• No results found

Die psigososiale ontwikkeling van die ontluikende volwassene met spesifieke

HOOFSTUK 3: ’N BIO-EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF OP

3.3 DIE BIO-EKOLOGIESE MODEL VAN BRONFENBRENNER

3.4.4.2 Die psigososiale ontwikkeling van die ontluikende volwassene met spesifieke

Tydens ontluikende volwassenheid is daar spesifieke veranderinge in die verskillende domeine van psigososiale ontwikkeling. Hierdie domeine sluit in veranderinge in kognisie, persoonlikheid, sosiale belewing, morele belewing en godsdienstige belewing (Tanner et al., 2009). Hierdie gedeelte sal spesifiek fokus op die verskillende domeine van psigososiale ontwikkeling van die ATHV-student as ʼn ontluikende volwassene.

Kognitiewe ontwikkeling

Tanner et al. (2009) voer aan dat ontluikende volwassenheid ʼn kritieke periode vir die ontwikkeling van volwasse kognitiewe breinstrukture is. Sowell, Thompson, en Toga (2004) rapporteer dat daar beduidende verskille tussen die brein van ʼn adolessent en ʼn ontluikende volwassene is. Hierdie ontwikkelingsfase stem ooreen met die finale fase van organisering in die brein – spesifiek in die areas wat by die integrasie van kognisie en emosie betrokke is om rasionele besluitneming moontlik te maak (Tanner et al., 2009).

Fleming en McMahon (2012) voer aan dat die ontwikkeling van neurale strukture wat kognitiewe uitvoerende funksionering onderlê regdeur ontluikende volwassenheid ontwikkel. ʼn Belangrike proses in die ontwikkeling van alle neurale netwerke is miëlinering, wat verantwoordelik is vir die fasilitering van komplekse kognitiewe prosessering en integrasie. Terwyl hierdie proses van miëlinering nog nie voltooi is nie, is ontluikende volwassenes meer kwesbaar vir foute in selfregulering, veral wanneer die taakeise hoog is, soos in komplekse kognitiewe take en/of take wat tot hoë emosionele opwekking lei. Verder rapporteer Fleming en McMahon (2012) dat die sosio-emosionele konteks ʼn beduidende rol speel in die besluitnemingsproses van ontluikende volwassenes. Gevolglik blyk dit dat die motiveringsisteem (beloningsisteem) die kognitiewe uitvoerende funksionering soms oorweldig in kontekste waar hoë sosio-emosionele opwekking aanwesig is. Hierdie bevindinge is van spesifieke belang vir universiteitstudente met ATHV wat ʼn dubbele inkorting beleef in respons-inhibisie en motivering om vir

langtermynbelonings te wag. Verder kan hulle vermoë om hulle gedrag op langtermynbelonings en -doelwitte te rig, nóg meer ingeperk word in situasies waar die aanloklikheid van die korttermynbelonings deur sosio-emosionele opwekking verhoog word. Gegewe die toename in sosiale interaksie in die universiteitskonteks, kan die vermoë om die bevrediging van korttermynbelonings uit te stel, soos om ʼn partytjie by te woon in plaas van ʼn werkstuk te voltooi, by ATHV-studente ʼn belangrike faktor wees om in berekening te neem.

Die breinprosesse wat met emosionele regulering verband hou, ontwikkel voorts regdeur die twintigerjare (Tanner et al., 2009). Fier en Brzezinski (2010) voer aan dat ʼn gebrek aan vaardighede in emosionele regulering wat help om negatiewe emosies te hanteer, die emosionele belewing van universiteitstudente negatief kan beïnvloed. Gevolglik beleef studente met ATHV ʼn dubbele inkorting in emosionele regulering weens die aard van die ATHV- simptome en die ontwikkelingsfase (Fleming & McMahon, 2012). Aspinwall (2005) is van mening dat dit nie ongewoon is as die kognisie van ontluikende volwassenes steeds deur egosentrisme en impulsiwiteit beïnvloed word nie, aangesien die prefrontale korteks van die brein wat vir impulsbeheer en komplekse denkprosesse verantwoordelik is, eers rondom die ouderdom van 20 ten volle ontwikkel is.

