• No results found

HOOFSTUK 1 KERNBEGRIPPE IN DIE STUDIE

1.5 Die toneelpop in Afrika

Die toneelpop het verskillende gedaantes in Afrika. Dit is moeilik om die werking en aard van die toneelpop in die algemeen te beskryf, aangesien daar verskeie manifestasies van hierdie performance-voorwerp is wat nie binne duidelike grense funksioneer nie. Daar moet onmiddellik ‘n onderskeid getref word tussen ‘n toneelpop en ‘n gewone pop (“doll”) wat ‘n blote speelding is. Tog kan ‘n pop ook ‘n toneelpop word, maar om moontlike verwarring te vermy, sal ek slegs die term toneelpop gebruik. Inherent is die term toneelpop (“puppet”) ook nie heeltemal korrek nie, veral omdat die rituele of performances waarin hierdie performance-voorwerpe gevind word, nie noodwendig toneel is nie, maar ‘n performance. Jurkowski (2000a:9) verduidelik:

(…) it is the right moment to state that the use of the word “puppet” for material presentations of divinities in the non-European cultures is not exact. They were not considered by native people to be puppets in accord with the European semantic (of course, we are leaving room for some exceptions). Especially in Africa their designations were differentiated and the names of figures responded to their functions in ritual, with no attention paid to their functions of substitution in general which became so important in the European theatre.

As daar dus na ‘n pop verwys word, sal dit duidelik aangedui word, veral omdat ‘n pop binne Afrika ook ‘n representatiewe beeldhouvorm is.

Dit is eers nodig om die ontstaan van en die verskil tussen die toneelpop en die masker te beskryf, selfs al funksioneer hierdie twee tipes voorwerpe op presies dieselfde wyse en maak die performers en gehoor nie ‘n onderskeid tussen die twee voorwerpe in die Afrika-konteks nie.

Die toneelpop as figuur wat gemanipuleer word om iets voor te stel is eeue reeds deel van menslike aktiwiteite, of dit nou as deel van ‘n heilige ritueel is soos in Antieke Egipte, of ander proto- teatervorme. Jurkowski (2000a:7) beweer egter dat die toneelpop sy ontstaan te danke kon hê aan die behoefte van die mens om statiese voorwerpe te laat beweeg:

It is widely assumed that puppets with movable limbs originate directly from the cult figures such as fetish, talisman and idol. Idol – inanimate figurative sculpture – represents a divinity or a deified ancestor or their acolytes …some are fixed on a sort of a socly. Probably as a result of the complicated relations between divinities and humans the necessity appeared, sometimes dictated by sympathetic magic, to make idols’ limbs movable.

Op die oog af lyk dit asof hierdie ‘n heel geloofwaardige aanname kan wees, maar sonder enige grondige bewyse bly dit maar net ‘n aanname wat soos die Cambridge-skool se aannames dat die teater uit die ritueel ontstaan het, behandel moet word. Jurkowski (2000a:7) voer aan dat die voorbeelde van heilige toneelpoppe in Afrika hierdie aanname bevestig, slegs omdat hierdie voorwerpe nog steeds binne ‘n religieuse konteks gebruik word. As ons wel hierdie aannames as waar aanvaar, is daar ‘n paar afleidings wat daaruit gemaak kan word. Die eerste hiervan is dat die ikoon voor die toneelpop bestaan het. As hierdie ikone in ‘n performance-situasie gebruik is, dan sou dit dieselfde funksie as ‘n masker en/of toneelpop hê.

As ikoniese representatiewe beeldhouwerke (soos ‘n idool of fetisjvoorwerp) tot die toneelpop ontwikkel het as gevolg van die mens se behoefte tot animasie van voorwerpe, waar pas die gebruik van die masker in? Die masker is ‘n statiese voorwerp, maar binne ‘n performance het dit soms veel groter moontlikhede met betrekking tot beweging. Jurkowski (2000a:7-9) se aannames oor die ontwikkeling van die toneelpop as gevolg van die behoefte om voorwerpe te animeer, sal dan beteken dat die masker ‘n veel latere ontwikkeling in die animasie of manipulasie van performance- voorwerpe moet wees, veral as daar gekyk word na die eenvoudige bewegings van die toneelpoppe in hierdie religieuse performances waar net enkele ledemate of die kop beweeglik is. Hierdie is egter kwessies wat in latere navorsing deegliker ondersoek kan word. Die belangrikste aspekte in hierdie opmerkings van Jurkowski is dat die toneelpop reg oor die wêreld ‘n funksie binne religieuse performances het.

Dit bring ons nog nie by ‘n definisie van wat presies ‘n toneelpop is nie. Daar is al veel werk gepubliseer oor die aard van die toneelpop en een van die bruikbare definisies van wat presies ‘n toneelpop is, word gevind by Baird (1965:7) waar hy sê:

A puppet is an inanimate figure made to move by human effort before an audience. It is the sum of these qualities that uniquely define the puppet.

Hierdie is ‘n baie breë definisie van die toneelpop wat gepas is vir hierdie studie, aangesien ander definisies wat die werking, grootte en meganismes van manipulasie insluit, nie veralgemeen kan word om aan te sluit by die verskillende toneelpoptradisies in Afrika nie. Daar kan gepoog word om toneelpoppe te klassifiseer volgens hul etniese oorsprong, die posisie van die manipuleerder met betrekking tot die toneelpop, die manier van manipulasie en die betrokke funksie van die toneelpop (Dagan 1990:68-74). Tog het Baird nie spesifieke navorsing gedoen oor die toneelpop in Afrika nie en ek sal my daarom wend na Dagan (1990:38) wat spesifiek op die toneelpop in Afrika fokus. Sy gee die volgende definisie van die toneelpop:

[The puppet is] a mixed-media polychromed, sculpted object of an anthropomorphic and/or zoomorphic image, articulated or not and manipulated by man in a ritual or secular drama in order to animate a character’s story in a tragic, lyric or satirical dialogue.

Hierdie definisie maak ook nie ‘n onderskeid tussen die toneelpop en masker in Afrika nie, maar soos daar alreeds genoem is, is die grens tussen hierdie twee performance-voorwerpe baie vaag en die benaming eerder ‘n Westerse konvensie as ‘n benaming uit die stamgebonde gemeenskappe waarbinne die toneelpop en masker funksioneer. Behalwe vir die voor die hand liggende ooreenkomste tussen die toneelpop en die masker, is daar ook integrale verskille wat vervolgens bespreek sal word.