• No results found

Die doel van hierdie afdeling is om die metodologie, oftewel die filosofiese basis en werkswyse van die navorsing, uiteen te sit. Hesse-Biber en Leavy (soos aangehaal in Nieuwenhuis, 2016b:51) beskryf metodologie as:

The bridge that brings our philosophical standpoint (on ontology and epistemology) and method (perspective and tool) together".

ʼn Konseptuele raamwerk (paradigma) word dus geskep waarbinne die studie gestruktureer en beskryf word in terme van dataversameling en interpretasie, geldigheid en kritiese ontleding ten einde die sentrale hipotese te ondersteun. Voordele van die betrokke navorsingsmetodiek word beskryf en beperkinge word ook in ag geneem.

1.7.1 Metodologiese fokus van die studie

Die vertrekpunt van die studie lê in die kwalitatiewe benadering (perspektief) wat gevolg sal word. Nieuwenhuis (2007b:51) beskryf kwalitatiewe navorsing as ʼn proses om antwoorde te kry en begrip te vorm van sekere gedragspatrone binne ʼn spesifieke konteks:

“Qualitative research as a research methodology is concerned with understanding the process and the social and cultural contexts which underlie various behavioural patterns and is mostly concerned with exploring the „why‟ questions of research”.

15

Nieuwenhuis (2007b:51) noem verder dat die fokus van kwalitatiewe navorsing te vinde is in die kwaliteit en die in-diepte ontleding van die inligting. Kwalitatiewe navorsing konsentreer op die beskrywing en die semantiek van individuele ervarings wat bestudeer word, sodat die verskynsel verklaar kan word in sy natuurlike konteks, in terme van die betekenis wat dit het vir die deelnemers – “seeing through the eyes of the participants”, soos beskryf deur Nieuwenhuis (2007b:51). Die aard van die studie leen hom ten volle tot hierdie benadering, aangesien dit ʼn in- diepte en vergelykende ontleding behels van kiesers se gedragspatrone binne ʼn spesifieke realiteit, of “real-world setting”, soos gedefinieer deur Nieuwenhuis (2007c:78). Binne die raamwerk van ʼn spesifieke politieke, sosio-ekonomiese, kulturele en historiese realiteit word gepoog om die gedragspatrone en houdings van kiesers te verklaar en in verband te bring met die sentrale hipotese. Die tegnieke wat gebruik word in die kwalitatiewe navorsingsproses neem dus uiteraard die vorm aan van ʼn literatuurstudie, dokument-ontleding en observasie. Binne die konteks van die kwalitatiewe aard van die studie sal die ontleding van die betrokke data vanuit ʼn interpretatiewe oogpunt benader word en dit behels dus ook induktiewe ontledingsprosesse. Die gedagte is dat die kollektiewe data uit spesifieke dele bestaan, wat uiteindelik as ʼn geheel geïnterpreteer sal word. Die beginsel van hermeneutiek, oftewel skrifverklaring, word aangewend, (Nieuwenhuis, 2007a:101), aangesien daar ‟n verskeidenheid data uit dokumentasie versamel sal word, wat die hipotese en navorsingsvrae kontekstueel beskryf en ondersteun. Hier word spesifiek verwys na dokumente wat tekstueel onderliggende demokratiese en grondwetlike beginsels vervat wat in verkiesingsbeloftes verwoord is, soos byvoorbeeld die verkiesingsmanifeste in verskeie nasionale en plaaslike verkiesings, en die ontleding daarvan om uiteindelik die sentrale navorsingsvrae te konfronteer en beantwoord.

1.7.2 Beskrywing van die navorsingsrealiteit (ontologiese en epistemologiese

dimensies)

Vanuit ʼn ontologiese dimensie sal die studie gegrond wees op die kwalitatiewe of “emerging world view” benadering (Nieuwenhuis, 2007b:51). Die studie behels ʼn subjektiewe beskouing van die werklikheid wat ondersoek sal word, uit die aard daarvan dat die navorsing fokus op mense binne hul gemeenskap, interaksie, motiewe en verhoudings. Nieuwenhuis (2007:54) kwalifiseer hierdie veranderlikes verder:

“These motives and relationships are shaped over time, by social, political, cultural, economic, ethnic and other influences, that form the reality of the search paradigm in the external world”.

