• No results found

Etiek en politieke leierskap in die makro-omgewing van die demokrasie

2.4 DIE ROL VAN KIESERSVERTROUE IN SUKSESVOLLE DEMOKRATIESE

2.4.2 Die aard van kiesersvertroue in demokratiese bedelings

2.4.2.1 Etiek en politieke leierskap in die makro-omgewing van die demokrasie

Etiek beklee ʼn sentrale posisie in die optimale funksionering van die demokratiese regering (Girardin, 2012:50). Die regering verteenwoordig, beskerm, en voer die etiese en morele waardes van die mense waaroor dit regeer uit. Die persepsie wat die gemeenskap van hierdie verteenwoordiging het, bepaal die vlakke van vertroue van ʼn gemeenskap in hul politieke leierskap. Die openbare vertroue word aan die regering oorhandig en besluite wat deur die regering geneem word, moet dus op ʼn etiese en wettige wyse met integriteit uitgevoer word. Etiese leierskap realiseer dus, volgens Girardin (2012:50), in die nakoming van politieke beloftes

63

soos deur politieke leiers gemaak, hetsy in die proses van bevryding van onderdrukking, of tydens demokratiese verkiesingveldtogte:

“The devil lies in the detail: ethics in politics is realized in the processes of implementation, tools,

systems and individual decisions” (Girardin, 2012:50).

Die gemeenskap se belange en regte moet op alle gebiede (polities en sosio-ekonomies) verteenwoordig word, en so verseker die regering ʼn vrye en wetlike gemeenskap vir al sy burgers.

2.4.2.1.1 Teoretiese benaderings tot etiek in die uitvoering van politieke beleid

Terwyl moraliteit verwys na die individuele bewussyn en persoonlike waardes van reg en verkeerd, word etiek meestal gedefinieer as die meer praktiese sy van morele waardes, belange en welstand van die gemeenskap. Die pilare van ʼn gesonde demokrasie, vanuit ʼn etiese perspektief, kan gedefinieer word as verantwoordelike en toerekenbare leierskap (rekenpligtigheid), deursigtige of openlike staatsbestuur en hoë vlakke van kiesersvertroue (Blind, 2006:19). Weber (soos aangehaal deur Girardin, 2012:51) kom tot die gevolgtrekking dat politieke leiers verantwoordelikheid vir politieke besluite en die gevolge daarvan moet neem. Dit staan bekend as sy teorie van “ethics of responsibility” (Girardin, 2012:51). Hy definieer verantwoordelikheid as die kenmerkendste eienskap van etiek in die politiek en koppel dit direk aan aanspreeklikheid. Girardin sonder vier fundamentele etiese waardes uit wat in ʼn politieke bestel verwesentlik moet word, naamlik beperking van mag (magsbeheer), doelmatigheid (doeltreffendheid), toerekenbaarheid, en geregtigheid (Girardin, 2012:10). Volgens hom staan geregtigheid sentraal tot etiese politiek en beleid. Politieke etiek is nie net ʼn filosofie (visie) nie, maar moet ook prakties uitvoerbaar wees. Die ideaal van etiese leierskap en uitvoering sowel as regulering daarvan in die praktyk moet haalbaar wees (Girardin, 2012:50).

2.4.2.1.2 Die sosiale kontrakteorie en die grondwet as etiese raamwerk van die demokrasie

Die sosiale kontrak is verteenwoordigend van die institusionele vertroue wat kiesers in ʼn regering en regeringstrukture plaas. Regeringsverteenwoordigers tree dus op as die kollektiewe “houer” van die kiesers se vertroue. Die regering se etiese en morele waardes moet dus die gemeenskap sʼn weerspieël (Dames, 2007). Onder die sosiale kontrakteorie is dit eties teenproduktief wanneer staatsamptenare onwettige en onetiese besluite neem wat slegs in eiebelang is.

