• No results found

Mislukkings op prosedurele gebied in die uitvoering van demokratiese beginsels en

3.3 DIE ROL VAN DIE STAAT EN PROSEDURELE EN SUBSTANTIEWE MISLUKKINGS

3.3.2 Mislukkings van Afrika-regerings op die prosedurele en substantiewe gebied van

3.3.2.2 Mislukkings op prosedurele gebied in die uitvoering van demokratiese beginsels en

Vier punte word hier uitgelig om die argument dat die meerderheid sub-Sahara Afrika-state in die uitvoering van prosedurele verpligtinge misluk het, te illustreer:

 Onsuksesvolle toepassing van die grondwetlike en breë konstitusionele beginsels

 Wanadministrasie van veelpartyverkiesings deur konflik en intimidasie

 Vestiging van die partystaat deur die onderdrukking van opposisiepartye

 Mislukking in die uitbou van sterk institusies.

In die prosedurele dimensie word die strukture geskep wat die demokrasie in die praktyk vestig en bestuur, soos hieronder verduidelik.

3.3.2.2.1 Onsuksesvolle toepassing van die grondwetlike en breë konstitusionele beginsels in Afrika-demokrasieë

Meeste van die state in sub-Sahara Afrika het nie ʼn grondwet gehad voor die verskyning van kolonialisme nie. Albertyn en Goldblatt (soos aangehaal deur Langa, 2006:352) wys uit transformasionele konstitusionalisme vervat basies ʼn sosiale en ekonomiese “revolusie”, wat ʼn rekonstruksie van staat en gemeenskap, insluitende die herdistribusie van mag en bronne volgens egalitariese riglyne, omsluit. Terwyl alle sub-Sahara Afrika-state tans oor ʼn grondwet beskik, is die probleem volgens Fombad (2016:14) dat ʼn “kultuur van konstitusionalisme” ontbreek en die implementering van konstitusionalisme onsuksesvol is, omdat outoritêre leiers dikwels disrespek vir die grondwet toon deur dit te verander om hul mag te versterk en hul termyn van regering te verleng, of sekere etniese of elite-groepe te bevoordeel. Fombad (2016:14) argumenteer hierdie situasie is kenmerkend van verskeie Afrika-regerings en kritiseer die arbitrêre manier waarop konstitusies in sub-Sahara Afrika geïmplementeer word:

93

“When governments feel free to pick and choose which constitutional provision to honour, and which to ignore and when, the raison d‟être of a constitution and constitutionalism in general is called seriously into question” (Fombad, 2016:14).

Volgens Fombad (2016:22) word burgerlike vertroue in die regering, as die hoofagent in die implementering van die grondwet, in gevaar gestel. Die implementering en kwaliteit van konstitusionele regering word soms vertraag deur ʼn “selfbehepte” elite (Fombad, 2016:22), wat konstitusionalisme as ʼn rookskerm gebruik waaragter die onderdrukkende en outokratiese praktyke van die verlede voortgesit word. Ter illustrasie kan die 1996 verkiesing in Zambië voorgehou word. Die leier van die Movement for Multi-Party Democracy (MMD), Frederick Chiluba, bekommerd dat hy die verkiesing teen Kenneth Kaunda gaan verloor, het die grondwet verander sodat “eerste generasie”-Zambiërs verbied is om as kandidate te staan. Aangesien Kaunda se ouers Malawiërs was, kon Kaunda nie weer in die verkiesing staan nie, wat verseker het dat Chiluba die verkiesing deur die manipulasie van die grondwet gewen het (Thomson, 2017:252).

3.3.2.2.2 Die voorkoms van wanadministrasie, bedrog en intimidasie in verkiesings as bydraende faktore in die erosie van kiesersvertroue

“You don‟t arrange elections if you are going to lose them” (Thomson, 2017:254).

Hierdie uitspraak is gelewer deur Kongo-Brazzaville se president, Pacal Kissouba, en is volgens Thomson (2017:254) „n weerspieëling van sommige Afrika-leiers se opinie van veelpartyverkiesings. Die wyse waarop wanadministrasie in verkiesingsveldtogte in Afrika-state deur die leiers van bevrydingsbewegings toegepas is, het grootliks bygedra tot die delegitimering van die regerings en ʼn afname in kiesersbetrokkenheid en institusionele vertroue (Thomson, 2017:244). Terwyl bevrydingsbewegings daarop aanspraak maak dat hulle die nasie verteenwoordig, bestaan die waarskynlikheid dat die nuwe regering in vrye verkiesings vorentoe ʼn verkiesing mag verloor, wat dan die verlies van mag beteken – en volgens die logika van bevrydingsbewegings ʼn “reversal of history” teweegbring (Southall, 2013:97). Southall noem dit ʼn paradoks, aangesien die nuwe regering, juis om mag met legitimiteit te behou, gereeld hul mandaat deur middel van demokratiese veelpartyverkiesings moet hernu. Die verloop van demokratiese Afrika toon egter verkiesingsbedrog, politieke geweld en intimidasie was aan die orde van die dag, en kom steeds voor in verkiesings oor die breë spektrum van Afrika-state (Thomson, 2017:253). Verkiesingsregulasies word in baie verkiesings aangepas om die heersende party te bevoordeel: kiesersregisters word gemanipuleer en selfs vals resultate word verklaar. Die media word ook dikwels geannekseer om eksklusief die regerende party se verkiesingsboodskap uit te dra. Hierdie “persoonlike heerskappy”34 skep ook ʼn ongelyke

