• No results found

2.2 DEMOKRASIE AS REGERINGSVORM IN DIE MODERNE POLITIEK MET VERWYSING

2.2.8 Sosialisering en politieke kultuur

Politieke sosialisering is die proses waardeur mense hul politieke oriëntasie en gedragspatrone ontwikkel (Ranney, 1987:53). Ontwikkeling van houdings en gedrag word aangeleer deur interaksie met familie, skool, portuurgroepe, media, agente en groepe in die gemeenskap. Nasionale identiteit en burgerskap vorm ook deel van hierdie politieke kultuur en is ʼn belangrike aspek in die bepaling van die demokrasie se sosio-psigologiese klimaat, aangesien dit tot die ondersteuning of beperking van demokratiese prosesse bydra. In die demokratiseringsproses is die beskerming en bevordering van sosiale norme en tradisies belangrik in die skep van ʼn nasionale identiteit en ʼn hegte, deelnemende gemeenskap.

Die term politieke kultuur verwys weer na histories-gebaseerde, wydgedeelde waardes en houdings oor die aard van politieke stelsels, wat ʼn verbintenis vorm tussen die burgers en die regering. Volgens Ranney (1987:61) kan politieke kultuur beskryf word as ʼn breë denkwyse oor hoe regering en politiek bedryf moet word. Almond (in Kotze, 1984:277) omskryf politieke kultuur as ʼn stel waardes en gewoontes of rituele, deur ʼn groep mense voorgehou, wat hul politieke gedrag onderskryf en die skakel tussen kiesers en die regering vorm. Politieke kulture is baie belangrik omdat dit die gemeenskap se politieke waarnemings en aksies vorm. Ranney

39

(1987:65) lig ook vertroue in mense (buite die familie) uit as ʼn belangrike komponent van politieke kultuur. Politieke kultuur skep dus die psigologiese omgewing waarbinne die politiek bedryf en openbare beleid geskep word, en bestaan uit feitelike oortuiginge (politieke feite en gebeure), naamlik wat mense glo oor dinge in die politieke wêreld, en politieke voorkeure, wat te doen het met waarvan mense hou of nie (waardes en prioriteite). Volgens Ranney (1987:63) word politieke kultuur gevoed deur demokratiese prosesse soos ekonomiese ontwikkeling, wat sosiale mobilisasie skep en bydra tot ʼn meer deelnemende gemeenskap, en vertroue stimuleer en demokrasie versterk.

2.2.8.1 Sosio-ekonomiese ontwikkeling en politieke kultuur

Sedert Aristoteles is politieke sosioloë in ooreenstemming dat die vooruitsigte vir doeltreffende demokrasie afhanklik is van sosiale ontwikkeling en ekonomiese welsyn (Putnam, 1993:11). Huntington wys op die verband wat bestaan tussen ekonomiese ontwikkeling, sosiale mobilisering, politieke deelname en institusionalisering (in Olivier, 1984:188). Putnam (1993:11) beklemtoon die verband tussen demokratiese suksesse en sosio-ekonomiese faktore. Sy teorie is daar is drie faktore wat verband hou met doeltreffende demokratiese regering, naamlik institusionele ontwerp, sosio-ekonomiese faktore, en sosio-ekonomiese kultuur. Institusionele ontwerp behels die daarstelling van die institusionele strukture wat verteenwoordigende regerings die beste ondersteun. Sosio-ekonomiese kultuur behels die siening dat die vooruitsigte vir doeltreffende demokrasie afhanklik is van sosiale ontwikkeling en ekonomiese welsyn. Ekonomiese ontwikkeling hou verband met modernisering en die skep van rykdom wat weer institusionele prestasie bevorder en demokratiese prosesse stabiliseer. Sosio-kulturele faktore hou verband met burgerlike organisasies en die rol wat dié institusies speel in die uitlewing van waardes en norme in die gemeenskap (Putnam, 1993:11). Die verhouding tussen demokrasie en die ekonomie, en demokrasie en die gemeenskap word vervolgens bespreek.

