• No results found

DIE VOORKOMS VAN AANDAGTEKORT-HIPERAKTIWITEITSVERSTEURING

HOOFSTUK 2: ’N TEORETIESE EKSPOSISIE VAN AANDAGTEKORT-

2.3 DIE VOORKOMS VAN AANDAGTEKORT-HIPERAKTIWITEITSVERSTEURING

Oor die afgelope 15 jaar het die voorkomssyfer van ATHV onder kinders beduidend toegeneem en hierdie versteuring word nou as een van die belangrikste psigiatriese versteurings van ons tyd beskou (Department of Health and Human Services [CDC], 2005). Statistiek van 2011 deur die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (oftewel Centres for Disease Control and

Prevention, CDC) in die VSA dui aan dat ongeveer 11% van skoolgaande kinders (6.4 miljoen)

met ATHV gediagnoseer is (Department of Health and Human Services [CDC], 2005). Tot 80% van kinders sal simptome van ATHV tydens adolessensie beleef (Wolraich et al., 2005) en 40% tot 60% sal steeds simptome as volwassenes rapporteer (Wolf et al., 2009; Merkt & Gawrilow, 2014). ATHV affekteer alle etniese en sosio-ekonomiese groepe en is nie ʼn versteuring wat eie is aan die VSA nie. Byvoorbeeld, Faraone, Sergeant, Gillberg, en Biederman (2003) het in ʼn poging om die wêreldwye voorkoms van ATHV te bepaal, 50 studies hersien: 20 was studies van populasies van die VSA en 30 studies was nie-VSA-populasies. Resultate het getoon dat die voorkomssyfers van ATHV regoor die wêreld soortgelyk was.

Alhoewel navorsing oor ATHV op die Afrikakontinent beperk is, is ATHV die algemeenste psigiatriese versteuring in Suid-Afrika (Snyman & Truter, 2010). Louw, Oswald, en Perold (2009) en Schellack en Meyer (2012) toon aan dat 4% tot 5% van kinders in Suid-Afrika met ATHV gediagnoseer is. Daar is egter geen amptelike statistiek oor die voorkomssyfer van ATHV onder kinders en adolessente in Suid-Afrika beskikbaar nie. Schoeman (2015) beweer dat die voorkomssyfer van ATHV onder volwassenes in die algemene populasie na raming 1.09% is. Verder affekteer ATHV 52.5% van volwasse pasiënte wat by psigiatriese klinieke in Suid-Afrika behandel word (Schoeman, 2015).

Die voorkomssyfer van ATHV onder skoolgaande kinders is goed gedokumenteer. Gregg (2009) merk egter op dat min navorsing uitgevoer is oor volwassenes met ATHV vergeleke met kinders met ATHV. Die rede vir die tekort aan navorsing word toegeskryf aan die wanopvatting dat ATHV tydens die kinderjare ontwikkel en geleidelik gedurende laatadolessensie verdwyn.

20 Hierdie wanopvatting is egter oor die afgelope twee dekades deur navorsers weerlê (Barkley et al., 2008; APA, 2013). Guldberg-Kjär en Johansson (2009) beraam dat 3.3% van volwassenes tussen die ouderdomme van 65 en 80 aan die diagnostiese kriteria vir ATHV voldoen (gebaseer op huidige en retrospektiewe simptome). Groter steekproewe van die algemene populasie in die

National Comorbidity Survey Replication toon aan dat naastenby 4.4%, dit wil sê ongeveer 11

miljoen, van volwassenes tussen die ouderdomme van 18 en 44 in die VSA met ATHV gediagnoseer is (Kessler et al., 2006). Laasgenoemde outeurs merk wel op dat hierdie persentasie ook ’n beraming is, aangesien die DSM-IV-kriteria wat in daardie studie gebruik is op kinders eerder as volwassenes van toepassing is. Hierteenoor rapporteer die APA (2013) dat ongeveer 2.5% van die volwasse populasie met ATHV gediagnoseer is. Een van die beduidendste redes vir die variasie in voorkomssyfers kan toegeskryf word aan die diagnostiese kriteria wat deur professionele persone gebruik word om die mate van inkorting in die verskillende lewensareas vas te stel (Gregg, 2009; Mapou, 2009).

Die presiese voorkomssyfer van ATHV onder universiteitstudente is in die VSA en in ander lande onbekend (Weyandt & DuPaul, 2013). DuPaul et al. (2009) beraam dat tussen 2% en 8% van universiteitstudente in die VSA met ATHV gediagnoseer kan word. Die betroubaarheid van hierdie beramings word egter bevraagteken, aangesien die beramings op studies gebaseer is wat selfgerapporteerde simptome of diagnostiese statusse van gerieflikheid-steekproewe van studente by individuele kampusse verkry het en nie deur middel van volledige evaluasies met nasionale verteenwoordigende steekproewe nie.

