• No results found

Diagnostiese kriteria vir Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.5 DIE KLINIESE VOORSTELLING VAN AANDAGTEKORT-

2.5.2 Diagnostiese kriteria vir Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring

Die mees onlangse diagnostiese kriteria en primêre simptome van ATHV is in die DSM-V (APA, 2013, sien Bylaag 3) uiteengesit. Die DSM-V (APA, 2013) word hoofsaaklik in die VSA en Suid- Afrika gebruik (Schellack & Meyer, 2012). Hierdie uitgawe dien as die eerste aansienlike hersiening van die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings sedert 1994 (Rabiner, s.a.). Volgens Ramsay en Rostain (2015) voorsien die DSM-V (APA, 2013) ʼn nuwe diagnostiese konseptualisering van ATHV wat ʼn aantal subtiele, dog belangrike veranderinge insluit. Hierteenoor word die tiende uitgawe van die Internasionale Klassifikasie van Siektes9 (“International Classification of Diseases”) (World Health Organisation10, 1993) as diagnostiese kriteria vir siektetoestande hoofsaaklik in Europa gebruik. Alhoewel die diagnostiese kriteria van die DSM-V grootliks ooreenstem met die kriteria soos in die ICD-10 uiteengesit, is daar wel verskille met betrekking tot die voorkomssyfer van ATHV (Regier, Kuhl, & Kupfer, 2013). Die ICD-10 se diagnostiese kriteria vir ATHV (bekend as hiperkinetiese versteuring) beskryf ʼn subgroep van persone wat aan die meer beperkte diagnose van ATHV (gekombineerde tipe) voldoen en vereis ʼn groter mate van simptoomuitdrukking in twee of meer kontekste (Carr, 2006; WHO, 1993). Die APA en WHO streef gesamentlik daarna om die diagnostiese kriteria van die DSM-V en die ICD-11 (laasgenoemde is in 2015 gepubliseer) te harmoniseer om meer vergelykbare internasionale statistiek van sielkundige versteurings te verseker. ʼn Eenvormiger benadering tot diagnose sal sodoende moontlik wees (Regier et al., 2013).

Om ʼn diagnose van ATHV met behulp van die DSM-V (APA, 2013) te maak, moet die primêre simptome reeds voor 12-jarige ouderdom in meer as een konteks (byvoorbeeld die huis en skool, werk) voorkom. Die voorkoms van simptome kan dus wissel, afhangend van die konteks. By beide die aandagtekort- en hiperaktiwiteit-impulsiwiteit-kriteria moet vyf (of meer) simptome uit die nege simptome by volwassenes voorkom wat ontoepaslik vir die ouderdomsgroep is. Die simptome moet ten minste ses maande duur en moet ʼn beduidende impak op die sosiale en akademiese of beroepsfunksionering van die volwassene uitoefen. Daar word voorts tussen drie voorstellings na aanleiding van die patroon van simptome onderskei, naamlik: die gekombineerde voorstelling; die oorwegend onoplettende voorstelling; en die oorwegend hiperaktiewe-impulsiewe voorstelling.

2.5.2.1 ʼn Kritiese bespreking oor die veranderinge aan die diagnostiese kriteria vir Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring

Alhoewel die DSM-IV-TR (APA, 2000) ʼn sterker empiriese basis gehad het waarop die diagnostiese kriteria vir die diagnose van ATHV gebaseer is, was daar wel beduidende beperkinge vir die toepassing van hierdie kriteria om volwassenes te diagnoseer (Barkley et al.,

