• No results found

Hoofstuk 1: Inleiding

Hoofstuk 2: Die resultate van die empiriese ondersoek met betrekking tot die pastorale begeleiding van seksueel verslaafdes.

Hoofstuk 3: Konseptualisering van ʼn voorlopige model.

Hoofstuk 4: Perspektiewe vanuit die aangrensende wetenskappe met betrekking tot die begeleiding van die seksueel verslaafde.

Hoofstuk 5: ʼn Prinsipiële basis vanuit die Skrif met betrekking tot die pastorale begeleiding van seksueel verslaafdes.

Hoofstuk 6: Die formulering van ʼn holistiese, strategies-teoretiese model vir die pastorale begeleiding van seksueel verslaafdes.

33

AFDELING B: DIE DESKRIPTIEWE-EMPIRIESE TAAK

HOOFSTUK 2

DIE RESULTATE VAN EMPIRIESE ONDERSOEK MET BETREKKING TOT DIE PASTORALE BEGELEIDING VAN SEKSUEEL VERSLAAFDES

2.1 INLEIDING

In hierdie hoofstuk gaan daar volgens Osmer (2008:11) se beskrywende empiriese taak gepoog word om, deur middel van ʼn empiriese ondersoek, teologiese teorieë en ervaringe te koppel ten einde ʼn praktyk teoretiese modelriglyn daar te stel (Heyns & Pieterse, 1990:76;Van der Ven, 1993:38). Die Prakties Teologiese vertolking van die beskrywende empiriese fase is daarin gegrond dat dit ʼn geestelike komponent binne die lewens van individue, families en gemeenskappe vereis (Osmer, 2008:34). Dit is ʼn geval van om aandag te skenk aan wat in die lewens van individue, families en gemeenskappe aangaan (Osmer, 2008:34).

Verder word ook gepoog om die praksis en teorie te verbind sowel as te oorbrug ten einde ʼn nuwe, sinvolle teorie met die oog op pastorale begeleiding aan seksueel verslaafdes daar te stel (Heyns & Pieterse, 1998:74). Vir sinvolle teorievorming is empiriese navorsing noodsaaklik en sluit dit die “empirie” eksistensiële houdinge, refleksie, gesindhede, norme, waardes, situasies, kwaliteite, uitwerkings en handelinge in (Louw, 1993:67). Heitink (1999:221) stel weer dat die woord empirie (empiricism) ‘ervaring of ondervinding’ beteken. Venter (1993:89) definieer empiriese ondersoeke as die ontleding van ʼn situasie asook die praktyk ten einde ʼn nuwe praktyk teoretiese modelriglyn daar te stel. Empiriese navorsing is ’n sikliese proses van ervaring binne ’n gegewe situasie, waar waarneming, ondervinding (toets of induksie), afleiding (deduksie) en evaluering onderskei word (De Klerk & Du Plooy-Bain, 2012:2). Hierdie term impliseer die empiriese bestudering van die inwerking van die omgewing op die persoon en vice versa, en die ondersoek of die omgewing wel deur die persoon se optrede verander is (De Klerk & Du Plooy-Bain, 2012:2). De Klerk en Du Plooy- Bain (2012:2) stel dus dat die ondersoeke met ’n teorie begin om die werklikheid krities

34

en evaluerend te ondersoek wat in hierdie hoofstuk die pastorale begeleiding aan seksueel verslaafdes is.

2.2 DOELWIT

Die doel van die empiriese ondersoek is gerig om op ’n wetenskaplike wyse ondersoek in te stel na die pastorale begeleiding aan seksueel verslaafdes. Die empiriese ondersoek is dus gerig op die navorsing om wat werklik gebeur het te verken en te beskryf. Hier word Osmer (2008:4) se “Gathering information that helps us discern patterns and dynamics in particular episodes, situations, or contexts” benut om uiteindelik die vraag, “wat gebeur in hierdie situasie?”, te beantwoord. Die doel is dus om dit wat gebeur het te beskryf om sodoende insig en begrip van die verskynsel te verkry wat tot die uiteindelike formulering van praktyk teoretiese modelriglyne om seksuele verslaafdes tot hulp te wees en tot heelwording te begelei, sal bydrae. Soos reeds vermeld val hierdie hoofstuk binne die raamwerk van Osmer se metode, binne die konteks van die beskrywende empiriese taak en gaan dit oor ʼn ondersoek van die vraag: Wat gebeur hier? (Osmer, 2008:4). Op die volgende vloeidiagram van Osmer se metode word die beskrywende empiriese taak in rooi aangedui:

