• No results found

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.7 DIE DIAGNOSTIESE ASSESSERING VAN AANDAGTEKORT-

Gegewe die voorkomssyfer van ongeveer 5% (Pryor et al., 2010) van ATHV onder die universiteitspopulasie en die wetlike verpligting om akademiese ondersteuningsdienste en akademiese konsessies aan studente met leerhindernisse te voorsien, moet sielkundiges en psigiaters by tersiêre gesondheidsentrums en in die gemeenskap toenemend ATHV-evaluasies

uitvoer (Pazol & Griggins, 2012). Assessering verwys na die proses om funksionering te beskryf deur middel van die versameling en sintetisering van inligting om toepaslike besluitneming, intervensie en begrip vir funksionering te rig (Foxcroft & Roodt, 2005). Die primêre doel van assessering van universiteitstudente is om vas te stel of die versteuring teenwoordig is, en of ander versteurings die oënskynlike ATHV-simptome beter verduidelik of ko-morbied is met ATHV (Cellucci, Remsperger, & McGlade, 2007). Weyandt en DuPaul (2013) is van mening dat die primêre fokus van assessering nie slegs tot ʼn moontlike diagnostiese etiket moet lei nie, maar ook om probleme en uitdagings met verwysing na moontlike simptome en funksionele inkortings aan te pak.

ʼn Multidimensionele, dinamiese en holistiese benadering tot assessering wat op die eksosistemiese model en die konstruktivistiese perspektief gegrond is, is nodig om betroubare en geldige inligting van die student se gedrag in verskillende kontekste te voorsien (Engelbrecht, Green, Naicker, & Engelbrecht, 1999). Die fases van die assesseringsproses, soos uiteengesit deur Weyandt en DuPaul (2013), voldoen aan laasgenoemde benadering tot assessering. Die vyf fases sluit in: 1) voorlopige ondersoek na simptome; 2) multimetode- assessering; 3) interpretasie van resultate; 4) behandelingsontwikkeling; en 5) evaluasie van behandelingsuitkomste. ʼn Bespreking van die vyf-fase assesseringsproses en die uitdagings van assessering onder die studentepopulasie word in hierdie afdeling bespreek.

2.7.1 Die voorlopige ondersoek na simptome

Nadat studente verwys is of hulleself by ʼn gesondheidsentrum of professionele persoon in die gemeenskap aangemeld het weens akademiese, gedrag- en/of sosiale probleme, moet sodanige studente voorlopig vir moontlike ATHV-simptome ondersoek word. Die koste- effektiefste metode om ʼn voorlopige ondersoek uit te voer, is om studente ʼn kort graderingskaal (“rating scale”) oor die moontlike teenwoordigheid van ATHV-simptome te laat voltooi. Gedurende die eerste kontaksessie, word die kliënt ook uitgevra oor ander simptome, soos maniese simptome of hallusinasies wat psigiatriese aandag vereis, of kwessies wat verskillende dienste vereis, byvoorbeeld aktiewe substansie-afhanklikheid en selfdoodgedrag, word bespreek. Sodoende word die invloed van substanse en die teenwoordigheid van ander mediese toestande uitgeskakel (Ramsay & Rostain, 2015).

2.7.2 Multimetode-assessering

Indien die voorlopige ondersoek aandui dat ATHV moontlik teenwoordig kan wees, word ʼn volledige evaluasie met behulp van ʼn verskeidenheid metodes uitgevoer.

Eerstens, ’n assessering vind plaas van die frekwensie en erns van die ATHV-simptome oor die afgelope ses maande met behulp van ʼn kliniese onderhoud en simptoomgraderingskaal.

