• No results found

HOOFSTUK 1 KERNBEGRIPPE IN DIE STUDIE

1.1 Die ikoon, medium en simbool

‘n Simbool is ‘n teken, voorwerp of woord wat ‘n bepaalde konsep versinnebeeld. ‘n Simbool is daarom ‘n voorstelling van iets en die verwysing na die voorwerp of konsep wat voorgestel word, is nie noodwendig duidelik nie. In vele gevalle is die oorspronklike verband tussen die simbool as voorstelling en dit wat voorgestel word, verlore. ‘n Simbool is dikwels ‘n arbitrêre voorstelling van ‘n konsep. In die beeldende kunste (en ook in die uitvoerende kuns) is ‘n simbool ook dikwels slegs ‘n verwysing na ‘n konsep of entiteit. ‘n Simbool kan op sy eie net na ‘n spesifieke voorwerp of konsep verwys, maar verwysings na ander voorwerpe of konsepte is ook potensieel in die simbool teenwoordig, wat meerduidige betekenisvlakke aan ‘n simbool kan gee.

‘n Ikoon as uitbeeldingsvorm het verskillende verwysingsraamwerke. Binne die raamwerk van die Westerse kunsgeskiedenis verwys ‘n ikoon meestal na werke vanuit die Bisantynse tydperk. Hierdie uitbeeldings is prente of beelde van geestelikes in miniatuurvorm. Hierdie ikone word volgens ‘n vasgestelde representasie van simbole, elemente van ontwerp en styl geskep (Williams in Cole 1990:7). In Afrika, en veral in gemeenskappe wat van fetisj-beelde in hul gelowe gebruik maak, kom ikoniese uitbeeldings dikwels voor. Die simboliese betekenis wat in hierdie ikoniese representasie gebruik word, kan ook net gelees of verstaan word deur die lede van die gemeenskap wat weet wat die verskillende betekenisse van die elemente is. Vir buitestaanders is die

betekenislae nie noodwendig so voor die hand liggend nie. Dit is duidelik dat ‘n ikoon van simboliese representasie kan gebuik maak. Maar wat is ‘n ikoon? In sy toonaangewende studie oor ikonografie in Afrika-beeldhouwerk sê Cole (1990:12-13):

Visual representations may be called icons when they achieve compelling prominence through frequent repetition in sacred or secular arts. Icons are powerful because they encapsulate ideas and actions of central importance in human life. … Icons may portray local models of personal beauty, family or community harmony, leadership, or ancestral wisdom. Even the ideals of the spirit world are manifested iconically. … The ideals, too, are about people’s hopes and needs, their fears and triumphs – that is, the most vital aspects of African life.

Die ikone wat in ‘n gemeenskap gebruik word, dra ook die sosiale, politieke en religieuse ideale en denkwyses van die gemeenskap waarbinne dit geskep word. Hierdie sienings is egter nie onveranderlik nie en soos Cole (1990:13) aandui, kan hierdie ideale van die gemeenskap in representasie met die verloop van tyd en deur invloede van buite die gemeenskap verander. As hierdie ikone die draers van ideale is, het hierdie representasievorm ook mag binne ‘n gemeenskap. Cole (1990:15) toon aan dat die kuns in Afrika oor die algemeen ‘n verband met mag en ideale het.

Kunsvorme wat van representasie en ikonografie gebruik maak, help ook met die skepping van mag binne ‘n gemeenskap. Die ikoon in Afrika, en daarom ook die masker en toneelpop as ikonografiese uitbeeldings, het die mag om lede van ‘n gemeenskap bo ander lede van dieselfde gemeenskap te verhef. Behalwe vir die mag wat hierdie voorwerp het om ‘n individu te verhef, kan ’n hele gemeenskap ook verhef word. “Masquerades move people, and shrines inspire them. Art persuades, empowers, and transforms” (Cole 1990:15). Cole noem ook dat die gemeenskap hul magte en geloof in ‘n voorwerp kan kanaliseer om ‘n tasbare uitbeelding van hierdie geloof of magte en kragte te wees. Dit is my mening dat, wanneer ‘n voorwerp meer as net ‘n representasie of uitbeelding van ‘n gedagte of persoon is, dié voorwerp dan as ‘n ikoon beskou kan word.