2.3 METATEORIE

Die metateoretiese komponent van die studie sluit die verkenning van toepaslike vakliteratuur en 'n empiriese ondersoek in. Binne die konteks en vir die doeleindes van

Beskrywende empiriesetaak Normatiewe taak Pragmatiese taak Interpreterende taak

35

die empiriese ondersoek sentreer die metateoretiese studie in 'n toepaslike teorie vir die empiriese navorsing vanuit 'n narratiewe benadering.

2.4 NAVORSINGSONTWERP

Mouton en Marais (1992:34) sowel as Terre Blanche, Durrheim en Painter (2006:34) stel dat in die belang van navorsing dit belangrik is dat daar in gedagte gehou moet word dat navorsing nie bloot ʼn meganiese of outomatiese proses is nie, maar dat dit op spesifiek menslike doelstellings van begrippe en die verkryging van insig en opheldering om die oorspronklike navorsingsvraag te kan beantwoord, gerig word. Dit is belangrik dat daar ʼn ontwerp moet wees waarvolgens hierdie proses plaasvind en dat die ontwerp deurentyd ingedagte gehou moet word om sodoende te verhoed dat die navorsing van die oorspronklike navorsingsvraag en die doel van die navorsing afwyk (Mouton & Marais, 1992:34).

Terre Blanche et al. (2006:35) heg hierby aan dat die navorsingsontwerp as die metode dien wat die riglyn vorm om aan ʼn spesifieke doel te voldoen. Henning, Van Rensburg en Smit (2004:25) stel weer dat die teoretiese raamwerk die navorsing in die dissipline posisioneer waarin daar gewerk word en stel die navorser in staat om oor die navorsing te kan teoretiseer. Verder help dit die navorser om duidelikheid oor die aannames, wat oor die onderlinge verbintenisse gemaak word en ook van die manier waarop dinge met mekaar in die wêreld in verband staan, te gee (Henning et

al., 2004:25). Henning et al. (2004:25) beskryf verder dat die teoretiese raamwerk

soos ʼn lens is waardeur die navorser die wêreld beskou. Henning et al. (2004:25) lig verder uit dat daar nie uit die oog verloor moet word nie, dat verskillende akademiese navorsers elkeen die lewe op verskillende wyses beskou afhangende van die onderwerp van navorsing en die doel van hul navraag. Die teoretiese raamwerk verskaf dus, volgens Henning et al. (2004:25), oriëntasie aan die studie en die navorser besin oor die posisie wat daar aangeneem word.

Vanuit ʼn finansiële oogpunt dra die ontwerp daartoe by dat dit vir die navorser die mees ekonomiese scenario ten opsigte van kostes is. ʼn Navorsingsontwerp impliseer ooglopende navorsingsbeplanning en ontwerp en in hierdie sin beteken dit dat daar vooraf besluit word wat gedoen gaan word om sodoende foute uit te skakel en om die onkoste van die navorsing so laag as moontlik te hou (Mouton & Marais, 1992:34). Dit

36

het gebruiklik geword om in die navorsingpraktyk van navorsingsontwerp te praat, veral waar dit hoogs gestruktureerde en gekontroleerde navorsing, met ander woorde eksperimentele studies, aangaan (Mouton & Marais, 1992:34). Daar kan ook van ʼn opname-ontwerp in plaas van ʼn navorsingsontwerp gepraat word en die rede hiervoor kan daaraan toegeskryf word dat daar ʼn groter verfyning van steekproefontwerptegnieke en opnamestudies is wat hoogs gestruktureerd van aard is (Mouton & Marais, 1992:34). Volgens Mouton en Marais (1992:34) is hulle van mening dat daar te veel klem op die feit gelê word dat beplanning en ontwerp regstreeks met gestruktureerdheid en kontroleerbaarheid verband hou. 'n Kwalitatiewe navorsingsontwerp word in hierdie studie gebruik (Berg, 2007:2; Lieblich, Tuvai-Masiach & Zilbert, 1998:12).

