• No results found

HOOFSTUK 3: ’N BIO-EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF OP

4.6 ETIESE OORWEGINGS

Etiese oorwegings strek verder as die riglyne wat deur komitees en nasionale raamwerke daargestel word (Ezzy, 2002). Daar rus ʼn persoonlike en morele verpligting op die navorser om deelnemers met respek te behandel. Die volgende gedeelte verskaf ʼn uiteensetting van die prosedure wat tydens die data-insamelingsproses gevolg is. Daarna word die etiese oorwegings en riglyne wat tydens die navorsing gevolg is, bespreek.

4.6.1 Prosedure

Voordat die navorser die navorsingskonteks betree het, is haar navorsingsvoorstel in Augustus 2014 deur die MEd- en PhD-programkomitee van die Fakulteit Opvoedingswetenskappe van die Noordwes-Universiteit (NWU) goedgekeur. Sy het ʼn informele ontmoeting met die hoof van die ondersteuningsentrum vir studente met leerhindernisse by Universiteit X in Augustus gereël waartydens sy die aard en die doel van haar navorsing verduidelik het. Die hoof van die ondersteuningsentrum het voorlopig aangedui dat die personeellede die navorser met die werwing van studente met ATHV sou ondersteun. Nadat die navorser die nodige etiese klaring van die Navorsingsetiek Regulatoriese Komitee van die NWU in Oktober 2014 ontvang het (sien Bylaag 4), het sy die studentedekaan van Universiteit X skriftelik om toestemming gevra om die navorsing uit te voer (sien Bylaag 5). Nadat die studentedekaan sy toestemming vir die studie verleen het (sien Bylaag 7), het sy skriftelike toestemming vir die studie van die hoof van die ondersteuningsentrum verkry (sien Bylaag 6). Sy het ingestem dat die navorser aan die betrokke personeellede wat vir die studente met ATHV by die ondersteuningsentrum by Universiteit X verantwoordelik is, ʼn elektroniese inligtings- en uitnodigingsbrief kon stuur wat die aard en doel van die betrokke studie belig het (sien Bylaag 8). Hierdie proses het die vertroulikheid van die ATHV-studente wat by die ondersteuningsentrum geregistreer is, verseker. Die ondersteuningspersoneellede het hierdie inligtingsbrief aan hulle studente met ATHV gestuur om hulle oor die betrokke studie in te lig en hulle vrywillige deelname te versoek. Indien ʼn student belanggestel het om aan die navorsing deel te neem, kon sy die navorser per e-pos of telefonies kontak.

Ses studente wat aan die kriteria vir seleksie voldoen het en vir hulle onderskeie ondersteuningspersoneellede aangedui het dat hulle graag aan die studie wou deelneem, het binne twee weke die navorser per e-pos verwittig dat hulle aan die studie wou deelneem. Ná ongeveer drie dae het sy weer die ses studente telefonies of per e-pos gekontak om die persoonlike onderhoude te reël. Die navorser het gepoog om die datums en tye van die onderhoude só te reël dat dit nie inbreuk maak op die akademiese skedules van die deelnemers nie. Die persoonlike onderhoude is in Maart 2015 gevoer. Een van die onderhoudkamers in die navorsingsentrum vir nagraadse studente in die biblioteek van Universiteit X is hiervoor gebruik.

140 Ná afloop van die eerste persoonlike onderhoude, is die deelnemers gevra of hulle na die digitale oudio-opname wou luister, maar geen deelnemer het die behoefte gehad om daarna te luister nie. Die deelnemers het ook ingestem dat dit in orde sou wees as die navorser hulle telefonies of per e-pos kontak om ʼn opvolgonderhoud te skeduleer. Die doel van die opvolgonderhoud was om die deelnemers die geleentheid te bied om die transkripsies van die eerste onderhoud na te gaan en om aan hulle die geleentheid te bied om enige verdere inligting waaraan hulle in die tydperk tussen die eerste onderhoud en die opvolgonderhoud gedink het, met die navorser te deel. Die opvolgonderhoude het die navorser voorts ook in staat gestel om enige kritiese vrae of onduidelikhede oor die mededelings van die deelnemers op te klaar sodat ʼn getroue en indiepte-weergawe van hulle belewing beskryf kon word. Aan die einde van die opvolgonderhoude wat in Mei 2015 plaasgevind het, het sy aan elke deelnemer gevra of hulle bereid sou wees om aan ʼn fokusgroeponderhoud deel te neem, waartoe vyf deelnemers ingestem het.

Die navorser kon slegs met vier van die deelnemers kontak maak om die fokusgroeponderhoud te reël. Die fokusgroeponderhoud is in ʼn klankdigte seminaarkamer in die biblioteek van Universiteit X in Mei 2015 gevoer. Al die deelnemers het ingestem dat die persoonlike en fokusgroeponderhoude met ʼn digitale oudio-opnemer opgeneem word, waarna die navorser al die onderhoude verbatim getranskribeer het.