'n Ikoon kan ook van simbolisme gebruik maak. In die ikonografiese uitbeeldings van St George sien ons byvoorbeeld St George wat ‘n draak doodmaak. As historiese figuur het St George nooit ‘n draak doodgemaak nie. Die draak in hierdie ikoniese uitbeeldings van die heilige is die simbool van sonde. In Afrika vind ons dat die tradisionele masker dikwels ‘n voorstelling van ‘n voorvadergees is. Die gees is egter onsigbaar en die voorkoms van die masker dra simboliese

waarde, soos byvoorbeeld die feit dat ‘n masker vier oë kan hê om aan te toon dat die voorvadergees na binne en na buite kan sien, soos gesien kan word in die maskers van die Teke- Tsaye in die Kongo (Fagg 1980:123).

Die medium, aan die ander kant, bly net ‘n representasie en ‘n kanaal of enkoderingsmetode vir ’n spesifieke boodskap. Darkowska-Nidzgorska (1990:19) sê oor die verskil tussen die masker en toneelpop as ikone en mediums:

Ons wonder gereeld oor die aard van die verhouding tussen die toneelpop- en maskerteater. As die funksie van die toneelpop ‘n effektiewe uitbeelding van die mens is deur ‘n spieël voor hom op te hou, dan is die masker die wyse van transformasie.1

Ek stem nie volkome met hierdie siening saam nie. Albei die voorwerpe het die moontlikheid om te verander, ‘n metamorfose te ondergaan, net soos albei voorwerpe ‘n suiwer representasie kan wees. Performance bring hierdie veranderde aard van die voorwerp na vore. Die verskil tussen ‘n suiwer representasie en ikoniese representasie kan gevind word in die funksie van daardie voorwerp binne ‘n spesifieke performance-genre. As die voorwerp in ‘n sekulêre performance gebruik word, is dit (meestal) net ‘n representasie. Dit is in gevalle waar die masker en toneelpop binne ‘n religieuse performance soos ‘n ritueel gebruik word, dat die ikoniese eienskappe of waardes toegevoeg word tot die mediumskap van die voorwerp. In sulke gevalle verteenwoordig of beeld hierdie voorwerpe nie iets uit nie, hulle is die konsepte/gedagte/persone/geeste teenwoordig in die ritueel. Dagan (1990:64) sê dat binne die rituele konteks die masker en die toneelpop iets anders word. Albei die voorwerpe gaan deur ‘n metamorfose. Binne die sekulêre drama vertolk die voorwerpe slegs ‘n rol en is dit alleenlik ‘n representasie van ‘n karakter.

Dagan (1990:64) noem verder dat die verskil tussen ‘n ikoniese funksionerende voorwerp (hetsy ‘n toneelpop of masker) en ‘n representatiewe medium ook gevind kan word in die narratiewe struktuur van die performance. Sy brei uit:

The narration for masks or puppets in ritual drama is usually a type of monologue, for instance a holy, secret prayer, asking for blessing, while the narration for masks

1

Hierdie aanhaling is vrylik vertaal. Die oorspronklike lees: “Parailles on s’interroge fréquemment sur la nature des relations entre le théâtre de la marionette et la théâtre du masque. Car, si la function de la marionette est de bien représenter l’homme pas son double, le masque serait son appareil de metamorphose.”

and puppets in secular drama is a dialogue drawn from reality … Consequently, ritual masked dancers or puppeteers can manipulate an audience to a much greater degree because spectators believe that the mask or puppet is possessed by a supreme power, and that the manipulator is both physically and emotionally possessed.

Hierdie magte of kragte van besitname en ikoniese uitbeelding is binne die sekulêre performance- ruimte nie haalbaar nie. Die gebruik van simbole in die representasie kan ook in beide ikoniese en mediums van uitbeelding teenwoordig wees. Ek sien die simboliese waarde van ‘n masker en/of toneelpop in sekere ikoniese uitbeeldings as baie belangrik, want as ons kyk na wat Proschan (1983:5) oor ikoniese representasie sê, ontstaan daar ‘n duidelike probleem as die toneelpop en masker in Afrika bestudeer word:

By material images of humans, animals, or spirits I mean to impose a minimum requirement of iconicity (factual resemblance, similarity, likeness) between object (sign-vehicle) and the animate being for which it stands.

