• No results found

Tendense in die verkiesingsuitslae van nasionale en plaaslike verkiesings in Periode

4.3 ONTLEDING VAN PERIODE 1: 1994-2004 (STYGING IN KIESERSTEUN)

4.3.3 Tendense in die verkiesingsuitslae van nasionale en plaaslike verkiesings in Periode

Die vyf verkiesings (nasionaal en munisipaal) wat in Periode 1 plaasgevind het, is almal deur die OVK as vry en regverdig verklaar, en dit het tot ʼn groot mate tot die verdieping en uitbouing van die demokrasie in die eerste dekade bygedra. (IEC, 2004:59). Kiesers was oor die algemeen tevrede met die verkiesingsproses en beskou die verkiesings as vry en regverdig, en voel dit voldoen aan die standaarde van deursigtigheid en legitimiteit. Stemlokale was toeganklik en stemprosedures maklik om te volg. Prosedureel slaag die transformasionele regering dus daarin om demokratiese beginsels en prosedures rondom vrye verkiesings te vestig en suksesvol te bestuur, ʼn proses wat grootliks in die ander Afrika-state misluk het (Sien Hoofstuk 3, afd. 3.3.2.2.2). Tendense in stempatrone in die vyf verkiesings word geïdentifiseer as:

 Ondersteuning vir die ANC as dominante party

 Oorhoofse afname in kiesersdeelname

 Ondersteuning van opposisiepartye.

Hierdie tendense is beduidende tekens van die demokrasie se gesondheid, die vlakke van kiesersvertroue, en speel ʼn deurslaggewende rol in die mate waartoe suksesvolle demokratiese konsolidering plaasvind.

4.3.3.1 Ondersteuning van die ANC as dominante party

In Periode 1 het die ANC deurlopend met elke verkiesing die boodskap herhaal dat die ANC histories die draer is van demokrasie, sowel as die party van die onderdrukte swart gemeenskap, die werkersklas en die armes. Volgens Letsholo (2005:6) het die ANC politieke retoriek gemanipuleer

139

om die opposisie as rassisties voor te hou en sosiale verskille uit te wys. Hierdie dominante posisie van die ANC versterk in Periode 1 as volg:

 Die ANC wen elke nasionale/provinsiale verkiesing met toenemende kiesersondersteuning, wat die ANC as ‟n dominante, hegemoniese party vestig. ANC ondersteuning neem toe in die nasionale verkiesings van 62,65% in 1994 na 66,35% in 1999, en 69,68% in 2004. (Verwys Tabel 4.9 vir ʼn uiteensetting van die ANC se toenemende ondersteuning op nasionale vlak.) In die parlement domineer die ANC in 2004 met 279 uit 400 setels. De Jager (2015:159) beklemtoon die volgende: “The party appears to have reached its electoral

high water mark in 2004”.

 Hoewel die stemopkoms op plaaslike vlak slegs 48% in 1995/1996 en 49% in die 2000 plaaslike verkiesing is, domineer die ANC ook hier deur al die metrorade in 2000 te wen en in totaal 170 uit 225 munisipaliteite te beheer, sowel as 304 uit 430 setels (71%) in die provinsiale rade te wen.

 Piombo en Nijzink (2005:274) is van mening die debat oor die ANC as dominante party neem nie in ag dat die ANC nie outomaties dominansie verkry het nie. Die dominansie en sentralisering van mag binne die ANC moet ontleed word in die konteks van die pogings wat die ANC moes insit om NIE in die voetspore van ander bevrydingsbewegings in Afrika te volg, wat kort ná onafhanklikheidswording as transformasionele demokrasieë misluk het nie (Piombo & Nijzink, 2005:274). Voortgesette partydominansie is egter een van die faktore wat demokratiese konsolidering kan kortwiek en lei tot mislukking van die demokrasie, aangesien politieke mag ongelyk verdeel word. Veelparty-deelname aan politieke prosesse, wat een van die voorwaardes van suksesvolle demokratisering is, word in die proses benadeel. In Hoofstuk 2, afd. 2.2.6.1, word die eienskappe van ʼn gesonde pluralistiese demokrasie gedefinieer as insluitend van ʼn wye verspreiding van politieke mag onder kompeterende groepe, met geen mag behou in elite-groepe nie (Heywood, 2013:101). Booysen (2011:4) maak egter die stelling dat:

“Popular trust and loyalty are the key phenomena that give the ANC and government these powers”.

Booysen is dus van mening dat die ANC se magsbasis deur kiesers gelegitimeer word, soos deur Dahl in Hoofstuk 2, afd.2.3.4.1, beklemtoon.

140

Tabel 4.9: Die ANC as dominante party

Bron: EISA (2005:11)

4.3.3.2 Oorhoofse afname in kieserdeelname

Terwyl die ANC sy eie posisie as dominante party teenoor die opposisie versterk, toon ontleding van die breër kiesersgemeenskap se stempatrone dat daar wel onderliggende ontevredenheid is met die regerende party se uitvoering van beleid en programme. Marais (2015:376) dui aan die persentasie van SOP wat stem, het skerp gedaal van 89% in 1994 tot 72% in 1999, en verder tot 58% in 2004. Die persentasie van stemgeregtigde kiesers wat wegbly van die stembus styg met meer as 300% oor die tydperk. Dus het slegs ʼn bietjie meer as 50% van Suid-Afrikaners wat stemgeregtig is (volgens SOP) in 2004 hul stemme uitgebring.

