• No results found

HOOFSTUK 3: ’N BIO-EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF OP

3.3 DIE BIO-EKOLOGIESE MODEL VAN BRONFENBRENNER

4.5.4 Data-insamelingsmetodes

Van Manen (1990) voer aan dat hermeneutiese fenomenologiese navorsers die intensiteit van die kontak met die deelnemers as belangrik moet ag om voldoende data in te samel sodat ʼn getroue weergawe van deelnemers se belewing voorsien kan word. Ten einde uitgebreide kontak met die deelnemers te bewerkstellig, het die navorser twee persoonlike onderhoude en een fokusgroeponderhoud met vier van die deelnemers gevoer.

4.5.4.1 Persoonlike onderhoude

Kafle (2011) en Van Manen (1990) is van mening dat die onderhoud in hermeneutiese fenomenologie baie spesifieke doelwitte dien. Eerstens kan die onderhoud gebruik word as ʼn metode om narratiewe materiaal te ontdek en in te samel ten einde ʼn ryker en dieper begrip van ʼn menslike verskynsel te verkry. Tweedens kan die onderhoud as ʼn voertuig gebruik word om ʼn gespreksverhouding met ʼn deelnemer oor die betekenis van ʼn belewing te ontwikkel ten einde die navorsingsvrae te beantwoord. Onderhoude is voorts ook die algemeenste wyse van data- insameling vir die doeleindes van data-analise. Volgens Eatough en Smith (2008) is onderhoude so gewild omdat die intense en uitgebreide interaksie met die deelnemer die navorser in staat stel om op ʼn buigsame wyse die belewing van die deelnemers te ontdek. Arnett (2015) voer aan dat onderhoude ook ʼn waardevolle instrument vir data-insameling onder ontluikende volwassenes is omdat hulle merkwaardige insigte in die beskrywing van hulle belewing toon. Hierdie verworwe insigte kan moontlik te wyte wees aan die feit dat ontluikende volwassenheid dikwels ʼn periode is waartydens die individu baie op haarself fokus, wat haar in staat stel om selfrefleksie toe te pas (Arnett, 2015). Van alle ouderdomsgroepe met ATHV is volwassenes die meeste geneig om hulle behoeftes duidelik te artikuleer. Die redes vir laasgenoemde stelling is tweërlei: die artikulasievermoëns van volwassenes is beter ontwikkel en hulle beskik oor ervaring in verskillende sosiale en opvoedingskontekste.

Nog ʼn rede waarom die navorser besluit het om onderhoude as data-insamelingsmetode te gebruik, is dat sy as ʼn gekwalifiseerde berader oor vaardighede in luister en vraagstelling beskik, wat sy voortdurend poog om verder te ontwikkel. Polkinghorne (2005) voer aan dat die vaardighede in onderhoude vir beradingsdoeleindes egter nie direk na navorsingsonderhoude oordraagbaar is nie, aangesien die doelwitte van die onderskeie onderhoude van mekaar verskil. Die navorser het voorts ʼn empatiese houding ingeneem om ryk beskrywings van die belewing van die deelnemers te voorsien.

Die navorser het vir die doeleindes van dié studie van semi-gestruktureerde onderhoude gebruik gemaak (sien Bylaag 11 vir die onderhoudskedule). In hierdie tipe onderhoud word ʼn

stel voorafbepaalde vrae wat oop-eind van aard is, in die onderhoudskedule ingesluit. Semi- gestruktureerde onderhoude is geskik om ʼn ware begrip van ʼn verskynsel te ontwikkel en voorsien ryk en gedetailleerde data (Greeff, 2011; Rubin & Rubin, 1995). Smith et al. (2009) is van mening dat semi-gestruktureerde onderhoude rapport en empatie fasiliteer, en die navorser in staat stel om verskillende aspekte van ʼn navorsingsonderwerp te dek. Ten einde die deelnemer op sy/haar gemak te stel, het die navorser die onderhoud met ʼn aantal biografiese vrae begin. Verder het sy Yin (2009) se aanbeveling gevolg in die konstruering van haar onderhoudsvrae: sy het vrae vermy wat met “waarom” begin, en eerder vrae gevra wat met

“hoe” begin. Sodoende kon sy inligting vanaf die deelnemer op ʼn niebedreigende wyse insamel.