Die ikoon in Afrika verwys vele kere na konsepte of bonatuurlike wesens waarvoor daar geen spesifieke visuele verwysing is wat as feitelik waar beskou kan word nie. Die simbole wat in die uitbeelding van hierdie konsepte of onsigbare wesens gebruik word, vorm ‘n feitelike verwysingsraamwerk wat deur tradisie geskep en onderhou word. Die simbole funksioneer nie net in die geval van ikone op hierdie wyse nie, maar ook in die geval van maskers en toneelpoppe as mediums, op presies dieselfde wyse. Die simbole wat gebruik word, is dus die basis van representasie, aangesien die gehoor die simbole en hul verwyingsveld verstaan. Dit sluit aan by Proschan (1980:30) wat sê dat die vorm van representasie nie noodwendig saak maak nie, maar die gehoor moet dit verstaan en met dit wat gerepresenteer word, kan identifiseer. Hierdie identifiserende krag van die toneelpop en masker is baie effektief, veral as visuele simbole, want:

Visual symbols or symbolic acts allow ideas to be shared and reformulated without the use of words, and serve as stores of meaning. They form a particularly important body of records in cultures historically nonliterate (Borgatti 1982:36).

Hierdie identifisering van die voorwerp en die simboliese of ikoniese waarde gebeur deur middel van ‘n leerproses wat binne die kultuur plaasvind. Individue word dus van kleins af geleer wat die betekenis van die voorwerpe is, betekenis wat deur middel van simbolisme geënkodeer word.

Jurkowski (2000a:11) toon aan hoe ‘n representasie in masker- en toneelpopvorm in ‘n gemeenskap geskep kan word. Die voorbeeld wat hy gebruik, is dié van die Bwendes van Zaïre en die ritueel van die Niombo. Die Niombo is ‘n tipe doodskis in die vorm van ‘n groot mensagtige toneelpop, maar dit is ook die naam van die ritueel of performances wat met hierdie figuur gepaard gaan. Die doel van hierdie ritueel is om die afgestorwene die gemeenskap met vrede en geluk te laat verlaat. Hierdie ritueel word dan ook meestal uitgevoer vir die leier of hooggeplaasde lid van die gemeenskap wat so ‘n ritueel sal kan bekostig.

Die voorbereidings vir die Niombo begin as die persoon nog lewe. Die persoon sal ‘n ambagsman aanstel vir die vervaardiging van die figuur. Die kop van die figuur word eerste gemaak en moet al die karaktereienskappe van die lewende persoon hê. Daar moet dus ‘n vorm van representasie of mimetiese uitbeelding wees, maar abstraksie word ook gevind in byvoorbeeld die versiering van die kop. Jurkowski (2000a:12) verduidelik:

In general, the head is made of a red cloth and stuffed with grass and cotton. Its hair is fashioned after the chief’s own crop of hair. Beard and ears are also similar. Eyes are opened and surrounded with a make-up of black and white lines. Cheeks are rounded and lips display teeth filed according to the local fashion. Sometimes mannequin’s lips hold a pipe.

Nadat die kop van die Niombo klaar is, word daar vir die afsterwe van die persoon gewag. Wanneer die persoon dood is, vind daar ‘n uitgebreide proses plaas ter voorbereiding en voltooiing van die Niombo-figuur. Die lyk word vir ses weke oor ‘n vuur uitgedroog en daarna word dit in lappe toegedraai. As die lyk klaar toegedraai is, moet die vorm daarvan verander word om weer soos ‘n mensfiguur te lyk. Hierdie groot figuur word dan getatoeëer met die figure wat op die oorledene se lyf was en ander simboliese tekens en blou ornamente word bygevoeg. Die arms en bene word in ‘n dansposisie gemanipuleer. Die voltooide toneelpop (met die lyk daarbinne) is 3 meter hoog en ten minste 4 meter breed (Jurkowski 2000a:12).