2.2.8.1.1 Die verhouding tussen demokrasie en die ekonomie

Ekonomiese prestasie beïnvloed die politiek op alle vlakke. Die beloftes wat politici maak, is byna uitsluitlik ekonomies gebaseer. Kiesersgedrag word tot ʼn groot mate deur klas en ander sosio-ekonomiese verskille beïnvloed. Ideologiese verskille sentreer ook rondom eienaarskap en ekonomiese organisasie (Heywood, 2013:202). Inglehart (1999:97) beskou ook ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang as ʼn hooffaktor in die bevordering en stabilisering van demokrasie en bevordering van kiesersvertroue. Ekonomiese vooruitgang bring industrialisasie en transformeer dus die gemeenskap se sosiale struktuur wat verstedeliking, opvoeding, gespesialiseerde werksgeleenthede, groei van netwerke en organisasies, groter gelykheid van inkomste, en deelname in die politiek meebring. Putnam (1993:84) beskryf die interafhanklikheid van suksesvolle demokrasie en sosio-ekonomiese ontwikkeling as volg:

“Wealth eases burdens, both public and private, and facilitates social accommodation. Economic growth expands the middle class, long thought to be the bulwark of stable effective democracy”.

40

Girardin (2012:133) wys die vier primêre ekonomiese take van politiek, soos deur Nobelpryswenner Paul Samuelson uiteengesit, uit as die verbetering van ekonomiese doeltreffendheid; die bevordering van herdistribusie van inkomste; die stabilisering van die ekonomie deur makro-ekonomiese beleide; en deelname aan internasionale ekonomiese politiek.

2.2.8.1.2 Die verhouding tussen demokrasie en die gemeenskap

Cohen (in Warren, 1999:217) kwalifiseer die burgerlike gemeenskap as ʼn sfeer waarin individue bymekaarkom en groepe vorm, gemeenskaplike oogmerke nastreef en belange deel:

“A civic culture of „generalized trust‟ and social solidarity, peopled by citizens willing and able to cooperate in joint ventures, is an important societal prerequisite of a vital democracy”.

Rowly (in Rauth, 2008:8) definieer die burgerlike gemeenskap as: “The non-economic, non-state, and non-political dimensions of society”.

ʼn Hoofeienskap van die burgerlike gemeenskap is vrywillige deelname. ʼn Sekondêre eienskap is pluralisme. Groepe vergader om verskillende doelstellings te bereik, wat van openbare of persoonlike belang mag wees. In ʼn demokratiese gemeenskap staan die burgerlike gemeenskap apart van die staat, wat deur regsreël verhoed word om by burgerlike organisasies in te meng. Dus is die burgerlike organisasie verbonde aan die konstitusionele liberale orde en vryheid van assosiasie (Chambers & Kopstein, 2008:367).

2.2.8.1.3 Die rol van plaaslike regering in die gemeenskap

Sterk, gedesentraliseerde plaaslike regering verseker legitimiteit in gemeenskappe, aangesien plaaslike gemeenskappe verantwoordelikheid neem vir hul eie welsyn en vooruitgang. De Tocqueville is ʼn groot voorstander van die desentralisering van politieke en administratiewe mag, en die ontplooiing daarvan in sterk plaaslike regering (Rauth, 2008:27). Dié konsentrasie van mag en outoriteit op plaaslike vlak stel burgers in staat om deel te neem aan die totstandkoming van ʼn suksesvolle plaaslike gemeenskap. Volgens de Tocqueville verseker ingeligte en aktiewe burgers ʼn gesonde demokrasie:

“The entire country benefits from the infusion of its traditional habits of local government into the ideas, opinions, mores, and laws of the nation as a whole” (Rauth, 2008:27).

De Tocqueville is ook van mening ʼn sentrale regering kan nie in die behoeftes van burgers voorsien nie. Deur plaaslike institusies kan burgers hul behoeftes die beste bevredig, hul opinies lug, en direkte reaksie van die regering kry. Die werklike mag van vrye individue bestaan dus in die gemeenskap(Rauth, 2008:57).

41