Die grondwet (as sosiale kontrak) dien dus as etiese raamwerk waarteen demokratiese regering gemeet word deur die formalisering van institusionele reëls, wette en beleidsdoelwitte (Girardin, 2012:47). Die tipe onderhandeling is inherent polities en die opstel van ʼn grondwet bring vanself etiese beginsels na vore, aangesien dit norme, waardes en basiese regte formeel in gedragskodes neerlê. ʼn Grondwet vorm dus die etiese maatstaf waarteen die leiers en burgers

64

van die demokrasie gemeet en regsoewereiniteit gehandhaaf word (Girardin, 2012:47). Dit is die verwesenliking van die oorspronklike beginsels van demokrasie en sosiale kontrakteorie. Etiek as gedragskode of morele standaard, vervat in ʼn grondwet, vorm die basis van die vertrouensverhouding tussen politieke leiers en burgers in die makro-politieke en sosio- ekonomiese omgewing. Volgens Brown (soos aangehaal deur Dames, 2008) handel etiese leierskap in politiek oor “goeie”, regverdige en doeltreffende regeringsbestuur, sodat die doelstellings wat in verkiesingsveldtogte aan kiesers belowe is, tot uitvoer gebring kan word. Hierdie aspek van vertroue is veral relevant in transformasionele demokrasieë, waar die beloftes van vryheid en uitwissing van sosio-ekonomiese ongelykhede, soos armoede, vooropgestel word as primêre doelstellings van die bevrydingsregerings.

2.4.2.1.3 Etiese verantwoordelikheid in die praktyk met spesifieke verwysing na korrupsie

Korrupsie is een van die primêre politieke faktore wat bydra tot die afname in die geloofwaardigheid van regeringsfigure en -instansies. Die persepsie wat landsburgers het van die aanwesigheid van korrupsie in die politiek en openbare sektor beïnvloed hul vlak van vertroue in politieke leiers en regeringsinstansies (Blind, 2006:18). Die positiewe impak van burgerlike gemeenskapsdeelname word maklik vernietig deur korrupsie en die negatiewe uitwerking is onmiskenbaar: dit tap sosiale vertroue en het plaaslik en nasionaal ʼn beperkende uitwerking op ekonomiese groei (Blind, 2006:18). Die bevegting van korrupsie in die praktyk vereis doeltreffende samewerking oor die volle politieke en sosiale sfeer met die konsekwente en gekoördineerde aanwending van politieke, sosiale en persoonlike etiek oor die breë spektrum van die politieke landskap (regstelsel, institusies, assosiasies en individue).

2.4.2.1.4 Politieke partye en leierskap as ʼn relasionele konsep

Die kern van die liberale demokratiese teorie is dat kiesers deur vrye en regverdige verkiesings verteenwoordigers verkies wat hulle in die regering/parlement verteenwoordig. Politieke leiers is dus toerekenbaar en dit word getoets deur openbare opinie. Indien die verteenwoordiger nie voldoen aan vereistes van karakter, motiewe (beloftes), gedrag of prestasie (resultate) nie, word hy uitgestem. Vertroue in en respek vir die politiek en politieke verteenwoordigers is ʼn belangrike bestanddeel vir vreedsame naasbestaan in gemeenskappe en die breër gemeenskap – veral in ‟n demokrasie (Girardin, 2012:69). In moderne demokrasieë aanvaar meeste mense daar moet leierskap wees. Die betekenis van leierskap en gehalte van leiers is egter 'n probleem waarmee die meeste gemeenskappe sukkel. Leierskap is 'n relasionele konsep, wat beteken, in teenstelling met historiese tye van slawerny of feodalisme, leiers in moderne regerings het nie permanente volgelinge nie. Leiers is nie onvervangbaar nie, maar beset die posisie deur middel van 'n verhouding met diegene wat hulle verteenwoordig, en kan vervang word. Volgelinge kan dus ook leiers word.

65

2.4.2.2 Demokratiese strukture en staatsinstansies in verhouding tot kiesersvertroue in