9 Hierna afgekort tot die ‘ICD’.

2008; Bell, 2010; Ramsay & Rostain, 2015; Wolf et al., 2009). Ontwrigtingsversteurings is slegs onder kinders bestudeer ‒ die simptome van ATHV was dus hoofsaaklik op kinders van toepassing. Geen volwassenes is in die veldnavorsing van die DSM-IV-TR ingesluit nie. Daar was ook min bewyse dat die simptome van die DSM-IV-TR vir die diagnose van kinders die beste kliniese beeld van volwassenes met ATHV bied (Barkley et al., 2008; McGough & Barkley, 2004). Barkley (2006b) beweer dat slegs een uit tien volwassenes wat ATHV het, op ʼn toepaslike wyse gediagnoseer en behandel is. Hy is daarvan oortuig dat volwassenes die kriteria van die DSM-IV-TR, wat as ʼn fundamentele diagnostiese instrument gebruik word, ontgroei. Die DSM-V (APA, 2013) is gevolglik die resultaat van navorsing wat oor die afgelope 20 jaar oor ATHV gedoen is. Die feit dat ATHV in die nuutontwikkelde afdeling van neuro- ontwikkelingsversteurings in die DSM-V gekategoriseer word, dui op die verandering van die diagnostiese konseptualisering van dié versteuring (Ramsay & Rostain, 2015). Vervolgens word spesifieke diagnostiese veranderinge, soos dit in die DSM-V verskyn en wat betrekking het op volwassenes met ATHV, bespreek.

Die eerste verandering is die verhoging van die aanvangsouderdom van die diagnostiese kriteria. Die DSM-V vereis dat ʼn “aantal” relevante simptome voor 12-jarige ouderdom teenwoordig moet wees. Die vereiste dat die simptome inkortings op 12-jarige ouderdom tot gevolg het, is voorts weggelaat (Rabiner, s.a.). Die rasionaal van die verandering in aanvangsouderdom is gebaseer op voorafgaande studies wat aangetoon het dat diagnoses deurglip wanneer die aanvangsouderdom van sewe jaar as kriteria gebruik word weens die lae betroubaarheid van die retrospektiewe meedelings van volwassenes rakende die aanvangsouderdom en simptomatiese ervarings tydens die kinderjare (Bell, 2010). Die doel van hierdie nuwe aanvangsouderdom is om in gedagte te hou dat ʼn volledige simptomatiese uitdrukking en geassosieerde inkortings moontlik ná die kinderjare of adolessensie kan voorkom (Ramsay & Rostain, 2015).

Tweedens, ʼn algemene punt van kritiek jeens die DSM-IV-TR se diagnostiese kriteria vir ATHV, was dat die kernsimptome van ATHV slegs die wyses verteenwoordig het waarvolgens dié versteuring onder kinders van skoolgaande ouderdom gemanifesteer het. Die rede vir laasgenoemde is dat ATHV oorspronklik as ʼn versteuring van die kinderjare beskou is en die simptome en diagnostiese kriteria was spesifiek relevant vir kinders en hulle kontekste (byvoorbeeld, “vroetel dikwels met hande en voete of kriewel rond in hulle sitplekke”) (Bell, 2010; Rabiner, s.a.). Gevolglik het die simptoombeskrywing nie die manifestasies van die versteuring by ouer adolessente (17 jaar en ouer) en volwassenes verteenwoordig nie. Ramsay en Rostain (2006) het voorgestel dat spesifieke simptoomkriteria vir volwassenes met ATHV ingesluit word (byvoorbeeld, “bestuur vinniger as die spoedlimiet, ervaar probleme met

36 het nietemin grootliks dieselfde simptome as dié van die DSM-IV-TR behou. Daar is wel nuwe en verbeterde voorbeelde van simptoomgedrag wat op volwassenes met ATHV van toepassing is. Byvoorbeeld, “hardloop dikwels of klouter rond in situasies waar dit ontoepaslik is” word gevolg deur die nota “in adolessente of volwassenes mag ʼn gevoel van rusteloosheid ervaar

word”. Net só sluit die simptomelys van aandagtekort voorbeelde in van probleme met

tydsbestuur, organisering en afleibaarheid, wat van toepassing is op volwassenes met ATHV.