34

Diamond (soos aangehaal deur Nelson, 2012b:554) is van mening dat onsuksesvolle demokratisering in Afrika-state hoofsaaklik geleë is in die “patologie van persoonlike heerskappy”, oftewel, neopatrimonialisme. Die term verwys na ʼn

94

speelvak vir opposisiepartye wat, hoewel hulle in veelpartyverkiesings in die meeste Afrika-state deelneem, in die verkiesingsproses benadeel word (Thomson, 2017:252). Opposisiepartye moet meeding met regerende partye wat geen probleem ondervind om finansiële bronne, bedoel vir ontwikkelingsinisiatiewe, te herallokeer om hul verkiesingsveldtogte te finansier nie. President Daniel arap Moi het tydens die 1997 verkiesing in Kenia 100 miljoen dollars, deur die VSA geïnvesteer vir ontwikkelingsdoeleindes, net so aangewend om stemme te koop en so die verkiesing te wen (Thomson, 2017:253). In die aanloop tot die 2006 verkiesing in Uganda, het president Museveni die polisie teen sy hoofopponent, Kizza Bizigye, gebruik en hom laat arresteer en opsluit vir aanklagte van hoogverraad en verkragting. Die aanklagte is later teruggetrek, maar Bizigye is nie die geleentheid gegun om op ʼn gelyke speelvak deel te neem aan die verkiesing nie en Museveni het die presidensiële verkiesing gewen (Thomson, 2017:253). Die bevoordeling van seksionele of elite-belange het ook tot gevolg gehad dat bevrydingsbewegings as regerings nie op die lange duur die geloofwaardigheid en vertroue van kiesers kon behou nie, aangesien hulle oënskynlik nie die balans tussen nasionale en populêre belang suksesvol kon bestuur nie (Southall, 2013:97). Vertroue in die verkiesingsprosesse in Afrika is dus laag en die negatiewe impak daarvan op kiesersdeelname beteken die konsolidasie van die demokrasie kan nie plaasvind nie.

3.3.2.2.3 Die vestiging van die “partystaat” en die onderdrukking van opposisiepartye

“One man, one vote, once” (Clapham, in Thomson, 2017:284).

Alhoewel die meeste leiers in sub-Sahara Afrika hulle ná onafhanklikheid tot demokratiese regering verbind het, is die verdeling van magte tussen verskillende organe van die regering in die praktyk sistematies afgetakel en mag toenemend in die uitvoerende gesag gesentreer (Nelson, 2012b:553). Nelson, in ooreenstemming met Schraeder (in Nelson, 2012b:553), beskryf dit as die “Afrikanisering” van staatsinstellings: die drastiese vergroting van die sentrale burokrasieë; die aftakeling van institusionele wigte en teenwigte; die koöptering, onderdrukking of eliminering van instellings in die burgerlike gemeenskap; die grootskaalse uitbreiding van gewapende magte; en die skepping van persoonlike heersernetwerke.

In sub-Sahara Afrika het twee tipes outoritêre regimes ontstaan: die militêre regime en die eenpartystaat (Cheeseman, 2015:37). Terwyl militêre regimes deur geweld en konflik aan beheer gekom het, het die eenpartystate op ʼn subtieler basis deur afdwinging hul magsbasis versterk en ongeveer 30 jaar lank as ʼn redelik stabiele vorm van regering in Afrika mag behou (Cheeseman, 2015:38). Die argument vir die eenpartystaat het gesentreer rondom “nasionale eenheid” (Thomson, 2017:111). State in sub-Sahara Afrika was etnies baie divers en leiers soos Kwame Nkruma van Ghana, Julius Nyerere van Tanzanië, en vele ander, het aangevoer die

organisasievorm waarin patrimoniale verhoudinge in die politieke en burokratiese stelsels van die demokrasie voorkeur geniet bo regs-rasionele prosedures.

95

eenpartystaat is die beste vorm van regering om stabiliteit en integriteit van die staat te behou. Hierdie argument is met groot sukses gebruik om met veelpartystelsels in hul state weg te doen. Verdere argumente het ingesluit dat die Europese modelle nie van toepassing was op Afrika nie (Thomson, 2017:112) en gesentraliseerde leierskap en beleid op ekonomiese gebied nodig is om ontwikkeling en ekonomiese groei te bevorder.

