• No results found

HOOFSTUK 2 PERFORMANCE AS KONSEP EN ANALITIESE MIDDEL

2.1 Performance as konsep

Dit is nie noodwendig moontlik om ‘n oorkoepelende definisie vir dié term te gee nie, aangesien verskillende velde selektief te werk gaan met die term en hul eie definisies vir dié woord skep. In Carlson (1996:1) se bespreking van performance haal hy Strine, Long en Hopkings aan wat performance ‘n ‘betwiste konsep’ noem. Hierdie beskrywing, wat van W.B. Gallie afkomstig is, impliseer dat daar verskillende persepsies is oor wat terme soos demokrasie en kuns (en in hierdie geval performance) presies behels, of wat die essensie van die terme is. Uiteenlopende vertolkings van die term, met verskillende verwysingsvelde, is daarom moontlik en die veld waarbinne die term gebruik word, sal die definisieruimte en/of reikwydte daarvan bepaal.

In die inleiding van Carlson (1996:1-9) se boek oor performance en performance art as postmoderne genres, gee hy drie verskillende definisies of beskrywings van performance. Hierdie beskrywings kan gebruik word om verskeie elemente van performance te identifiseer wat binne die teatrale of kunshistoriese ruimtes gevind word. Hierdie elemente is nie noodwendig op alle tipes performances wat in hierdie studie gebruik word, van toepassing nie. Dit is egter wel nodig om dit te ontleed, aangesien al hierdie eienskappe soms van toepassing kan wees.

In Carlson (1996:3) se eerste beskrywing van performance kyk hy na die aspek van performance wat die uitvoering daarvan, of die aktiwiteit, bepaal:

If we mentally step back a moment from this common practice and ask what makes performing arts performative, I imagine the answer would somehow suggest that these arts require the physical presence of trained or skilled human beings whose demonstration of their skills is the performance.

Dit is duidelik uit die beskrywing hierbo dat hierdie omskrywing van performance nie voldoende of toepaslik is op pre-industriële gemeenskappe se religieuse performance-vorme nie. Alle performances word nie as ‘n vertoonruimte vir die uitvoerder se vaardighede gesien nie. Die aksies, of dit geskoolde vaardighede is of bloot die fisiese teenwoordigheid van die uitvoerder, is van belang. Performances kan aksies van uitvoerders verlang wat hul nog nie vroeër uitgevoer het nie. Die handigheid of onhandigheid van die uitvoerder is eerder vir my bepalend ten opsigte van

die graad of kwaliteit van die performance, maar met of sonder die kundigheid, vlak van ervaring of vaardigheid van die performer in die uitvoering, bly die aktiwiteit nog steeds performance in essensie. Die aktiwiteit is hier en in enige performance van belang en nie hoe goed of sleg dit uitgevoer word nie.

Nog ‘n belangrike aspek van performance in Carlson (1996:3) se beskrywing hierbo is die aspek van demonstrasie. Dit impliseer ‘n verdeling van betrokkenes by die performance, naamlik dié wat uitvoer of aktief deelneem aan die performance as uitvoerders en dié wat as toeskouers van die performance funksioneer (passiewe deelnemers). Albei hierdie deelnemers moet by die performance teenwoordig wees as dit ‘n demonstrasie is. Sonder die toeskouers by ‘n demonstrasie word die aksie in ‘n sekere opsig futiel, aangesien niemand waarneem wat uitgevoer word nie, behalwe die aktiewe deelnemers aan die aksies.1

Die volgende aspek rondom die beskrywing van performance waaraan Carlson aandag gee, is dubbele gedrag/aksie binne die performance. Met dubbele gedrag word bedoel die gebruik om aksies uit te voer waar die uitvoerders dit nie as ‘hulleself’ uitvoer nie, maar voorgee om iemand of iets anders te wees. Richard Schechner noem dit ‘Restored behaviour,’ dit wil sê “Herstelde gedrag" – ‘n konsep wat later in die studie verder bespreek sal word.

In hierdie bespreking van die konsepte is die vertoning van ‘n vaardigheid ook nie van toepassing nie. Die verskil in ruimte, of die verskuiwing tussen die ‘self’ en die aksies wat uitgevoer word, word beklemtoon. Hierdie verskuiwing tussen die rol wat vertolk word en die akteur wat die rol in ‘n performance vertolk, sal ook bespreek word in terme van herstelde gedrag en transportasies en transformasies. Die verskuiwing in ruimte is alleen binne, of as gevolg van, ‘n performance sigbaar. Die verskil tussen die ruimte van die performance en die alledaagse lewe kan veral gesien word in hoe die gehoor die handelinge wat beide in performance én in die alledaagse lewe voorkom, raam.

1

In Grotowski se latere eksperimentele werk soos parateater, was daar nie toeskouers teenwoordig nie. In sekere gevalle is die primêre doel van die performance nie ‘n demonstrasie nie. In hierdie “Theatre of Sources”, soos Grotowski dit noem, wou hy die illusie van die teater (Total theatre) verbreek en dit vervang met die belofte van ‘n Totale Lewe (Blau in Schechner en Appel: 1991:251) en Grotowski in Schechner & Wolford (1997).

Even if an action on stage is identical to one in real life, on stage it is considered “performed” and off stage merely “done” (Carlson 1996:4).

Hierdie dubbele gedrag is nie net in die teater teenwoordig nie. Alle sosiale gedrag word as performed gesien as gevolg van die verskillende sosiale rolle wat ‘n individu vertolk (Carlson 1996:34). Die deelnemers kan, en dit is my argument, nie eens altyd bewus wees van die feit dat hul perform nie, of die aksies word nie as performance of dubbele aksies geag nie; maar van buite geraam, word die aksies as dubbele gebare of herstelde gedrag gesien, wat dit dan as performance sal klassifiseer. ‘n Verdere aspek van die klassifikasie van performance deur middel van hierdie herhaalde of sosiaal geïnduseerde aksies is wéér die motief en/of bewustheid van die aksie. Die doel van die handeling word betrek om daardie handeling te skep en as raam van die performance te dien.