2.5 METODOLOGIESE VERANTWOORDING

Heyns en Pieterse (1990:21) stel dat betekenis- en sinvolle teorievorming van empiriese ondersoeke afhanklik is. Venter (1998:89) voeg by en stel dat deur middel van ʼn empiriese ondersoeke, die praktyk en situasie ontleed word en ʼn nuwe praktykteorie daargestel kan word. Heyns en Pieterse (1990:21) heg verder hierby aan dat met empiriese ondersoeke ʼn analise van die praktyk gedoen word deur die versameling, beskrywing en bewerking van empiriese gegewens. Dit gaan dus nie in die eerste plek om die beoefening van die praktyk nie, maar oor die nadink of besinning oor die praktyk (Heyns & Pieterse, 1990:24). Die besinning of nadenke aangaande die praktyk vorm vervolgens ook die kern in soortgelyke ondersoeke (Heyns & Pieterse, 1990:21).

Tans bestaan daar hoofsaaklik twee benaderings van empiriese navorsing, naamlik ʼn kwalitatiewe en ʼn kwantitatiewe benadering (Neuman & Neuman, 1997:14). Daar is ook tans ’n verskeidenheid sosiaal-wetenskaplike navorsingsmetodes vir empiriese navorsing beskikbaar en die verskille tussen, en argumente vir of teen kwantitatiewe teenoor kwalitatiewe metodes is omvattend geboekstaaf (Berg, 2007:1; Rousseau, 2010:198). De Vos et al. (2002:79) stel dat kwantitatiewe navorsing met veranderlikes werk – statistiese ontleding van byvoorbeeld getalle om ʼn teorie te toets, te bevestig of verkeerd te bewys en fungeer vanaf ʼn positivistiese vertrekpunt en poog om die sosiale wêreld objektief te meet en menslike gedrag te voorspel en te beheer. Die filosofiese en metodologiese uitgangspunt van positiwiteit is dat slegs feite en per

37

implikasie statisties verifieerbare gegewens die basis van kennis kan vorm (Deist, 1992:196; Rousseau, 2010:198). 'n Kwalitatiewe benadering is anti-positivisties ingestel. Interpretasie van die beskrywende data wat deelnemers skriftelik of verbaal vanuit hul belewenis meedeel, is daarop gerig om die data of inhoud te verstaan en te interpreteer, in plaas daarvan om dit te probeer verduidelik (De Vos et a/., 2002:79; Rousseau, 2010:198; Schoeman, 2005:119). Volgens Heyns en Pieterse (1990:81) sowel as Rousseau (2010:198) volg kwalitatiewe navorsing ’n induktiewe werkwyse waar gevolgtrekkings uit onderhoudvoering gemaak word, terwyl kwantitatiewe navorsing ’n deduktiewe werkswyse volg waar vraelyste tot ’n interpretasie verwerk word. Berg (2007:3) stel dat dit nie moontlik is om sekere belewenisse betekenisvol op ʼn kwantitatiewe, statistiese wyse of deur middel van syfers uit te druk nie. Kwalitatiewe navorsing volg vervolgens die anti-positivistiese benadering en omvat die interpretasie van beskrywende data wat deelnemers vanuit hul belewenis meedeel. Dit is daarop gerig om die data te verstaan en te interpreteer in plaas daarvan om dit te probeer verduidelik (De Vos et al., 2002:79; Schoeman, 2005:119).