Tanner et al. (2009) voer egter aan dat die ontwikkeling van emosionele intelligensie ʼn belangrike taak van ontluikende volwassenheid is om die eise van hierdie ontwikkelingsfase suksesvol aan te roer. Mayer en Salovey (1997) beskryf emosionele intelligensie as die vermoë of vaardigheid om die emosies van die self, andere en groepe waar te neem, te assesseer en te bestuur. Tanner et al. (2009) rapporteer dat akademies-suksesvolle eerstejaarstudente in die VSA hoër vlakke van emosionele intelligensie getoon het as akademies-onsuksesvolle studente. Kristensen et al. (2014) is van mening dat emosionele intelligensie as ʼn nuttige teoretiese raamwerk kan dien om die inkortings van emosionele prosessering, wat kenmerkend is van ATHV, te bestudeer. In dié opsig het twee studies met ATHV-universiteitstudente bevind dat die persoonlike persepsie van die ATHV-student se onvermoë om haar emosies te reguleer en te bestuur, hoër vlakke van aandagtekort en hiperaktiwiteit-impulsiwiteit voorspel het (Fleming & Snell, 2008; Parker, Keefer, & Wood, 2012). Dié twee studies het voorts bevind dat die persoonlike persepsie van die ATHV-student se onvermoë om haar emosies te identifiseer en te verstaan, ook hoër vlakke van aandagtekort voorspel het (Fleming & Snell, 2008; Parker et al., 2012). Hierdie resultate stem ooreen met die teoretiese onderskeid tussen reaktiewe inhiberende inkortings (onvermoë om belonings uit te stel) wat met die hiperaktiewe-impulsiewe simptome geassosieer word, en die inkortings van selfregulering, wat meer emosionele en kognitiewe hulpbronne vereis en met aandagtekort geassosieer word (Barkley, 2010).

102

Persoonlikheidsontwikkeling

Die ontwikkeling van persoonlikheid kan met behulp van Loevinger (1976) se model oor die ontwikkeling van die ego verduidelik word. Hierdie model bestaan uit nege opeenvolgende vlakke, waar elke vlak toeneem in kompleksiteit ten opsigte van die wyse waarvolgens die individu haarself in verhouding tot die wêreld beskou (Tanner et al., 2009). Ego-ontwikkeling fokus hoofsaaklik op “impulses and methods for controlling impulses, personal preoccupations

and ambitions, interpersonal attitudes and social values” (Blasi, 1998, p. 15). Alhoewel die ego

met ouderdom ontwikkel, neem die tempo van ontwikkeling tydens ontluikende volwassenheid af en ʼn plato by die middelste fase, naamlik die bewustheid van die self, word bereik (Tanner et al., 2009). Die vlak van ego-ontwikkeling tydens vroeë ontluikende volwassenheid dra by tot volwasse selfonderhoudende gedrag en identiteitsontwikkeling (Tanner et al., 2009). Verder het Roberts, Caspi, en Moffitt (2001) bevind dat ontluikende volwassenes vanaf die ouderdomme van 18 tot 26 minder impulsiewe gedrag toon, en meer selfbeheersing sowel as reflektiewe, doelgerigte en beplande gedrag demonstreer. Tydens ontluikende volwassenheid beleef die individu ʼn sin van eienaarskap en beheer oor haar omgewing indien sy rolle aangeneem het wat sielkundige outonomie, hetsy finansieel of geografies, bevorder het (Tanner et al., 2009).

Impulsiewe gedrag, wat een van die hoofkenmerke van ATHV is, is egter verantwoordelik vir ʼn reeks aksies wat onbepland, meestal gewaag en ontoepaslik is en negatiewe gevolge kan inhou vir die ontluikende volwassene met ATHV (Matthies, Philipsen, & Svaldi, 2012). Inkortings van emosionele regulering is ook kenmerkend van ontluikende volwassenes met ATHV (Matthies et al., 2012). Emosioneel-gedrewe impulsiewe keuses blyk ʼn belangrike effek op inkortings van lewensaktiwiteite uit te oefen (Matthies et al., 2012). Matthies et al. (2012) rapporteer ook dat ondeurdagte en irrasionele besluitneming meer onder persone met ATHV tydens volwassenheid voorkom vanweë die inkorting in uitvoerende kognitiewe funksies. Gegewe dié inkorting kan ATHV-studente dit moeilik vind om hulle gedrag doelgerig te fokus, realistiese doelwitte te stel en om terugvoer op vorige gedrag doelgerig te gebruik om hulle huidige gedrag te bestuur (Stamp et al., 2014). Verder sukkel hulle ook om die nodige deursettingsvermoë te toon wanneer hulle met uitdagings gekonfronteer word, en hulle kan geneig wees om te sukkel om hoë vlakke van frustrasie te hanteer (Stamp et al., 2014).

