• No results found

2.3 DIE ROL VAN DIE STAAT MET SPESIFIEKE KLEM OP DIE PROSESSE WAT

2.3.7 Die rol van die staat in die transformasionele demokrasie

Die transformasionele staat word gedefinieer as ʼn staat in oorgang vanaf ʼn outokratiese of koloniale regime na demokratiese regering (Nelson, 2012a:532). Die transformasionele staat word ingesluit by die breë ontwikkelingsparadigma en, in terme van die studie se fokus, word die klem geplaas op die konsolidering van die demokrasie binne hierdie oorgangsproses. Naas die ontwikkeling van menslike bronne ondersteun Edigheji (2010:71) ook die beginsel van sterk

55

ekonomiese en welsynstrategieë as die basis van ontwikkelingstate in Afrika. Die redes vir transformasie word hieronder uitgelig, sowel as die fases van transformasie, en die rol wat kiesersvertroue in die suksesvolle oorgang na ʼn demokratiese staat speel.

2.3.7.1 Redes vir transformasie: Teoretiese onderbou

Wnuk-Lipinski en Fuchs (2005:52) stel dié vraag:“What is the driving force behind transition to

democracy?” en kwalifiseer dit verder deur die ideaal van vryheid en gelykheid uit te lig as die

hoofdryfveer en doelstelling van transformasie. Hulle bevraagteken egter die verhouding tussen die twee konsepte: Wat is belangriker – vryheid of gelykheid? Die dominante mobiliserende faktor in die vroeë fases van die oorgangsproses is bevryding, wat gepaard gaan met die populêre idealistiese geloof dat vryheid ʼn klomp ander waardes ook sal waarborg. Wanneer die oorgangsproses deurgevoer is en mense begin besef dat vryheid nie al die ander voordele waarborg nie, begin gelykheid ʼn rol speel as ʼn mobiliserende mag – as ʼn ideologiese veronderstelling sowel as ʼn pragmatiese oogmerk. Die onderliggende frustrasie is altyd die omstandighede rondom sosiale verarming – die rykes bly ryk en die armes bly arm.

Volgens Nelson (2012a:533) kan demokratisering op een van die volgende maniere geskied:

 Evolusionêr: deur natuurlike ontwikkeling oor eeue, soos in Brittanje

 Revolusionêr: soos tydens die Franse en Amerikaanse revolusies

 Vreedsame instelling deur die regerende elite: soos in verskeie Suid-Amerikaanse state

 Deur buitelandse ingryping: soos in die geval van Wes-Duitsland en Japan.

Nelson (2012a:534) verduidelik demokratisering kan “van bo af”, “van onder af” of “van buite af” plaasvind. Dit kan ook plaasvind deurdat verskillende partye of politieke rolspelers ʼn onderhandelde skikking bereik. Volgens Dahl (soos aangehaal deur Cheeseman, 2015:5) vind politieke transformasie plaas wanneer leiers die koste van onderdrukking opweeg teen die koste van hervorming:

“Leaders are more likely to pursue political liberation when they find the cost of reform to be more acceptable than the cost of repression” (Cheeseman, 2015:6).

Kotze (2015a:10) sluit by hierdie siening aan en beskryf die rede vir transformasie as ʼn legitimiteitskrisis, waar die outoritêre regime nie langer sy oorheersing kan regverdig nie. Dié legitimiteitskrisis word gedryf deur die opposisie en toepassing van revolusionêre metodes, met die gevolg dat die outoritêre regering nie langer die bevolking kan onderdruk en uitsluit uit politieke deelname nie. Die koste van onderdrukking raak polities en finansieel onbeheerbaar, en daar is groeiende plaaslike en internasionale druk om vanaf ʼn outoritêre regime na ʼn demokratiese politieke orde oor te skakel. Nelson (2012a:533) haal Welzel se tipologie van die demokratiseringsproses aan. Welzel onderskei die volgende vier tipes:

56

 Responsiewe demokratisering: die dominante vorm van demokrasie, soos deur die demokratiese golfbewegings toegepas

 Opportunistiese demokratisering: waar internasionale hulp aan goeie regeringsbestuur gekoppel is

