• No results found

Die ontwikkelingsperiode van ontluikende volwassenheid

HOOFSTUK 3: ’N BIO-EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF OP

3.3 DIE BIO-EKOLOGIESE MODEL VAN BRONFENBRENNER

3.4.4.1 Die ontwikkelingsperiode van ontluikende volwassenheid

Hedendaagse universiteitstudente word met uitdagings gekonfronteer wat in vorige generasies nog bestaan het of erken is (Arnett, 2000). Tradisioneel gesproke is volwassenheid deur vyf belangrike oorgange gekenmerk, naamlik die voltooiing van ʼn skoolloopbaan; die verlating van die ouerhuis; die toetrede tot die werksmag en die huwelik; en die uitgestelde ouderdom van ouerskap (Settersten & Ray, 2010). Die uitgestelde ouderdomme van toetrede tot die huwelik en ouerskap is bloot refleksies van ander betekenisvolle veranderinge wat oor die afgelope halfeeu plaasgevind het (Arnett, 2015).

Die tegnologiese revolusie het aanleiding gegee tot die verplasing van hande-arbeid in industrieë, wat gelei het tot die totstandkoming van ʼn diensleweringsekonomie (Arnett, 2015).

98 Met die aanbreek van die 21ste eeu het die klem op inligting en tegnologie in diensgebaseerde betrekkings geval, soos besigheid, finansies, versekering, onderwys en gesondheid (Arnett, 2015). Gevolglik het ʼn tersiêre loopbaan, wat voorheen slegs vir die elite beskore was, ʼn noodsaaklike behoefte vir jongmense geword om ʼn goeie inkomste te verseker (Settersten & Ray, 2010). Arnett (2015) voer aan dat die persentasie van ontluikende volwassenes aan tersiêre instansies tans hoër is as tydens enige ander tyd in die geskiedenis van die VSA. Die meeste jongmense wag totdat hulle hul tersiêre kwalifikasies voltooi het voordat hulle toetrede tot die huwelik en ouerskap ernstig oorweeg (Arnett, 2015). Verder het die waarde van voortgesette onderwys en opleiding met die klem op die ontwikkeling van ʼn beroepsloopbaan mettertyd die waarde van die verwerwing van ʼn baccalaureusgraad oorskadu (Settersten & Ray, 2010).

Nog ʼn fundamentele verandering van die 1960’s en 1970’s wat die lewens van hedendaagse jong volwassenes beïnvloed het, was die vrouebeweging (“Women’s Movement”) (Arnett, 2015). Die beroepsmoontlikhede van jong vrouens is tans onbeperk, wat die vroeë toetrede tot die huwelik en die druk om met ʼn gesin te begin minder aanloklik maak as 50 jaar gelede (Settersten & Ray, 2010).

Die ontstaan van die jeugbeweging (“Youth Movement”) van die 1960’s en 1970’s het tot gevolg gehad dat jongmense se siening van die betekenis en waarde van volwassewording verander het (Arnett, 2015). Die jongmense van die 1950’s, wat tydens die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog grootgeword het, was gretig om volwassenheid te betree vir die bereiking van sekuriteit, die stabiliteit van ʼn inkomste, ʼn woning, die huwelik en ouerskap (Arnett, 2015). Alhoewel hedendaagse jongmense begryp dat volwassenheid sekuriteit en stabiliteit bied, beteken dit ook die einde van onafhanklikheid en onbeperkte geleenthede (Arnett, 2015).

Bogenoemde veranderinge wat oor die afgelope halfeeu plaasgevind het, het daartoe gelei dat ʼn onderskeibare ontwikkelingsfase wêreldwyd ontstaan het, wat nie as adolessensie of jong volwassenheid beskryf kan word nie (Arnett, 2015). Arnett (2000) het gevolglik die term

“ontluikende volwassenheid” voorgestel, wat verwys na die eiesoortige ontwikkelingsperiode

van 18- tot 29-jariges in ontwikkelde en ontwikkelende lande oor die afgelope 50 jaar. Volgens Arnett (2000) se teorie van ontluikende volwassenheid, bestaan hierdie ontwikkelingsfase uit vyf kenmerke, naamlik 1) die ontdekking van identiteit; 2) onstabiliteit; 3) ʼn fokus op die self; 4) fase van “tussenin” wees (tussen adolessensie en volwassenheid); en 5) moontlikhede/optimisme.