Daar is ʼn ryke verskeidenheid navorsingsmoontlikhede beskikbaar om kwalitatief te verken. Volgens Berg (2007:3) geskied dit die beste vanuit deelnemers se persoonlike perspektief op fenomenologiese ervaringe wat ondersoek word. In hierdie verband is De Vos et al. (2002:79) se beskrywing van iemand wat die verskynsel eerstehands ervaar of ervaar het as ʼn “insider” dus in die kol. “Insiders” kan bes moontlik die beste insig en begrip met betrekking tot hoe ʼn fenomeen daar uitsien of hoe dit funksioneer bied en uiteindelik ʼn waardevolle bydrae lewer hoe dat heelwording bewerkstellig kan word. Volgens Neuman (1997:331) het kwalitatiewe navorsing duidelike karaktereienskappe naamlik:

• Die konteks is krities:

Kwalitatiewe navorsers is van mening dat die betekenis van enige gebeure in ʼn groot mate van die konteks waarin dit plaasvind afhang. Sosiale konteks is dus baie belangrik vir die verstaan van die sosiale wêreld.

• Die waarde van kwalitatiewe navorsing:

Die kwantitatiewe navorser se inligting is op ’n wye verskeidenheid van data gebaseer wat versamel is terwyl, die kwalitatiewe navorser soveel inligting moontlik oor een onderwerp insamel en dit in diepte bestudeer.

38 • Integriteit van die navorser:

Die wyse van aanbieding is die belangrikste manier om die leser se vertroue te verkry en hiervoor is genoegsame inligting nodig. Die kwalitatiewe navorser gebruik sy/haar persoonlike insig en perspektief as mens tot voordeel van die sosiale studie, terwyl sy/haar eie lewens en wêreldbeskouing in ag geneem word. • Basisteorie:

Die kwalitatiewe navorser begin altyd met ʼn basisvraag. Dit veroorsaak ʼn wisselwerking tussen die data en die teorie.

• Proses en opvolg van gebeure:

Tydsverloop is belangrik by kwalitatiewe navorsing. Die evolusie van ʼn spesifieke gebeurtenis word in die opstel van ʼn tydlyn verwoord – in die geval van hierdie studie, gaan dit om die genogram.

• Interpretasie:

Kwalitatiewe navorsing bevat byna nooit diagramme en tabelle met hoeveelhede nie. Data word geïnterpreteer deur betekenis daaraan te gee deur middel van sinvolle oordrag daarvan aan die leser en deur die leser (medenavorsers) se lewens- en wêreldbeskouing in ag te neem.

Volgens Neuman (1997:14) kan die onderskeid tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsingsmetodiek soos volg getref word:

KWANTITATIEWE STYL KWALITATIEWE STYL

Meet objektiewe feite Konstrueer kulturele betekenis Fokus op veranderlikes met

betroubaarheid as sleutelfaktor

Fokus op interaktiewe gebeure met getrouheid as sleutelfaktor

Waarde vry Waarde is teenwoordig en eksplisiet Onafhanklik van die konteks Situasiegebonde

Gebruik baie gevallestudies Gebruik min gevallestudies Statistiese analise Tematiese analise

39

2.6 NARRATIEWE NAVORSING

Die konsepte vertelling (narratief) en/of lewenstories (life story) beklee tans 'n belangrike plek in die sosiale wetenskap (Lieblich et al., 1998:1). Aangesien die mens van nature 'n storieverteller is en taal 'n kardinale deel van ons kommunikasie met ons medemens uitmaak, is dit wat mense oor hulle belewenisse vertel een van die duidelikste maniere om identiteit en persoonlikheid te ontdek (Anderson & Goolishian, 1988:377; Lieblich et al., 1998:7).

Hoe iemand realiteit ervaar en beleef kan hieruit duidelik word aangesien taal die wyse is waarop sosiale gemeenskappe hul beskouing op die werklikheid konstrueer (Anderson & Goolishian, 1988:377; Lieblich et al., 1998:7). Venter (1998:2) stel in hierdie verband dat iemand se taal en kultuur 'n uiters belangrike rol in die daarstelling van sy "storie" speel. Persone se lewenstories kan evaluerend ’n doel in die navorsing van 'n probleem in die werklike lewe dien (Lieblich et a/., 1998:3). Dit kan tot "real

world measures" ten opsigte van "real-life problems" in iemand se kultuur en sosiale

omgewing lei (Lieblich et a/., 1998:5-9). In die konteks van hierdie studie is haalbare hulpmaatreëls (real world measures) vir voorheen seksueel verslaafdes se belewenis nodig.