Dit is duidelik dat ATHV kan bydra tot agterstande in persoonlikheidsontwikkeling en verlengde identiteitseksplorasie, aangesien die individu met ATHV sukkel met keuses van ʼn beroep, vriende of ʼn lewensmaat (Davis, Sabella, Smith, & Costa, 2011). Die ontwikkeling van negatiewe selfpersepsies by studente met ATHV kan deur negatiewe domein-spesifieke selfevaluasies, soos die evaluasie van akademiese vermoëns, beïnvloed word (Barry & Nelson, 2008). ʼn Kombinasie van negatiewe domein-spesifieke selfevaluasies, en die frustrasies en negatiewe sosiale interaksies wat met ATHV geassosieer word, kan ʼn negatiewe impak op die

identiteitsontwikkeling van ATHV-studente hê (Davis et al., 2011; Harter, 1990). Matthies en Philipsen (2016) asook Ramsay en Rostain (2015) waarsku gevolglik dat die ontwikkeling van rigiede en disfunksionele oortuigings kan ontstaan, wat gegrond is op ware of subjektiewe inkortings weens die neurokognitiewe inkortings wat met ATHV gepaardgaan, naamlik aandagtekort, impulsiwiteit, ʼn gebrek aan empatie en inkortings van kommunikasievaardighede. Dié oortuigings is ʼn bekende oorsaak van die ontwikkeling van persoonlikheidsversteurings soos antisosiale- en grenspersoonlikheid-versteuring (“borderline personality disorder”) en ander ko-morbiede versteurings by volwassenes met ATHV (Matthies & Philipsen, 2016; Ramsay & Rostain, 2015).

Sielkundige ontwikkeling

Alhoewel lewenslus tydens ontluikende volwassenheid hoogty vier, voer Fier en Brzezinski (2010) en Davis et al. (2011) aan dat hierdie ontwikkelingsfase ook ʼn hoërisikoperiode is vir die ontwikkeling van sielkundige versteurings. Arnett (2015) beweer dat die hoë voorkoms van ʼn verskeidenheid gedrags- en sielkundige probleme tydens hierdie ontwikkelingsfase nie by enige ander ontwikkelingsfase voorkom nie. Hierdie probleme kan gevolglik ingeperkte funksionering in ʼn verskeidenheid sielkundige ontwikkelingsdomeine teweegbring. Aktiewe sielkundige versteurings sowel as sielkundige versteuring(s) wat die ontluikende volwassene in die verlede gehad het, hou verband met swakker sielkundige funksionering in interpersoonlike en sosio- ekonomiese domeine gedurende jong volwassenheid (Tanner et al., 2009).

Arnett (2015) is van mening dat hoë vlakke van reaktiewe stres onder ontluikende volwassenes voorkom. Weyandt en DuPaul (2013) het bevind dat studente met ATHV ʼn hoër vlak van stres as dié studente sonder ATHV rapporteer. Hierdie stres word in drie vorme geïnternaliseer, naamlik major depressiewe versteuring, angsversteurings en eetversteurings. Arnett (2015) rapporteer dat ongeveer 6% van Amerikaners tussen die ouderdomme van 18 en 25 simptome toon wat met die kliniese diagnose van ʼn major depressiewe versteuring ooreenstem. Hierdie voorkomssyfer van major depressie tydens ontluikende volwassenheid is ongeveer dieselfde as tydens die res van volwassenheid tot en met die ouderdom van 65 (Arnett, 2015). Volgens ʼn nasionale epidemiologiese studie in die VSA, het 12% van ontluikende volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 24 simptome getoon wat ʼn diagnose van ʼn angsversteuring regverdig (Arnett, 2015). Die voorkomssyfer van major depressiewe versteuring en angsversteurings onder ontluikende volwassenes stem ook ooreen met die voorkomssyfer in die res van die volwasse populasie (Blanco et al., 2008). Verder is algemene gevoelens van angs tydens ontluikende volwassenheid uitermatig hoog (Arnett, 2015). Moontlike redes vir sodanige angsgevoelens kan die soeke na identiteit en die onstabiliteit van ontluikende volwassenheid insluit, sowel as die aanpassing om alleen te woon en die uitdagings van die volwasse wêreld (Arnett, 2015).

