• No results found

Die fases in die inisiasierite, die liminale toestand en die skepping van communitas

HOOFSTUK 7 LIMINALE EN LIMINOÏSE VORME VAN PERFORMANCE

7.1 Die fases in die inisiasierite, die liminale toestand en die skepping van communitas

Gedurende die eerste fase van die inisiasierite word die neofiete (as rituele subjekte) deur middel van simboliese gedrag van ‘n vroeër toestand of bepaalde posisie van die sosiale struktuur en/of van ‘n spesifieke kulturele orde geskei. Die skeiding beteken dat die neofiete of rituele subjekte nie meer met die toestand waaruit hul geneem word, geassosieer kan word nie. Die verwydering uit die toestand beteken nie dat hierdie individue of groepe onmiddellik deel vorm van ‘n ander groep of situasie nie. Net soos die verwydering of skeiding van die oorspronklike toestand deur middel van die simboliese en/of rituele handelinge teweeggebring word, net so word daar in die tweede fase, die toestand van liminaliteit, ook van rituele en simboliese performance gebruik gemaak.4 Die performance word dus gebruik om ook die balans van die gemeenskap en die sisteme wat dit handhaaf en aanpas, te bestudeer, want die performances kan gesien word as bakens wat die lewensloop van die individu én die gemeenskap aandui. Hierdie inisiasierite kan ook as ‘n lewenskrisisritueel beskryf word, alhoewel nie alle lewenskrisisrituele inisiasieritusse is nie. Sommige lewenskrisisse kan ook ‘n liminale of liminoïse kwaliteit5 hê en hierdie tydperke se diepstrukture kan wel ‘n ooreenkoms met die inisiasierite hê. Tradisionele gebruike kan nog steeds hierdie tipe aktiwiteite voorskryf (Trubshaw 1995. Internetbron).

Soos reeds genoem, word individue of groepe gedurende die eerste fase (die rituele van afsondering) uit die samelewing en die normale werkslewe onttrek. Hierdie onttrekking en afsondering demarkeer ‘n sakrale ruimte en tyd. Die ongeïnisieerdes word nie as ‘n volwaardige deel van die gemeenskap gesien nie, aangesien hul nog nie die volledige inisiasieproses deurgegaan het nie. Eers nadat die groepe die hele proses van inisiasie (die rituele, performances en ander aksies) deurgegaan het, kan hierdie individue/groepe as deel van die geïnisieerde groepe gesien word en kan hul op voorregte en posisies aanspraak maak waarop hulle nie voor die ritueel kon aanspraak maak nie.

Trubshaw (1995 – Internetbron) noem dat die verandering wat deur die inisiasierituele teweeggebring word in sekere kulture as ‘n nuwe lewe gesien word. Die nuwelinge se ou lewe het

4

Vir ‘n duidelike uiteensetting hiervan, kyk na Figuur 11 in die Bylae.

5

Daar kan op hierdie stadium net kortliks genoem word dat die liminoïse ruimte as ‘n post-industriële ruimte gesien word waar die individuele kunstenaarskap die groepsgevoel van die liminale ruimte vervang.

gesterf en hulle word gebore as nuwe, gevorderde en geïntegreerde lede van die gemeenskap. Die neofiete kan in sulke situasies selfs nuwe name ontvang en hul word aan hul familielede en die res van die gemeenskap voorgestel. Hierdie voorbeelde van permanente veranderings wat deur die inisiasieproses voortgebring word, gaan dikwels gepaard met rituele of ander performances wat die waarde aan die aktiwiteite gee. Die veranderende krag word in die performance gevind, of deur middel van die performance bevestig of aangedui. Schaeffner (1966:51-52 en vertaal deur Jurkowski 2000a:16) verstrek ‘n voorbeeld:

In the initiation ritual young people take often a mortal appearance or more exactly an appearance of those who are brought to life. After staying in some secret place, where they were considered to be dead, they became born once again. This birth has not an essential meaning till the last ceremonial acts, when they are brought to life and allowed to join the living. Initiants from the Kissi tribe, in the Guinea Forests, as well as in other African societies, have whitened bodies as phantoms and they move as automata or puppets; their steps, their smallest gestures are mechanised and completely submitted to the rhythm of a drum, beaten by the master of ritual. In spite of the importance of the ceremony, at the same time there is here a place for satire and buffoonery and even sudden display of hostility: “puppets” abandon their background (environment) and threateningly approach spectators, who step back.