Arnett (2015) is van mening dat die ontdekking van identiteit as die mees onderskeibare eienskap van ontluikende volwassenheid beskou word. In die 1950’s het Erik Erikson (1950) in sy teorie van psigososiale ontwikkeling voorgestel dat die vorming van ʼn identiteit een van die

belangrike ontwikkelingstake is wat tydens adolessensie bereik moet word. Alhoewel hierdie standpunt waar was toe Erikson sy teorie geformuleer het, voer Arnett (2000, 2015) aan dat die grootste gedeelte van identiteitseksplorasie tydens ontluikende volwassenheid plaasvind. Gedurende hierdie ontwikkelingsfase, ondersoek jongmense die beskikbare moontlikhede in ʼn verskeidenheid van lewensfere, veral wat liefde en beroepe betref (Arnett, 2015). Tydens die eksplorasie van verskeie tersiêre opleidingsmoontlikhede wat hulle vir verskillende beroepe voorberei, beleef ontluikende volwassenes terselfdertyd identiteitskwessies soos “Watter

beroep sal vir my op die lange duur bevredigend wees? Watter beroepe sal by my persoonlikheidseienskappe, belangstellings en aanlegte pas?” (Arnett, 2015). Alhoewel hierdie

eksplorasies soms met mislukking en teleurstelling gepaardgaan, dra dit ook by tot groter selfkennis (Arnett, 2015).

Die identiteitskwessies wat met ontluikende volwassenheid gepaardgaan dra by tot die onstabiliteit wat kenmerkend is van hierdie lewensfase. Hierdie identiteitseksplorasie lei dikwels tot veranderinge in ontluikende volwassenes se tersiêre en beroepsloopbane en ook in hulle romantiese verhoudings (Arnett, 2015). Verder neig ontluikende volwassenes om meer van woonplek te verander as tydens enige ander ontwikkelingsfase, soos om uit hulle ouerhuise te trek en in die universiteitskoshuis of private akkommodasie te gaan woon (Tanner, Arnett, & Leis, 2009). Tydens veranderinge wat gewoonlik verband hou met verhoudingstatus of tersiêre opleiding, trek van die ontluikende volwassenes weer terug na hulle ouerhuise of hulle trek by ʼn vriend(in) in (Tanner et al., 2009). Alhoewel ontluikende volwassenheid in die algemeen as positief beleef word, kan die onstabiliteit van hierdie periode aanleiding gee tot stres en angs by ontluikende volwassenes (Tanner et al., 2009) (sien ook par. 3.4.4.2).

Arnett (2015) is van mening dat ontluikende volwassenes tydens hierdie lewensfase ʼn beperkte aantal verpligtinge het, wat daartoe lei dat hulle net op hulle eie lewens kan fokus sonder om verantwoordelikheid vir iemand anders te neem. Ontluikende volwassenes is vry om hulle eie besluite te neem sonder om andere te konsulteer en hulle kan hulle lewens struktureer soos dit hulle pas (Tanner et al., 2009). Desondanks die groot mate van vryheid, is ontluikende volwassenes minder egosentries as adolessente: hulle is bloot minder aan sosiale rolle gebonde, wat hulle meer vryheid gun (Tanner et al., 2009).

Tussen die beperkinge van adolessensie en die verantwoordelikhede van volwassenheid, word die onstabiliteit van ontluikende volwassenheid gevind (Arnett, 2015). Wanneer ontluikende volwassenes gevra word of hulle al volwassenheid bereik het, is hulle response gewoonlik ambivalent (Arnett, 2015). Die rede waarom soveel ontluikende volwassenes hierdie “tussenin” belewing rapporteer, is duidelik wanneer die kriteria vir volwassenheid in ag geneem word,

100 naamlik: 1) aanvaar verantwoordelikheid vir jouself; 2) neem onafhanklike besluite; en 3) die bereiking van finansiële onafhanklikheid (Arnett, 2015).

Laastens, ontluikende volwassenheid word as die lewensfase van onbeperkte moontlikhede en hoë verwagtinge beskou (Arnett, 2015). Alhoewel dit vir ontluikende volwassenes soms stresvol is om aan die uitdagings van die akademie, werk en sosiale verhoudings te voldoen, glo die meerderheid van hulle dat volwassenheid bevredigende uitkomste vir hulle gaan oplewer (Tanner et al., 2009). Diegene wat uit disfunksionele gesinne kom, kan nou besluit om ʼn ander lewensrigting in te slaan en ʼn positiewe toekoms vir hulleself te skep (Tanner et al., 2009).

3.4.4.2 Die psigososiale ontwikkeling van die ontluikende volwassene met spesifieke