• No results found

Vanuit hierdie hoofstuk van die aangrensende wetenskappe het dit duidelik geblyk watter belangrike rol die neurologie, psigiatrie en psigologie in die begrip en kennis van die seksuele verslaafde speel met die oog op pastorale hulpverlening. Vanuit die neurologie is gevind dat daar ’n baie belangrike verband tussen die brein en die liggaam bestaan. Verder het dit ook geblyk dat die brein patrone en denke, sowel as gedrag sterk met mekaar korreleer wat die liggaam direk raak. Daar is ook gevind dat die brein dien as die ‘kontrole kamer’ wat die res van die liggaam op een of ander manier positief of negatief beïnvloed.

Met betrekking tot die funksionaliteit van die brein en die liggaam is gevind dat optimale benutting van die brein van kardinale belang vir enige welslae in die behandeling van verslawing is. Daar is verder gevind dat die groeiende probleem van seksuele verslawing die verslaafde se lewe met onder andere stres, pyn en trauma kan vul. Daar is ook bevind dat seksuele verslawing onbeheerbare kompulsies met pornografie, masturbasie, telefoonseks, Internetseks, bordele, prostitute, sinlose sake, ontkleeklubs, voyeurisme, en ekshibisionisme veroorsaak. Dit blyk uit hierdie hoofstuk dat die stimulering van pornografie wat deur die kyker ontwikkel word, die brein met die seksuele stimulering oorweldig wat vêr verby die natuurlike vlakke van plesier en bevrediging is.

Dit het geblyk dat seksuele verslawing ’n groeiende probleem is omdat persone se lewens met onder andere stres, pyn en trauma gevul kan wees wat aanleiding tot ’n vorm van verslawing kan gee. Daar is gevind dat seksuele verslawing ook beskryf word as nimfomanie, hiperseksualiteit, satyriasis, erotomania, kompulsiewe seksuele

159

gedrag, Don Juanism of Don Juanitaism en 'n persoon wat verslaaf is, het 'n gebrek aan beheer.

Dit het na vore gekom dat die persoon ook alleenheid ervaar dat die basiese verhouding waarop die persoon staatmaak dié is met ’n chemiese substans in plaas van ʼn verhouding met ander persone. Dit het geblyk dat seksuele verslawing parallel hieraan is en in plaas van gesonde verhoudings met andere, word die fokus op ervarings en belewenisse geplaas. Dit blyk dat die verslaafde se verhouding met ʼn ervaring/belewenis telkens die persoon se gemoedstemming kan verander en word dit dan ook die sentrale punt in die verslaafde se lewe.

Belangrike perspektiewe vanuit die Psigiatrie en Psigologie is bespreek en die waarde van die vakdissiplines met betrekking tot die rol in die pastorale hulpverlening aan seksuele verslaafdes is uitgelig. In die bespreking is daar vervolgens ook na die DSM V en ander klassifikasies van seksuele verslawende gedrag gekyk met die oog op pastorale hulpverlening.

Verder is daar ook op die psigologiese agtergrond van die seksueel verslaafde gefokus en dit blyk dat die agtergrond van die seksueel verslaafde ’n direkte rol in die verslaafde se lewe speel. Daar is ook gevind dat daar verskeie aanleidende oorsake is wat van belang is om ’n holistiese blik van die seksueel verslaafde se grootword jare te verkry. Die Psigodinamiese vlak van die seksueel verslaafde is bespreek en persone wat vanuit gesinne kom waar hul emosioneel, fisies, seksueel en geestelik gewond is, rig geweldige skade aan tydens die kinderjare.

Die eienskappe van die seksueel verslaafde is bespreek en daar is gevind dat daar verskeie unieke eienskappe is waaraan die seksueel verslaafde voldoen. Vervolgens het dit geblyk dat die Internet ’n dinamiese rol speel en ook dat die Internetgebruik met betrekking tot seksuele verslawing onbeheerbaar toegeneem het. Dit het verder geblyk dat die vrye toegang wat die Internet bied moontlikhede vir enige persoon skep om in 'n wye verskeidenheid van aanlyn seksuele aktiwiteite betrokke te raak. Die gevaar van aanlyn seksuele verslawing is verder uitgebeeld sowel as die riskante en negatiewe gevolge van die Internet. Die aanleidende faktore is vervolgens ook bespreek sowel as die dinamika van die Internet op die gesin en die negatiewe gevolge wat Internetgebruik met betrekking tot Internetseks het.