Dit word eerstehands deur middel van agt (8) leraars se algemene ervaring in die praktyk, wat lidmate het wat met seksuele verslawing worstel, verneem. Tydens hierdie vorm van navorsing het ’n priori hipoteses wat gevorm word voordat 'n ondersoek gedoen word, nie bestaansreg nie (Lieblich et al., 1998:1). Die rigting wat deur 'n narratiewe ondersoek aangedui word, kom gewoonlik vanuit die resultate van 'n navorser/s se persoonlike, dinamiese interpretasie van die vertelling na vore (Lieblich et al., 1998:10). Lieblich et al. (1998:2) stel verder dat die aanname in narratiewe navorsing dat daar geen absolute waarheid oor enigiets by die mens se ervaring van realiteit bestaan nie, moet derhalwe voortdurend in die oog gehou word, omdat daar nie een spesifieke en korrekte lees en/of interpretasie van 'n teks of verhaal bestaan nie. Navorsers wat 'n narratologiese ontledingsmetodiek volg, moet doelgerig wees.

Deist (1992:85) verwys na die doelgerigtheid as epoche: 'n navorser moet sy/haar kennis of idees rakende die onderwerp wat met vorige navorsing verkry is opskort en

40

hom/haar by dit bepaal wat tans gedoen moet word. Leraars moet elkeen vrylik hul eie algemene ervaring in die praktyk met lidmate, wat met seksuele verslawing worstel, weergee – daarom moet 'n navorser daarteen waak dat sy/haar teoretiese standpunt/e nie in die samestelling en bewoording van vrae aan deelnemers deurskemer nie. Die navorser het tydens die navorsingsproses die noodsaaklikheid van epoche besef, veral uit die terugvoer van die studieleiers. In sy kontak met die leraars en hul algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel, het die navorser gepoog om so objektief moontlik te bly. Die navorser het deurentyd neutraliteit met die verkreë data behou om sodoende verskillende moontlikhede te verken (Checcin, 1987:407). Hierdeur is gepoog om die leraars ook genoeg tyd en ruimte te gun sodat hulle, hul algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel in hul eie woorde kon vertel (Anderson & Goolishian, 1988:381).

2.7 DEELNEMERS

'n Eienskap wat bruikbaar in narratiewe navorsing is, is dat die navorsingsvraag 'n rigtinggewende invloed op die keuse van deelnemers kan uitoefen (Lieblich et al., 1998:10; Rousseau, 2010:193). Die narratiewe benadering leen dit daartoe om 'n meer persoonlike benadering te volg sodat deelnemers persoonlik teenwoordig in die navorsingsproses, met die aanbieding van die bevindinge en die bespreking daarvan, kan wees (Josselson & Lieblich, 2005; Van der Merwe, 2005:7). In hierdie studie is leraars betrek om hul algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel, te deel. Die algemene ervaringe van die leraars spruit daaruit voort dat hulle almal etlike jare lidmate, wat met seksuele verslawing geworstel het, tot heelwording kon begelei, wat hulle goed as deelnemers laat kwalifiseer wat volgens De Vos et al. (2002:79) "insiders" is wat die tersaaklike verskynsel eerstehands deur elke lidmaat se verhaal ervaar het. Geen ander kriteria is vir deelname gestel nie. Die keuse van die deelnemers is, met die navorsingsvraag in gedagte, bepaal want deur middel van die keuse kon toepaslike inligting verkry word oor hoe iemand by seksuele verslawing betrokke geraak het, hoe dit belewe is en hoe daarvan wegbeweeg is (Rousseau, 2010:193). Die deelnemers is met verloop van tyd deur die navorser, tydens informele gesprekke met leraars en hul algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel, geïdentifiseer. Die leraars kan dus as 'n doelgerigte steekproef beskou word (Neuman, 2000:198; Rousseau, 2010:193). In

41

hierdie studie val die klem op ʼn verkennende en beskrywende kwalitatiewe benadering waarin daar van agt leraars gebruik gemaak is wat hul algemene ervaring in die praktyk met lidmate wat met seksuele verslawing worstel, deel. Data is deur middel van ʼn ongestruktureerde vraelys verkry wat deur die leraars voltooi is (Bylaag I). Die vraelys is in oorleg met Dr. A. Du Plessis van die Fakulteit Teologie aan die Noordwes- Universiteit, Mafikeng kampus en Dr. L. Snell van die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom kampus, opgestel.

