• No results found

HOOFSTUK 3 HERSTELDE GEDRAG IN DIE SKEPPING EN ONDERHOUDING VAN PERFORMANCE

3.1 Gedrag as entiteit

Die gedrag of aksie waarna Schechner verwys, is ‘n arbitrêre snit of strook uit ‘n stroom aaneenlopende aksies, gemaak vanuit die subjektiewe perspektief van die mense of groep wat by die volharding van die reeks aksies betrokke is. Hierdie konsep van ‘n strook gedrag is van Goffman afkomstig:

A strip is not meant to reflect a natural division made by the subjects of inquiry or an analytical division made by students who inquire; it will be used only to refer to any raw batch of occurrences (of whatever status in reality) that one wants to draw attention to as a starting point for analysis (Goffman 1970:10).

Soos hierbo genoem, kan die oorspronklike bron of inspirasie van die aksie verlore raak. Schechner (1985:35) noem ook dat hierdie bronne of oorspronklike waarhede ook geïgnoreer of teengegaan word, selfs al lyk dit asof hierdie bronne gehandhaaf word. Hierdie gedrag ontstaan deur ‘n repetisieproses ten einde ‘n nuwe proses te skep. Dit kan veral gesien word in Tall Horse waar die Bamana-toneelpoptradisie as ‘n oorspronklike bron gesien kan word wat tot ‘n groot mate in die produksie geïgnoreer is, of tot so ‘n mate aangepas en verander is dat die enigste element wat die performance en die oorspronklike bron verbind, die voorkoms van die toneelpoppe is, veral ook omdat die oorspronklike konteks waarbinne die tradisie funksioneer nie in die produksie van Tall Horse teenwoordig was nie.

In die definiëring en verdere omskrywing van herstelde gedrag noem Schechner dat gedrag gedurende die ontwikkeling van herstelde gedrag deur repetisies van aksies nie net as ‘n proses gesien moet word nie, maar as voorwerpe, items of materiaal. Hierdie konkretisering van aksies as ‘fisiese objekte’ in die verbeeldingswêreld maak dit makliker om gedrag of aksies te beskryf, veral omdat die aksies verskeie velde oorkoepel. Dit is ook goed om hierdie aksies of gedrag as entiteite te sien, juis omdat die gedrag of aksies ‘apart’ staan van die uitvoerders daarvan. So noem Schechner die reikwydte van wat alles as herstelde gedrag gesien kan word. Dit sluit uiteenlopende velde soos shamanisme, ritueel, beswyming (trance), teater en demoonuitdrywing in.

Herstelde gedrag is vir Schechner die hoofeienskap van performance. Met al hierdie verskillende velde van performance wat as herstelde gedrag gesien kan word, is dit vanselfsprekend dat die definisie van herstelde gedrag omvangryk sal wees. Hierdie verskillende velde van beskrywing sal dus vervolgens bespreek word.

Met die konkretisering van aksies in herstelde gedrag en die aksies as aparte entiteite, buite of apart van die persone wat dit uitvoer, kan gedrag gestoor, oorgedra en gemanipuleer word (Schechner 1985:36). Die individue wat die gedrag binne ‘n performance uitvoer, kom in aanraking daarmee en herwin of onthou dit. In sekere gevalle kan gedrag selfs uitgedink word. Die gedrag, nog steeds ‘n aparte entiteit van die performer wat dit uitgedink het, kan later, soos in ‘n repetisie of ‘n performance, herhaal word aangesien dit gestoor word. Wanneer die gedrag herstel word, kom die

performer weer daarmee in aanraking. Hierdie aparte stukke gedrag word dan agter mekaar gestring om die strook gedrag te vorm.

Daar kan op verskillende wyses met hierdie gedrag omgegaan word. Die performer kan byvoorbeeld net gedurende die performance daarmee in aanraking kom en dit herroep, soos in die gevalle waar die akteur van Stanislavsky en/of Michael Chekov se toneelspeltegnieke gebruik maak. Die akteur penetreer die gedrag sonder om daardeur verswelg te word. Daar word dus ‘n dubbele bewussynsvlak gevind waar die akteur nie die ‘self’ geheel en al verloor nie. Dikwels word die beeld in toneelspelklasse en repetisies gebruik van ‘n akteur wat die karakter en die gepaardgaande gedrag soos ‘n jas moet aantrek of uittrek1. Dit dui op die verskil tussen die gedrag en die performer wat die handeling uitvoer. In meer ekstreme gevalle sal die performer langs die gedrag staan. Die performer handhaaf ‘n kritiese afstand met betrekking tot handeling en karakterisering. Om die metafoor van die jas verder te voer, kan in hierdie geval genoem word dat die performer gedurende die performance na die jas kyk en dit nie self aantrek nie. Die performer funksioneer daarom langs die gedrag soos in Brecht se Verfremdungseffekt.

