommige het stilte benodig om effektief te kon studeer. Ander studente het na musiek geluister terwyl hulle gestudeer het. Sommige studente het die atmosfeer van die biblioteek positief tydens studie ervaar, terwyl andere dit beskou het as ʼn onmoontlike plek om te studeer. Sommige van die studente het ʼn sekere plek nodig gehad om te leer, terwyl andere nie eers ʼn aanmerking oor ʼn geskikte studeerplek gemaak het nie.

Dit is duidelik uit die voorafgaande bevindinge dat elk van hierdie studente voortdurend nuwe strategieë moes oorweeg en toepas om die faktore aan te pak wat hulle vermoëns om te studeer bevorder of verhinder het. Die bevindinge van die studie het ʼn aantal aanbevelings vir die professionele en akademiese gemeenskap voorsien om die akademiese omgewing vir studente met ATHV te bevorder ten einde elkeen se bates optimaal in te span en om hulle leeruitdagings tegemoet te kom.

2.11 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het ʼn literatuuroorsig rakende ATHV voorsien. Daar is gefokus op hoe die sienings oor ATHV oor die afgelope twee eeue verander het en hoe nuwe bevindinge ons begrip van die aard van ATHV (byvoorbeeld primêre simptome, geassosieerde probleme, ko-

72 morbiede versteurings), asook die assessering, diagnose en hantering van dié versteuring bevorder het. Die omvang van dié versteuring is ook aangeroer en aandag is geskenk aan teorieë wat moontlik dié versteuring kan verklaar. Laastens is die bevindinge van kwalitatiewe studies rakende universiteitstudente se belewing van hulle ATHV bespreek. Die resultate van die studies het deurlopend bevestig dat die diagnose van ATHV ʼn aantal uitdagings en hindernisse vir studente in die universiteitskonteks teweegbring en dat effektiewe intervensies benodig word om die akademiese sukses van studente met ATHV te bevorder. In die volgende hoofstuk word die ontwikkelingstadium van ontluikende volwassenheid en die bio-ekologiese model bespreek ten einde die ontwikkeling van die ontluikende volwassene binne die volledige ekologiese sisteem waarbinne groei plaasvind, beter te kan verstaan.