• No results found

2.3 DIE ROL VAN DIE STAAT MET SPESIFIEKE KLEM OP DIE PROSESSE WAT

2.3.1 Teorieë en definisies van die staat

Ter aansluiting by demokratiese teorie, gee teorieë oor die staat perspektief met betrekking tot die etiese verantwoordelikheid van die staat as skepper van vertroue en uitvoerder van die sosiale kontrak. Die vertrouensverhouding tussen die groepe in die politie, en magsaspekte wat legitimiteit en regsfunksies van die moderne staat definieer, sowel as staatsfunksies in verskillende demokratiese bedelings word krities ontleed met spesifieke verwysing na die verantwoordelikhede van die staat teenoor die kiesersgemeenskap. Die rol van die staat in ontwikkelende demokrasieë word in detail bespreek, asook die prosedurele en substantiewe staatsverpligtinge in die proses van demokratiese konsolidering. Die maatstawwe vir die funksionering van ʼn suksesvolle staat word binne hierdie raamwerk gekwalifiseer en die rol van

46

die staat in verhouding tot demokratiese beginsels en kiesersvertroue ontleed. Die maatstawwe vir ʼn suksesvolle staat word vasgestel met die doel om dieselfde maatstawwe dan toe te pas op die Suid-Afrikaanse staat.

2.3.1.1 Ideologiese, metafisiese en sosiologiese teorieë van die staat

Vroeë Griekse teorieë van die staat was gebaseer op die ideologiese beginsel van die “ideale beste staat” as die etiese standaard van politieke geregtigheid vir die beste moontlike staat in die werklikheid. Vir Plato wentel dit om die eenheid van etiek en politiek (Nelson, 2006:20). Vir Aristoteles is die beginsel van reg inherent in die konstitusionele evolusie van die staat self en die praktiese deelname van burgers in die politieke lewe van die staat.

Vir Hegel verteenwoordig die moderne staat die hoogste vorm van vryheid (Nelson, 2006:91) en is familie en burgerlike gemeenskap noodsaaklik in die bestaan van die staat (Heywood, 2013:57). Deur die burgerlike gemeenskap word die werklike veranderinge in die formasie van moderne state weerspieël, die skeiding tussen staat en gemeenskap en toenemende differensiasie van funksies wat hierdie proses karakteriseer. Hegel beskou die staat dus as ʼn lewende organisme wat uit klasstrukture bestaan (Nelson, 2006:85-105). Hierdie selfde klassifiseringstelsel, wat die legitimiteit van die staat bepaal, skep ook die uiterstes van armoede en rykdom. Hegel sien die oplossing vir die dilemma in die ontwikkeling van die welsynstaat. Sy sienings is dus nou verbind aan die sosiaal-demokratiese siening van staatsintervensie.

Weber se sosiologiese beskouing van die staat sentreer rondom sosiale aksie soos geanker in die konsep van dominansie. Volgens Weber het die moderne staat die monopolie om mag te gebruik binne sy gebied (Nelson, 2006:115). Dié mag, volgens Weber, moet egter legitiem wees eerder as afgedwonge (Peter, 2017).

2.3.1.2 Die staat as uitvoerder van die sosiale kontrak

Volgens Locke (Nyamaka, 2011:6) is die regering die uitkoms of resultaat van die mense se toestemming en die legitimiteit van die regering berus dus in die wil van die mense. Enigiemand wat sy uitdruklike of stilswyende goedkeuring aan die sosiale kontrak gee, is verplig om die staat se wette te gehoorsaam. Kant se teorie oor die staat sluit aan by die sosiale kontrakteorie: Individue kontrakteer op ʼn morele basis met mekaar om vanuit die “wettelose staat” ʼn wetlike gebied te betree wat deur geregtigheid beheer word, sodat die vryheid van elkeen versoenbaar is met die vryheid van almal (Kukathas, 2008). Kukathas ondersteun Kant se standpunt dat die staat deur regsreël en orde geskep en dus vooropgestel word. Die staat dien ons belange in vryheid deur eerste ons belange in geregtigheid te dien (Kukathas, 2008). Held beklemtoon:

“The government is the result of an agreement among the citizenry and is legitimate only to the extent to which it fulfills the instruction of the general will” (Held, 2006:47).

ʼn Politieke gemeenskap word dus geskep deur ʼn kompromie waar individuele vryhede opgeoffer word in belang van die beskerming van gesondheid, veiligheid, regte en eiendom. In die

47

Westerse demokratiese tradisie is die fundamentele doel van die staat om hierdie regte te beskerm.

2.3.1.3 Definisies en kenmerke van die moderne (demokratiese) staat

Kukathas (2008:1) beskryf die staat as ʼn korporatiewe en politieke assosiasie wat deur die burgerlike gemeenskap geskep word. Korporatiewe assosiasies verwys na die integrasie van institusies en ekonomiese belangegroepe in die bestuur van die staat (Heywood, 2013:103). Met ʼn politieke assosiasie word bedoel ʼn groep mense wat saamkom met die doel om sekere politieke take te verrig. Dit moet dus ʼn struktuur van outoriteit hê, naamlik die staat, om die uitvoering van verskillende aksies te bestuur.

Venter (2014b:85) definieer die staat as:

“An institution through which individuals and groups seek to exercise power (though it is not the only such institution); but it is also an institution that exercises power over individuals and groups”.

Kukathas (2008:6) sluit hierby aan en beklemtoon die feit dat die staat nie ʼn materiële voorwerp is nie, maar bestaan as gevolg van die verhouding tussen mense en groepe. In terme van internasionale reg (Heywood, 2013:58) besit die staat ʼn afgebakende gebied (territoriaal), ʼn permanente bevolking, ʼn doeltreffende regering en die kapasiteit om met ander state te onderhandel.

2.3.1.4 Die skeiding van magte in die staat

Warren (2008:387-389) bevraagteken op watter wyse die funksies van die staat demokrasie genereer, ondersteun en organiseer. Hy identifiseer twee norme: demokratiese state is konstitusioneel en funksioneer onder regsreëls. Volgens Warren (2008:387) hou die relatiewe sukses van demokrasieë nou verband met die staat, aangesien die rol van die staat die bestuur van magte is, waardeur suksesvolle demokratiese regering behaal word. In ʼn konstitusionele demokrasie is die staat meer uitgebreid as die regering – die regering vorm deel van die staat. Die staat verteenwoording almal – die regering verteenwoordig die regerende party en lede. In die konstitusionele staat (soos per die teorieë van Locke en Montesquieu19) stel die beginsel van die skeiding van magte (“trias politica”20) voor dat elk van die regering se funksies (wetgewend,

uitvoerend en regterlik) onafhanklike takke van die regering moet wees (Held, 2006:65).

19 Locke stel ʼn duidelike skeiding tussen die wetgewende en die uitvoerende takke van die regering voor. Montesquieu

argumenteer onder moderne toestande kan vryheid net gebaseer word op die geïnstitusionaliseerde skeiding en balans van magte binne die staat. Sodoende word wigte en teenwigte geskep deurdat staatsmag nie in een liggaam gekonsentreer is nie, maar versprei is (Held, 2006:68).

20 Die term “trias politica” wat “skeiding van magte” beteken, is deur Charles-Louis de Secondat, baron de La Brède et

de Montesquieu, die 18de eeuse politieke filosoof, gebruik en in sy werk Spirit of the Laws (1748) uiteengesit. (The Free Dictionary.com.)

48