• No results found

Sam Black se model

3.2 INLEIDENDE PERSPEKTIEWE

3.2.8 Sam Black se model

Sam Black is een van die outeurs wat by die organisasie, Covenant Eyes, betrokke is wat ʼn uitgebreide webblad het met talle hulpbronne wat op navorsing rondom seksuele verslawing en pornografie gebaseer is. Black (2013:30) stel dat om slegte gewoontes soos verslawings te oorkom, moet daar nuwe en positiewe gewoontes gevestig word en dit sal weer tot gewoontes van vryheid lei. Om bloot te probeer om slegte gewoontes te vermy, lei tot mislukking aangesien die baie tyd wat spandeer word om byvoorbeeld pornografie te probeer vermy, kan juis die stimulus word wat al die gestoorde herinneringe aan beelde, video's en ontmoetings in die verlede na die oppervlak bring – dit kan op sigself weer tot angs en spanning lei omdat al hierdie gestoorde herinneringe as’t ware smeek om ten volle vrygelaat te word (Black 2013:29-30). In die lig hiervan is Black (2013:30) van mening dat ʼn model daargestel moet word om die ou paaie wat na verwoesting gelei het, na nuwe paaie te herlei waar nuwe en positiewe gewoontes gevestig word. Met oefening, geduld en deursettingsvermoë kan vryheid van pornografie ʼn nuwe realiteit wees.

In sy voorgestelde model, beskryf Black (2013:31ev.) die volgende stappe as deel van so voorgestelde helingsproses vir die seksueel verslaafde:

- ʼn Gedetermineerde besluit:

Om by ʼn gedetermineerde oomblik van beslissing te kom, moet daar 'n duidelike besef en 'n gefokusde doel wees. Die herstel van pornografie benodig dus 'n krisismoment, iets van die ervaring wanneer iemand koue water op jou uitstort, 'n wekroep, 'n lyn wat in die sand getrek word, met ander woorde ʼn waterskeidingsmoment. ʼn Duidelike besef en begrip is gevolglik nodig om te verstaan dat pornografie die probleem is en dat een of ander wyse van ontsnapping vanuit hierdie valstrik moet plaasvind. By die seksueel verslaafde moet dus 'n 180- grade houdingsverandering in die rigting van herstel plaasvind. ʼn Goeie wenk met betrekking tot hierdie aanvanklike fase is om die seksueel verslaafde aan te moedig om elke keer die spesifieke verskoning neer te skryf wat die afgelope 24 uur by hulle opgekom het, waarom hulle nie met hierdie proses kan volhard nie. As hierdie verskonings uiteindelik uit die weg geruim is, het die persoon reeds ʼn groot tree vorentoe gegee.

85 - Doelwitstelling:

Elke aksieplan het 'n vertrekpunt en daarna genoeg tyd nodig om die finale doelwit te bereik. Die seksueel verslaafde wat verbind is om vanuit die strik van pornografie te ontsnap, moet ook doelwitte stel. In 'n oomblik van moedeloosheid sou die persoon wel kon sê: "Ek kan nie meer nie. Ek gaan opgee". Toewyding en gedetermineerdheid is egter van kardinale belang. Daar kan byvoorbeeld 'n kalender gebruik word en 'n 90-dae doelwit geformuleer word, waartydens alle betrokkenheid by pornografie en masturbasie totaal gestaak word. Die persoon sou die kalender op hul slimfoon of rekenaar kon gebruik, maar dit is meer raadsaam om ʼn gedrukte kalender te gebruik waarna hulle elke dag kan kyk. Datums van viering en mylpale moet ook aangeteken word om vordering te erken. Verder kan positiewe belonings, soos lekkernye of ander trakterings (soos dit van persoon tot persoon mag verskil) gebruik word – die belangrike punt is egter dat daardie mylpale erken en beloon sal word. Die langtermyn doelwit is om die seksuele gedrag heeltemal te termineer en die 90-dae periode dien as die aanvanklike bevestiging dat dit wel moontlik is.

- Mislukking is nie ʼn opsie nie:

As die seksueel verslaafde misluk, moet hulle let op hoe die terugval plaasgevind het en in die toekoms poog om dieselfde slaggate en snellers te vermy. Soms is dit nodig om weer na ʼn 90-dae plan terug te keer – daar moet egter nie moed opgegee word nie.