104 Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV) word beskou as ʼn beduidende risikofaktor vir die ontwikkeling van ko-morbiede versteurings by volwassenes met dié versteuring (Matthies & Philipsen, 2016). Die risiko is gevolglik groter vir die student met ATHV dat sy met ʼn major depressiewe versteuring of ʼn angsversteuring gediagnoseer kan word, aangesien simptome van depressie en angs met die oorgang na volwassenheid by individue met ATHV toeneem namate verwagtinge van aanpassende funksionering verhoog en ATHV-verwante gedrag bydra tot ervaringe van mislukking in die skool, universiteit en verhoudings (Safren et al., 2010). Meer as die helfte van die studentedeelnemers aan Stamp et al. (2014) se studie het gerapporteer dat hulle gevoelens van depressie of uitermatige moedeloosheid beleef met betrekking tot hulle hantering van ATHV. ʼn Hoër voorkoms van ko-morbiede versteurings, soos major depressie, angs en leerprobleme, is onder ATHV-studente deur Rabiner et al. (2008) en Gregg (2009) gerapporteer.

Ten opsigte van die belewing van volwassenes met ATHV en major depressie, beweer Ramsay en Rostain (2015) dat die inkorting in konsentrasie en uitstel vererger wanneer simptome van depressie beleef word. ʼn Belangrike verskil tussen individue met major depressie en diegene met ATHV is dat die individue met major depressie rapporteer dat die simptome van rusteloosheid en probleme met konsentrasie verbeter namate hulle gemoed verbeter. Vir diegene met ATHV duur dié simptome voort ten spyte van ʼn verbetering in gemoed (Ramsay & Rostain, 2015).

Angs is die algemeenste ko-morbiede versteuring wat by volwassenes met ATHV waargeneem word (Barkley, Murphy, & Fischer, 2008). Volwassenes met ATHV rapporteer dikwels dat hulle voortdurende probleme met angs ontstaan het as gevolg van die simptome van ATHV wat met hulle daaglikse lewe inmeng (Ramsay & Rostain, 2015). Ramsay en Rostain (2015) is van mening dat angs ook in reaksie op die simptome van ATHV kan ontstaan. Aangesien angs ʼn groot motiveerder vir gedrag kan wees, wag ʼn groot aantal volwassenes met ATHV tot op die nippertjie om ʼn taak te voltooi (Ramsay & Rostain, 2015). Vir baie van hierdie individue wat die voltooiing van take uitstel, ontwikkel daar ʼn toename in die gevoel van bedreiging en die belewing van angs (Ramsay & Rostain, 2015). Byvoorbeeld, aangesien die moeilikheidsgraad van assesserings toeneem wanneer die individu vanaf die skoolkonteks na die universiteitskonteks beweeg, voel hulle gevolglik meer bedreig. Daar bestaan derhalwe ʼn groter versoeking om uit te stel en akademiese verpligtinge te vermy, wat hoër vlakke van angs veroorsaak en meer motivering verg om die nodige gedrag te aktiveer om die verpligting te voltooi (Ramsay & Rostain, 2015). Vanweë hierdie vermydingspatroon, kan volwassenes met ATHV probleme ervaar met die uitvoering en afhandeling van take, beperkte tyd hê om vir ʼn assessering voor te berei, nie voorsiening maak vir onverwagte probleme nie, en werk lewer wat nie op standaard is nie (Ramsay & Rostain, 2015).

Die ko-morbiditeit van bipolêre versteuring met ATHV is ʼn kontroversiële onderwerp in die literatuur (Barkley, 2006). Een van die faktore wat tot hierdie kontroversie bygedra het, is dat ʼn aantal van die simptome van ATHV ook in die DSM-IV-TR-kriteria vir ʼn maniese episode ingesluit is (Davis et al., 2012). Alles in ag genome postuleer Davis et al. (2012) dat die gekombineerde impak van hierdie twee versteurings op die funksionering van ʼn individu ernstige gevolge inhou vir individue wat nie behandeling ontvang nie.

Nog probleme wat spesifiek met ontluikende volwassenheid geassosieer word, is die onverskillige bestuur van motors en substansiegebruik (Arnett, 2015). Graham en Gootman (2008) voer aan dat die meeste sterftes onder ontluikende volwassenes aan motorongelukke toegeskryf kan word. Alhoewel die toename in motorongelukke en -beserings gedeeltelik aan ʼn gebrek aan ervaring toegeskryf kan word, is dronkbestuur, veral tydens die vroeë twintigerjare, nog ʼn oorsaak vir die hoë ongeluksyfer (Arnett, 2015). Ontluikende volwassenes in hulle vroeë twintigerjare toon soms ʼn behoefte om aan gevaarlike en riskante aktiwiteite deel te neem as gevolg van die adrenalien-inspuiting (“rush”) wat daarmee gepaardgaan, en is meer geneig om deel te neem aan ʼn verskeidenheid gevaarlike gedragspatrone, soos substansiemisbruik, gevaarlike motorbestuur en riskante seksuele gedrag (Arnett, 2015).