2.8 DATA-INSAMELING

Betekenisse, patrone, reëlmatighede, verduidelikings en moontlike konfigurasies is tydens die proses geïdentifiseer en ook ten opsigte van die identifisering van temas wat toepaslike literatuur en soortgelyke studies sal impliseer, gekontroleer.

Die eerste fase van data-insameling was om die geïdentifiseerde leraars telefonies te nader om te verneem of hulle bereid sou wees om aan die navorsing deel te neem. Tydens die eerste gesprek is die begrip seksuele verslawing verduidelik en belangrike aspekte rakende die aard en doel van die navorsing is aan die deelnemers meegedeel. Die navorser het seker gemaak dat die leraars die begrip seksuele verslawing in die konteks van die studie en die aard en die doel van die navorsing verstaan.

Tydens die tweede fase is die deelnemers gevra om 'n ongestruktureerde vraelys, wat in samewerking met die studieleiers opgestel is, skriftelik te beantwoord (sien

Bylaag I). Die vraelyste is per e-pos gestuur en hulle is versoek om die vrae so

volledig moontlik te beantwoord.

Die inhoud van die vraelyste is soos volg:

1. Moes u al in u bediening as leraar hulp aan lidmate verleen wat met seksuele verslawing worstel?

2. Indien wel, sou u die verskynsel as algemeen of ʼn uitsondering beskryf? 3. Gee asseblief ʼn aanduiding van hierdie persone se profiel met betrekking tot

ouderdom, geslag, beroep, sosiale omstandighede, ens. 4. Beskryf die simptome wat hierdie persone openbaar. 5. Beskryf u begeleiding aan hierdie persone.

42

7. Was dit vir u nodig om die persone vir verdere begeleiding te verwys? 8. Na u oordeel, wat sou u as die hoofoorsaak(e) beskryf wat tot seksuele

verslawing aanleiding gee?

9. Is daar enige voorsorgmaatreëls in plek gestel, nadat die begeleiding gestaak is, om ʼn terugval te voorkom?

10. Beskryf asseblief die effek van die seksuele verslawing op die gesin van die verslaafde persoon. Word die gesinslede by die begeleiding betrek?

Die derde fase was om deur middel van gesprekvoering met die leraars opheldering van gegewens van die response in die vraelyste te verkry of om sodoende verdere inligting oor die saak te bekom. Hierdie gesprekvoering is met toestemming van die deelnemers vasgelê. Tydens en net na afloop van die gesprekvoering, het die navorser aanvullende aantekeninge oor die volgende aspekte gemaak:

 Sekere aspekte wat as belangrik beskou is, is aangeteken en verdere vrae is tydens die gesprekvoering daaroor gevra.

 Emosionele nuanseringe by deelnemers is aangeteken, aangesien dit belangrike inligting oor die belangrikheid van aspekte van die deelnemers se stories kon aandui.

 Die navorser het voorkeur aan "wat" en "hoe" vrae gegee aangesien "waarom" vrae 'n negatiewe reaksie kan ontlok wat daartoe kan lei dat die deelnemers moontlik nie 'n vraag eerlik of volledig beantwoord nie.

 Na elke onderhoud het die navorser notas van sy eie belewenisse en waarnemings gemaak wat tydens die onderhoud gemaak is asook moontlike sterk- en swakpunte van die onderhoud en moontlik bruikbare inligting vir die beradingsvoorstel gedoen.

Die gesprekke het in lengte gewissel, maar die gemiddelde tydsduur was 45 minute.