• No results found

Die primêre simptome van Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV)

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.5 DIE KLINIESE VOORSTELLING VAN AANDAGTEKORT-

2.5.1 Die primêre simptome van Aandagtekort-Hiperaktiwiteitsversteuring (ATHV)

2.5.1.1 Aandagtekort

Aandag is ʼn komplekse, multidimensionele konstruk wat verskeie interafhanklike komponente insluit, soos onder meer volgehoue aandag, selektiewe aandag, gefokusde aandag, ouditiewe aandag, visuele aandag, werkende geheue, verstandelike wakkerheid, kognitiewe aktivering en konsentrasie (Barkley, 1998). Brown (2006) is van mening dat aandag ʼn omvattende term is wat na die geïntegreerde funksionering van die uitvoerende kognitiewe funksies van die brein verwys.

Aandagtekort by individue met ATHV kan tot adolessensie voortduur, maar neem verskillende vorme aan (Wasserstein, Wolf, Solanto, Marks, & Simkowitz, 2008). Klagtes van aandagtekort

word deur individue met ATHV uitgedruk as “swak geheue” en “vergeetagtigheid/

verstrooidheid”, wat dikwels interpersoonlike konflik met lewensmaats, vriende en kollegas

teweegbring. Hierdie individue sal voorts ook swak leesbegrip toon weens ʼn swak vermoë om kognitief voldoende te fokus. Die algemeenste probleme wat aangemeld word behels konsentrasieprobleme; swak organiseringsvermoë; onvoltooide take; swak tydsbestuur en laatkommery vir afsprake; behoefte aan variasie; besluitnemingsprobleme; en sensitiwiteit vir stres (Kooij et al., 2010; Wasserstein et al., 2008). Individue met ATHV rapporteer dat die uitstel van belangrike take, veral dié wat as oninteressant beskou word, ʼn groot probleem is.

Simptome van afleibaarheid en swak volgehoue aandag bly relatief konstant oor die lewensduur van individue met ATHV (Kessler et al., 2010). Tydens volwassenheid word daar egter toenemende kontekstuele eise aan die organisering-, konsentrasie- en tydbestuursvaardighede gestel, en die negatiewe gevolge wat met aandagtekort en swak organisering verband hou, word ernstiger (Biederman, Mick, & Faraone, 2000). Verder bevestig longitudinale data van kliniese en epidemiologiese steekproewe van kinders, adolessente en jong volwassenes met ATHV op ʼn konsekwente wyse dat die simptome van aandagtekort veel meer is in verhouding met hiperaktiwiteit-impulsiwiteit, waar laasgenoemde simptome afneem vergeleke met die simptome van aandagtekort (Wilens et al., 2009). Wilens et al. (2009) het ook bevind dat geen geslagsverskille in ATHV-simptome voorkom nie: beide geslagte het hoë vlakke van aandagtekort in verhouding tot hiperaktiwiteit-impulsiwiteit.

In besprekings oor aandag en afleibaarbaarheid in ATHV word die begrip hiperfokus (“hyper

focus”) dikwels ingesluit. Hiperfokus word dikwels deur volwassenes met ATHV beskryf as die

vermoë om intens op ʼn aktiwiteit vir ʼn lang tydperk te konsentreer. Byvoorbeeld, individue sal rapporteer dat hulle wesenlike vordering in ʼn geskrewe verslag gemaak het of ʼn aansienlike gedeelte van ʼn boek tot laat in die nag gelees het, maar hulle sal nie in staat wees om hierdie prestasie oor ʼn tydperk vol te hou nie. Ongelukkig is hierdie verskynsel dikwels die laaste fase van ʼn siklus van oneffektiewe hantering (Ramsay & Rostain, 2015). Ramsay en Rostain (2015) redeneer gevolglik dat hiperfokus eerder dui op die onvermoë om die aandag van een taak na ʼn ander te skuif, vandaar die verwysing na ATHV as ʼn versteuring van “aandagtoewysing” of

“regulering”. Die volwassene met ATHV sal dus eerder aanhou om ʼn taak van lae prioriteit te

doen (byvoorbeeld deur die papiere op haar lessenaar te organiseer), aangesien dit ʼn afleier is van take wat ʼn hoër prioriteit behoort te geniet.