4.6.2 Ingeligte toestemming en vrywillige deelname

Die navorser het die studente met ATHV telefonies of per e-pos gekontak nadat hulle hul besonderhede by die betrokke personeellid by die ondersteuningsentrum vir studente met leerhindernisse opgegee het. Sy het tydens die telefoniese gesprek of in die e-pos kortliks aan die voornemende deelnemer die doel en aard van die navorsing verduidelik, waarna sy solank die inligtingsdokument en die ingeligte toestemmingsvorm (sien Bylae 8 tot 10) elektronies aan al die deelnemers gestuur het sodat hulle dit in hulle vrye tyd kon deurlees. Sy het tydens hulle aanvanklike gesprek beklemtoon dat die deelname totaal vrywillig was en dat die deelnemers hulleself te eniger tyd kon onttrek, sonder enige vrees vir moontlike benadeling aan die navorsing. Sy het voor die aanvang van die persoonlike onderhoud ʼn inligtingsdokument en ingeligte toestemmingsvorm aan die deelnemer voorsien, waarin die aard van die navorsing en die navorsingsproses, asook die deelnemer se regte volledig beskryf is. Sy het die deelnemer gevra om die inligtingsdokument deur te lees, enige vrae te rig indien iets onduidelik was, en dan die vorm te onderteken as hy/sy gewillig was om aan die navorsing deel te neem. Sy het die deelnemer weereens herinner dat hy/sy te eniger tyd gedurende die proses kon onttrek indien hy/sy dit so verkies het. Die deelnemers het die ingeligte toestemmingsvorm onderteken en ʼn afskrif van die ondertekende vorm is by die opvolgonderhoud aan hulle voorsien.

Voor die aanvang van die fokusgroeponderhoud het die navorser die deelnemers weereens oor die etiese riglyne rondom ʼn fokusgroep ingelig. Daarna het die deelnemers die geleentheid gehad om enige vrae te vra wat op die fokusgroep van toepassing was, waarna hulle die ingeligte toestemmingsvorms vir hulle deelname aan die fokusgroep onderteken het (sien Bylaag 10).

4.6.3 Beskerming teen persoonlike leed

Volgens Gay, Mills, en Airasian (2006) is kwalitatiewe navorsers “morally bound to conduct their

research in a manner that minimises potential harm to those involved in the study. As such, researchers need to convey with confidence to participants that they will not come to harm as a result of involvement in research” (p. 409). Tydens die studie het die navorser te alle tye daarna

gestrewe om eerlik, respekvol en simpatiek jeens die deelnemers op te tree. Indien enige deelnemer emosionele ondersteuning tydens of ná afloop van ʼn onderhoud sou benodig, sou sy die deelnemer na ʼn geestesgesondheidskundige verwys, wat voor die aanvang van die studie ingestem het om sodanige diens te lewer. Geen emosionele ondersteuning is egter tydens of ná afloop van die studie deur die deelnemers benodig nie.

4.6.4 Privaatheid, vertroulikheid en anonimiteit

Al die inligting en mededelings wat deur deelnemers tydens die studie weergegee is, is vertroulik gehou en die resultate is op ʼn anonieme wyse weergegee ten einde die identiteit van die deelnemers te beskerm. Alle harde kopieë van die data en toestemmingsvorms word deur die studieleier van die navorser in sy kantoor vir ʼn tydperk van sewe jaar bewaar. Alle oudio- opnames en ander data sal ná ʼn periode van sewe jaar vernietig word. Elektroniese data word in lêers op die navorser se skootrekenaar gestoor en met ʼn wagwoord beskerm. Toegang tot die data is beperk tot die navorser en haar studieleier. Die deelnemers kon ook die opsie uitoefen om te weier dat die onderhoude op die digitale oudio-opnemer opgeneem word. Die navorser het ná afloop van die navorsing terugvoer aan die deelnemers gegee rakende die resultate van die studie.

4.6.5 Ander etiese oorwegings

Smith (2008) voer aan dat die volgende etiese oorwegings ook tydens die navorsingsproses in ag geneem moet word:

 kwalitatiewe navorsers moet voortdurend bewus wees van die verhoudings tussen die navorser en die deelnemers wat deur rolle, status, taal en kulturele norme bepaal word;

 die navorser moet aandag skenk aan die navorsingsprosesse, wat die volgende insluit: die weergee van inligting; wederkerige uitruilings; samewerking; en om sensitief te wees vir die wyse waarop hierdie prosesse deur die deelnemers beleef word;

142 van hulle ras, geslag, geslagsoriëntasie, huwelikstatus, familiestatus, etniese of sosiale oorsprong, kultuur of godsdienstige oortuigings nie.

Die navorser het daarna gestrewe om bostaande etiese oorwegings te respekteer. Sy is ʼn geregistreerde berader wat vaardig is om met individue en groepe te werk en respek jeens alle persone te toon. Sy is ook sensitief vir inklusiewe praktyke wat mense nie op enige wyse kan marginaliseer nie. Die navorser het die etiese riglyne vir geregistreerde beraders, soos uiteengesit in die Health Professions Act (1974) gevolg, sodat die beste belange van die deelnemers voorkeur geniet het.

4.7 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het die navorsingsontwerp en -metodologie beskryf wat in die onderhawige studie gevolg is. In Hoofstuk 5 sal die bevindinge wat uit die navorsingstudie voortgespruit het, weergegee en bespreek word.

HOOFSTUK 5