• No results found

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.8 FUNKSIONELE INKORTINGS ONDER UNIVERSITEITSTUDENTE MET

2.8.2 Gesondheidsgevolge vir universiteitstudente met Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring

2.8.2.2 Sielkundige gesondheidsgevolge

Universiteitstudente neig om swakker sielkundige aanpassing en ʼn laer lewenskwaliteit te toon as hulle portuurgroepgenote sonder ATHV (Greenwald-Mayes, 2002; Rabiner et al., 2008). Studente wat met ATHV gediagnoseer is, blyk om meer geneig te wees om laer tellings van selfagting te rapporteer vergeleke met studente sonder die versteuring (Canu & Carlson, 2007; Shaw-Zirt et al., 2005). Verder is probleme met die regulering van emosies deurgaans by kinders, adolessente en volwassenes met ATHV geassosieer (Barkley, 2006b). Volwassenes met ATHV vind dit soms moeilik om hulle woede op ʼn sosiaal aanvaarbare wyse uit te druk (Sacchetti & Lefler, 2014). Universiteitstudente met ATHV is meer geneig om konfronterend en aggressief te wees as studente sonder ATHV (Ramirez et al., 1997). Hierdie groep studente neig om meer onafhanklik en minder op reëls ingestel te wees, en hulle is minder geneig om op ʼn positiewe of negatiewe wyse deur korrektiewe terugvoer beïnvloed te word (Kern, Rasmussen, Byrd, & Wittschen, 1999). Studente met ATHV neig om meer probleme met die monitering van persoonlike stres en toegang tot sosiale ondersteuning te ervaar (Kern et al.

1999).

Daarbenewens rapporteer universiteitstudente met ATHV ook probleme met besluitneming en is meer geneig om gevoelens van spyt oor hulle besluite te rapporteer (Norvilitis et al., 2010; Schepman, Weyandt, Schlect, & Swentosky, 2012). Barkley en Murphy (2010) is van mening dat emosioneel-gedrewe impulsiewe keuses ʼn groot invloed uitoefen op belangrike lewensaktiwiteite van volwassenes met ATHV. Universiteitstudente met beduidende vlakke van ATHV-simptome rapporteer ook laer vlakke van lewensbevrediging (Gudjonsson, Sigurdsson, Eyjolfsdottir, Smari, & Young, 2009).

In die VSA is sielkundige inkorting onder universiteitstudente met ATHV ondersoek. Heiligenstein et al. (1999) rapporteer geen verskille in die vlakke van distres onder studente met ATHV vergeleke met studente sonder ATHV nie. Hierteenoor toon ʼn groot aantal studies aan dat universiteitstudente met ATHV groter distres en sielkundige probleme ervaar vergeleke met ander studente (Shaw-Zirt et al., 2005; Weyandt & DuPaul, 2008). Blasé et al. (2009) het bevind dat studente met ATHV effens hoër tellings op ʼn depressiewe skaal behaal het as lede van hulle nie-ATHV-portuurgroep, maar dat beduidende depressiewe simptome slegs aanwesig was by ʼn minderheid van die studente met ATHV.

Heiligenstein en Keeling (1995) rapporteer ook beduidende inkortings onder universiteitstudente wat vir behandeling by ʼn mediese sentrum van ʼn universiteit aangemeld het en met ATHV gediagnoseer is. Die algemeenste sielkundige probleme was ATHV-simptome (55%), gemoedsimptome (21%), akademiese onderprestasie (14%) en niespesifieke leerversteurings (10%). Vyf-en-veertig persent van die studente het geen sielkundige ko-morbiditeite gerapporteer nie. Diegene wat wel ko-morbiede probleme gerapporteer het, het die volgende ingesluit: depressiewe versteurings (26%); dwelm- of alkoholgebruik of -afhanklikheid (26%); wetlike oortredings (12%); angsversteurings (5%); leerversteurings (2%); en eetversteurings (2%). Daar word beweer dat simptome van depressie en angs met die oorgang na volwassenheid by individue met ATHV toeneem namate verwagtinge van aanpassende funksionering verhoog en ATHV-verwante gedrag bydra tot ervarings van mislukking (Safren et al., 2010).

