• No results found

Hibriede performances as mengsel tussen die liminale en liminoïse vorme

HOOFSTUK 7 LIMINALE EN LIMINOÏSE VORME VAN PERFORMANCE

7.3 Hibriede performances as mengsel tussen die liminale en liminoïse vorme

Hibriede performances kan beskryf word as performances wat nie meer as liminale performances gesien kan word nie, weens die feit dat die “ernstige” aard van die performance verlore gegaan het. Dit kan ook nie meer as liminoïse beskryf word nie, want afgesien van die feit dat die performances nie meer ‘ernstig’ is nie, het dit nog nie ‘n liminoïse vorm bereik waar dit suiwer vir vermaak uitgevoer word nie. Talle van die voorbeelde wat in hierdie tesis genoem is, kan streng gesproke as hibriede vorme van performance geklassifiseer word.

As voorbeeld kan daar gekyk word na die Bin Sogo Bo-performances van Mali. Hierdie performances het nie ‘n suiwer rituele of religieuse uitkoms nie, maar mitiese of religieuse karakters kan nog steeds in die performance voorkom. Chi Wara is ‘n voorbeeld van die verband wat hierdie performances nog met die tradisionele religieuse sisteme van die Bamana het. Hierdie karakter is die eerste boer op aarde en die mitiese dier wat die mens die aarde leer bewerk het. Die dier het in die aarde verdwyn nadat hy gesien het die mens het geleer hoe om die aarde te bewerk, maar dat hulle lui geword het en die kos verkwis het. Die dans om die gees van hierdie dier op te roep word aan die begin van die reënseisoen uitgevoer nadat die grond bewerk en saad geplant is. Die geloof in hierdie storie en die uitvoering van die dans waarin hierdie maskers voorkom, word nie meer gedoen vir die effektiwiteit van die ritueel nie. Dit het intussen gesekulariseerd geraak, alhoewel die verband met die oorspronklike geloof nog steeds bestaan (African Art Museum of the Society of African Missions – Internetbron).

Jurkowski (2000a:22) sien hibriede performance-sisteme, veral waar toneelpoppe en maskers gebruik word, as ‘n fase in die ontwikkeling van die sakrale/rituele na die suiwer sekulêre vorme van performance. Hy brei uit:

In spite of the continued presence of ritual puppets and their use in the magic activities in Africa, the process of transmission from the primitive, sacred puppets to the theatrical puppets, which serve to entertain participants of the village holidays, came about. Entertaining productions did not immediately find the unified, fictional dramatic structure. They are compositions of many episodes, presenting topical scenes, animals, and also mythic figures such as Une Meven with caiman head, Fanro or the master of water, and the divinity Yankadi or double face and four

breasts.9 … We can guess that here is an example of the transition stage from ritual puppets to theatrical puppets with cognitive and amusement functions.

In situasies soos die inisiasierituele of performances van geheime organisiasies, vertolk hierdie performances sakrale of bonatuurlike temas. Hierdie performances neig dan ook eerder na ‘n ritueel as ‘n dramatiese performance, alhoewel dramatiese of teatrale aspekte in hierdie rituele teenwoordig kan wees. Hierdie performances sal ook nie sakrale of religieuse funksies binne die gemeenskap kan verrig nie, maar tog is daar nog aspekte van sakrale rituele of metafisiese kwaliteit in hierdie hibriede performances oor wat dit ook onmoontlik maak om dit as ‘n liminoïse performance te klassifiseer.

As die ritueel of liminale religieuse performance se uiteindelike doel ‘n resultaat van die een of ander aard is, is die liminoïse performance se doel om te vermaak. Richard Schechner (1988:120) en Ashley en Holloman (1982:68) verwys na die ander verskille tussen die liminale en liminoïse performance en Schechner vergelyk die twee vorme in ‘n tabel met die ritueel of liminale performance aan die linkerkant en liminoïse performances aan die regterkant van die tabel:

Efficacy Entertainment

The Ritual The drama

Results Fun Link to the absent Other Only for those here

Abolishes time, symbolic time Emphasizes now

Brings Other here Audience is the Other

Performer possessed, in trance Performer knows what he’s doing

Audience participates Audience watches

Audience believes Audience appreciates

Criticism is forbidden Criticism is encouraged Collective creativity Individual creativity

9

Hierdie is egter teenpole en dit is net in uiterste gevalle dat daar performances is wat aan al die klassifikasies in een tabel voldoen. Dit is duidelik dat die meeste tipes performances waarmee ons tot dusver in hierdie studie te doen gekry het, nie ten volle in een van hierdie vorme pas nie. Die hibriede vorm van performance pas êrens tussen hierdie twee teenpole in en ‘n performance kan gesien word as ‘n verskuiwing tussen die teenpole. Dit verskuif dus op ‘n kontinuum. Daar sal in Hoofstuk 8 aangetoon word hoe ‘n performance-sisteem wat nader aan die effektiewe rituele pool van performance funksioneer, deur middel van herkontekstualisering, na die ander pool op die kontinuum beweeg.