Dit moet in gedagte gehou word dat die bevrydingsbewegings wat hierdie eenpartyregerings ingestel het met onafhanklikheidswording oorweldigende ondersteuning van die kieserspubliek gehad het (Thomson, 2017:112). Die oorgangsregerings het hoë vlakke van legitimiteit en kiesersvertroue geniet en gevolglik het die bevrydingsbewegings reuse oorwinnings in hul eerste onafhanklikheidsverkiesings behaal. Opposisiebewegings is ook getipeer as verraaiers, aangesien die bevryders die hele nasie verteenwoordig het in die bevrydingstryd en hulself die alleenreg toegeëien het om te regeer (Clapham, 2012:6). In sub-Sahara Afrika-state, soos die geskiedenis bewys, kon opposisiepartye dus nie doeltreffend daarin slaag om ná bevryding regerende partye en veral die presidente te verhoed om hul termyne te verleng en grondwetlike veranderinge te maak nie (African Democratic Institute, 2015). Volgens die Freedom House Index se 2015-studie (Adebayo 2017:10) het Afrika op hede 20 diktators wat reeds langer as 30 jaar aan bewind is en tot onlangs grondwetlike veranderinge aangebring het om hul termyne te verleng. Dié state sluit onder andere in: Ekwatoriaal-Guinee (37 jaar) en Kameroen (34 jaar). In Uganda, Swaziland en Soedan is dieselfde regeringsleiers ook reeds langer as 25 jaar aan bewind. Opposisiepartye in hierdie state is óf heeltemal uitgewis óf bestaan maar besit nie genoeg legitimiteit en ondersteuning om ʼn verskil te maak nie. In Zimbabwe was Robert Mugabe 36 jaar lank aan bewind tot hy in 2017 in ʼn staatsgreep verwyder en Zimbabwe onder militêre beheer geplaas is. Thomson (2017:113) wys uit die eenpartystelsel het in werklikheid die vertrouensverhouding tussen die staat en gemeenskap vernietig, asook vertroue in en legitimiteit van staats- en politieke institusies benadeel.

3.3.2.2.4 Die onvermoë van sommige Afrika-regerings om sterk, toerekenbare institusies te vestig

Bratton en Gyimah (2016:3) maak die stelling dat vertroue gevolge vir ontwikkeling inhou. Vertroue in institusies het ʼn uitwerking op uitkomste soos ekonomiese groei, persoonlike sekuriteit en welsyn, en toegang tot basiese dienste. Hierdie resultate voer weer terug op vertroue, aangesien die persepsie dat institusies doeltreffend en toerekenbaar is, kiesersvertroue versterk. Negatiewe ontwikkelingsuitkomste kan weer die persepsie skep dat politieke institusies onbetroubaar is en vertroue erodeer (Adebayo, 2017:10).

96

Onder koloniale beheer is die fondament gelê35 vir korrupsie en misbruik van mag in die oorgangstate (Cheeseman, 2015:15). Die patrimoniale vorm van regering, soos toegepas deur Afrika-leiers, het geen onderskeid getref tussen openbare en privaat strukture nie. Hierdie sisteme is geïntegreer in die postkoloniale strukture en het leiers in staat gestel om belangrike institusies wat wigte en teenwigte verskaf, soos die regs- en wetgewende liggame, te ondermyn. Gevolglik het postkoloniale burokrasieë nie ontwikkel in meritokrasieë nie, wat toegewyd is aan die nasionale belang en menslike ontwikkeling, maar eerder as fasiliteerders opgetree in die bevoordeling van sekere afdelings van die bevolking (Cheeseman, 2015:15). Dié tipe begunstiging was dikwels etnies of gemeenskapsgebaseerd en het dus gelei tot die ontstaan van state wat gekenmerk was deur swak institusies en ʼn “winner take all” politieke dinamika (Cheeseman, 2015:16) wat etniese verskille beklemtoon het, eerder as om dit te medieer. Zambië kan weereens as voorbeeld dien: nadat Chiluba die verkiesing in 1991 teen Kaunda gewen het, het hy aanvanklik demokratiese beginsels en prosesse ondersteun en ook, in terme van ekonomiese beleid, ʼn vryemarkstelsel begin implementeer. Dit was egter gou duidelik dat, as gevolg van druk van elite-groepe, korrupsie en swak institusionele beheer, die regering onder Chiluba in dieselfde gewoontes as sy voorganger verval. Chiluba het grondwetlike veranderinge aangebring om toerekenbaarheid te elimineer en die beginsels van “goeie regering” vir eiebelang en mag te ondermyn. Die regsinstitusies in Zambië was egter te swak om hom te vervolg. Die Zambiese demokratiese oorgang het dus misluk omdat dit nie ondersteun was deur sterk institusies nie (Kimenyi & Moyo, 2011). In die geval van Botswana en Senegal weer, waar meer deelnemende politieke prosesse en minder neopatrimoniale tradisies bestaan het, het ʼn suksesvoller oorgang na demokrasie in die 1990‟s plaasgevind. Staatsbronne is nie misbruik nie, die veelpartystelsel sowel as eiendomsregte is beskerm, en openbare en privaat domeine is apart van mekaar gehou. Botswana het daarin geslaag om sterk institusies te vestig en word tans wêreldwyd onder die 50 state gereken waar die minste korrupsie voorkom36 (Cheeseman, 2015:16).

3.3.2.3 Mislukkings op substantiewe gebied in die konsolidering van demokrasie in sub-