42 Tweedens volg die raadpleging van dokumentasie oor die impak van die simptome op ʼn verskeidenheid funksioneringsdomeine (Wolf, 2001). Die eerste domein van akademiese prestasie kan deur middel van ʼn onderhoud, insae in geargiveerde opvoedkundige en beroepsrekords, en ander verslae (ouer, huweliksmaat, fakulteit, werkgewer) geëvalueer word (Wolf et al., 2009). Dit is ook belangrik om studie- en organiseringsvaardighede met behulp van ʼn vraelys te assesseer, aangesien universiteitstudente met ATHV dikwels probleme in hierdie areas rapporteer vergeleke met studente sonder ATHV (Advokat et al., 2011). Volgens die DSM-V-kriteria kan ATHV-simptome ook verwant wees aan probleme met sosiale funksionering. Assessering in hierdie domein geskied hoofsaaklik deur selfrapportering van gedrag in verskillende lewensituasies, of die rapportering van selfpersepsies van vriendskappe, sosiale aktiwiteite en die kwaliteit van verhoudings. Laastens, beroepsfunksionering kan deur middel van selfrapporteringsvraelyste vasgestel word (Weyandt & DuPaul, 2013).

Bo en behalwe die bogenoemde probleme met funksionering, is daar twee ander risiko-areas wat tydens ʼn volledige ATHV-evaluasie ondersoek moet word. Gegewe dat individue met ATHV neig om by meer riskante seksuele aktiwiteite betrokke te wees, is assessering van seksuele risikogedrag belangrik om studente te identifiseer wat moontlik ondersteuning in hierdie area kan benodig. ʼn Tweede risiko-area vir universiteitstudente met ATHV het betrekking op bestuursvernuf, en die bestuursgedrag van die student moet geassesseer word (Weyandt & DuPaul, 2013).

Die derde metode van assessering het betrekking op die bevestiging van ATHV tydens die kinderjare deur middel van retrospektiewe simptoomtakserings deur die student en die ouer, en skoolrekords soos deur die DSM-V-kriteria vereis word (Wolf et al., 2009). Die vierde assesseringsmetode verwys na die raadpleging van dokumentasie oor die persoon se ontwikkelingsgeskiedenis, fisieke en sielkundige gesondheid, en die akademiese prestasie van die individu en familielede (Wolf et al., 2009). Tesame met akademiese rekords van die sekondêre skool en die universiteit, is verslae van vorige psigo-opvoedkundige, psigiatriese of mediese evaluasies behulpsaam om ʼn geskiedenis van ATHV en/of verwante versteurings vas te stel. Hierdie dokumentasie voorsien ook ʼn konteks vir die assessering van opvoedkundige en psigososiale sterk- en swakpunte (Weyandt & DuPaul, 2013). Laastens moet moontlike ko- morbiede toestande (byvoorbeeld major depressie, angsversteuring) met behulp van ʼn psigopatologiese ondersoek geassesseer word (Wolf, 2001). ʼn Aantal mediese toestande, soos tiroïedversteuring, kan sommige simptome van ATHV naboots. Gevolglik moet mediese ondersoeke versoek word indien alternatiewe oorsake vir die bestaande simptome vermoed word (Wasserstein et al., 2008). Weyandt en DuPaul (2013) beveel ook aan dat die gebruik en misbruik van alkohol en onwettige substanse met behulp van selfrapporteringsvraelyste ondersoek moet word.

Verder kan voorlopige neurosielkundige ondersoeke of ander kognitiewe evaluerings (byvoorbeeld ʼn kontrolelys vir die identifisering van probleme met uitvoerende kognitiewe funksies) behulpsaam wees vir kliniese bewyse oor die wyse waarop pasiënte verskillende kognitiewe eise hanteer, en om die voorkoms van ander leerhindernisse uit te skakel (Ramsay & Rostain, 2015; Weyandt & DuPaul, 2013).

Laastens word die resultate van die multimetode-assesserings aan die hand van die DSM-V- kriteria vir ATHV en ander versteurings geïnterpreteer.

2.7.3 Uitdagings van assessering

Die assessering van ATHV by universiteitstudente verteenwoordig ʼn aantal uitdagings wat in ag geneem moet word om die waarskynlikheid van betroubare en geldige diagnostiese besluite te verhoog. Een van die wesenlike uitdagings om ATHV by volwassenes te diagnoseer, is die uitdaging om historiese data in te samel wat die aanvang van klinies beduidende simptome van ATHV tydens die kinderjare (teen die ouderdom van 12) bevestig. Murphy en Schachar (2000) is van mening dat selfrapportering van simptome uit die verlede en hede betroubaar kan wees indien die pasiënt goeie insig in die versteuring toon. Omsigtigheid is egter nodig, aangesien retrospektiewe herroeping van simptome tydens die kinderjare ʼn probleem vir volwassenes met ATHV kan wees. Gevolglik is die onderrapportering van simptome ʼn algemene probleem weens die uitdaging van akkurate herroeping (Barkley et al., 2002). ʼn Diagnose gebaseer op selfrapportering kan lei tot die onderdiagnose van ATHV en daarom is dit meer betroubaar om ook inligting van informante, byvoorbeeld ʼn ouer of ʼn koshuismaat, te gebruik (Kooij et al., 2010).

