• No results found

Kulturele genres as liminale verskynsels en die ontwikkeling tot liminoïse vorme

HOOFSTUK 7 LIMINALE EN LIMINOÏSE VORME VAN PERFORMANCE

7.2 Kulturele genres as liminale verskynsels en die ontwikkeling tot liminoïse vorme

Die limen as vormlose ruimte en die liminale toestand soos dit in die inisiasierite voorkom, word volgens Turner gevind in pre-industriële gemeenskappe en hul aktiwiteite. In die afdeling hierbo is daar ook na liminoïse toestande en aktiwiteite verwys. Alhoewel die tradisionele gebruike van performance oor die algemeen beperk is tot liminale toestande en/of gebruike, veral in performances wat van toneelpoppe en maskers gebruik maak, kan die elemente ook in liminoïse toestande voorkom, veral as hibriede vorme van performance.

Performance, as liminoïse vorm, het vele ooreenkomste en verskille met performances wat as liminale vorme funksioneer. Die aard en funksie van die limen en hoe performances binne hierdie ruimte funksioneer, is alreeds beskryf. Dit is daarom nodig om liminoïse aktiwiteite en ruimtes te definieer. Dit sal onder andere gedoen word deur die verskille en ooreenkomste met liminale aktiwiteite en toestande aan te dui.

Die limen dui in vele situasies ‘n sakrale tydruimte aan. In hierdie tydruimte kan daar aktiwiteite gevind word wat teen die normale gebruike van die samelewing indruis, of dit kan net speelse

aktiwiteite wees, soos dit gevind kan word in ‘n karnavaltyd. Baie van hierdie aktiwiteite is kultuurgebonde, veral in situasies waar daar van simbole en ikone gebruik gemaak word. Hierdie simbole kan verskeie vlakke van betekenisse hê, veral omdat die uitbeeldings in die liminale performances nie altyd mimeties van aard is nie, maar gebaseer is op fantasie, mite of magie. Die vermenging van die bekende en die onbekende kan verander in wat Turner (1982:27) groteske vorme noem. Jurkowki (2000a:17) gee ‘n voorbeeld van hierdie groteske vorme waarin die toneelpop en masker ook gebruik word:

Puppets in Africa very often participated in rituals of fecundity. Some of these were large and long ceremonies. Puppets Gelede from the tribe Yoruba took part in the ritual of fecundity worshipping the Sapata divinity, which took place in the period of the first sowing. The ceremony consisted of several dances during which the initiated could have sex and some young men even had sexual intercourse with the ground.

Westerse toeskouers sal bogenoemde miskien as ‘n groteske vorm van performance sien, maar vir die Yoruba is dit, binne die ruimte van die performance en die ritueel, heel gepaste handeling om uit te voer. Jurkowski (2000a:17) dui aan dat die vrugbaarheidsrituele met die saaiseisoene van verskillende gemeenskappe saamval. Kopulasie word as ‘n soortgelyke aksie as saai gesien en daarom kan hierdie handelinge binne ‘n performance met ‘n simboliese en selfs ikoniese handeling verbind word. Hierdie uitinge sluit by die lewensbeskouing van die Yoruba aan en die rituele is ‘n uitvloeisel van hulle lewensbeskouing, soos Witte (2001:26) aandui:

Dit wereldbeeld wordt bepaald door kosmische krachten die ieder hun eigen weg gaan en daardoor soms met elkaar en met die mensen in conflict kunnen komen. De godsdienst van de Yoruba bestaat in wezen hierin dat men deze krachten met behulp van offers zodanig manipuleert dat zij ophouden de mensengemeenschap te beschadigen. Dit manipuleren is mogelijk doordat de krachten volgens vaste patronen werken waardoor zij kunnen worden geïdentificeerd om vervolgens door offers van hun voorkeur te worden gekalmeerd.

Dit is ook deur die vermenging van die bekende en onbekende wêrelde dat vernuwende vorme van uitdrukking gestalte kry. Sutton-Smith (in Turner 1982:28) noem ook dat vernuwing kan voortspruit uit die kontak met anti-strukture gedurende die performances in die liminale tyd-ruimte. Die anti-strukture verwys in hierdie geval na die verbrokkeling of vervaging van normatiewe sosiale strukture met die roltoeskrywing, statusse en pligte. Vir Sutton-Smith is die anti-strukture ‘n

verteenwoordiging van latente sisteme of moontlike alternatiewe waar vernuwing kan voorkom as die voortsetting van die normatiewe strukture daarvan afhanklik is (Turner 1982:28).

Die kontak met die alternatiewe moontlikhede word beperk tot die liminale toestande en aktiwiteite. Een van die dryfvere vir dié aktiwiteite is onder andere om aan die normatiewe strukture te ontsnap. Aktiwiteite binne liminoïse toestande kan ook uit die behoefte ontstaan om buite die grense van die normatiewe of samelewingsvoorskrifte te beweeg. Die soeke na ‘n vormlose, chaotiese toestand ontstaan dus uit te veel en te streng vorme en voorskrifte.