In bogenoemde voorbeeld word daar nie van voorwerpe soos maskers of toneelpoppe gebruik gemaak nie, maar die performers self word die voorwerpe wat soos toneelpoppe funksioneer. Die neofiete het geen lewe van hul eie nie en hulle gedrag word blykbaar deur ‘n eksterne krag (naamlik dié van die trom) bepaal. Die akteur-manipuleerders sal in hierdie situasie as ikone funksioneer. Hulle stel nie net toneelpopagtige figure voor nie, hulle is hierdie tipe figure. Soos die performance verloop, verander hierdie ‘toneelpoppe’ van gedaante. Hulle is nie meer slegs die toneelpoppe onder die invloed van die ritme van die trom nie. Hulle is besig om in iets anders te verander – deur ‘n transformasie te gaan – tot wesens wat sosiale kommentaar kan lewer en wesens wat ‘n moontlike bedreiging vir die gemeenskap kan inhou.

Hierdie verandering is permanent en die vorm van die performance, naamlik ‘n satiriese spel met narrestreke, is ‘n versagting van die bedreiging wat hierdie individue vir die gemeenskap inhou. Die moontlike konflik word dus simbolies aan die samelewing uitgewys, maar omdat dit binne ‘n liminale ruimte gebeur (naamlik in die performance-situasie) is die bedreiging nie te ernstig nie. Die gemeenskap moet net kennis neem van die nuwe toestand waarin die individue tans verkeer of waarheen hulle op pad is.

Deur in die liminale tydperk van inisiasierituele te beweeg en van hul vorige status in die samelewing gestroop te word, kan die neofiete “onsigbaar” word vir die res van die gemeenskap. Die fase sal ook met rituele simbole gevul word om betekenis en gewig daaraan te gee. Turner (1982:26) sê in hierdie verband:

Ritual symbols of this phase, though some represent inversion of normal reality, characteristically fall into two types: those of effacement and those of ambiguity or paradox. Hence, in many societies the liminal initiands are often considered to be dark, invisible, like the sun or moon in eclipse or the moon between phases, at the “dark of the moon”; they are stripped of names and clothing, smeared with the common earth rendered indistinguishable from animals.

Een van die doelstellings van hierdie stropingsprosesse is om ‘n anonieme eenvormigheid onder die neofiete te bewerkstellig. Die verlies aan identiteit is nie altyd ‘n slegte situasie nie. Met die stroping van identiteit om ‘n eenvormigheid te bewerkstellig, word ‘n ander toestand bewerkstellig:

By way of compensation, the initiands acquire a special kind of freedom, a ‘sacred power’ of the meek, weak, and humble (Turner 1982:26).

Hierdie tipe vryheid is alleen binne hierdie liminale toestand bereikbaar, want wanneer die neofiete as volwaardige lede van die gemeenskap aanvaar word, sal hierdie vryheid aan bande gelê word.

Hierdie stroping van die vorige identiteit van die gemeenskaplike rolle na die gesiglose neutrale toestand is nodig sodat die ‘nuwe’ identiteit wat aan die neofiet toegeken word, gesuperimponeer word.6 Die neofiete het geen mag/krag oor ander lede van die gemeenskap nie, maar beweeg ook buite die sosiale en strukturele reëls van die gemeenskap. Turner (1982:27) noem dat hierdie stroping die neofiete in dieselfde posisie as die dooie voorvaders of diere en voëls aan die ander kant plaas. Die identifikasie met die asosiale vind plaas juis omdat die neofiete gestroop word van alles wat hulle vir die gemeenskap identifiseerbaar maak.

6

Hierdie aspek van stroping tot die neutrale sluit aan by Grotowski se konsepte rondom die stroping van die persoonlike tot die neutrale en die opbou van die karakter wat die akteur moet vertolk.