‘n Ander uiterste geval is waar die performer geheel en al deur die gedrag geabsorbeer word. Hier trek die performer nie net die jas aan nie, hy is die jas. Voorbeelde van gevalle waar gedrag die performer oorneem, is die geval van beswyming. Selfs in hierdie gebruike van herstelde gedrag is dit nie elke keer spontane of nuwe gedrag wat geskep word nie. Die tegnieke om in beswyming te verval is aangeleerde prosesse wat dikwels van ‘n leermeester na ‘n leerling oorgedra word. Soos ander handelinge wat byvoorbeeld in rituele performance gevind word, word gedrag gedurende ‘n inisiasietydperk aan die neofiete oorgedra om te kulmineer in ‘n performance waar die gedrag dan voor ‘n gehoor herstel word. Oor hierdie aspekte voeg Schechner (1985:36) by:

The work of restoration is carried on in rehearsals and/or in the transmission of behavior from master to novice. Understanding what happens during training, rehearsals, and workshops – investigating the subjunctive mood that is the medium of these operations – is the surest way to link aesthetic and ritual performance.

1 Hierdie beeld is veral effektief om te gebruik sodat die student of akteur bewus bly van die feit dat dit nie hy is wat die

gedrag uitvoer nie. Die gedrag word deur die karakter en nie die akteur uitgevoer nie. Dikwels verkeer jong akteurs onder die indruk dat hulle geheel en al deur die karakter verswelg moet word. Hierdie beeld word dan ook gebruik om die afstand tussen die karakter en die akteur te bewerkstellig. Dit is ook veral handig om hierdie beeld te gebruik om akteurs te oorreed om iets te doen wat teen hul persoonlike norme of geloofsisteme induis. Die graad van sukses met die gebruik van die beeld om akteurs te oorreed is debatteerbaar, maar sukses is al so behaal.

Bogenoemde uitsprake van Schechner is baie belangrik, juis omdat baie van die tipes performances wat in hierdie studie bespreek word, nog as rituele performances geklassifiseer kan word en nie as hibriede performances nie, soos dié van die Handspring Puppet Company en die werk van Brett Bailey, waar die verband tussen die estetiese en rituele performances aangedui is. In hierdie tipe hibriede performances en in die rituele performances is dit baie duidelik hoe gedrag apart van die performer staan – hoe dit ‘n afstand handhaaf. Juis omdat die gedrag apart staan, kan daaraan ‘gewerk’ word, selfs al het dit reeds plaasgevind. Schechner (1985:36) noem die verskillende tipes herstelde gedrag en wanneer dit kan voorkom:

• Dit kan “ek” in ‘n ander tyd/psigologiese toestand wees.

• Dit kan in ‘n abnormale of ongewone sfeer van die persoon of sosiokulturele realiteit bestaan.

• Dit kan deur duidelike konvensies afgebaken word soos byvoorbeeld in drama en die teater. • Spesiale gedrag wat gepas is vir situasies, of gedrag wat van iemand verwag word, veral in

‘n rituele situasie, kan ook as herstelde gedrag gesien word.

Aangesien herstelde gedrag se stroke aksies as aparte of losstaande entiteite gesien word, is dit in vele opsigte simbolies en/of refleksief van aard. Net soos vele ander simboliese vorme van kommunikasie, kan die stroke gedrag polisemanties van aard wees. Aksies/gedrag en die performer kan op verskillende vlakke en as verskillende entiteite kommunikeer. Die “ek” kan in/as iemand/iets anders optree, ‘n optrede of gedrag wat nie vir die eerste keer uitgevoer word nie, selfs al weet die gehoor dat dit nié die eerste keer is nie. Schechner (1985:36) stel in verband met die simboliese/refleksiewe en herstelde aard van gedrag:

Symbolic and reflexive behavior is the hardening into theatre of social, religious, aesthetic, medical, and educational process. Performance means: never for the first time. It means: for the second to the nth time. Performance is “twice-behaved behavior.”

Selfs al word performance as die heruitvoering van aksies of herstelde gedrag gesien, beïnvloed die performance die keuses van die performer in die uitvoering van die gedrag. Hierdie keuses word nie altyd deur die uitvoerder uitgeoefen nie, maar dit bly nog onder die oppervlak aanwesig. Waar

daar nié keuses by die uitvoering van gedrag betrokke is nie, stel Schechner (1985:37) dat die illusie van ‘n keuse wel teenwoordig is.