The difference between doing and performing … would seem to lie not in the frame of theatre versus real life, but in an attitude – we do actions unthinkingly, but when we think about them, this introduces a consciousness that gives them the quality of performance (Carlson 1996:4)

Bogenoemde klassifikasies vir die identifisering van performance, en ook vir die gebruike van performance, verskil van die derde aspek van performance wat Carlson bespreek. Tog word die ander aspekte ook betrek in dié sin dat daar ook aktiwiteit betrokke is. In hierdie beskrywing word klem gelê op die vlak van sukses van die aksie. Die sukses van die aktiwiteit kan ook ‘n maatstaf of beoordeling wees of die aktiwiteit wel ‘n performance is (Carlson 1996:5). Die toeskouer word ook by hierdie gebruik van performance betrek, aangesien dit die toeskouers is wat volgens Carlson die beoordeling of meting moet uitvoer en nie die performer of uitvoerder van die aktiwiteit nie. Die verwysingsveld van ‘toeskouer’ en ‘performer’ word egter hier verbreed, aangesien een persoon albei funksies kan vertolk en die tweedelige onderskeiding tussen performer en gehoorlid nie noodwendig meer so duidelik is nie.

Dit is as gevolg van die toeskouer se oordeel dat aspekte wat buite menslike aktiwiteite val (soos die aksies van diere) ook as performance beskryf kan word. As voorbeeld hiervan kan diere binne ‘n sirkus voorgehou word. In die sirkus is die diere besig om te perform, maar vir die diere self is dit nie noodwendig dieselfde nie. Hulle is slegs besig om gekondisioneerde aksies uit te voer. As daar met hierdie voorbeeld weer teruggekyk word na Carlson se eerste beskrywing van

performance, kom die aspek van ‘geskoolde’ of aangeleerde vaardigheid weer na vore wat die aksie van die diere in die sirkusopset ook as performance klassifiseer, alhoewel die diere nie noodwendig die aksies as ‘n demonstrasie sou sien nie, maar bloot as aksies wat vir hulle beloning kan besorg. Tog moet die aksies uitgevoer word in die teenwoordigheid van die persoon wat die diere hanteer of afgerig het, om te verseker dat die diere hul beloning ontvang.

Carlson (1996:5) noem ook die voorbeeld van ‘n motor se performance. Hierdie voorbeeld val natuurlik heeltemal buite die teatrale verwysingsraamwerk, maar dit dui aan hoe die toeskouer verantwoordelik is vir die waarde-oordeel van ‘n performance. As een model motor minder kilometer per liter brandstof as ‘n ander model aflê, word eersgenoemde motor as een beskryf wat slegter perform.

Die meting van die vlak van sukses van ‘n performance, soos aangedui, kan vanuit die toeskouer se geledere kom, maar Bauman in Barnouw (1989:265) beweer dat alle performances aspekte van dubbele bewustheid het waar die aksie gemeet word teen die gedagte van die potensiaal van die aksie. Carlson (1996:5-6) merk in hierdie verband op:

Normally this comparison is made by an observer of the action – the theatre public, the school’s teacher, the scientist – but the double consciousness, not the external observation, is what is most central. (…) Performance is always performance for someone, some audience that recognizes and validates it as performance even when, as occasionally the case, that audience is the self.

As die performance uitgevoer word waar die ‘self’ die toeskouer is, word dit duidelik hoe die dubbele bewustheid van of oor die performance kan funksioneer, asook die belangrikheid daarvan binne die handeling. Die meting van die ‘sukses’ van die performance kan ook die vergelyking behels tussen die aksie wat uitgevoer word en vorige aksies wat herroep word, asook die ideale performance. Die herroeping van ‘n vorige performance as ‘n voorbeeld van herstelde gedrag, is nog ‘n sentrale konsep van performance wat deur Richard Schechner gemunt is. Voor daar na hierdie konsep gekyk kan word, is dit nodig om te kyk na performance-teorie en die verskillende elemente van performance soos deur Schechner uiteengesit is.

Performance is an inclusive term. Theatre is only one node on a continuum that reaches from ritualizations of animals (including humans) through performances in everyday life – greetings, displays of emotions, family scenes, professional roles, and so on – through to play sports, theatre, dance, ceremonies, rites, and performances of great magnitude. (1988:xiii)

Benewens die wye grense wat Schechner aan hierdie term gee, beskryf hy die aard en omvang van hierdie tipes handeling. Hy noem veral dat die semiotiek wat by die lees van ‘n performance betrokke is, nie veralgemeen kan word nie en dat die gronde waarop ‘n lesing van ‘n performance gedoen word, veral deur die verskuiwende persepsies van die gehoor bepaal word, sowel as verder gekompliseer kan word (Schechner 1988:xiv).

Performance sal in hierdie studie volgens sekere eienskappe van die aktiwiteit gedefinieer word, juis ook omdat teater (soos ‘n toneelpopproduksie), ritueel en vele ander vorme van menslike aktiwiteite as performance geklassifiseer kan word. Die fokus van die tipe performance wat in die studie ondersoek word, sal val op die aspekte waar die toneelpop, die masker en die akteur in Afrika gebruik word. Die reikwydte van hierdie tipe performance sluit die opvoerings in ‘n teatrale verband in, maar ook sosiale dramas en gemeenskapsrituele soos religieuse byeenkomste waar die primêre doel van die performance nie noodwendig op vermaaklikheid gefokus is nie.