Die onderhoud het met ʼn algemene oop vraag begin, waaruit verdere vrae ontstaan het (Smith et al., 2009). In dié studie het die onderhoude begin met die oop vraag, “Wat is jou belewing as

ʼn student met ATHV?”, waarna vrae oor die spesifieke ontwikkelingsdomeine van die

deelnemer in die verskillende kontekste waarin sy ingebed is, aan die deelnemer gestel is. Die verskillende ontwikkelingsdomeine het as fokusareas gedien, aangesien Bronfenbrenner (1986) aanvoer dat die aspekte van die konteks van die individu wat die meeste bydrae tot die sielkundige groei van ʼn individu lewer, dié is waaraan die persoon in ʼn gegewe konteks betekenis heg. Fokusareas het onder meer die volgende ingesluit: die deelnemers se belewing van hulle ATHV-diagnose en die gebruik van ATHV-medikasie; hulle fisieke en emosionele belewing; hulle belewing van hulle sosiale en akademiese kontekste; hulle morele en godsdienstige belewing; sowel as vrae rondom die toekomsperspektief van die deelnemers.

Volgens Laverty (2003) is die beginsel van openheid ʼn kritiese aspek in fenomenologiese onderhoude, waarin slegs ʼn paar direkte vrae aan die deelnemer gestel word omrede die navorser die ware belewing van binne na buite ontdek en nie simulasies wil skep van wat die deelnemers dink hulle beleef nie. Die navorser het aan die deelnemers die geleentheid gebied om alle ervaringe wat hulle as relevant tot ʼn spesifieke belewing gevind het, te bespreek. Yin (2009) voer aan dat die onderhoud in ʼn gevallestudie-ontwerp soos ʼn gesprek moet geskied. Die onderhoudskedule is op ʼn buigsame wyse gebruik, waar die navorser vir verklarings of uitbreidings op ʼn antwoord gevra het indien sy nie seker was van die mededeling van ʼn deelnemer nie. Die verklarings of uitbreidings is ook gebruik om meer indiepte-inligting vanaf die deelnemers te verkry (Smith et al., 2009).

Charmaz (2002) beweer dat meer as een onderhoud lei tot dieper begrip en die navorsingsproses gevolglik uitbrei. Smith et al. (2009) voer aan dat die dinamika van die interaksie tussen die navorser en die deelnemer, die onderhoudsproses beïnvloed. Dit beteken dat die eerste onderhoud saamgevatte betekenisse, stories en begrippe bevat. Wanneer die deelnemer met die opvolgonderhoud begin, voel die deelnemer veilig en op haar gemak om

132 vanaf die beskrywende na die affektiewe en vanaf die algemene na die spesifieke te beweeg. Nadat die navorser deur die hermeneutiese sirkel beweeg het, kon sy na die deelnemer in die opvolgonderhoud teruggaan om dieper in spesifieke aspekte van die navorsingsonderwerp te delf sodat hulle saam betekenis uit die data kon skep. Gevolglik het sy twee persoonlike onderhoudsessies met vyf van die deelnemers ongeveer twee maande uitmekaar geskeduleer. Ná kritiese oorweging het sy dit nie nodig geag om met deelnemer F ʼn opvolgonderhoud te skeduleer nie, aangesien sy voldoende inligting uit die eerste onderhoud verkry het.

Die doel van die tweede onderhoud was tweeledig van aard. Eerstens, om meer indiepte-data te verkry nadat deelnemers tyd gehad het om oor die verskynsel op ʼn meer gefokusde wyse te reflekteer. Tweedens, die navorser kon die bevindinge voortspruitend uit die eerste onderhoud met die deelnemer deel sodat hulle dit kon bevestig en/of hersien. Die eerste onderhoude het tussen 45 tot 120 minute geduur, en die opvolgonderhoude het tussen 15 en 30 minute geduur. Al die persoonlike onderhoude het in ʼn klankdigte onderhoudskamer in die nagraadse sentrum van die biblioteek van Universiteit X plaasgevind. Laasgenoemde konteks is bekend en veilig vir studente omdat hulle die biblioteek vir navorsingsdoeleindes vir werkstukke en studieruimte gebruik.