SOP neem toe van 23 miljoen in die eerste demokratiese verkiesing na 27,4 miljoen in 2004. Ses miljoen burgers bly egter ongeregistreerd. Dus is daar ook ʼn afname in die proporsie registrasies teenoor die geldige SOP van 80% in 1999 na 75% in 2004 (IEC, 2004), soos in Tabel 4.10 getabuleer.

Tabel 4.10: Ontleding van kiesersdeelname teenoor SOP in nasionale verkiesings: Periode 1

Bron: IEC (2004); Schulz-Herzenberg (2014a:2); Piombo en Nijzink (2005:255)

Alhoewel die ANC ʼn onbetwisbare stygende stemsyfer toon, moet die resultate gesien word teen die vlakke van registrasie en stemopkoms, waar ʼn afname teen die agtergrond van ʼn groeiende bevolking plaasvind. Vyf miljoen meer mense tree tot die SOP toe, maar die

141

ANC werf net 279 585 van hierdie potensiële stemme. Die % van SOP wat vir die ANC stem, krimp van 54% in 1994 na 39,7% in 2004 as gevolg van kiesers wat wegbly van die stembus. In 1999 het 1,6 miljoen minder mense vir die ANC gestem as in 1994.

 In die 2004 verkiesing toon provinsies met groter landelike bevolkings (Oos-Kaap, Mpumalanga en die Vrystaat) hoër stemopkoms as stedelike gebiede.

 Al was die stemopkoms in die 1999 nasionale verkiesing baie hoog (89%), stem slegs 8 882 734 kiesers in die 2000 munisipale verkiesing (48,06%). Die stemopkoms in die 1995/1996 verkiesing was ook slegs 48%.

 Kiesersvertroue is hoog in die 1994 nasionale verkiesing en die stemopkoms as persentasie van die beraamde SOP is 85,53% en 86,9 % van die geregistreerde kiesers. Die persentasie van die SOP wat stem, daal egter van 86% na 72% in 1999, en na 58% in 2004 (minder mense stem).

 Die persentasie stemgeregtigde kiesers wat nie stem nie styg van 14% na 30% in 2004 – meer mense bly weg van die stembus as in 1994 (verwys Tabel 4.10) (IEC, 2004).

Die oorhoofse afname in kieserdeelname raak aan die kern van demokrasie in die praktyk: die deelname van alle stemgeregtigde burgers aan demokratiese prosesse verseker die legitimiteit van die demokrasie (verwys Hoofstuk 2, afd. 2.2.7). Kiesersdeelname word ook direk verbind aan kiesersvertroue – lae deelname is ʼn aanwyser van lae vertroue in die regerende party en lae vlakke van interne politieke doeltreffendheid.

4.3.3.3 Ondersteuning van opposisiepartye

ʼn Gesonde demokrasie word ook gemeet aan die mag en invloed wat plurale groepe, soos opposisiepartye, onder kiesers behou (Hoofstuk 2, afd 2.2.6.1). In SA vaar die opposisiepartye in die oorgangsfase nie goed nie, soos hieronder uitgelig.

 Teen die einde van Periode 1 vestig die DA homself as die amptelike opposisie. As gevolg van kiesers se veranderende behoeftes in die opposisiepartye vorm die hoofopposisie, (aanvanklik ‟n koalisie tussen die DP, NNP, FA en VF), eindelik teen 2004 as ‟n meer eenvormige party, die DA (Demokratiese Alliansie), deur 12,37% van stemme in die 2004 nasionale verkiesing in te palm (Letsholo, 2005:1-13).

 Die wegblystemme beïnvloed nie net die ANC nie, maar ook die opposisiepartye. Die stemme wat die ANC verloor, word nie deur die opposisie gewen nie. Twee miljoen minder mense stem vir opposisiepartye as in 1994. Die wegblystemme is ‟n tendens wat meer onder jonger kiesers voorkom (Marais, 2015: 376).

 Die DA, as opkomende hoofopposisieparty, se ondersteuning neem egter toe en die DA werf 38 setels in 1999 en 60 in 2004. Die IVP se aandeel krimp van 43 setels in 1994 na 28 setels in 2004. Die Nuwe Nasionale Party (NNP), aan die kwyn, krimp van 62 setels in

142

1994 na 7 setels in 2004, saam met die res van die opposisiepartye wat almal steun verloor (Schulz-Herzenberg, 2014:5).

 Hoewel die hoofopposisie as een party (die DA) konsolideer, bly opposisiepartye betreklik swak in terme van breë ondersteuning onder kiesers (slegs 10,2% van SOP in 2004).

 23 partye het deelgeneem aan die verkiesing, maar 15 werf geen setels in die nasionale regering nie. Teenoor die ANC se 252 setels wen opposisiepartye in totaal slegs 148. Die opposisiefront vaar dus swak in die nasionale verkiesing (sien Tabel 4.10).

 Die persentasie kiesers wat vir opposisiepartye stem, daal van 30,6 % na 16,9%; ondersteuning vir opposisiepartye verswak dus met die 1999 nasionale verkiesing en daal verder na 10,2% in 2004.

In Periode 1 is dit duidelik die opposisiepartye kan nie daarin slaag om ondersteuning vir die ANC te verminder nie. Ontevrede kiesers bly eerder weg van die stembus as om teen die ANC te stem. Letsholo (2005:5) bevestig kiesers wat diep ontevrede is met die ANC se prestasie bly eerder tuis as om opposisiepartye te ondersteun.