2.5.1.2 Hiperaktiwiteit-Impulsiwiteit

Hiperaktiwiteit en impulsiwiteit word in hierdie afdeling gesamentlik bespreek, aangesien hierdie gedragsimptome in een kategorie in die DSM-V aangedui word omrede individue gewoonlik beide simptome openbaar (Barkley, 1998). Proctor en Prevatt (2009) het egter bevind dat

32 simptome van hiperaktiwiteit en impulsiwiteit afsonderlik by universiteitstudente kan voorkom.

Die waarneming dat ouer adolessente en volwassenes met ATHV selde waarneembare vlakke van hiperaktiwiteit-impulsiwiteit toon, het die onakkurate veralgemening laat ontstaan dat kinders met ATHV dié sindroom uiteindelik sal ontgroei (Ramsay & Rostain, 2015). Terwyl daar wel ʼn afname in die sigbare tekens van hiperaktiwiteit met ouderdom kan voorkom (Wilens et al., 2009), rapporteer volwassenes met ATHV dikwels ʼn ervaring van innerlike rusteloosheid (byvoorbeeld, beweeg hulle been of voet, vroetel met persoonlike besittings of trommel op die tafel), ʼn onvermoë om te ontspan of uitermatige spraaksaamheid (Barkley, 1998; Kooij et al., 2010; Wasserstein et al., 2008). Hierdie groep volwassenes sal ook diegene met wie hulle in aanraking kom, uitput (APA, 2013). Baie volwassenes met ATHV rapporteer ook “verstandelike

hiperaktiwiteit”, byvoorbeeld, wanneer hulle gedagtegang maklik deur nuwe gedagtes of idees

onderbreek word (Ramsay & Rostain, 2015).

Bewyse dat impulsiwiteit of swak regulering en inhibisie van gedrag en gedagtes ʼn sigbare kenmerk van ATHV is, is onbetwisbaar (Barkley, 1998). Glutting, Youngstrom, en Watkins (2005) het bevind dat universiteitstudente hoë vlakke van impulsiwiteit openbaar. Plug et al. (1997) beskryf impulsiwiteit as “ʼn neiging om spontaan en direk te reageer sonder om die

gevolge van die aksie in ag te neem” (p. 154). Volgens die APA (2013) verwys impulsiwiteit na

oorhaastige aksies wat oombliklik sonder voorbedagtheid plaasvind en wat ʼn groot risiko vir leed vir die individu inhou (byvoorbeeld om oor die straat te hardloop sonder om te kyk). Impulsiwiteit is ook multidimensioneel van aard en kan verskillende vorme aanneem (Barkley, 2003). Laasgenoemde behels kognitiewe impulsiwiteit, emosionele impulsiwiteit en gedragsimpulsiwiteit (Barkley, 2010b; Mash & Wolfe, 2010). Impulsiwiteit kan uitgedruk word as ongeduld; roekelose besteding van geld; nuwe betrekkings en verhoudings wat op impulsiewe besluite gebou word; en sensasie-soekende gedrag (byvoorbeeld rekspring) (Barkley, 1998; Kooij et al., 2010; Ramsay & Rostain, 2015).