Silverman (2010) voer aan dat dit noodsaaklik is om rekord van data te hou en om te verseker dat die interpretasie van resultate gebaseer is op ʼn akkurate weergawe van wat gesê is. Die navorser het met die toestemming van die deelnemers van ʼn digitale oudio-opnemer gebruik gemaak om onderhoude op te neem en ook handgeskrewe notas gemaak om die opnames te ondersteun. Observasies (veral nieverbale leidrade) is ook tydens die onderhoude aangeteken. Die inhoud van die onderhoude is onmiddellik ná die onderhoud verbatim getranskribeer (sien Bylae 12 en 13).

4.5.4.2 Fokusgroeponderhoud

Rostill-Brookes, Larkin, Toms, en Churchman (2010) is van mening dat data kan verskil wat onderskeidelik van persoonlike en fokusgroeponderhoude verkry word. Persoonlike onderhoude fokus op die persoonlike mededelings van die deelnemers. Die persoonlike onderhoude het die deelnemers die geleentheid gebied om te dink en te kommunikeer oor die verskillende aspekte van hulle belewing van ATHV in die universiteitskonteks, wat tot ʼn diepgaande en persoonlike bespreking gelei het. Hierteenoor val die klem in fokusgroeponderhoude meer op die groepsprosesse van dialoog (Neuman, 2012). Die kollektiewe aard van die fokusgroep het gelei tot uitgebreide mededelings waartydens die deelnemers in die groepskonteks mekaar kon aanmoedig en gesamentlik by die betekenis van hulle belewing as universiteitstudente met ATHV kon voeg sodat ʼn tapisserie van die ervarings, persepsies en emosies van ATHV- studente geweef kon word.

Fokusgroeponderhoude word soms minder as persoonlike onderhoude gebruik weens die risiko dat sekere fenomenologiese aspekte in ʼn fokusgroep verlore kan gaan (Smith et al., 2009). Smith et al. (2009) is egter van mening dat hierdie tipe onderhoud wel effektief kan wees, mits dit die navorsingsvraag ondersteun. Greeff (2011) en Kitzinger (1995) is voorts van mening dat die fokusgroep nuttig is om die belewing van deelnemers te verken en dat dit nie net gebruik kan word om te ondersoek wat die deelnemers dink nie, maar ook hoe hulle dink en waarom hulle so dink. ʼn Voordeel van fokusgroeponderhoude is ook dat dit wedersydse ondersteuning aan deelnemers bied om hulle belewing te deel met mense wat hulle as soortgelyk aan hulleself beskou (Greeff, 2011).

Die fokusgroep in hierdie studie het uit vier deelnemers bestaan, wat volgens Smith et al. (2009) ʼn geskikte grootte vir ʼn fokusgroep is. Die fokusgroeponderhoud het ongeveer 90 minute geduur. Die deelnemers was vanaf die begin van die fokusgroeponderhoud gemaklik met mekaar, aangesien hulle voor die aanvang van die onderhoud met mekaar begin gesels het weens ʼn oponthoud toe die sleutel van die seminaarkamer in die biblioteek eers gesoek moes word. Hierdie logistieke frustrasie was op die ou eind voordelig, aangesien die deelnemers reeds gemaklik was om tydens die fokusgroeponderhoud met mekaar te kommunikeer en ook kommentaar op mekaar se belewing te lewer. Net soos in die eerste persoonlike onderhoud, het die navorser die fokusgroep begin met ʼn oop vraag naamlik, “Hoe beleef jy jouself as ʼn

student met ATHV?”, waarna die belewing van die verskillende ontwikkelingsdomeine verken is.