In terme van die epistemologiese dimensie, naamlik die kennis, of bewyse van die verskynsel in die sosiale omgewing, sal aan die vereistes van die projek voldoen word deur die versameling, studie en ontleding van houdings, waardes en die gekonstrueerde realiteit wat dit verteenwoordig. Dit behels ʼn meer holistiese ontleding van menslike gebeure en gedrag wat dan binne die konteks van die studie verklaar sal word. Die doel van die studie is om hierdie

16

verklaarde realiteit (die erosie van kiesersvertroue) te verbind aan die sentrale hipotese en die doelstellings van die navorsing deur induktiewe rasionalisering en interpretasie. Leedy en Ormrod (2010:96) verduidelik dat die eienskappe van hierdie kwalitatiewe werkwyse juis beteken om die verskynsel op ʼn holistiese wyse te beskryf, verduidelik, ondersoek, induktief te rasionaliseer, interpreteer en subjektiewe kommentaar te lewer.

1.7.3 Integrasie met ander metodologiese prosesse

Nieuwenhuis (2007b:56) verduidelik dat die kwalitatiewe navorsingsbenadering essensieel ʼn oorkoepelende beskouing is en dat ander navorsingsbenaderings onder die kwalitatiewe sambreel ingesluit kan word. Die gebruik van positivistiese metodes op ʼn teoretiese vlak word dus nie uitgesluit nie, aangesien daar in-diepte ontleding van bestaande empiriese, statistiese data gedoen sal word in die ontleding van nasionale en plaaslike verkiesingstatistiek om kiesers se stempatrone en gedrag te beskryf. Die oorhoofse benadering is egter kwalitatief en sal in lyn met punte soos deur Leedy en Ormrod (2010:136,137) gedefinieer, die volgende insluit:

Beskrywing: Beskrywing van gebeure, prosesse en verhoudings en persone wat verband hou

met die verskynsel.

Interpretasie: Dit behels die verkryging van nuwe insigte oor die verskynsel onder die soeklig,

die ontwikkeling van moontlike nuwe teorieë of konsepte oor die verskynsel, en die identifisering van moontlike probleme wat mag bestaan rondom die verskynsel.

Verifikasie: Geldigheid van sekere teorieë, gevolgtrekkings en aannames sal getoets word.

Evaluasie: Evaluasie van die verskynsel sal insluit die beoordeling van die doeltreffendheid van spesifieke regeringsbeleid, uitvoering van gemeenskapsgerigte programme en innovasies.

1.7.4 Geldigheid van die studie

Geldigheid van die studie behels die betroubaarheid, sinvolle betekenis en toetsing van die volledige navorsingsproses. Daar moet verseker word dat die studie deurentyd gekontroleer word, dat die gevolgtrekkings geloofwaardige en geregverdigde uitvloeisels is van die data, en ondersteun word deur die data. Deur ʼn proses van “triangulation” of kristallisering sal interne validiteit verseker word (Maree, 2016:121). Hierdie proses behels die ontginning van veelvuldige databronne, wat deur middel van vergelyking die gevolgtrekkings sal ondersteun en verifieer. Merriam (in Maree & Van der Westhuizen, 2007:38) definieer betroubaarheid in kwalitatiewe studies as “results which are consistent with the data collected”. In terme van eksterne validering, sal die bevindings en aanbevelings die standaarde vir veralgemening binne die breë wetenskaplike gemeenskap handhaaf, deur aansluiting te vind by die bestaande en erkende

17

teorieë rakende die rol van kiesersvertroue binne demokrasieë. Deur middel van in-diepte beskrywing of “thick description” soos deur Leedy en Ormrod (2010:100) beskryf, sal die data so volledig moontlik voorgelê word sodat gesubstantiveerde gevolgtrekkings gemaak word wat die lesers ook in staat sal stel om individuele afleidings te maak volgens hul eie ontleding van die data:

“Through thick description, readers will also be able to draw their own conclusions from the data presented”(Leedy & Ormrod, 2010:100).

Volgens Nieuwenhuis (2016:123) bevorder “thick description” die geloofwaardigheid van die verskynsel onder die soeklig.