Die liminale en liminoïse toestande maak van die anti-struktuur van die samelewing gebruik as ruimtes waarin of waaruit dit kan beweeg. Daar is ook in ‘n vorige afdeling verwys na Schechner se beskrywing van performance. Een van hierdie eienskappe is dat performance buite die werkslewe van die individu of gemeenskap staan. Dit is van toepassing op performances wat in die liminale toestande voorkom, maar die performances van die liminoïse toestande funksioneer op ‘n ander wyse buite die werkslewe van die gemeenskap. Dit is een van die verskille tussen die liminale en liminoïse aktiwiteite wat Schechner (1985) beskryf.

Turner (1982:34) voer aan dat die verskil tussen ‘werk’ en ‘spel’ in ritueel, mite en selfs juridiese prosesse soms nie duidelik in pre-industriële gemeenskappe waargeneem kan word nie. Die ‘ernstige’ en ‘spel’ vermeng. Hierdie performances – selfs in rituele – word dan as liminale aktiwiteite gesien. Rituele wat deur shamans of ander manipuleerders van die geesteswêreld uitgevoer word, word vir die gemeenskap uitgevoer en is meestal ‘n ernstige saak wat nie ligtelik deur die uitvoerders of gemeenskap opgeneem word nie. In hierdie gevalle kan die shaman as ‘n medium of as ‘n ikoon in die shamanistiese performance funksioneer. Die shaman tree in die plek van die gemeenskap of ‘n individu op om ‘n spesifieke uitkoms te bewerkstellig. Hy staan dus tussen die geesteswêreld en die gemeenskap en verkeer, veral as gevolg van die performance, in ‘n liminale toestand. Teatrale elemente soos sang, dans en/of vlakke van impersonasie kan wel hier voorkom. Die gebruik van ander vorme in performance soos maskers en toneelpoppe as ikone is ook nie ongewoon nie. Die resultaat of rede vir die uitvoer van hierdie rituele bly baie ernstig en dit kan daarom as ‘n ‘werk’ gesien word, eerder as vryetydsaktiwiteite. Turner (1982:35) haal

Dumazedier aan waar hierdie fyn verskil tussen werk en spel in pre-industriële gemeenskappe beskryf word:

…(W)ork and play alike formed part of the ritual by which men sought communion with the ancestral spirits. Religious festivals embodied both work and play. … work of this kind had a natural rhythm to it, punctuated by rests, songs, games, and ceremonies; it was synonymous with daily round, and in some regions began at sunrise, to finish only at sunset… the cycle of the year was also marked by a whole series of sabbaths and feast days, however, were often occasions for a great investment of energy … and constituted the obverse or opposite of everyday life [often characterized by symbolic inversion and status reversal].

Die performance-aspekte van hierdie aktiwiteite spruit uit die ‘ernstige’ geloofsisteme wat as ‘werk’ geklassifiseer word. Dit vorm deel van ‘n stel voorgeskrewe aksies. Wat kan dan as aktiwiteite beskryf word wat nie werk is nie en hoe ontstaan hierdie aktiwiteite? Turner wend hom tot Dumazedier. Die gemeenskap laat nie meer toe dat hul aktiwiteite voorgeskryf word deur rituele verpligtinge nie. Persoonlike of individuele keuses kom dus na vore. Die ‘werk’ wat uitgevoer word om te oorleef word verder verwyder of duideliker afgebaken deur arbitrêre besluite en begrensings. Dit is, volgens Turner (1982:36), slegs in die sosiale lewens van industriële en post- industriële gemeenskappe dat hierdie situasies geskep word waar die duidelike afbakening van tyd en aksies moontlik is.

Liminoïse aksies word gevind in die tyd wat nie as werktyd gesien word nie. Hierdie aksies word dus nie as ‘werk’ geag nie en daarom ook nie as ‘belangrik’ of noodsaaklik vir die gemeenskap geklassifiseer nie. Dit is die persoon se keuse om daarby betrokke te raak, al dan nie. Dit is nie die keuse van neofiete om deur die ritueel van inisiasie te gaan nie. Hierdie aksies word aan hulle voorgeskryf, selfs al beteken dit dat hulle buite (of selfs teen) die gemeenskap in die liminale tydperk moet optree.

Behalwe vir die spesiale tyd en ruimte wat vir performance (hetsy in die liminale of liminoïse toestande) afgesonder word, word die sosiale identiteite ook opgeskort. Binne die liminale tydperke help hierdie opskorting van sosiale identiteit die skepping van communitas aan. Die kollektiwiteit van die ritueel of ander vorme wat communitas aanhelp, word in die liminoïse tydruimte met die individualiteit van die kunstenaar vervang, veral omdat die communitas van die liminale tydruimte

anonimiteit impliseer en die individu vir die kort tyd wat communitas ervaar word, ‘n eensgesinde uitkyk, begrip en ‘n gemeenskaplike doel nastreef (Turner 1982:46).