Behalwe vir die oorspronklike representasie wat in die kop van die figuur gevind word, word voorstelling in die res van die lyf nie streng nagevolg nie. Daar is in sekere opsigte ooreenkomste tussen die lewende persoon en die figuur. Hierdie ooreenkomste is voldoende sodat die res van die

gemeenskap weet wie in die Niombo is, of wie daardeur voorgestel word. As die figuur voltooi is, begin die animasie of manipulasie daarvan.

Op die dag van die begrafnis word die figuur sonder sy kop voor die huis van die oorledene geplaas. Vroue en die weduwee sal om die figuur staan en treur. Musikante sal in ‘n sirkel om die figuur begin beweeg en die ander mense van die gemeenskap wat die ritueel bywoon, sal begin hande klap en ritmies saam met die musikante beweeg. Hierna gebeur die volgende:

After some hours of dancing, the host offers food for the manufacturers of Niombo and for the musicians. Now Niombo gets his head fixed; it is fastened to a special platform. The band plays and children and grandchildren of the dead lift Niombo upward many times. Women also jump, imitating this movement (Jurkowski 2000a:12).

Na nog ‘n paar uur se dans sal ‘n geweerskoot afgevuur word wat die teken is dat die prosessie gaan begin. Almal in die gemeenskap neem aan hierdie prosessie deel. Die jong lede van die gemeenskap sal die platform waarop die Niombo staan, op hulle skouers tel en nou sal die animasie en manipulasie van die toneelpop meer uitgebreid wees. Die Niombo sal maak asof hy nie na die begraafplaas wil gaan nie en al die plekke wat hy gedurende sy lewe gesien het, gaan herbesoek, en veral die huise van die vroue met wie hy verbind was (Jurkowski 2000a:13).

Die ritueel eindig soos volg:

By accident they carry him to the court of the Christian mission, but Niombo shows its disappointment and finally allows itself to be carried to the grave. After having a short dialogue about what is the best way to bury Niombo, the participants of the ceremony throw it into the grave, shout triumphantly and joyfully, and continue their dances and games (Jurkowski 2000a:13).

As daar na die bostaande voorbeeld gekyk word, sien ons duidelik hoe die masker-pop2 van die Niombe as ikoon funksioneer. Behalwe vir die representasie van die masker wat soos die afgestorwe persoon lyk, is die lyk van die persoon binne-in die figuur. Nie net verteenwoordig

2

In hierdie voorbeeld is dit duidelik hoe die grense tussen die masker en die toneelpop onduidelik kan wees. Die

Niombo kan as ‘n masker gesien word, aangesien dit ‘n lyf versteek, maar dit kan ook as ‘n toneelpop gesien word,

aangesien die manipulasie van ‘n eksterne bron afkomstig is. Daarom, en vervolgens in die tesis, sal daar na masker- poppe verwys word as die manipulasie op dieselfde wyse uitgevoer word en die voorwerp nie presies as masker of toneelpop geklassifiseer kan word nie.

hierdie figuur die afgestorwe persoon nie; dit is die afgestorwe persoon. Die representasie van die handeling kom egter van eskterne bronne, naamlik die manipuleerders van die masker-pop. Hierdie handeling is dan die rolspel wat deur die ikoniese verteenwoordiging van die masker-pop uitvoer word. Dieselfde konsep word ook gevind by die Mofu-Gudur van Kameroen. Hier word die ledemate van die lyk gemanipuleer sodat die illusie van lewe daaraan gegee word (Jurkowski 2000a:13).

Die Niombo en die Mofu-Gudur is beide voorbeelde van ikoniese uitbeeldings en van figure wat deur middel van gemanipuleerde handeling representasioneel kan wees. Die rolspel word daarom in die manipulasie van die figure gevind. Die konteks waarin hierdie rituele afspeel, verwys ook na die metafisiese of religieuse aspekte van die gemeenskap, maar hierdie voorwerpe kan nie as fetisj- voorwerpe (wat vervolgens bespreek word) beskryf word nie.