Weyandt en DuPaul (2013) is van mening dat daar ʼn groot risiko vir substansiemisbruik by universiteitstudente met ATHV bestaan. Fleming en McMahon (2012) verduidelik dat nikotien, alkohol en dagga die afskeiding van dopamien stimuleer. Studente met ATHV beskryf die effek van die gebruik van ʼn substansie as ʼn manier om hulle breine te laat “afskakel”, hulle konsentrasie te verbeter, asook angs, stres en slaapprobleme te verlig (Ramsay & Rostain, 2015). Ramsay en Rostain (2015) beweer voorts dat individue wat probleme met impulsiwiteit en swak selfbeheer ervaar, meer geneig is om aan hoërisikogedrag deel te neem, soos substansiemisbruik, sonder om die negatiewe gevolge daarvan te oorweeg. Alhoewel hulle nie as sodanig groter hoeveelhede en meer gereeld alkohol inneem as studente sonder ATHV nie, kan hulle moontlik wel meer kwesbaar wees om substansie-afhanklikheid te ontwikkel of om ander negatiewe gevolge van substansiegebruik te ervaar (Fleming & McMahon, 2012). Voorbeelde hiervan is om by gevegte betrokke te raak en geheueverlies te ervaar (Fleming & McMahon, 2012). Die kombinasie van gedragsversteuring en opponerend-uitdagende versteuring, wat by 17% tot 35% van ATHV-volwassenes manifesteer, blyk om die risiko vir substansie-afhanklikheid of -misbruik by volwassenes met ATHV te verhoog (Davis et al., 2012).

Die risiko om in ʼn motorongeluk betrokke te wees, is nog groter vir universiteitstudente met ATHV in vergelyking met nie-ATHV-studente. Weyandt en DuPaul (2013) het bevind dat ATHV- studente in meer motorongelukke betrokke was, asook meer spoedboetes ontvang en

106 opgeskorte motorlisensies gerapporteer het as studente sonder ATHV. Volgens Richards et al. (2002) rapporteer ATHV-studente dat hulle padwoede ervaar en aggressiewe gedrag toon wanneer hulle bestuur, asook dat hulle geneig is om meer risiko’s te neem.

Sosiale ontwikkeling

Vriendskappe help ontluikende volwassenes om hulle sosiale en sosiokognitiewe behoeftes tydens hierdie uitdagende periode van ontwikkeling te bevredig (Barry, Madsen, & DeGrace, 2015; Tanner et al., 2009). Tanner et al. (2009) voer aan dat vriendskappe die belangrikste tipe sosiale verhoudings tydens ontluikende volwassenheid kan wees, aangesien vriende geneig is om die rol van vertroueling en kameraad te vervul. Hierdie vriendskappe dra by tot die bereiking van sielkundige outonomie deur middel van die erkenning en aanvaarding van andere se perspektiewe en emosies, die voorsiening van sosiale ondersteuning, en die ontwikkeling en bevordering van onafhanklike denke (Barry et al., 2015). Fier en Brzezinski (2010) rapporteer dat sosiale verhoudings wat tot sosiale integrasie met die kampuslewe lei, belangrike retensiefaktore is. Barry et al. (2015) voer voorts aan dat die toenemende intimiteit van ʼn langtermyn romantiese verhouding, asook die sosiale ondersteuning van vriendskappe tydens ontluikende volwassenheid tot positiewe sosiale en sielkundige funksionering kan lei.

Universiteitstudente met ATHV blyk om sosiaalgewys moeiliker by die universiteitskonteks aan te pas vergeleke met studente sonder ATHV (Norwalk et al., 2009). Shaw-Zirt et al. (2005) rapporteer dat ATHV-studente beduidende laer tellings getoon het in sosiale aanpassing, gehegtheid aan die universiteit en toegewydheid aan akademiese doelwitte. Dié ATHV-groep het ook beduidende laer tellings behaal op metings van selfagting en sosiale vaardighede. Hierteenoor het Wilmshurst et al. (2011) bevind dat ATHV-studente met goeie sosiale vaardighede hoër vlakke van selfagting rapporteer.