160

Dit het ook geblyk dat die impak van Internetseks op vroue ’n groot invloed het en die dieperliggende oorsake van ’n soeke na emosionele vervulling op die Internet deur spesifiek vroue is bespreek. Daar is verder gevind dat daar sekere implikasies van vroue se betrokkenheid by Internetseks is wat geneig is om met normale verantwoordelikhede in te meng. Daar is gevind dat daar baie tyd in beslag geneem word met betrekking tot die betrokkenheid by Internetseks en dat trauma vanuit die verlede het geblyk om ’n merk te los wat moontlik op onder andere Internetseks kan uitloop.

161

AFDELING D: DIE NORMATIEWE TAAK

HOOFSTUK 5

’N PRINSIPIËLE BASIS VANUIT DIE SKRIF MET BETREKKING TOT

DIE PASTORALE BEGELEIDING VAN SEKSUEEL VERSLAAFDES

1. INLEIDING

Dit is noodsaaklik dat die navorsing vanuit die Skrif gefundeer word, want die Skrif is die gesaghebbende bron waaruit die mens beraad kan word en tot getuie van God se groot dade gebring kan word (De Klerk & Van Rensburg, 2005:3). Die Skrif bevat verhale waar gelowiges God se aksies in die verlede herroep en waardeur die weg vir moontlike maniere van hoe Hy weer in die hede en die toekoms gaan optree, gebaan word. Die Heilige Gees is en bly die onderrigter en die begeleier wat ten alle tye as fasiliteerder optree (De Klerk & Van Rensburg, 2005:11).

Die praktiese teoloog Richard Osmer se model vir Praktiese Teologie is op vier verskillende take gebaseer (2008:4-29) soos daar reeds in die vorige hoofstukke vermeld is. In Hoofstuk 4 is die interpreterende taak aangewend om inligting uit die aangrensende wetenskappe te versamel ten einde ʼn beter begrip oor die praktyk van die begeleiding van seksueel verslaafdes te verkry.

In hierdie hoofstuk word daar gepoog om die inligting wat in Hoofstuk 2 en 3 deur die deskriptief-empiriese taak geïdentifiseer is, tesame met die interpreterende aspekte wat in Hoofstukke 4 gevind is, teologies vanuit die Skrif, asook vanuit ander bronne binne die Christelike literêre tradisie te interpreteer. Die normatiewe taak kom in hierdie hoofstuk ter sprake en dit gaan ook hand aan hand met ʼn holistiese, strategiese-teoretiese model vir die pastorale begeleiding van seksueel verslaafdes. Die normatiewe taak wil die antwoord vir die volgende vraag vind: Wat behoort te gebeur? Osmer (2008:4) stel dat die normatiewe fase die fase is waarin daar van teologiese konsepte gebruik gemaak word om sekere episodes en situasies te interpreteer.

162

Met hierdie normatiewe taak in gedagte, verwys Osmer (2008:8) na drie spesifieke elemente wat van belang is:

 ’n Teologiese refleksiestyl waarbinne teologiese konsepte volgens bepaalde episodes, situasies en kontekste gebruik en interpreteer word in die lig van die vrae: Wat weet ons van God? Hoe tree God op? Wat is die mens se reaksies teenoor God?

 Die tweede element hou met die aanwesigheid van etiese beginsels, riglyne en reëls verband wat toepaslik tot hierdie situasie is en ook rigtinggewend vir strategieë en aksies is.

 Derdens gaan dit om betrokkenheid by ondersoekte ervaringe van Christelike tradisies van die verlede en die hede wat eksegetiese rigting in die vorming van patrone van ʼn Christelike lewe gee.