Die Bin Sogo Bo-performances het byvoorbeeld geen spesifieke resultate wat deur middel van die performance bewerkstellig moet word nie, anders as byvoorbeeld die performances van die Ekon- gemeenskap waar baie spesifieke resultate verkry moet word aangesien hierdie performances religieuse en rituele uitinge is. Dit is in hierdie rituele en religieuse performances waar die afwesige “Ander” – die metafisiese – bevestig word, terwyl hierdie kommunikasie of bevestiging nie in die liminoïse sisteme of vorme teenwoordig is nie.

Ek stem nie volkome saam met Schechner se siening dat die performer nie bewus is van dit wat hy gedurende ‘n liminale performance doen nie. Dit is nie altyd die geval nie. ‘n Goddelike of bomenslike entiteit kan in sekere rituele die uitvoerders daarvan beset, maar dit behoort nie ‘n maatstaf te wees vir die effektiwiteit van ‘n ritueel of religieuse performance nie. As Schechner voorbeelde van uiterste pole wou skep tussen die ritueel of religieuse performance en liminoïse performance, dan maak hierdie punt duidelik sin, maar so ‘n teenpool sluit te veel ander performance-sisteme uit wat nog steeds as effektiewe sisteme met duidelike resultate gesien kan word. Nie alle religieuse performances of rituele maak van beswyming gebruik nie, veral omdat dit nie die enigste manier is om met die bomenslike in aanraking te kom nie. Verder is alle beswymings ook nie noodwendig religieus georiënteerd nie. Dit kan gesien word in performances van Brett Bailey se toneelstukke wat oor die algemeen ‘n duidelike voorbeeld van hibriede performances is. Performances van The Prophet is ‘n puik voorbeeld hiervan, aangesien Bailey van sangomas en outentieke rituele in die performance gebruik gemaak het en van die rituele wat die sangomas uitgevoer het. Die rituele is egter nie as rituele in die Westerse teaterkonteks geraam nie en is daarom slegs op vermaak gerig.

Dieselfde geld ten opsigte van gehoorbetrokkenheid. In Afrika is daar rituele waar spesifieke lede van die gemeenskap, soos vroue en jong kinders, nie toegelaat word om aan die rituele deel te neem nie. Dit beteken egter nie dat hierdie rituele nie ook uitgevoer word vir die lede wat nie teenwoordig is nie. Selfs binne die geheime organisasies of geïnisieerde groepe is daar ook hierargieë wat bepaal wie of wat sekere handelinge binne ‘n ritueel kan uitvoer en wie teenwoordig kan wees met die uitvoer van sekere rituele. Wanneer hierdie rituele egter vir almal binne ‘n bepaalde gemeenskap aangebied word, word daar duidelike gehoordeelname gevind. Gehoordeelname kan ook in hibriede en liminoïse vorme gevind word.

Hierdie voorbeelde vind ek gepaste beskrywings vir die verskil tussen ritueel of religieuse performance en liminoïse vorme. Hibriede vorme kan natuurlik na enige van die twee pole van beskrywing beweeg. Aangesien die hibriede vorme ook na gelang van die aard van die performance tussen hierdie teenpole beweeg, sal die voorwerpe wat in die performance gebruik word ook na gelang van die doel van daardie voorwerpe in daardie spesifieke performance verander. Hierdie siening sluit die funksie van die masker, toneelpop en akteur-manipuleerder as ikone of mediums in. Normaalweg sal hierdie voorwerpe eerder as mediums in die hibriede performance funksioneer, maar die Iyanla masker van die Gelede in Nigerië en Benin bewys ook die teendeel.10

Samevattend kan gesê word dat liminale vorme van performance binne pre-industriële gemeenskappe voorkom en veral in rituele waarin spesifieke uitkomste bewerkstellig moet word. Hierdie vorme van performances sal daarom meestal ook binne ‘n religieuse konteks afspeel, of ‘n konteks waarin die gemeenskap se waardes en norme en die status quo bevestig moet word. Hierdie bevestiging van die waardes en norme van die gemeenskap kan alleen gebeur as die lede van die gemeenskap, byvoorbeeld in ‘n inisiasieritueel, eers uit daardie gemeenskap verwyder word. Sodoende kan hierdie individue die gemeenskap en die strukture waarop die gemeenskap gebou is, objektief waarneem en kommentaar op daardie strukture lewer. Hierdie tydperk waarin die individu buite die gemeenskap beweeg, word egter streng deur die gemeenskap beheer en dit is in hierdie fase dat die individu deur kulturele vorming gaan. Communitas as ‘n

10