Vergeetagtigheid, aandagafleibaarheid en tekort aan impulsbeheer, wat kenmerkend van ATHV kan wees, kan lei tot ontoepaslike sosiale gedrag by studente met ATHV (CHADD, 2016). Aangesien ATHV ʼn “versteekte leerhindernis” is, kan individue sonder ATHV diegene met dié versteuring as bloot ongeskik, selfgesentreerd en onverantwoordelik beleef (CHADD, 2016). Hierdie negatiewe etikette kan lei tot die belewing van sosiale verwerping by die individu met ATHV, wat dikwels reeds vanaf die skooljare beleef word. Sosiale verwerping kan emosionele pyn en gevolglik ʼn lae selfagting by die student met ATHV tot gevolg hê (CHADD, 2016). Groman en Barzman (2014) beweer dat sosiale verwerping kan lei tot ʼn aantal emosionele en gedragsprobleme, onder meer probleme met selfagting, depressie en antisosiale gedrag. Alhoewel universiteitstudente met ATHV laer vlakke van selfagting beleef, beweer Canu en Carlson (2007) dat hulle nie meer sensitiwiteit vir verwerping vergeleke met studente sonder

ATHV rapporteer nie. Chew et al. (2009) het bevind dat universiteitstudente met ATHV in der waarheid meer negatiewe houdings jeens individue met ATHV getoon het vergeleke met universiteitstudente sonder ATHV. Alhoewel sommige ATHV-studente van mening is dat ATHV sosiale voordele kan inhou, soos die vermoë om maklik gesprekke met andere aan te knoop, beleef hulle dikwels gevoelens van angstigheid wanneer hulle in sosiale situasies geplaas word (Stamp et al., 2014). Verder is hulle ook bang om as “anders” beskou te word en hulle kan moontlik geneig wees om negatiewe vergelykings tussen hulleself en hulle portuurgroep te tref, wat kan aanleiding gee tot die belewing van minderwaardigheid (Stamp et al., 2014).

Alhoewel emosionele regulering ʼn belangrike rol speel in die ontwikkeling en instandhouding van gesonde interpersoonlike sosiale en romantiese verhoudings, is min navorsing in dié opsig onder ontluikende volwassenes met ATHV uitgevoer (Harrell, 2015). Young en Gudjonsson (2008) beweer dat die inkortings in emosionele regulering wat met ATHV gepaardgaan, ATHV- volwassenes se sosiale belewing negatief beïnvloed. Alhoewel dit blyk dat ATHV-studente van hulle oortredings van toepaslike sosiale norme en verwagtinge bewus is, word sosiale norme steeds oortree weens impulsiwiteit (Friedman et al., 2003). Barkley (1997) verklaar dié bevinding aan die hand van die teoretiese raamwerk van uitvoerende kognitiewe funksies, wat beweer dat sosiale inkortings by individue met ATHV nie bloot toegeskryf word aan inkortings van sosiale vaardighede nie, maar eerder aan inkortings om die sosiale vaardighede wat hulle reeds opgedoen het, toe te pas. Ter bevestiging van Barkley (1997) se bevindinge, het Friedman et al. (2003) bevind dat volwassenes met ATHV minder toegerus was om emosionele inligting, wat in die sosiale konteks aanwesig is, te herken en te interpreteer vergeleke met volwassenes sonder ATHV. Die inkorting in emosionele prosesseringsvaardighede word aan die ontwikkeling van swak sosiale vaardighede gekoppel (Groman & Barzman, 2014). Ontluikende volwassenes met ATHV ervaar probleme om romantiese verhoudings te onderhou en hulle rapporteer ook meer ontevredenheid in hulle verhoudings (Biederman et al., 2006; Canu & Carlson, 2007). Simptome van ATHV wat ʼn negatiewe impak op romantiese verhoudings het, is die geneigdheid om te praat sonder om te dink, gesprekke te vergeet, en probleme om negatiewe emosies te reguleer (Barkley, 2006b).

Ontluikende volwassenes toon ʼn toenemende vermoë om die standpunte van andere in te sien (Arnett, 2010). Die vermoë ontwikkel om die gedagtes en gevoelens van andere te verstaan, wat as empatie bekendstaan (Arnett, 2010). Arnett (2010) beweer dat ontluikende volwassenes wat empatiese gedrag toon, makliker nuwe vriendskappe sluit. Ontluikende volwassenes met ATHV kan moontlik geneig wees om min empatie te toon, aangesien hulle probleme ervaar om hulle eie emosies asook om dié van andere te verstaan weens hulle probleme met emosionele