• No results found

HOOFSTUK 1 KERNBEGRIPPE IN DIE STUDIE

1.2 Die masker en fetisj-voorwerp

As daar ‘n onderskeid tussen die masker, toneelpop en akteur-manipuleerder gemaak word, kan dit voorkom asof dit ‘n onnatuurlike onderskeiding is, aangesien hierdie verskillende performance- elemente in die tradisionele Afrika-performance nie as aparte entiteite funksioneer nie. Die estetika van performance in Afrika met betrekking tot die verskillende elemente is só vervleg dat dit nie altyd moontlik is om ‘n duidelike skeidslyn tussen die entiteite te trek nie. In sekere etniese of kulturele groepe word daar geen onderskeid tussen die toneelpop en die masker gemaak nie (Den Otter in Dagan 1997:140) en die toneelpop en masker word as dieselfde tipe voorwerp beskou. Ten spyte van die kunsmatigheid van sodanige onderskeiding, sal die masker en toneelpop eers as verskillende entiteite of performance-voorwerpe bespreek word. Hierdie onderskeid sal egter later in die studie vervaag en selfs verval, veral wanneer die performance-kwaliteit of die funksionering van hierdie voorwerpe in die performance ter sprake kom.

Om die funksie van die masker as performance-voorwerp te kan bespreek, is dit eers nodig om die masker as voorwerp te definieer. Die masker in nie net ‘n voorwerp nie; dit is ‘n begrip wat deel vorm van spesifieke performance-style in Afrika. Die funksie van ‘n spesifieke tipe masker word

bepaal deur die funksie wat dit binne die performance vervul. Die masker as konsep is belangrik, aangesien die masker nie net na ‘n voorwerp verwys nie, maar ook na ‘n funksie van ‘n voorwerp binne ‘n bepaalde konteks. Die betekenisveld van die woord ‘masker’ is belangrik:

We must understand precisely what the word “mask” means here. The representation of a face carved from wood that we see in museums was only part of the mask. In Africa, this was generally used in conjunction with a long garment attached to the mask and made of fibre or raffia (although there are many exceptions). This hid the wearer. If he was to enjoy full prestige, and to preserve all his mystery, it was important that the dancer should not be recognized (Meyer 2001:121).

Uit die aangehaalde gedeelte uit Meyer se werk hierbo kom verskeie aspekte na vore wat vir hierdie studie belangrik is, naamlik die representasie van iets of iemand, die draers van die maskers wat verskuil is om nie vir die toeskouer herkenbaar te wees nie en die misterie van die maskerdraer wat deur middel van die masker geskep word. Hierdie konsepte word nie net gebruik om die masker as entiteit te definieer nie, maar ook om die funksie daarvan binne ‘n performance te omlyn, want:

To an African, a mask is far more than merely a facial covering. It includes the costume and adornments worn on the body. It is also more than a mere disguise, for it gives expression to the bond between a group of people and their ancestors. At the same time a mask is the embodiment of a tradition and a guarantee of the continuity of an order hallowed by tradition (Lommel 1981:9).

Dit is daarom moeilik om die masker as voorwerp sonder die konteks waarbinne dit funksioneer, te sien. Dit is een rede waarom kunsvoorwerpe uit pre-koloniale en selfs vroeë koloniale tye deur die Weste as agterlik gesien word. Vir die Afrikane bestaan die konsep van “kuns” egter nie. Voorwerpe soos die masker of fetisj het ‘n baie spesifieke funksie en dit word nie net geskep om estetiese redes nie.

Die estetika van die voorwerp word in die funksie daarvan gevind. In die geval van die masker, toneelpop of fetisj-voorwerp word die funksie ook deur die voorkoms bepaal, en andersom. Die masker bly ‘n representasie van iets (byvoorbeeld ‘n dier of ‘n voorvadergees) of iemand. Dit moet help om die beeld van hierdie konsep of persoon te skep wat die akteur of performer nié is nie. ‘n Representasie is ‘n uitbeelding of konstruksie van beelde. Die performer kan die bestaande beeld waaroor hy beskik, verander om ‘n nuwe beeld te vorm deur van ‘n masker gebruik te maak. Die

nuwe beeld, geskep deur en as gevolg van die performer en die masker, verwys dan na iets of iemand anders as die performer self.