Emosionele impulsiwiteit (ook bekend as agterstande in emosionele selfregulering) is ʼn kernkomponent van ATHV by volwassenes wat vanaf die kinderjare tot volwassenheid voortduur (Barkley, 2010c; Barkley & Fischer, 2010). Emosionele selfregulering verwys na die vermoë om emosionele response op enige emosiebelaaide gebeurtenisse (“triggers”) te inhibeer. Individue met agterstande in emosionele selfregulering toon dikwels ontoepaslike gedrag in reaksie op sterk negatiewe of positiewe emosies. Emosionele selfregulering verwys ook na die vermoë om enige fisiologiese opwekking wat die sterk affek tot gevolg het, te kalmeer en om die aandag van die emosioneelbelaaide gebeurtenis te verskuif. Laastens verwys hierdie term ook na die vermoë om emosies in gekoördineerde aksies tydens die nastreef van doelwitte, te kanaliseer. Dit is gevolglik moeilik vir volwassenes met ATHV om

meer positiewe en aanvaarbare emosies uit te leef en om hulleself te motiveer (Barkley, 2010a). Volwassenes met ATHV beleef daagliks frustrerende en veranderende emosies wat bydra tot die wye reeks inkortings wat dikwels by volwassenes met dié versteuring beskryf word (Brown, 2006; Kooij et al., 2010). Barkley en Fischer (2010) en Brown (2006) beweer dat volwassenes met ATHV ʼn lae frustrasietoleransie openbaar. Hulle vind dit ook moeilik om alledaagse stressors te hanteer en voel maklik oorweldig en ontmoedig (Brown, 2006). Aangesien baie volwassenes met ATHV dit moeilik vind om emosies soos hartseer, bekommernis, depressie en angs te reguleer, blyk hulle ook oorsensitief te wees en hulle sal dikwels hewig op kritiek reageer (Brown, 2006).

Die volgende vorme van gedragsimpulsiwiteit, wat ook by kinders met ATHV aangetref word, word ook deur volwassenes met ATHV gerapporteer, naamlik ondeurdagte optredes of uitlatings, die uitblakering van antwoorde en die onderbreking van gesprekke (Murphy & Barkley, 1996; Ramsay & Rostain, 2015). Ramsay en Rostain (2015) en die APA (2013) beweer voorts dat volwassenes met ATHV dit moeilik vind om die aanloklikheid van stimuli wat onmiddellike positiewe versterking bied, soos ʼn genotvolle ervaring, te weerstaan. Volwassenes met ATHV neig ook om belangrike besluite te neem sonder om die langtermyngevolge te oorweeg (byvoorbeeld die instemming tot ʼn betrekking sonder die nodige inligting) (APA, 2013).

Dit is duidelik dat die hiperaktiewe-impulsiewe simptome van ATHV met sosiale en gedragsprobleme sowel as psigiatriese versteurings vereenselwig word. Alhoewel hierdie simptome ook by ander psigiatriese versteurings aangetref word – soos motoriese spiertrekkings (“motor tics”), bipolêre versteuring of dwelmmisbruik – is bogenoemde chroniese probleme ʼn integrale deel van ATHV (Brown, 2006).

Ten slotte, die hiperaktiewe-impulsiewe domein van simptome oorvleuel grootliks met die uitvoerende kognitiewe funksies van emosionele regulering en selfbeheer of impulsbeheer, wat beduidende probleme vir ʼn groot aantal volwassenes met ATHV tot gevolg het (Brown, 2006; Ramsay & Rostain, 2015). Alhoewel Kessler et al. (2010) bevind het dat die voortduring van simptome van aandagtekort tot volwassenheid groter is as hiperaktiewe-impulsiewe simptome vanaf die kinderjare, beweer laasgenoemde outeurs dat aandagtekort nie eie is aan ATHV nie. Die rede vir laasgenoemde is dat aandagtekort sterk met ander sielkundige versteurings geassosieer word. Hierteenoor is probleme met uitvoerende kognitiewe funksies, soos swak emosionele regulering en agterstande in die inhibisie van verbale, motoriese, kognitiewe en emosionele aktiwiteite, meer spesifieke en konsekwente aanwysers van volwasse ATHV (Kessler et al., 2010).

34