Deur die liminale toestand wat die stroping van die sosiale teweeggebring het, word die konsepte wat met die asosiale geassosieer word, belangriker. Die kosmologiese sisteme van die asosiale wat belangrik word binne die liminale, sluit in rituele, mites, liedere en verskeie ander nie-verbale simboliese genres van performance soos maskerades en danse (Turner 1982:27). Die effekte van die asosiale en die sisteme waardeur dit uitgebeeld word, is egter nog vir die gemeenskap baie belangrik. ‘n Voorbeeld hiervan is die Egungun-maskerades in Nigerië:

Egungun masquerades are elaborate ensembles of cloth and other media that pay homage to forces affecting the living. … In its broadest sense, egungun … refers to any masquerade or masked figure. At the basis of this definition is the belief in the presence of some supernatural force. … What seems more important, however, is that both gods and ancestors are regarded as ara orun, “beings from beyond,” whose power and presence can be invoked by the living. These are some of the concepts embodied in the term egungun, supernatural power concealed (Drewal 1978:18).

Aangesien die neofiete buite die sosiale strukture beweeg en sodoende die sosiale strukture van buite af kan beskou, kan die liminale tydperk ook ‘n tyd wees waarin die moontlikheid van verandering binne die gemeenskap waargeneem kan word. Hierdie rituele en ander simboliese genres van performance word dus ook gebruik om die status quo binne die gemeenskap te handhaaf, aangesien dit in sekere gevalle deur die gemeenskap ondersteun word. Een van die hoofdoelstellinge van die verskeie simboliese performance-sisteme wat binne die liminale tydperk gedurende die afsonderingsfase van die inisiasieritus uitgevoer word, is juis om die nuwe lede van die gemeenskap binne die sisteme van die gemeenskap te skool en te kondisioneer. As daar weer na Figuur 11 in die Bylae gekyk word, sien ons ook dat hierdie liminale toestand voorkom in die herstellende of korrektiewe aksies van die sosiale drama.

Dit is ook belangrik om te noem wat met hierdie sosiale strukture bedoel word. Lévi-Strauss (1963:121) voer aan dat sosiale strukture ‘n reeks uitdrukkings is met dieselfde onderliggende eienskappe wat nie heeltemal volledig of onvolledig is nie en herhaal kan word met onuitputbare variasies. Die gemeenskap kan bewus of onbewus van hierdie strukture wees. Hieroor merk Levi- Strauss (1960:53) op:

… if the structure can be seen it will not be at the … empirical level, but at a deeper one, previously neglected; that of those unconscious categories that we may hope to reach, by bringing together domains which, at first sight, appear disconnected to the observer; on the one hand, the social system as it actually works, on the other, the manner in which, through their myths, their rituals and their religious

representations, men try to hide or to justify the discrepancies between their society and the ideal image of it which they harbor.

Soos Turner (1974:237) na die sosiale strukture verwys, raam Levi-Strauss die betekenis of velde wat betrekking het op sosiale strukture as rolindelings, statuskonstruksies en ook magstrukture waarvan die gemeenskap bewus is en wat ‘n duidelike invloed op die gemeenskap het. Die sosiale strukture word dus gebruik om funksies aan ‘n individu binne ‘n gemeenskap te gee en die werking van die hele gemeenskap te beheer. As die neofiete uit hierdie funksies gehaal word, soos gebeur in die inisiasierites of in ander liminale toestande en liminale rituele, kan die gevaar ontstaan dat hierdie individue wat apart geplaas word, die reeds bestaande gemeenskap se werking en manier van lewe omver kan gooi. Daarom word hierdie tydperke van inisiasie deeglik deur senior lede van die gemeenskap beheer.