ʼn Tweede uitdaging is die neiging van individue met ATHV om ʼn positiewe illusie-vooroordeel met die selfrapportering van hulle funksionering te toon. Gegewe dat gesondheidsdiensverskaffers hoofsaaklik op die selfrapportering van funksionering staatmaak as deel van ʼn diagnostiese evaluasie van ATHV, moet hierdie selftakserings met omsigtigheid benader word, veral as studente ʼn bogemiddelde funksionering in ʼn spesifieke area rapporteer. Die ideaal is om selftakserings met geargiveerde data (soos akademiese rekords) en/of takserings van andere (soos ouers) aan te vul (Weyandt & DuPaul, 2013). Nog ʼn uitdaging van assessering van studente is die gebruik van ʼn relevante normgroep, aangesien die meeste gestandaardiseerde meetinstrumente nie afsonderlike norms vir universiteitstudente insluit nie (Weyandt & DuPaul, 2013). Weyandt en DuPaul (2013) beveel aan dat die prestasie van studente met ATHV, waar moontlik, met die prestasie van die algemene studentepopulasie vergelyk word.

44 gesondheidsdiensverskaffers aangeraai word om ouers se verslae in te sluit wanneer ATHV by ʼn student vermoed word, is bevind dat studentetakserings van huidige ATHV-simptome en simptome tydens die kinderjare, beduidend meer betroubaar is as die takserings van informante soos ʼn ouer (Katz, Petscher, & Wells, 2009). Katz et al. (2009) beveel aan dat gesondheidsdiensverskaffers die redes vir die teenstrydighede tussen die verslae van studente en ouers ondersoek, en dat die resultate van graderingskale en onderhoudsdata deeglik ondersoek moet word om ʼn akkurate diagnose te kan maak. Verder kan die insluiting van verslae van kollaterale informante, soos dosente en koshuismaats, ook gebruik word om die selfbeoordelingsdata van die student aan te vul (Weyandt & DuPaul, 2013). Ongelukkig het die insluiting van kollaterale informante in die assessering van ATHV by universiteitstudente bykans geen empiriese aandag tot dusver gekry nie (Weyandt & DuPaul, 2013).

Laastens kom malingering (oftewel siektesimulasies) van ATHV-simptome veral onder universiteitstudente voor (Green & Rabiner, 2012; Weyandt & DuPaul, 2013). Studente sal opsetlik ATHV-simptome oorrapporteer om akademiese konsessies te kry, of hulle sal ATHV veins om ʼn voorskrif vir stimulantmedikasie te kry, aangesien baie studente glo dat dit hulle akademiese prestasie gaan verbeter (Rabiner et al., 2008; Sullivan, May, & Galbally, 2007). Sollman, Ranseen, en Berry (2010) beveel aan dat gesondheidsdiensverskaffers tesame met ʼn volledige evaluasie van ATHV ook simptoomgeldigheidstoetse (SGT’e) moet afneem om die probleem van geveinsde ATHV-simptome aan te pak.

Uit bogenoemde bespreking blyk dit dat die eerste stap in hulpvoorsiening aan die student met ATHV die uitvoering van ʼn volledige diagnostiese assessering is. Hierdie assessering kan effektief geskied wanneer dit aan die hand van die vyf-faseproses uitgevoer word. Een van die kernkomponente van hierdie assessering behels ʼn oorsig van die probleme wat voorkom en die huidige funksionering van die universiteitstudent. Die volgende afdeling fokus vervolgens op die funksionele inkortings by universiteitstudente met ATHV.

2.8 FUNKSIONELE INKORTINGS ONDER UNIVERSITEITSTUDENTE MET