• No results found

HOOFSTUK 6 SOSIALE DRAMA EN PERFORMANCE

6.4 Herintegrasie en splitsing

Die doel van die gemeenskap om die krisis wat deur ‘n breuk geskep is, op te los, is om die gemeenskap se waardes en norme te bevestig (hetsy dit polities/religieus of sosiale konstruksie is) en sodoende terug te keer na die toestand waarbinne die gemeenskap gefunksioneer het voordat die breuk plaasgevind het. Die gemeenskap sal egter nooit weer kan terugkeer na die presiese situasie soos dit was voordat die breuk plaasgevind het nie. Die aard en intensiteit van die onderliggende verhoudinge in die gemeenskap sou verander het, asook die struktuur van die algemene speelveld:

Oppositions may be found to have become alliances, and vice versa. Asymmetric relations may have become egalitarian ones. High status will have become low status and vice versa. … New power will have been channelled into old and new authority and former authority defenestrated. … Formerly integrated parts will have segmented; previously independent parts will have fused (Turner 1974:42).

Hierdie verskuiwing wat binne die gemeenskap plaasvind, is die resultaat van die korrektiewe fase om die toestand (as ‘n entiteit) van voor die breuk te probeer terugvind. Die probleme wat in die eerste plek die breuk en krisis veroorsaak het, gaan nie noodwendig verdwyn nie, maar in die korrektiewe fase word hierdie probleme aangespreek en deur die wedersydse aanvaarding van die korrektiewe aksie kan die gemeenskap weer terugkeer na ‘n ‘normale’ toestand wat vir alle partye aanvaarbaar is.

Juis as gevolg van die selfreflektiewe aard van die korrektiewe fase van die sosiale drama, is dit nie vreemd nie dat vroeëre vyande of opponerende magte wat nie by die breuk betrokke was nie, in die korrektiewe fase en herintegrasie sal saamwerk om die gemeenskap stabiel te hou. Soos Turner hierbo aangetoon het, kan die teenoorgestelde ook plaasvind.

Met herintegrasie van die individu of groep wat die breuk binne die gemeenskap veroorsaak het, moes daar (al is dit in ‘n beperkte mate of deur middel van konsensus) veranderinge plaasvind. Turner (1974:42) stel dit dat nuwe vorme en reëls geskep kan word in die pogings om die breuk in die gemeenskap te oorbrug. Ou reëls wat nie meer van toepassing is nie, kan geskrap of aangepas word. Hierdie verskuiwing kan natuurlik nuwe breuke veroorsaak, veral in gevalle waar die verwyderde of veranderde norme/waardes/reëls/sisteme nog ‘n groep ondersteuners het.

Die status quo waarvan daar gepraat is, dui dikwels eerder op harmonie binne die gemeenskap. Hierdie harmonie kan net op waardes/norme/strukture gebou word waarmee die hele gemeenskap saamstem en wat hulle onderskryf. Hierdie waardes/norme/strukture is nie solied nie. Dit is plooibaar en dinamies prosessioneel. Die vloeibaarheid van hierdie strukture maak dit dus noodsaaklik dat die gemeenskap 1) daaraan herinner word, 2) in situasies van breuke, krisisse en korrektiewe aksies deur selfrefleksie heroorweeg word en 3) verander of herbevestig word in die proses van herintegrasie of splitsing van die gemeenskap.

Of die gemeenskap deur middel van die korrektiewe aksies herintegreer of verdeel word, is dit wel noodsaaklik dat daar eenstemmigheid bereik moet word om die probleem te herken, aan te spreek en te korrigeer, of die verskillende faksies moet ooreenstem dat die breuk nie reggestel of waardes/norme/reëls/strukture verander kan word nie. In laasgenoemde situasie sal die gemeenskap in verskillende faksies verdeel wat van daardie punt af as aparte gemeenskappe funksioneer, met die sisteme/strukture wat vir hulle aanvaarbaar is.

Die uiteinde van die sosiale drama is dus ‘n veranderde, maar harmonieuse gemeenskap wat die sosiale drama voltooi het. ‘n Ander uitkoms vir die sosiale drama is dat daar twee of meer verskillende harmonieuse gemeenskappe ontstaan het uit die een gemeenskap waarin die sosiale drama begin het. Turner (1974:43) noem wel dat hierdie verdeelde gemeenskappe, soos hy in sy veldwerk in Afrika opgemerk het, weer later verenig kan word, ‘n proses wat self aparte ritualistiese performances kan insluit.

Geen voorbeelde van hierdie tipe performances kon opgespoor word nie en hierdie stellings is daarom op spekulasie en afleidings uit die funksies en werking van performances binne ‘n gemeenskap gemaak. Hierdie tipe rituele of sosiale gedrag val egter buite die ruimte van die sosiale drama, alhoewel soortgelyke vorme en/of patrone by die hereniging van die gemeenskappe gevind kan word. Die hereniging van verskillende gemeenskappe sal wel impliseer dat daar nog nie ‘n vasgestelde kulturele/sekulêre of geestelike ritueel is wat vir al die gemeenskappe gepas sou wees nie. Hierdie tipe performance sal dan eerder na die hibriede beskrywing van die performance-

spektrum beweeg, aangesien so ‘n performance by die hereniging ‘n fees is, maar die religieuse aspekte kan ook by so ‘n performance betrek word.

Simboliese strukture en mediums soos die gebruik van die toneelpop en die masker sal ook binne die performance gevind kan word en hierdie tipe performances sal ook ‘n gevoel van communitas by die gemeenskap kon bewerkstellig. In ‘n performance by die herintegrasie van verskillende gemeenskappe sou die bewerkstelliging van communitas ‘n prioriteit wees om die hereniging te fundeer of te bekragtig.

Die sosiale drama as teleskopering van die struktuur van performance binne ‘n gemeenskap en die performances in verskillende fases van die sosiale drama, is ‘n manier om die sosiale funksie en werking van performance in ‘n gemeenskap te identifiseer.

Die rol van die masker, toneelpop en akteur-manipuleerder as performance-elemente binne hierdie performance is in Afrika van besondere belang. Na gelang van die funksie van die performance binne ‘n spesifieke fase van die sosiale drama, funksioneer hierdie performance-elemente as ikone en mediums. Die funksie van die performance binne die sosiale drama se verskillende fases word onder andere deur die klassifikasie van daardie performances as liminale of liminoïse vorm van performance bepaal. Hierdie ruimtes of toestande sal in die volgende hoofstuk bespreek word.

HOOFSTUK 7 - LIMINALE EN LIMINOÏSE VORME VAN