Deelname aan hierdie aktiwiteite is vrywillig. Hierdie tipe liminoïse uitdrukkings kan ook nie noodwendig deur senior lede van die gemeenskap beheer word nie, juis as gevolg van die individuele aard van liminoïse uitdrukkings. Liminoïse vorme kan ook kollektief van aard wees, maar hierdie kollektiewe aard dui eerder op die effek van die aksie wat deur individue aangevoer of geskep word.

Die situasies van sosiale kritiek in die liminale vorme (wat streng beheer word) kan in die liminoïse vorme ‘n ernstige bedreiging vir die status quo van die gemeenskap inhou, aangesien die aksies tot ‘n breuk in die gemeenskap kan lei. In die liminoïse gevalle word die kritiek op die samelewing en die persoonlike uitdrukking nie as anti-struktuur gesien nie, maar Sutton-Smith (in Hockett 1999 – Internetbron) verwys na hierdie uitdrukkings wat gemeenskapstrukture kritiseer as proto-strukture omdat dit meestal verwys na nuwe strukture wat daargestel moet word.

In hierdie gevalle word die gemeenskap se simboliese vorme nie noodwendig bevestig of versterk nie. Nuwe simboliese vorme en kulturele enkodering word binne die liminoïse vorme geskep en gebruik met die krag om die reeds bestaande kulturele simboolsisteme te ondermyn. Turner (1982:45) gaan selfs so ver om te sê dat, alhoewel sosiale kritiek in liminale vorme geïmpliseer word, dit binne die liminoïse vorme ‘n sentrale aspek word.

Die opheffing van die gemeenskaplike vir die voorkeur van die individuele kan net voorkom in gemeenskappe waar die duidelike verskil tussen werk en nie-werk gedefinieer is. In pre-industriële gemeenskappe is hierdie onderskeid nie so duidelik nie en word die liminoïse vorme nie gevind nie. Die liminale handelinge staan miskien buite die normale handeling van die samelewing, maar dit kan beide ernstig of net spel wees:

Liminal events in pre-industrial society do not distinguish between work and play in many cases. Work is a function of the liminal ritual experience, and play is also a function within a given ritual (Hockett 1999 – Internetbron).

Hockett (1999 – Internetbron) noem dat dit nie altyd moontlik is om die gedrag of uitdrukkingsvorme as liminaal of liminoïs te beskryf nie. Dit sluit by Turner se stelling (1982:55) aan dat daar in beide tipes uitdrukkings ‘n tipe ‘kulturele pluralisme’ bestaan. Dit is die funksie van die aksie of gebeurtenis binne ‘n spesifieke kultuur wat gaan bepaal of die aksie liminaal of liminoïs sal wees. Daar is ook altyd (volgens Hockett) ‘n pluralistiese interaksie tussen die twee vorme wat verstaan en ondersoek moet word. Die normatiewe sosiale strukture sal ook altyd ‘n beginpunt vir albei sisteme bly wat die skepping en/of gebruik van kulturele simbole dikteer.

Liminoïse vorme ontwikkel egter apart van sentrale ekonomiese sisteme en eerder op die grens van die samelewing waar daar ‘n ruimte vir eksperimentering met vorme en inhoud is. Dit is ook op hierdie periferie (en veral as hierdie vorme na die middelpunt van die gemeenskap getrek word, soos byvoorbeeld by kunstefeeste) dat die verskillende vorme met mekaar kompeteer vir aandag (Turner 1982:54). Hierdie soeke na erkenning van die privaat-psigologiese skeppings van die individu word ook, as gevolg van die kompetisie met ander vorme, gekommodifiseer. Gratis liminoïse vorme of uitdrukking is ook beskikbaar, maar Turner (1982:55) noem dat hierdie vorme, soos karnaval en tuisvermaak, oorblyfsels van liminale vorme is en dit dui op, of is, ‘n kulturele oorskot van vergete liminale rituele.

Ander voorbeelde van hierdie tipe vorme van performance wat liminoïse performances is, maar as liminale performances ontstaan en gefunksioneer het, is kulturele of tradisionele danse wat vir toeriste aangebied word. Baie van hierdie vorme verloor hul oorspronklike funksie of doel vir die gemeenskap as dit voor toeriste opgevoer word. Waar hierdie performances binne die gemeenskap waar dit ontstaan het religieuse of ander funksies gehad het, funksioneer dit vir die toeriste as ‘n vermaaklikheidsvorm en het die oorspronklike funksie of doel van die performance geen relevansie vir die toeristegehoor nie. Dit is nie net die funksie van die performance wat in ‘n geval soos hierbo genoem verander nie, die gedrag verander ook. Soortgelyke situasies waar die oorspronklike funksie of impuls van die aksies verander, noem Richard Schechner (1985) “herstelde gedrag”.