Tydens die fokusgroeponderhoud het die navorser ʼn nieleidinggewende rol ingeneem en het sy slegs vrye, oop besprekings tussen die deelnemers gefasiliteer (Neuman, 2012).

Beide die individuele en fokusgroeponderhoude het ongeveer 250 bladsye se transkripsie- en onderhoudnotas opgelewer (sien Bylae 12 en 13 vir die transkripsies).

4.5.5 Metode van data-analise

Die doel van Interpretatiewe Fenomenologiese Analise (IPA) is om die belewing van persone in hulle leefwêreld in detail te ondersoek, en om die betekenis wat die persone aan hulle belewing heg, weer te gee (Eatough & Smith, 2008; Palmer et al., 2010). Dié metode (IPA) is as ʼn toepaslike metode van data-analise vir die studie beskou, aangesien dit die navorser in staat gestel het om die subjektiewe belewing van die persoonlike en die sosiale kontekste van die ATHV-deelnemers in detail te verken, en ook om die persoonlike betekenisse wat die ATHV- deelnemers aan hulle belewing heg, te belig.

Volgens Larkin et al. (2006) word IPA as meer as ʼn kwalitatiewe benadering tot die proses van data-analise beskou: IPA word beskou as ʼn spesifieke metode van data-analise. IPA is ʼn relatiewe onlangse bydrae tot kwalitatiewe navorsing en is die afgelope 15 jaar deur Jonathan

134 A. Smith ontwikkel (Larkin et al., 2006). Interpretatiewe Fenomenologiese Analise (IPA) is aanvanklik in ʼn aantal studies in gesondheidsielkunde gebruik, maar word al hoe meer in die sosiale, kliniese en voorligtingsielkunde gebruik (Smith & Osborn, 2008). Alhoewel IPA ʼn relatief kort gebruiksgeskiedenis het, is die geskiedenis van die teoretiese elemente van IPA langer, waar elke element sy eie pad van ontwikkeling gevolg het (Eatough & Smith, 2008). Die “P” in IPA verwys na die kernelement van die fenomenologiese (“phenomenological”) benaderings, naamlik dat belewing verstaan kan word deur die ontdekking van die betekenis wat persone aan ’n belewing heg. Dit is ook sterk deur die hermeneutiese fenomenologie beïnvloed, wat na die “I” in IPA verwys. Volgens IPA gaan analise altyd gepaard met interpretasie (Smith et al., 2009) en dit behels ʼn dubbele hermeneutiek: “The participants are trying to make sense of their

world; the researcher is trying to make sense of the participants trying to make sense of their world” (Smith & Osborn, 2008, p. 53). IPA-navorsers hou wel in gedagte dat dit onmoontlik is

om direkte of volledige toegang tot die leefwêreld van die deelnemer te verkry (Willig, 2001). Hierdie spesifieke benadering tot analise erken dat die ontdekking van die belewing van die deelnemers nie kan geskied sonder dat dit deur die navorser se eie agtergrond en oortuigings beïnvloed word nie. Die navorser speel gevolglik ʼn sentrale rol en neem ʼn “insider”-perspektief in. Laasgenoemde perspektief behels dat die navorser tussen twee vlakke van hermeneutiek beweeg, naamlik ʼn empatiese en beskrywende vlak of ʼn meer kritiese vlak, waar die navorser leidende vrae vra om dieper in die belewing te delf (Eatough & Smith, 2008). Interpretatiewe Fenomenologiese Analise strewe ook om idiografiese beskrywings weer te gee – deelnemers word in hulle eie kontekste geplaas waartydens hulle persoonlike perspektiewe ontdek word en ʼn gedetailleerde ondersoek van elke geval word begin voor daar na algemener bewerings beweeg word (Smith et al., 2009). Volgens Pietkiewicz en Smith (2014) kan die IPA-benadering op so ʼn wyse toegepas word, dat die navorser óf ʼn indiepte-analise van die belewing van elke deelnemer voorsien óf sy kan ʼn algemener weergawe van die belewing van ʼn groep deelnemers van ʼn spesifieke populasie voorsien. Aangesien die navorser in hierdie studie ses deelnemers geselekteer het, sou dit tydrowend wees om ʼn omvattende en volledige beskrywing van elke deelnemer te voorsien. Elke transkripsie is nietemin individueel bestudeer om reg te laat geskied aan die subjektiewe stem van elke deelnemer in die gesamentlike bespreking van die verskillende temas.