Dit blyk dat die risiko vir volwassenes met ATHV hoog is om ook met sielkundige versteurings gediagnoseer te word (Gregg, 2009). Algemene onderliggende genetiese, neurologiese en/of omgewingsoorsake of probleme met die diagnose, soos die oorvleueling van simptome, verwys slegs na ʼn paar van die faktore wat bydra tot die groot waarskynlikheid van ko-morbiede versteurings by individue met ATHV (Barkley, 2006a). Volgens Barkley et al. (2008) is ʼn diagnose van ATHV sonder enige ko-morbiede versteuring(s) uitsonderlik by volwassenes. Na

52 raming het 70% tot 75% van volwassenes met ATHV wat vir behandeling aanmeld, ten minste een addisionele sielkundige versteuring (Barbaresi et al., 2013; Barkley et al., 2008; Kessler et al., 2006). Barkley et al. (2008) en Wolraich et al. (2005) is dit eens dat simptome van depressie algemeen by volwassenes met ATHV voorkom.

Weyandt en DuPaul (2013) is van mening dat ʼn groot risiko vir substansiemisbruik onder universiteitstudente met ATHV bestaan. Upadhyaya et al. (2005) het bevind dat studente wat simptome van ATHV gerapporteer het, meer geneig was om substanse soos tabak, marijuana en alkohol te gebruik as studente sonder dié versteuring. Soortgelyke bevindings is deur Blasé et al. (2009) gerapporteer. ʼn Interessante bevinding van Blasé et al. (2009) is dat alkoholgebruik vanaf die eerste tot tweede jaar meer toeneem onder universiteitstudente met ATHV as by diegene onder studente sonder ATHV. Studente met ATHV is ook meer geneig om sigarette gedurende hierdie periode te begin rook. Baker, Prevatt, en Proctor (2012) rapporteer dat studente met ATHV voel asof hulle min beheer oor hulle alkoholinname het. Daar is voorts ook bevind dat ATHV-studente wat met stimulantmedikasie behandel was, meer geneig was om gedrag te toon wat met problematiese alkoholinname geassosieer word vergeleke met studente met ATHV wat nie met medikasie behandel is nie. Studente op stimulantmedikasie was ook meer geneig om alkoholgeïnduseerde beswymings (“blackouts”) te beleef; gehospitaliseer te word weens hoë alkoholinname; en vriende of romantiese maats te verloor weens hoë alkoholinname.

Ander navorsing dui weer aan dat studente met ATHV nie noodwendig alkohol in groter hoeveelhede of meer gereeld as hulle medestudente sonder ATHV gebruik nie, maar dat hulle eerder meer vatbaar is om substansafhanklik te word (Smith, Molina, & Pelham, 2002). ʼn Soortgelyke navorsingsbevinding dui aan dat universiteitstudente met ATHV meer vatbaar is vir die ontwikkeling van nikotienafhanklikheid en ander dwelmmiddels weens hierdie middels se effek op die dopamien-gemoduleerde beloningsisteem, wat ʼn onderliggende oorsaak van ATHV-gedrag is (Wilens et al., 2008).

Dit blyk ook dat universiteitstudente met ATHV swakker motorbestuurvermoëns toon as diegene sonder ATHV (Barkley, Murphy, & Kwasnik, 1996). Woodward, Fergusson, en Horwood (2000) het bevind dat simptome van ATHV op die ouderdom van 13 ʼn swakker bestuursrekord op 21-jarige ouderdom voorspel, ingeslote meer motorongelukke, inhegtenisneming weens die gebruik van drank terwyl die persoon bestuur, en deur te bestuur sonder ʼn lisensie en/of nommerplaat. Barkley et al. (2002) het voorts bevind dat jong volwassenes met ATHV meer probleme toon met aandag, impulsbeheer, inhibisie, verstandelike wakkerheid, sin van tyd, weerstand teen afleidings, en die nakoming van padreëls as persone sonder ATHV. Richards, Deffenbacher, en Rosén (2002) het bevind dat studente

met ATHV ook meer woede en aggressiewe gedrag rapporteer terwyl hulle bestuur. Wanneer studente met ATHV hulle eie bestuursvermoëns moet evalueer, blyk dit egter dat hulle neig om hulleself baie gunstiger te evalueer as gevolg van die positiewe illusie-vooroordeel (Prevatt et al., 2012).

Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring kan beskou word as ʼn ingrypende versteuring wat ook ʼn verhoogde risiko vir selfdood inhou (Barbaresi et al., 2013). Eweneens rapporteer Barkley et al. (2008) dat volwassenes met ATHV vanaf hulle kinderjare meer geneig is om selfdood teen die ouderdom van 21 te oorweeg of pogings tot selfdood aan te wend vergeleke met diegene sonder ATHV.