- Weerhouding:

Die verslaafde kan 'n 90-dae onthoudings kontrak onderteken, wat daarop neerkom dat geen selfseks en ook geen seks binne die huwelik beoefen moet word nie. Hierdie onttrekking vanaf seks vind in volle samewerking en oorleg met die huweliksmaat plaas. Die huweliksmaat is dus van die begin af deel van die terapeutiese proses en begryp ook dat hierdie onttrekking vir 90 dae hoofsaaklik op die verbreking van die verslawingsiklus gefokus is sodat daar na hierdie 90 dae weer met ʼn normale seksuele verhouding voortgegaan kan word soos wat God dit oorspronklik vir die huwelik beplan het. Paulus meld hierdie onttrekking in 1 Kor 7:5:

86

Onttrek julle nie aan mekaar nie, behalwe met wedersydse ooreenstemming vir ʼn tyd lank om julle aan vas en gebed te kan wy; en kom weer bymekaar, sodat die Satan julle nie in versoeking bring deur julle gebrek aan selfbeheersing nie.

In hierdie geval vind daar dus ook wedersydse ooreenstemming plaas en na die 90 dae kom die egpaar weer in terme van seksuele intimiteit bymekaar. Hierdeur leer die seksueel verslaafde wat ware intimiteit is. Die huweliksmaat is uiteraard deel van hierdie proses en moet ook ten volle verstaan waarom dit nodig is.

- Skoon rekenaars en mobiele toestelle:

Negentig dae blyk ʼn steil opdraande vir die seksueel verslaafde te wees en indien daar nie ʼn 100% verbintenis tot die proses is nie, is dit tot mislukking gedoem. ʼn Gebrek aan toewyding en verbintenis sou byvoorbeeld kon impliseer dat daar geheime wegsteekplekke is – alle sodanige wegsteekplekke moet egter van die begin af openbaar gemaak word en alle ‘ontsnappingsroetes’ en planne moet na die lig gebring word. Verder moet alle pornografie, sowel as ander verwante mediums vernietig word.

- Nuwe gewoontes, nuwe breinbane en dopamien belonings:

Bloot die vermyding van pornografie is nie voldoende op sigself nie, maar die vestiging van nuwe en positiewe aktiwiteite is ook nodig. Die neurologiese konsep van ‘gebruik dit of verloor dit’ is hier van toepassing, met ander woorde, indien die aktiwiteit vermy word sal die impak gaandeweg afplat. Hiermee saam moet nuwe, positiewe en belonende gewoontes gevestig word. Dit is nie ongewoon dat seksueel verslaafdes ook in ander vorme van verslawings vasgevang raak nie, ten einde ontvlugting vir oorweldigende emosies te soek. In die lig hiervan sal so persoon aangemoedig word om onder andere ʼn nuwe stokperdjie te vestig, soos byvoorbeeld gereelde fisiese oefening wat die voordeel van gereelde afskeiding van dopamien en endorfiene, inhou. Aanmoediging tot sulke positiewe gewoontes is sinvol, omdat dit ook nuwe groei stimuleer. Dit aktiveer gewoonlik ook nuwe groei ten opsigte van neurale verbindings. Wat ook al die belonende aktiwiteit is wat nagestreef word, moet dit 'n aktiwiteit wees wat herhalend is, aangesien nuwe belonende neurale bane tyd en deurlopende herhaling vereis. Verder moet sulke nuwe positiewe gewoontes wys gekies word, aangesien plekke soos byvoorbeeld

87

uitdagende flieks en openbare strande (waar seksuele versoekings kan flikker) tot versoekings kan lei.

- Toepassing van die drie sekonde reël wanneer snellers geaktiveer word:

Black (2013:36) wys ook op die volgende stukkie praktiese raad wat gewoonlik drie stappe impliseer op die oomblik dat die verslaafde ervaar dat daar ʼn versoeking is:

Alert:

Besef dat jy iets onvanpas sien – dit mag enkele sekondes neem om 'n aanloklike situasie te herken.

 Avert:

Maak jou oë toe of kyk weg. Hierdie eerste twee stappe moet oombliklik wees.  Affirm:

Gee jouself 'n klop op die skouer en sê vir jouself, "Ek het dit per ongeluk gesien

en ek het vinnig weggekyk. Ek is reeds ‘skoon’ vir x aantal dae en ek is gedetermineerd om te volhard."