Hierdie senior lede van die gemeenskap, juis as gevolg van hul bewustheid van die gevaar wat die liminale toestand vir die gemeenskap en sosiale strukture inhou, skep taboes wat die neofiete in liminale toestande beperk (Turner 1974:14). Die beperking van die neofiete in liminale toestande is strydig met dit wat die liminale toestand veronderstel is om te wees, naamlik vry van enige strukture en gemeenskappe:

This aspect of danger requiring control is reflected in the paradox that in liminality extreme authority of elders over juniors often coexists with scenes and episodes indicative of the utmost behavioural freedom and speculative license. Liminality is usually a sacred condition protected against secularity by taboos and in turn prevented by them from disrupting secular order, since liminality is a movement between fixed points and is essentially ambiguous, unsettled, and unsettling (Turner 1974:173-174).

Turner (1974:175) verwys onder andere na hierdie funksie van die liminale tydperk en die sisteme wat daarmee geassosieer word, as communitas. Die kondisionering wat binne die liminale toestand in die insisiasierituele plaasvind, beweeg verder. Dit dui ook op die kameraadskap wat gedurende die inisiasierituele onder die neofiete gevorm word, juis omdat hulle in hierdie toestand dieselfde gebeurtenisse as ‘n groep beleef:

As a general rule, an intense comradeship and equalitarianism develops amongst neophytes, and the secular distinctions of position and status disappear or end up

becoming homogeneous – a modality of social relation: communitas (Pedregal 2002 – Internetbron).

Communitas word gesien as die direkte teenpool vir sosiale struktuur; daarom word die communitas wat in die liminale toestand gevind word, as anti-struktuur beskou. Met die strukture van die gemeenskap word in hierdie verband verwys na die reëls, wette en statusstrukture van ‘n spesifieke gemeenskap. As Turner verwys na die anti-struktuur soos dit in communitas gevind word, is dit nie die direkte teenpool van die normale strukture nie. Turner (1974:202) beskryf hierdie anti-struktuur as die ontstaanspunt, sowel as die kritiek of bevraagtekening van die normale strukture:

Structures, like most species, get specialized; communitas, like man and his direct evolutionary forebears, remains open and unspecialised, a spring of pure possibility as well as the immediate realization of release from day-to-day structural necessities and obligatoriness.

Dit is alleen in hierdie toestand van onsekerheid waar die neofiete nie deel van die gemeenskap is nie, dat die eenheidsgevoel onder hulle kan ontstaan en die kritiek op die samelewing se strukture waaruit of waarna hul beweeg, gevind kan word. Daar word dan op verskillende maniere aan die communitas uiting gegee:

Communitas or the feeling of communion or oneness is therefore often expressed in rituals of reversal in which the lowly and high-ups reverse social roles. After the inception of spontaneous communitas a structuring process often develops and a cycle of communitas/structure/communitas ensues (Turner in Salamone 2004:98).

‘n Voorbeeld van ‘n performance waarin communitas bewerkstellig word deur die omvergooi van sosiale rolle, is die Bin Sogo Bo van Mali en veral die jeugverenigings (Kamalen Ton). Vir die duur van die feestyd van die Bin Sogo Bo word alledaagse rolle verwissel. Arnoldi (1983:133) noem verskeie voorbeelde van hoe hierdie verandering of omkerings in die performance en performance- kontekste manifesteer. Die eerste hiervan is die verspreiding van rykdom. Die geld wat die jeugorganisasie ingesamel het, word weer in die gemeenskap teruggeploeg in die vorm van maaltye wat voorberei word. Die feesmaal word deur die jeugorganisasies vir die hele gemeenskap voorberei. Lede van die organisasie sal ook saam eet na afloop van die performance en hierdie maaltye verskil van die maaltye wat gewoonlik saam met die familie genuttig word.

‘n Ander verandering van die sosiale rolle is dat die jeug as die akteur-manipuleerders of performers optree en nie die ouer lede van die gemeenskap nie.

Youth’s fadenya7 challenge to the elders rises to the surface and the community manages the potential danger which is exposed in this reversal of social roles through the use of a number of definitional strategies. Firstly the elders state that the purpose of the ton festivals is to promote feelings of je, unity, within the village (Arnoldi 1983:134).