Die proses van data-analise word vervolgens beskryf. Elke transkripsie is herhaaldelik gelees totdat ʼn deeglike begrip van die totale aard van die deelnemer se mededeling verkry is. Aanvanklike gedagtes en opmerkings is op die transkripsie aangeteken. Die transkripsie is dan volledig gelees en voortspruitende temas is op die transkripsie in die vorm van betekenisvolle sleutelwoorde en/of -frases aangebring. Hierdie temas is dan opgesom en georganiseer ten einde interverwantskappe vas te stel en ʼn aantal superordinate temas te genereer. Die voorgenoemde proses is met elke transkripsie herhaal. ʼn Gekonsolideerde lys van temas is dan

saamgestel en nuwe temas is op ʼn sikliese wyse aan vroeë transkripsies getoets; sodoende het sekere temas oortollig geraak en is verwerp indien hulle nie op die meerderheid (drie of meer) deelnemers van toepassing was nie. Die navorser het wel op enkele plekke na inkonsekwente bevindinge verwys om steeds reg te laat geskied aan die stem(me) van die deelnemer(s) wie se belewing van die ander deelnemers verskil het.

Tydens die finale fase van data-analise is ʼn opsommingstabel vir elke fokusarea (sien Bylaag 14) opgestel wat die superordinate temas met elkeen se verskillende subtemas aangedui het, tesame met relevante aanhalings van die transkripsies wat elke subtema geïllustreer het (Smith et al., 2009). Al die deelnemers se mededelings wat op die lys subtemas betrekking gehad het, is op een opsommingstabel aangedui, waarna die navorser met behulp van kleurkodes die ooreenstemmende subtemas by elke deelnemer belig het. Volgens Willig (2001) moet die opsommingstabel die betekenisse reflekteer wat die deelnemers aan hulle belewing heg, eerder as die verwagtinge van die navorser van wat ʼn aanvaarbare aantal subtemas en superordinate temas behoort te wees. Die superordinate temas voorsien ʼn algemener begrip van die ATHV- fenomeen. Hierdie temas moet die navorser lei om die essensie van die ATHV-fenomeen te verstaan en daaroor te reflekteer (Willig, 2001).

Betekenisvolle direkte aanhalings vanuit die transkripsies is soveel as moontlik gebruik om die ontluikende temas te ondersteun en om ʼn getroue interpretasie van die belewing van die deelnemers weer te gee. Die gebruik van direkte aanhalings het ook reg laat geskied aan die

“ware stemme” van die deelnemers en dit het die geloofwaardigheid van die analise verhoog

(Smith, 2004). Die aanhalings is sonder enige wysiging weergegee om die oorspronklikheid daarvan te behou. Slegs die rykste aanhalings is gebruik om die temas uit te brei. Die keuse van aanhalings is gebaseer op hulle vermoë om die idee te illustreer, die ervaring te belig, emosies uit te beeld en/of response te ontlok (Sandelowski, 1995). Die aanhalings kan in die volledige onderhoudtranskripsies nagegaan word deur die gebruik van die betrokke letter van die deelnemer, bladsynommer en lynnommer soos aangedui in die hakies aan die einde van elke aanhaling. Ná afloop van al die onderhoude, het die navorser sommige deelnemers per selfoonboodskap gekontak indien sy onseker was van die betekenis wat hulle aan ʼn seker aspek van hulle belewing geheg het. Hierdie aanhalings kan op die ingeslote kompakskyf (waarop die transkripsies ingebrand is) nagegaan word deur die gebruik van die letter van die betrokke deelnemer, die datum van die uitruiling en die bladsynommer. Verklarende inligting verskyn binne blokhakies ([ ]). ʼn Aarseling in die mededeling van die deelnemer en ʼn onvoltooide sin is met ʼn ellips (…) aangedui.

