• No results found

2.4 DIE ROL VAN KIESERSVERTROUE IN SUKSESVOLLE DEMOKRATIESE

2.4.4 Maatstawwe vir die meting van die erosie van kiesersvertroue

Doeltreffende regering behels toerekenbare bestuur van prosedurele en substantiewe funksies soos beleid en strategie, doeltreffende openbare administrasie, en vrye verkiesings om sosio- ekonomiese welvaart vir almal in die demokrasie te bewerkstellig (Keele, 2004:4-5). Kiesersvertroue is dus ʼn weerspieëling van regeringsprestasie (Blind, 2006:20). Volgens Blind bou die regering kiesersvertroue op verskeie vlakke (soos in Figuur 2.2 uiteengesit) as volg:

Morele (politieke) vertroue – deur politieke hervorming: uitskakeling van korrupsie en

persepsie van korrupsie, en ooreenstemming tussen woord en daad

Ekonomiese (institusionele) vertroue – deur klem te lê op ekonomiese doeltreffendheid

en samewerking

Sosiale (interpersoonlike) vertroue – deur implementering van maatskaplike programme

en hervorming wat die burgerlike gemeenskap en welsyn sal versterk

Figuur 2.2 illustreer die elemente van en die interafhanklike verhouding tussen kiesersvertroue, staat en gemeenskap, en verpligtinge van die demokratiese staat wat saamwerk om ʼn kultuur van vertroue te skep. Dié model identifiseer kiesersvertroue se meetbare eienskappe, soos in Hoofstuk 5 op die Suid-Afrikaanse demokrasie toegepas en prosedureel en substantief ontleed, om die omvang van erosie in die drie dimensies van kiesersvertroue (verwys Figuur 2.2) te bepaal.

76

Figuur 2.2: Model van kiesersvertroue: Suksesvolle konsolidering van die demokrasie

Bron: Eie samestelling

2.5

SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het die komplekse maar dinamiese verhouding tussen die demokrasie, staat en kiesersvertroue uitgelig. Verskillende demokratiese bedelings is ontleed in terme van die betekenis wat dit inhou vir gemeenskappe, onder andere die normatiewe ideale van vryheid, gelykheid en deelname van alle burgers aan demokratiese prosesse. Die rol van die staat, as houer van vertroue, is om binne die demokrasie se prosedurele en substantiewe dimensies staatspligte uit te voer met die implisiete toestemming en vertroue van kiesers.

77

Kiesersvertroue funksioneer dus nie in ʼn vakuum nie, maar neem toe of erodeer as gevolg van verskeie veranderlikes in die sosio-ekonomiese omgewing. Die rol van kiesersvertroue en die staat in ʼn demokratiese staatsorde kan as volg saamgevat word:

 Vertroue waarborg legitimiteit van die staat in die uitvoering van beleid en proses.

 Vertroue maak mense gewilliger om te luister na die regering en beleid te ondersteun.

 Mense wat die regering ondersteun, sal bydra en help met implementering van beleid.

 Vertroue lei tot sterk deelname aan sosiale en gemeenskapsprogramme en organisasies.

 Hoë vlakke van kiesersvertroue waarborg hoë kiesersdeelname in verkiesingstyd.

 Hoë vlakke van vertroue stimuleer ekonomiese vooruitgang en stabiliteit in die demokrasie Oorsake van wisselende vlakke van kiesersvertroue kom voor in die makro-, meso- en toepassingsvlakke van die demokrasie. Erosie van kiesersvertroue in demokratiese bedelings vind plaas wanneer:

 Daar nie ʼn duidelike omskrewe en aanvaarde grondwet is nie en die beginsels van die sosiale kontrak nie konstitusioneel toegepas word nie.

 Die regering en regeringsinstitusies nie as legitiem waargeneem word nie.

 Politieke verteenwoordigers en leiers se motiewe en gedrag nie in lyn is met die morele waardes en norme van die gemeenskap nie.

 Doeltreffende deelname aan die volle demokratiese proses nie plaasvind nie. Afname in stemgetalle en wegbly-aksies dui aan vertroue in die demokratiese proses erodeer.

 Prosedurele funksies soos beleid en proses nie doeltreffend uitgevoer word nie; dit skep die persepsie dat die regering nie in die behoeftes van die kiesers voorsien nie (regering nie reaksie toon nie).

 Doeltreffende demokratiese wigte en teenwigte nie bestaan nie, toerekenbaarheid nie in die demokrasie beskerm en toegepas word nie, en persepsies van korrupsie en ander wanadministrasie ontwikkel.

 Gemeenskapsbronne (sosiale kapitaal) en plaaslike regering nie doeltreffend funksioneer nie, wat ontevredenheid in gemeenskappe veroorsaak.

 Armoede, ongelykhede en ander sosio-ekonomiese omstandighede op substantiewe vlak in die gemeenskap nie doeltreffend aangespreek word nie.

 Die demokratiese ideaal ná ʼn tydperk nie in die praktyk bereik word nie. In transformasionele demokrasieë lei dit daartoe dat burgers vertroue in die nuwe regering verloor, wat skadelik is vir die demokrasie.