Dit sluit by die volgende punt van Meyer (2001) aan. Deur die nuwe beeld te skep, word die ou beeld tydelik uitgewis of verberg en die ou beeld is nie meer sigbaar nie. Die tipe masker wat in ‘n performance gebruik word, kan natuurlik verskil in die mate waartoe dit die performer verberg. ‘n Halwe gesigmasker soos in die Commedia dell’Arte gevind word, verberg alleen die boonste helfte van die akteur se gesig. Maskers, soos dit in vele Afrika performance-tradisies gebruik word, bedek egter die hele performer (letterlik van kop tot tone) sodat geen herkenbare dele van die performer meer sigbaar is nie. In sekere gevalle kan die menslike figuur nie eens meer herken word nie. As voorbeeld kan daar na die Ijele-masker in Nigerië (Irobi 2005:239) en die Punu-maskerade in die Bylae (foto 5) gekyk word.

In ander gevalle, soos die Fang-masker uit Gaboen, word die masker nie noodwendig oor die performer se gesig gedra nie, maar dit raak in sulke gevalle moeilik om tussen ‘n masker en ‘n fetisj-voorwerp (of idool) te onderskei. As die masker (soos die toneelpop) deur die performers gesien kan word, beskik dit oor net soveel krag as die masker wat oor die gesig gedra word en funksioneer hierdie voorwerpe op dieselfde wyse. Daarom kan die masker soms as ‘n fetisj- voorwerp (wat vervolgens bespreek word) gesien word.

‘n Fetisj-voorwerp is ‘n voorwerp wat magiese kragte besit. Hierdie kragte kan ontstaan as gevolg van die natuurlike aard daarvan, of ‘n god of gees kan dit aan die voorwerp meedeel. Priesters van ‘n geloof kan ook ‘n voorwerp met spesifieke kragte skep deur middel van juju, ‘n ‘towerspreuk’ of magiese middels, wat oor die voorwerp uitgespreek of daaraan gesmeer word.3 In Afrika kan hierdie voorwerpe, soos dit in die Vodun-geloof gevind word, dan die kragte aan die draer of die besitter daarvan oordra, alhoewel hierdie gebruike nie oor die kontinent veralgemeen kan word nie. Die voorwerp is ook vele kere ‘n representasie van iets of iemand, alhoewel dit nie noodwendig die geval is nie. Met betrekking tot die masker is daar meestal ‘n vorm van representasie, al is daardie representasie ‘n abstraksie en nie noodwendig ‘n mimetiese uitbeelding nie.

3

Die derde punt wat Meyer (2001) noem met betrekking tot die definiëring van ‘n masker, kan ook verskillend geïnterpreteer word. Deur van ‘n masker gebruik te maak (en daarom ook ‘n representasie van iets of iemand anders voor te hou), is die akteur of performer nie meer ten volle teenwoordig nie. Die gerepresenteerde of voorgestelde entiteit is egter ook nie ten volle teenwoordig nie. Die misterie wat geskep word, ontstaan by die gehoorlid wat die masker in aksie aanskou. Vrae soos wie of wat voorgestel word, kan ontstaan, veral as die kodesisteme wat die performers gebruik nie duidelik deur die gehoor verstaan of geïnterpreteer kan word nie.

Ander tipes misteries wat ook kan voorkom, is wanneer die gehoor wel die kodesisteme verstaan wat in die performance gebruik word. In hierdie gevalle kan die masker die draer van die religieuse misterie wees, aangesien die masker en die performer wat die masker dra, in sulke gevalle ‘n voorstelling van byvoorbeeld ‘n voorvadergees is. As voorbeeld hiervan kan daar na die Dan voorvadergeesmasker wat uit die Ivoorkus afkomstig is, gekyk word. ‘n Ander masker wat op dieselfde manier in die Dan-gemeenskap funksioneer, is die masker van die Woudgees. In hierdie gemeenskap word daar na enige masker as Ge verwys. Die verwysingsveld van die woord is egter nie beperk tot die masker nie. Reed (2003:69) verduidelik:

Ge is simultaneously spirit and matter. Ge can materialize in peoples’ daily actions and in corporeal form in Ge performance. But genu (the forest spirits) are always extant and present in gebo – the mystical plane – in spirit form. This aspect of Ge can be better understood by placing it in the context of the Dan religious system.

‘n Verdere uitbreiding op die religieuse samestelling en werking van die Dan is nie hier nodig nie. Wat wel van belang is, is dat die geestelike in ‘n tasbare vorm en deur middel van ‘n masker gestalte kan aanneem. Sodoende kan die misterie van die geesteswêreld vir die gemeenskap verduidelik word. Hierdie aspekte van die masker as voorwerp van misterie sal vervolgens bespreek word.