• No results found

SAMEVATTING EN GEVOLGTREKKING

ʼn Kwalitatiewe empiriese studie is onderneem waarin daar van ʼn ongestruktureerde vraelys en gesprekvoering met agt leraars gebruik gemaak is om insig rondom hulle algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel te bekom. Die volgende aantal temas is geïdentifiseer:

• Die eerste tema het oor die vraag: Wat is die profiel van die seksueel verslaafde?, gehandel.

In hierdie verband het elke leraar te kenne gegee dat die profiel van die seksueel verslaafde uit ʼn diverse samelewing van verskillende sosiale omstandighede en agtergronde kom en sluit beide mans en vroue in maar dat die fenomeen drasties by vroue toeneem wat met hierdie kwessie worstel. Dit het ook na vore gekom dat die jonger geslag ʼn groter blootstelling aan veral pornografie het as gevolg van die wyse waarop kinders met selfone en tablette opgevoed word. Dit het ook geblyk dat die leraars se ervaring in die praktyk met lidmate se ouderdomme wat met seksuele

55

verslawing worstel van 14 jaar tot 70 jaar gewissel het en dat hierdie ouderdomme hoëprofiel, welgestelde persone tot jongmense en huisvroue ingesluit het.

• Die tweede tema het met die vraag: Watter simptome word deur die seksueel verslaafde ervaar?, verband gehou.

Hier het geblyk dat al die leraars ooreengestem het dat lidmate wat met seksuele verslawing worstel nie noodwendig uit die staanspoor problematies vir hulle was nie, maar sekere simptome het soms oor ʼn tydperk na vore getree terwyl ander byna onmiddellik sigbaar geword het. Dit het na vore gekom dat by sommige seksueel verslaafdes narsisme sigbaar was. Dit het geblyk dat al die verslaafdes met sekere simptome geworstel het – hierdie simptome het by mans en vroue voorgekom, byvoorbeeld ʼn lae selfbeeld, asosiaal, skuldgevoelens, leef onder veroordeling, gevoelens van hopeloosheid asook leuens wat tot verhoogde vlakke van aggressie en ongeduld bygedra het. Verder is ook gevind dat impotensie by mans, as gevolg van seksuele verslawing, na vore gekom het. Daar is ook gevind dat die ervaring in die praktyk deur die leraars daarop dui dat die seksueel verslaafde se aktiwiteite onnodige tyd in beslag neem en is hulle goeie toneelspelers wat hulle optrede en leuens probeer verbloem. Nog simptome wat algemeen sigbaar by al die leraars was, was onttrekking, afsydigheid van die samelewing en gebroke verhoudings.

• Die derde tema het op die vraag: Wat is die hoofoorsake van seksuele verslawing?, gefokus.

Hier het die meerderheid van die leraars volgens hul ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele probleme worstel, dit aan verwronge en mishandelde kinderjare toegeskryf. Daar is ook gevind dat een van die hoofoorsake van seksuele verslawing die lewensdruk is waaronder mense verkeer en word die verslawing gevolglik ’n uitlaatklep. Daar is verder gevind dat die sosiale media, in al die platforms, ʼn groot oorsaak van seksuele verslawing is. . Dit het verder geblyk dat onkunde, veral ten opsigte van ongedissiplineerde lewenstyle en onkunde rondom geestelike oplossings rondom seksuele verslawing, ook as ʼn hoofoorsaak gedien het. Dit het na vore gekom dat byna al die leraars gebrekkige huweliksverhoudinge ook as ʼn hoofoorsaak genoem het.

56

• Die vierde tema het met die vraag: Wat is die effek van seksuele verslawing op die gesin?, verband gehou.

Die effek is deur al die leraars as negatief en met traumatiese gevolge op die gesin beskryf. Daar is gevind dat traumatiese gebeure in die kinderjare, mishandeling, afwesige ouers, molestering, verkragting, konflik en seksueel verslaafde ouers ʼn duidelike effek op die gesin en spesifiek op die kinders het. Dit het na vore gekom dat die effek van seksuele verslawing op die gesin verwoestend is aangesien dit die lede in die gesin se selfbeeld en hul siening van seks/liefde verwronge laat. Verder is gevind dat seksuele verslawing egskeiding en wantroue veroorsaak. Dit het ook geblyk dat indien ʼn ouer in seksuele verslawing verstrengel geraak het, daar geen emosionele ondersteuning, waardes en vertroue gevestig kan word nie. Daar is verder ook gevind dat die direkte effek van seksuele verslawing verwerping en onstabiele gesinsopsette skep. Dit het na vore gekom dat onstabiele gesinne gevoelens van alleenheid en verwerping veroorsaak het as gevolg van teenwoordige- afwesige ouers. Dit het verder na vore gekom dat daar min of geen vertrouensverhouding tussen die gesinslede was asook geen geestelike aktiwiteite nie. Daar is laastens gevind dat seksuele verslawing aanvanklik nie enige kostes ingesluit het nie maar dat, soos wat die verslawing al meer tyd in beslag geneem het, het daar kostes bygekom wat die gesin se finansies negatief geaffekteer het.

• Die vyfde tema het op die vraag: Watter voorsorgmaatreëls is vir enige terugvalle in plek gestel?, gefokus.

Hier het al die leraars aangedui dat hulle voorsorgmaatreëls in plek gestel het om enige terugvalle te voorkom. Dit het geblyk dat elke leraar sy eie voorsorgmaatreëls in plek het en dat elkeen ʼn vorm van ʼn ondersteuningsnetwerk beskikbaar het. Daar is gevind dat al die leraars goeie vertrouensverhoudinge daar gestel het en ʼn oop- deur-beleid handhaaf indien daar hulp benodig sou word. Daar is ook gevind dat van die leraars, as deel van hul voorsorgmaatreëls, baie sterk Bybelse beginsels volg en hiermee saam ook die seksueel verslaafde aanmoedig om by kerklike bedienings betrokke te raak. Dit het geblyk dat pastorale sorg en ondersteuning ʼn kardinale deel van al die leraars se voorsorgmaatreëls uitmaak.

57

DIE DESKRIPTIEWE EMPIRIESE TAAK

HOOFSTUK 3

KONSEPTUALISERING VAN ‘N VOORLOPIGE MODEL

3.1 INLEIDING EN DOELWIT

Die kern van hierdie hoofstuk is om duidelike merkers vanuit die verskeidenheid van perspektiewe, wat bestaande modelle bied, te identifiseer. Aan die hand hiervan en ook tesame met die resultate van die navorsing uit die ander hoofstukke van hierdie studie sal uiteindelik ʼn eie geïntegreerde holistiese en multidissiplinêre model geformuleer word wat bruikbaar vir die begeleiding van seksueel verslaafdes kan wees. In elk van die modelle wat vervolgens bespreek gaan word, is daar individuele aspekte wat bruikbaar is met die oog op ʼn geïntegreerde model en hierdie aspekte sal uitgewys word. Die onderskeie modelle wat vervolgens onder die loep kom, is dié van die volgende individue of instansies:

- Patrick Carnes - Mark Laaser

- Thomas Whiteman en Randy Petersen - Marnie Ferree

- Stephen Arterburn en Fred Stoeker - Celebrate Recovery

- Die Meier Klinieke - Sam Black

- Covenant Eyes - Luke Gilkerson - Donna Hughes