Teen dié agtergrond verskuif die fokus na die demokratisering van state in sub-Sahara Afrika en vernou die studie tot die ontleding van kiesersvertroue in sub-Sahara Afrika. Die demokratiseringsproses in SA staan nie los van soortgelyke ontwikkelinge in ander Afrika-state nie, veral in konteks van die mislukking van bevrydingsbewegings as doeltreffende regering in

78

Afrika. Die verloop van bevryding en demokratiese oorgang in sub-Sahara Afrika-state word hierna ondersoek om moontlike raakpunte te vind tussen die mislukking van demokratiese konsolidering in hierdie transformasionele demokrasieë en die verloop van demokratisering in SA.

79

HOOFSTUK 3

DIE INVLOED VAN BEVRYDINGSIDEOLOGIE EN ONDOELTREFFENDE

REGERING OP DIE EROSIE VAN KIESERSVERTROUE BINNE DIE

POSTKOLONIALE AFRIKA-KONTEKS

3.1

INLEIDING

In Hoofstuk 3 word die bevrydingsideologie, soos uitgedra deur bevrydingsbewegings in sub- Sahara Afrika26, sowel as die demokratiseringsproses in hierdie state, op ʼn holistiese wyse in oënskou geneem. Die verloop van politieke ontwikkeling in Afrika word nou verbind met bevrydingsideologie en toon die konsolidering van demokrasie in die meeste sub-Sahara Afrika- state oor die afgelope vier dekades was onsuksesvol, wat ook eindelik ʼn negatiewe uitwerking op kiesersvertroue gehad het. Die nalatenskap van die koloniale era en outokratiese regimes wat die demokratiseringsproses voorafgegaan het, het ʼn deurslaggewende invloed op die politieke en sosio-ekonomiese ontwikkeling van die meeste state in sub-Sahara Afrika gehad, waarvan die impak eers in die laaste drie dekades duidelik geword het. Die koloniale beleid van uitbuiting en onderdrukking, soos toegepas deur metropool-state, het perforie-state met onderontwikkelde ekonomieë en swak sosiale strukture agtergelaat, waar armoede en menseregte-oortredings die norm was. Die transformasieproses uit hierdie agtergeblewe omgewings na funksionerende liberaal-demokratiese state was, soos die geskiedenis bewys het, grootliks onsuksesvol tot op hede. Sedert die eerste sub-Sahara Afrika-state in die 1950‟s onafhanklike status verkry het, tot en met 1990, is daar 71 staatsgrepe uitgevoer in verskeie state, wat die konsolidering van demokratiese prosesse feitlik onmoontlik gemaak het (Thomson, 2017:132). Sub-Sahara Afrika- state het grootliks gedegenereer in outokratiese eenparty-regimes waar konflik, korrupsie en antidemokratiese praktyke hoogty gevier het – onder die vaandel van bevryding.

Terwyl die ontleding van die demokrasie in SA die fokuspunt van dié studie vorm, verskaf die breë geskiedenis en nalatenskap van kolonialisme, en die hoofsaaklik onsuksesvolle resultate van transformasie in sub-Sahara Afrika-state, agtergrond tot die sentrale teoretiese tema wat ten doel het om die oorsake van erosie in kiesersvertroue in die Suid-Afrikaanse demokrasie te identifiseer en beskryf. Die sleutelinvloed van bevrydingsideologie op die denkwyse van Afrika- leiers en die hoogs debatteerbare suksesse en mislukkings van demokratisering in sub-Sahara Afrika word in terme van die prosedurele en substantiewe dimensies van goeie regering in demokratiese ontwikkelingstate ontleed. Vervolgens word daar gedebatteer tot watter mate hierdie gebeure gedien het, en steeds dien, as katalisator vir die erosie in kiesersvertroue in transformasionele regerings in sub-Sahara Afrika.

26

Binne die breë Afrika-konteks val die klem op die ontleding van demokratiese regering en kiesersvertroue in sub- Sahara Afrika. Verwysing na “Afrika-state” plaas die konsep onder bespreking binne die Afrika-milieu, maar die fokus van die bespreking is op state in sub-Sahara Afrika.

80

Drie besprekingspunte word vervolgens in die hoofstuk uitgelig en teen die agtergrond van die vereistes vir suksesvolle demokratisering ontleed, naamlik:

 Demokrasie binne die Afrika-konteks en die invloed van bevrydingsbewegings en ideologie op demokratiese prosesse

 Mislukkings van demokrasie en bevryding in sub-Sahara Afrika in terme van die prosedurele en substantiewe verpligtinge van die staat

 Stelselmatige erosie in kiesersvertroue ná bevryding binne die Afrika-konteks.

Hierdie hoofstuk se doel is dus tweeledig: eerstens om die omstandighede uit te lig wat gelei het tot die mislukking van transformasionele demokrasieë in Sub-Sahara Afrika. Tweedens om faktore wat binne die breë Afrika-konteks as maatstaf vir die erosie van kiesersvertroue dien, te identifiseer en aan te wend in die ontleding van die Suid-Afrikaanse demokrasie.