Volgens Green en Rabiner (2012) kan die verskil in voorkomssyfers van ATHV op verskillende kampusse toegeskryf word aan die invloed van spesifieke kampuskenmerke, byvoorbeeld verskillende toelatingsvereistes. Desondanks hierdie hipotese is daar geen data beskikbaar om die moontlike oorsake van verskille in voorkomssyfers te identifiseer nie. Volgens Wolf et al. (2009) blyk dit dat die voorkomssyfer van ATHV tussen die ouderdomme van 18 en 26 jaar afneem en ook van studie tot studie wissel. ʼn Verdere faktor wat ook bydra tot die leemte aan navorsing oor die voorkomssyfers van ATHV onder universiteitstudente, is die feit dat universiteite nie van studente met ATHV vereis om hulle diagnose te onthul nie. Alle studente met ATHV registreer dus nie by die ondersteuningsentrums van universiteite nie. Nog ʼn faktor wat in ag geneem moet word, is die bronne van data, onder andere ouers en die studente met ATHV, wat verskillende inligting kan oplewer (Green & Rabiner, 2012; Weyandt & DuPaul, 2013; Wolf et al., 2009). Ongeveer 50% van studente wat akademiese ondersteuning ontvang, is studente met ʼn primêre diagnose van ATHV (Henderson, 1999). Hierdie persentasie verteenwoordig egter slegs een van die twee populasies van studente met ATHV op enige universiteitskampus. Die een groep kom na vore vir assessering, behandeling en akademiese ondersteuning, terwyl die ander groep ongeïdentifiseer bly. Die redes vir laasgenoemde kan

tweërlei wees: hulle is óf onbewus van hulle versteuring óf hulle glo hulle funksionering is redelik goed. Dit is voorts onbekend of hierdie groepe ewekansig in dié studies bepaal is, alhoewel ʼn groot aantal van die studente rapporteer dat hulle geen behandeling of ondersteuningsdienste op kampus ontvang nie (Wolf et al., 2009). Weyandt en DuPaul (2013) is van mening dat die ware persentasie van studente nader aan die beramings is van die DSM (4% tot 8%) in ag genome dat 5% van 201 818 nuutingeskrewe en voltydse eerstejaarstudente ʼn diagnose van ATHV in ʼn grootskaalse nasionale verteenwoordigende opname in 2010 in die VSA gerapporteer het (Pryor, Hurtado, DeAngelo, Blake, & Tran, 2010).

2.3.1 Demografiese faktore

2.3.1.1 Vergelykings tussen kulturele/etniese groepe

Kulturele verskille beïnvloed hoe ATHV in verskillende lande verstaan en behandel word. Namate navorsingsmetodologiese verskille tussen lande uitgeskakel word, blyk die voorkomssyfer nie werklik tussen lande te verskil nie (Polanczyk, De Lima, Horta, Biederman, & Rohde, 2007; U.S. Department of Health and Human Services, 2012). Davis, Takahashi, Shinoda, en Gregg (2012) beweer dat die voorkomssyfer onder universiteitstudente van verskillende lande tussen 1% en 5.5% wissel waar die diagnostiese kriteria van die DSM-IV-TR in die studies gebruik is. Polanczyk et al. (2007) het bevind dat geen beduidende verskille in voorkomssyfers tussen Europa en Noord-Amerika voorkom nie. Beduidende verskille in voorkomssyfers is slegs opgemerk tussen die beramings van Noord-Amerika en diegene wat van beide Afrika en die Midde-Ooste afkomstig is. Moontlike redes vir hierdie verskille kan te wyte wees aan die tekort aan plaaslike gesondheidsdienste en -verskaffers, en die kulturele kontekste van Afrika en die Midde-Ooste in vergelyking met Noord-Amerika (U.S. Department of Health and Human Services, 2012).

Davis et al. (2012) het die DSM-IV-TR se ATHV-simptome van universiteitstudente van die VSA met hulle Japannese portuurgroep vergelyk. Hulle het bevind dat 5.27% van VSA-studente en 6.27% van Japannese studente genoegsame simptome rapporteer om die afsnypunt vir aandagtekort, hiperaktiwiteit/impulsiwiteit of die gekombineerde tipe tydens die kinderjare te bereik. Wat hulle huidige simptoomtelling betref, rapporteer 2.66% van VSA-studente en 4.52% van Japannese studente genoeg simptome om die afsnypunt van een van die drie subtipes te bereik. Norvilitis et al. (2008) het bevind dat meer VSA-studente (5.5%) as Chinese studente (3%) afsnypunte gebaseer op die simptome van die DSM-IV-TR, bereik het. Norvilitis et al. (2008) het tot die gevolgtrekking gekom dat ATHV-simptome by Chinese universiteitstudente aanwesig is en dat patrone van simptome soortgelyk is aan diegene wat in die VSA gevind word. Lee, Oakland, Jackson, en Glutting (2008) het bevind dat 8.4% van Afro-Amerikaners en 2.3% van wit studente aan die DSM-IV-TR-kriteria vir ATHV voldoen het wanneer dié studente