Deur hierdie verbreking van die normale sosiale orde kan die performance ‘n liminale toestand vorm waarin daar ‘n gevoel van eensgesindheid of communitas binne die gemeenskap ontstaan of bevestig word. Dit kan voorkom asof hierdie teenstand teen die sosiale strukture en die uitbeelding van die jaloesie of kompetisie tussen die jong manne en die ouer lede van die gemeenskap teen die gemeenskap gerig is, maar weens die liminale toestand waarin die gemeenskap hulself bevind as gevolg van onder andere die performance, word hierdie tipe aksies ook deur die gemeenskap as ‘spel’ of as nie-ernstig beskou. Arnoldi (1983:135) noem dat, om die jaloesie of kompetisie tussen die jong lede en die ouer lede van die gemeenskap te verbloem, die jeugorganisasies amptelik vir toestemming vra om hierdie performances vir die gemeenskap uit te speel.

Die kommentaar wat egter in so ‘n performance (wat meestal satires en sosiale kommentaar insluit) gelewer word, is dikwels baie ernstig. Alhoewel dit blyk dat die gemeenskap in gevaar geplaas kan word deur die aksies wat gedurende die performance mag plaasvind, is dit nie by die Bin Sogo Bo- feeste die geval nie, want daar is verskeie aksies of voorsorgmaatreëls wat getref is om te verseker dat die orde van die gemeenskap buite die liminale toestand van die performance nie in gedrang kom nie. Behalwe vir die vermaak wat hierdie tipe performances aan die gemeenskap bied, gee dit ook die lede van die jeugorganisasies die geleentheid om ‘n gevoel van eensgesindheid te bewerkstellig.

Dit is dus duidelik dat hierdie gevoel van communitas ook oorgedra kan word wanneer die neofiete (of lede van ‘n jeugorganisasie soos die Bin Sogo Bo) weer na afloop van die afsondering in die struktuur van die gemeenskap opgeneem word. Hierdie gevoel van communitas word dan as ‘n gevoel van eensgesindheid binne die gemeenskap en strukture gesien en nie meer as téén die

7

gemeenskap en strukture nie. Turner (1974:56) voer aan dat as communitas in rituele toestande (soos performances of ander rituele in liminale toestande) geskep kan word, dit slegs vir ‘n kort tydjie buite daardie toestande oorgedra kan word. Hy gaan verder en sê:

Communitas in ritual can only be evoked easily when there are many occasions outside the ritual on which communitas has been achieved (Turner 1974:56).

Dit is nie net binne die liminale toestand wat die gevoel van communitas kan ontstaan nie. Edith Turner (in Salamone 2004:98) dui ook aan dat communitas aan die grense van die gemeenskap kan onstaan wat “marginaliteit”8 genoem word, of van “onder” die gemeenskap kan ontstaan, wat sy “minderwaardigheid” noem. Aldrie hierdie ontstaansmoontlikhede is sisteme waar simbole, rituele, filosofiese sisteme en kunswerke geskep word. Dit is natuurlik nie in die liminale toestand van die inisiasierites wanneer filosofiese sisteme geskep word nie, maar dit kan in hierdie toestand wees wanneer die saad vir hierdie sisteme geplant word, juis omdat dit buite die normale sisteme van die gemeenskap funksioneer.

Dit is slegs as hierdie gevoel van communitas oorgedra kan word na die “normale lewe” dat die konsepte in die strukture van die samelewing geïnkorporeer kan word. Turner (1974:231) noem ook ander gevalle buite die afsonderingstydperk van die insisiasierituele waar communitas gevind kan word. Al hierdie gevalle dui óf op liminale toestande soos buitestanderskap, óf op marginalisering. Die konsepte van buitestanderskap en marginalisering word verder deur Turner verklaar. Hy dui aan hoe communitas in die liminale toestande van verskillende aard geskep word (Turner 1974:232-234):

There is the state of outsiderhood, referring to the condition of being either permanently and by ascription set outside the structural arrangements of a given social system, or being situationally temporarily set apart, or voluntarily setting oneself apart from the behavior of status-occupying, role-playing members of that system. Such outsiders would include, in various cultures, shamans, diviners, mediums, priests, those in monastic seclusion, hippies, hoboes, and gypsies. … they should be distinguished from “marginals,” who are simultaneously members … of two or more groups whose social definitions and cultural norms are distinct from and