1.7.5 Ontginning van databronne

In die navorsingsproses sal veelvuldige bronne versamel en ontgin word. Dit sal insluit: observasie, geskrewe dokumentasie, grondwetlike dokumente, oudiovisuele materiaal, elektroniese dokumentasie, insluitende Internet-materiaal, gepubliseerde navorsing, statistieke en koerantberigte, offisiële politieke party-dokumentasie, soos verkiesingsmanifeste, en gepubliseerde dokumentasie oor regeringsprogramme. Daar word dus hoofsaaklik op inhoudsontleding gekonsentreer om die spesifieke data te ontleed, tabuleer en organiseer. Primêre databronne en databasisse sal die statistiese data insluit wat stemresultate in die nasionale en plaaslike verkiesings vanaf 1994 tot op datum uiteensit. Dokumentasie wat regeringsbeleid en programme soos die HOP (RDP, 1994) en GEAR (GEAR, 1996) en verskeie Witskrifte insluit, asook grondwetlike inligting soos vervat in die Suid-Afrikaanse grondwet self (Suid-Afrika, 1996), sal ook deel vorm van die primêre data. Sekondêre data sal die ontleding van bronne vervat wat die sentrale hipotese ondersteun en die argument dat kiesersvertroue aan die afneem is. Inligting, soos dus in die primêre data vervat, word sekondêr ontleed, gemeet teen die relevante teorieë, en in verband gebring met die beantwoording van die navorsingsvrae soos geformuleer in die studie. Die data-ontleding mag onbekende veranderlikes insluit, maar sal hoofsaaklik inhoudsgerig bly. Leedy en Ormrod (2010:93, 94) beklemtoon:

“Data and methodology are inextricably intertwined. For this reason the methodology to be used for a particular research problem must always take into account the nature of the data that will be collected in the resolution of the problem”.

1.7.6 Beperkinge van kwalitatiewe navorsing wat in ag geneem sal word

Terwyl die proses van kwalitatiewe ontleding die gedetailleerde beskrywing van ʼn verskynsel omvat, is een van die nadele die feit dat die bevindings nie noodwendig statisties verifieerbaar is nie en in terme van veralgemening van die resultate dus nie kwantitatiewe voorspellings bevat nie. Dit kan dus moeiliker wees om ʼn hipotese te toets as met ʼn kwantitatiewe studie.

18

Versameling van data kan tydrowend wees en ook ʼn laer geloofwaardigheidsfaktor insluit. Resultate kan ook beïnvloed word deur subjektiewe persepsies van die navorser.

1.7.7 Eienskappe van kwalitatiewe navorsing wat die studie mag bevoordeel

Kwalitatiewe navorsing is dinamies en dus meer responsief tot veranderinge wat tydens die duur van die studie mag plaasvind. Die fokus mag dalk ook verander. ʼn Verskynsel kan ook in meer detail beskryf word en komplekse verskynsels kan op ʼn meer persoonlike wyse en in-diepte beskryf word. Die aanwending van begrondingsteorie (“grounded theory”) in die werkswyse laat die kwalitatiewe navorser toe om teorieë verder te ontwikkel en uit te bou soos die navorsingstudie vorder en data ontleed word (Nieuwenhuis, 2016c:79). Die term begronding is vasgestel in observasie, ontleding en induksie – vandaar dus die beskrywing van die metode.

1.7.8 Relevansie van die studie op makro, meso- en toepassingsvlak

Om die vraag te beantwoord of die betrokke studie beperk sal wees tot een werklikheid of konteks en of dit universeel van toepassing sal wees, is die uitgangspunt van die navorser dat die resultate en gevolgtrekkings op ʼn makrovlak van belang sal wees. Die studie vind plaas binne die etiese, politieke en sosio-ekonomiese raamwerk van ʼn ontwikkelingsdemokrasie, met unieke historiese en dinamiese geskiedkundige veranderlikes en universele demokratiese prosesse word dus in die plaaslike realiteit onder die soeklig geplaas. Die betrokke studie sluit dus sterk aan by internasionale studies rondom ontwikkelingsdemokrasieë, welsynstate, en post- koloniale demokrasieë in sub-Sahara Afrika. Uiteenlopende besprekings en globale debat rondom die ingrypende rol van die staat, sowel as kritiese besprekings oor etiek en die tendens van wêreldwye afname van kiesersvertroue in demokratiese regeringsbeleid en proses, is nagevors en word by die studie ingesluit.

In die meso-omgewing konsentreer die navorsing dus op nasionale regeringsbeleid en proses en die uitvoering daarvan, sowel as ʼn vergelykende ontleding van die suksesse en mislukkings oor die twee tydperke soos gespesifiseer. Data-ontleding van kiesersgedrag, stempatrone en navorsing gedoen rondom kieserspersepsies, en die gedrag van regeringsamptenare word op ʼn mesovlak ontleed. Die rol van institusies en demokratiese strukture in die prosedurele dimensie van die staat word ondersoek om te bepaal hoe die doeltreffende bestuur van hierdie instellings demokratiese konsolidering bevorder.

Op plaaslike toepassingsvlak sal die gevolgtrekkings en aanbevelings van die studie substantief in verband gebring word met die plaaslike realiteit, wat die insluiting van die nasionale en munisipale verkiesings tot 2016 se uitslae sal vervat, sowel as ʼn vooruitskouing na die 2019 nasionale verkiesing.

19