22 oor hulle eie simptome verslag gelewer het. Wanneer die retrospektiewe tellings van ouers ook in ag geneem word, het slegs 0.9% van Afro-Amerikaners en 0.1% van wit studente aan die DSM-IV-TR-kriteria vir ATHV voldoen. Studies oor volwasse ATHV in Meksiko en Suid-Afrika het ook aangedui dat die simptome en probleme met ATHV nie beperk is tot spesifieke lande of kulture nie (Mahomedy, Van der Westhuizen, Van der Linde, & Coetsee, 2007; Montes, Garcia, & Ricardo-Garcell, 2007).

Die voorkomssyfer onder universiteitstudente met ATHV in die Verenigde Koninkryk is onbekend, aangesien ATHV tot onlangs nie onder universiteitstudente in die Verenigde Koninkryk erken is nie. Die rede vir hierdie leemte in kennis oor die voorkomssyfer is dat die Europese mediese gemeenskap eers onlangs ATHV as ʼn diagnostiese versteuring in die praktyk ingesluit het (Pope, 2010). Die simptomatologie van ATHV is voorheen slegs in ʼn reeks ontwikkelings- en sielkundige versteurings ingesluit (National Institute for Health and Clinical Excellence, 2009).

2.3.1.2 Verskille ten opsigte van geslag

Dit is bekend dat die voorkomssyfer van ATHV onder die verskillende geslagte wissel met ʼn man-tot-vrou-verhouding van vier tot een onder kinders, terwyl die verhouding onder volwassenes verlaag na ongeveer twee mans tot elke vrou (APA, 2013; Biederman, Faraone, Monuteaux, Bober, & Cadogen, 2004; Willcutt, 2012). By universiteitstudente blyk die geslagsdistribusie meer gebalanseerd te wees (DuPaul et al., 2001; Mapou, 2009). In ’n nasionaal verteenwoordigende opname van Pryor et al. (2010) in die VSA waar 5% van nuwe eerstejaarstudente aangedui het dat hulle ʼn diagnose van ATHV het, was 6.4% mans en 3.8% vrouens. Lee et al. (2008) het bevind dat ongeveer 1.2% van manstudente en 4.6% van vrouestudente in die VSA aan die diagnostiese kriteria vir ATHV voldoen het na aanleiding van die voltooiing van vraelyste waarin hulle hul simptome moes rapporteer. Wanneer die mededelings van die student en die ouer egter saamgevoeg word, het slegs 0.4% van manstudente en 0% van vrouestudente aan die kriteria vir dié versteuring voldoen (Lee et al., 2008). Weyandt en DuPaul (2013) beweer dat verdere navorsing nodig is om ʼn beter begrip te vorm van die invloed van geslagsverskille op die voorkoms van ATHV onder universiteitstudente in die VSA.

2.3.1.3 Sosio-ekonomiese status

Alhoewel ATHV alle sosio-ekonomiese groepe beïnvloed, beweer die Department of Health and

Human Services (2012) in die VSA dat kinders uit huishoudings met ʼn laer ʼn sosio-ekonomiese

status meer dikwels met ATHV gediagnoseer word vergeleke met kinders uit hoër sosio- ekonomiese huishoudings. Kinders uit hoër sosio-ekonomiese huishoudings is egter meer geneig om behandeling vir ATHV te ontvang as diegene uit laer sosio-ekonomiese

huishoudings. Hierdie bevinding is bevestig deur Hjern, Weitoft, en Lindblad (2010) wat ʼn hoogs beduidende verband tussen ATHV en sosio-ekonomiese status in ʼn Sweedse studie gevind het. Daar is egter geen studies gevind wat oor die sosio-ekonomiese status van studente en die verband met ATHV gerapporteer het nie. Hjern et al. (2010) het wel bevind dat vrouens wat slegs basiese onderrig ontvang het, 130% meer geneig was om ʼn kind op ATHV-medikasie te hê as vrouens met ʼn universiteitsgraad.

Gegewe die navorsingsbevindinge en onopgeloste vrae, is dit duidelik dat toekomstige navorsing op internasionale vlak en in Suid-Afrika nodig is om die persentasie van studente met