Alhoewel dit nie in die DSM-V gereflekteer word nie, beweer Bell (2010), asook Ramsay en Rostain (2015) dat ʼn afsonderlike diagnostiese kriteria vir volwasse ATHV gebruik kan word. Empiriese studies het betroubare simptoomkriteria van probleme met uitvoerende kognitiewe funksies geïdentifiseer wat volwassenes met ATHV van ander kliniese en kontrolegroepe onderskei het (Barkley et al., 2008; Biederman et al., 2006; Fedele et al., 2010; Kessler et al., 2010). Barkley en Murphy het in 2007 ʼn studie uitgevoer wat die simptome van ATHV by volwassenes beklemtoon. Ten einde volwassenes formeel met ATHV te diagnoseer, moet ʼn individu ses van die volgende nege simptome toon (Barkley et al., 2008):

1. aandag word maklik deur eksterne stimuli afgelei; 2. maak dikwels impulsiewe besluite;

3. ervaar dikwels probleme om aktiwiteite of gedrag te staak wanneer dit van hom/haar verwag word;

4. begin met projekte of take sonder om versigtig die instruksies te lees of daarna te luister; 5. kom dikwels nie beloftes of pligte na nie;

6. ervaar dikwels probleme om dinge in ʼn toepaslike volgorde uit te voer;

7. is dikwels meer geneig om ʼn voertuig baie vinniger as andere te bestuur (uitermatige spoed);

8. ervaar dikwels probleme om aandag op ʼn taak of ontspanningsaktiwiteit te behou; en 9. ervaar dikwels probleme om take en aktiwiteite te organiseer.

Bogenoemde gedragsimptome kan geassesseer word deur die voltooiing van normgebaseerde vraelyste deur die individu en ander persone wat haar goed ken ter aanvulling van die DSM-V- kriteria. Hierdie addisionele kriteria is behulpsaam om volwassenes met ATHV te diagnoseer (Ramsay & Rostain, 2015).

ʼn Derde verandering is die verlaging van die aantal simptome vir die diagnose van ATHV by volwassenes. Waar die DSM-IV-TR ʼn aantal van ses simptome uit die nege vir alle ouderdomme vereis het om aan een van die subtipes se diagnostiese kriteria te voldoen, is die hersiene aantal simptome vir ouer adolessente en volwasse persone ʼn aantal van vier uit die nege simptome van enige een van die voorstellingtipes (Ramsay & Rostain, 2015). Hierdie verandering is aangebring weens die vermindering van simptome wat neig om met toenemende

ouderdom voor te kom (Rabiner, s.a.). Verder blyk dit dat ʼn aantal van vier simptome voldoende is om ʼn betroubare diagnose by volwassenes met ATHV te maak (APA, 2013; Barkley, Fischer, Smallish, & Fletcher, 2002).

Die aanbring van spesifikasies rakende die graad en erns van die funksionele inkorting van die ATHV-simptome in die DSM-V, is dus ʼn positiewe ontwikkeling, aangesien die diagnose van ATHV die bepaling van die mate van ondersteuning by universiteite en die behandelingsplan van die student beïnvloed (Ramsay & Rostain, 2015). Tesame met die identifisering van ʼn spesifieke voorstelling van ATHV-simptome, moet daar dus ook gespesifiseer word of die funksionele inkorting “lig, matig of ernstig van aard” is. Die diagnose kan ook gespesifiseer word as “in gedeeltelike remissie” om oorblywende simptome van ATHV en voortgaande beperkinge te reflekteer, waar die individu voorheen aan volle kriteria moes voldoen (Ramsay & Rostain, 2015).

Klinici word ook aangemoedig om kollaterale inligting oor die aanvang van simptome in te samel om probleme met die herroeping van historiese inligting te voorkom. Alhoewel ʼn soortgelyke aanbeveling in die DSM-IV-TR aangetref word, word die aanbeveling in die nuwe uitgawe meer beklemtoon. Die insameling van kollaterale inligting word ook aanbeveel om inkortings in veelvuldige kontekste vas te stel (Ramsay & Rostain, 2015). Simptome moet voorts in meer as een konteks teenwoordig wees, maar dit hoef nie die funksionering van die individu in veelvuldige kontekste te benadeel nie. Die kriteria is dus meer toegeeflik (Rabiner, s.a.).