 Gedwonge demokratisering: waar die elite instem om te demokratiseer, deur eksterne druk. Terwyl daar verskeie definisies en teorieë rondom demokratisering bestaan, verwys Nelson (2012a:533) na Dahl se teorie oor die wyse waarop die demokratiseringsproses plaasvind. Volgens Dahl omsluit demokratisering twee dimensies, naamlik liberalisering (die reg om om openbare posisies mee te ding) en inklusiwiteit (die reg om deel te neem). Wang (2002:3) identifiseer sekere voorvereistes vir suksesvolle demokratiese konsolidering, wat deur ʼn doeltreffende staat bedryf moet word. Volgens hom moet die skeiding tussen staat en regering duidelik gedefinieer wees. Staatskohesie is belangrik en ordelike en vreedsame oorgang word verkies bo revolusionêre transformasies waar etniese verskille en opstande plaasvind. Hoe meer divers die gemeenskap, hoe moeiliker is dit ook om te konsolideer. In multikulturele gemeenskappe word die instelling van demokratiese norme, praktyk en institusies bemoeilik en die nuwe regering moet dus ‟n groot poging aanwend om nasionale identiteit te bevorder. Die vertikale en horisontale integrasie van pluralistiese belangegroepe moet uitgebou word. Die staat moet dus die heterogene eienskappe van vertikale integrasie en horisontale koördinasie tussen groepe bevorder en ondersteun (Wang, 2002:17).

Die suksesvolle oorgang na demokrasie word ook sterk beïnvloed deur die magsverhoudinge tussen die staat en gemeenskap. Volgens Wnuk-Lipinski en Fuchs (2005:54) hang konsolidasie van nuwe demokrasieë ook af van die magsverhoudinge in al die fases van transformasie. Magsewewig tussen die verskillende klasse in die demokrasie, sowel as staat-gemeenskap- verhoudinge vereis die staat moet gebalanseerde, beperkte outonomie hê om regsreëls met outoriteit toe te pas, en burgerlike institusies en organisasies moet die staat toerekenbaar kan hou.

2.3.7.2 Fases van transformasie in die demokratiseringsproses

Binne die konteks van transformasie verwys die term demokratisering na die oorgang van ʼn outoritêre na ʼn demokrasiestelsel (Nelson, 2012a:532). Kotze (2015a:15) beskryf demokratisering as die proses wat volg op die oorgangsfase. Volgens Kotze (2015a:2) vind demokratiese ontwikkeling, of die konstruksie van demokrasie, in drie fases plaas, naamlik oorgang, demokratisering en demokratiese konsolidasie. Heywood (in Nelson, 2012a:532) beskryf ook die fases van die demokratiseringsproses as die ineenstorting van die heersende regime weens ʼn verlies aan legitimiteit, die konstruksie van die nuwe liberaal-demokratiese strukture en prosesse wat geïnternaliseer word deur sosialiseringsprosesse wat die demokrasie onder die elite en burgery vestig. Die basiese konsensus is dus dat daar oorgangsfases is wat uit

57

minstens drie prosesse bestaan, soos deur Heywood en Kotze beskryf. Wnuk-Lipinski en Fuchs (2005:55) sluit by hierdie ontleding aan en beskryf die fases van transformasie as volg:

Bevryding Oorgang Konsolidasie

Bevryding: Hierdie fase word beskou as die aanvangsfase wanneer die transformasionele

prosesse in werking gestel word.

Oorgang: Die oorgangsfase bestaan uit twee fases: tydens die middelfase funksioneer die

ou sisteem nie meer nie en die nuwe sisteem begin vorm aanneem. In die gevorderde fase is die ou sisteem tot niet en transformasie voltooi. Die nuwe sisteem word in die daaglikse burgerlike en politieke lewe aanvaar en toegepas.

Konsolidasie: Die sisteem stabiliseer, basiese demokratiese institusies funksioneer en

reëls en prosedures word as legitiem deur die gemeenskap aanvaar.

In die aanvangs- en middelfase bly vryheid die primêre mobiliseringswaarde, terwyl gelykheid in die gevorderde fase oorneem as die meer dominante waarde. Daar word gepoog om die stelsel te stabiliseer. Institusionalisering van die nuwe politieke bestel vind plaas, sowel as die instelling van die hele spektrum van regeringsorganisasies in die arena van burgerlike gemeenskap. Ontwikkeling van formele en informele institusies in die demokrasie realiseer en vertroue in hierdie institusies word ʼn belangrike faktor in die stabilisering van die demokrasie. Wnuk-Lipinski en Fuchs (2005:56) beklemtoon burgers se vertroue (institusionele vertroue) in die demokratiese institusies hang af van die nuwe regering se ekonomiese en demokratiese prestasie, asook die regering se reaksie teenoor die behoeftes en verwagtinge van die gemeenskap. Vertroue, ondersteuning en deelname van gewone burgers is noodsaaklik sodat die konsolideringsfase voltooi kan word en tot normalisering van die demokrasie lei. Volgens Suttner (2004:769) is konsolidering van die demokrasie afhanklik van die deelname van burgers tydens en tussen verkiesings, en outonome burgerlike organisasies as organe van direkte demokrasie en selfbemagtiging, wat die belange van die burgers verteenwoordig.