Nadat die data op twee vlakke (naamlik empaties en krities) geïnterpreteer is, is die data ook aan die hand van die ATHV-literatuur en die teoretiese raamwerk van die bio-ekologiese model

136 (Bronfenbrenner, 1995) geïnterpreteer. Volgens Baxter en Jack (2008) dien ʼn teoretiese raamwerk as ʼn anker vir ʼn studie en daar word tydens die data-interpretasiefase daarna verwys. Die ontluikende data word aan die hand van die komponente van die teoretiese raamwerk verduidelik en daar moet ʼn konstante interaksie tussen die twee plaasvind vir die ontwikkeling van die data-analise en die organisering van die studie (Miles & Huberman, 1984). Volgens Smith (2004) word die bevindinge oor die fenomeen wat ondersoek word, binne die konteks van die sielkundige literatuur geplaas om die bevindinge te belig of te kritiseer. Die bevindinge van dié studie is binne die groter konteks van literatuur oor ATHV by universiteitstudente geplaas. Die literatuur oor ontluikende volwassenheid wat die ontwikkelingskonteks van die deelnemers vorm, is ook tydens die interpretasieproses geraadpleeg om sin te maak van die belewing van die deelnemers.

4.5.6 Kriteria vir kwaliteitsversekering

Kwalitatiewe navorsingstudies lewer ʼn waardevolle bydrae tot die uitbreiding van die kennisbasis in die sosiale wetenskappe. Die kwalitatiewe benadering maak die voortdurende ontdekking van nuwe en ontluikende bevindinge moontlik, en stel die navorser en die deelnemer in staat om saam te werk om betekenis aan ʼn belewing te heg (Curtin & Fossey, 2007). Alhoewel die bydrae van kwalitatiewe navorsing nie misken kan word nie, is dit net so belangrik dat die uitvoering en die rapportering van die kwalitatiewe data op ʼn nougesette wyse geskied. Die strewe na nougesetheid stel die kwalitatiewe navorser in staat om ʼn getroue weergawe van die realiteit uit te beeld om die kwaliteit van die studie te verhoog. Golafshani (2003) voer aan dat kwaliteit die belangrikste toets vir enige kwalitatiewe studie is. Vervolgens stel Lincoln en Guba (1985) vier kriteria voor om die kwaliteit van kwalitatiewe navorsingstudies te verseker: geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, betroubaarheid en bevestigbaarheid.

4.5.6.1 Geloofwaardigheid

Geloofwaardigheid weerspieël interne geldigheid in die positivistiese navorsingstradisie en verwys na navorsing wat die belewing en realiteit van die navorser reflekteer (Babbie & Mouton, 2004; Schurink, Fouché, & De Vos, 2011). Die mate van geloofwaardigheid van die kwalitatiewe studie wat ten doel het om ʼn fenomeen te verken, is bepalend vir die kwaliteit van die studie (Schurink et al., 2011). Die navorser het eerstens die geloofwaardigheid van hierdie studie verseker deur uitgebreide kontak met die deelnemers te bewerkstellig deur reeds voor die data- insameling met hulle kontak te maak om die doelwitte van die studie aan hulle te kommunikeer. Tweedens, geloofwaardigheid is deur middel van triangulasie bewerkstellig, aangesien die navorser van verskillende data-insamelingsmetodes gebruik gemaak het ten einde interpretasies van veelvuldige realiteite in ag te neem om ʼn “rich and comprehensive picture” (Creswell, 2012, p. 536) te skep.

Triangulasie het die navorser in staat gestel om te bepaal of daar enige afwykings in die data is. Die navorser het die data-analise vir kontrole aan haar studieleier voorgehou om die kredietwaardigheid van die data-analise te verseker. Sy het ook inkonsekwente bevindinge weergegee om tot die geloofwaardigheid van die studie by te dra. Die transkripsies is weer nagegaan voordat die bevindinge aangeteken is. Die data is ook met die literatuur oor ATHV-