Ten einde weg te beweeg van die kategoriese konseptualisering van ATHV in die DSM-IV, is ʼn meer dimensionele (of kontinuum-) benadering in die DSM-V gevolg (Bell, 2010). Haslam et al. (2006) het bevind dat die gebruik van ʼn dimensionele model om ATHV te diagnoseer meer effektief is, aangesien hierdie benadering ruimte laat vir die konseptualisering van die individu se belewing van ATHV op ʼn kontinuum van toenemende simptome en die graad van erns wat oor ʼn spesifieke tydperk kan verander. Die term “voorstellings” vervang voorts die gebruik van

“tipes” om aan te dui dat daar verskille in die manifestasie van simptome onder individue met

ATHV aangetref word. Die drie voorstellings wat in die DSM-V voorkom is soos volg: oorheersende aandagtekort voorstelling; oorheersende hiperaktief-impulsiewe voorstelling; en die gekombineerde voorstelling.

Rabiner (s.a.) merk voorts op dat waar die DSM-IV duidelike bewyse van klinies beduidende inkorting in sosiale, akademiese of beroepsfunksionering vereis, vereis die DSM-V slegs dat die simptome moet inmeng met sosiale, akademiese of beroepsfunksionering, of dat die kwaliteit van laasgenoemde areas van funksionering afneem. Hierdie is ʼn beduidende verandering,

38 aangesien die vereiste van klinies beduidende inkorting ʼn hoër maatstaf is vergeleke met die vereiste van die DSM-V dat simptome slegs “moet inmeng met die kwaliteit” van die prestasie van die individu in verskillende lewensdomeine. Daarom is dit makliker om aan die volkriteria vir ATHV in die DSM-V te voldoen. Gevolglik sal die voorkomssyfer van ATHV in die populasie verhoog, aangesien individue wat met die “ligte” of “matige” vorm van ATHV gediagnoseer word, nie aan die DSM-IV-kriteria voldoen het nie. Die rasionaal vir hierdie wysiging word nie op die DSM-V-webblad gemeld nie. Rabiner (s.a.) vind hierdie verandering kommerwekkend, aangesien individue met medikasie behandel kan word wanneer dit nie werklik nodig is nie. Hierteenoor kan individue nou makliker akademiese ondersteuning ontvang, waar dit met die vorige kriteria nie die geval was nie. Laastens, deurlopende ontwikkelingsversteuring is uit die uitsluitingskriteria weggelaat, aangesien bevind is dat ATHV en outismespektrum-versteuring saam kan voorkom (Ramsay & Rostain, 2015).

Dit is duidelik dat die veranderinge in die DSM-V meer sensitief is vir die manifestasie van ATHV by volwassenes vergeleke met die DSM-IV. Voorbeelde van positiewe veranderinge in die nuwe kriteria is die verhoging van die aanvangsouderdom van ATHV vanaf sewe jaar tot 12 jaar. Hierdie verandering in aanvangsouderdom is redelik, aangesien daar nog nie beduidende verskille in funksionering, reaksie op behandeling of uitkomste gevind is waar die simptome reeds vanaf ʼn jong ouderdom versus ʼn ouer ouderdom teenwoordig is nie. Die byvoeging van die voorbeelde van gedrag in die kriteria wat spesifiek op ouer adolessente en volwassenes van toepassing is, is ook ʼn belangrike verandering. Dit is belangrik dat professionele persone in ag neem dat die kliniese voorstelling van ATHV by volwassenes deur geassosieerde probleme beïnvloed word. Daar bestaan wel slegs beperkte riglyne rakende die differensiële diagnose van ATHV en die sielkundige inkortings wat met hierdie versteuring geassosieer word (Barkley, 2003).

Uit die bostaande bespreking is dit duidelik dat ATHV tydens die ontwikkelingsverloop verskillend manifesteer. Die ontwikkelingsverloop en die gevolge van ATHV word volgende bespreek.

2.6 DIE ONTWIKKELINGSVERLOOP EN GEVOLGE VAN AANDAGTEKORT-