- Skoon gedagtes:

Onvanpaste gedagtes kan met positiewe gedagtes bestry word, soos om aan 'n nuwe stokperdjie te dink, musiek te speel, 'n inspirerende aanhaling te lees of enige ander positiewe aktiwiteit te herhaal. Geestelike en fisieke ontsnaproetes moet vooraf voorberei en bedink word, ten einde rein seksuele denke te bewaar. Elke keer as die versoeking teengestaan word, word die seksueel verslaafde se besluitnemingsmag sterker.

- Hantering van die pyn van die verlede:

Alhoewel ondoeltreffend en verslawend, word pornografie en masturbasie as 'n teenmiddel en ontvlugting vir pyn, angs, depressie, woede en ander ongesonde gevoelens gebruik. Hierdie emosies is dikwels diep in die kinderjare, tienerjare en selfs volwasse trauma gewortel waar misbruik en emosionele wonde toegedien is. Eerder as om pynlike herinneringe te begrawe, moet hierdie herinneringe na die oppervlak gebring word waar hulle bespreek en hanteer kan word. Hier sal ʼn goeie Christenberader ʼn belangrike rol kan vervul.

88 - Om voortaan paraat te wees (vigilance):

Die pad na herstel vereis om paraat te wees. Dit sal onder andere impliseer dat voldoende aandag aan aspekte soos fisiese sorg, goeie voeding, genoeg rus en ontspanning gegee word. Verder is ʼn positiewe lewensuitkyk, tesame met interaksie met opbouende vriende ook belangrik. Gereelde oefening hou die gedagtes meer gefokus, die liggaam gesond en dit verbeter ook slaappatrone. Die seksueel verslaafde wat in die herstelproses is, het gewoonlik ook talle vars herinneringe aan hul obsessies en hiervoor moet hulle in besonder op die hoede wees. Daarom moet alle leidrade, snellers en versoekings wat hulle daagliks in die gesig sou kon staar, vermy word. Verder moet die seksueel verslaafde ook bewus wees van mense, plekke en dinge wat in die verlede tot ongesonde gedagtes en blootstelling aan versoekings bygedra het. Dit vereis 'n persoonlike inventaris van alle moontlike situasies en snellers. Dit impliseer verder die daarstelling van gesonde grense, terwyl algemene paraatheid deel van elke dag se bestaan moet wees.

- Positiewe denke:

Die seksueel verslaafde moet aangemoedig word om op hul sterk punte, eerder as swakpunte en op optimisme, in plaas van pessimisme te fokus. Hierdie aspekte is belangrik aangesien dit ʼn positiewe rimpeleffek kan hê wat die seksueel verslaafde help om krisissituasies en probleme in hul lewens te konfronteer en te oorkom. Hierdie persoon moet verder ook alle gevoelens van ontoereikendheid om situasies te hanteer en te oorwin, met positiewe optimisme vervang – hier sou hulle aangemoedig kan word om byvoorbeeld hul sterkpunte en talente neer te skryf en dit vervolgens uit te leef en te beoefen.

- Totale vernuwing van denke – die brein is ‘plasties’ en kan verander:

Die brein kan wel verander en nuwe positiewe patrone kan gevestig word. Die term wat in hierdie verband deur die wetenskap gebruik word, is die ‘plastisiteit’ van die brein – dit impliseer dat dit voortdurend deur elke volgende ontmoeting en interaksie kan verander. Seksueel verslaafdes wat hulself gedurende die 90-dae van onthouding met 'n persoonlike hoop vir vryheid verdiep en tegelykertyd met ʼn kognitiewe herstruktureringsproses besig is, sal op hierdie wyse nuwe ‘bane’ in die brein vestig. So verandering kan innerlik nuwe en positiewe begeertes skep,

89

tesame met ʼn nuwe bevoegdheid en standvastige wilskrag. Elke seksueel verslaafde onderneem 'n unieke reis met individuele uitkomste en na ʼn jaar of langer van vryheid, hanteer heelparty van hierdie persone hul seksuele begeertes met positiewe vertroue, balans en selfversekerdheid.

3.2.8.1 Belangrike merkers vanuit die model van Sam Black

In die model van Sam Black is daar ʼn hele aantal sinvolle en praktiese stappe en aanbevelings wat in die algemeen baie bruikbaar sou kon wees. Die belangrikste in hierdie verband is die volgende:

- Die belangrikheid van ʼn waterskeidingsmoment.

- Die vestiging van positiewe gewoontes wat die belangrikheid van oefening, geduld en deursettingsvermoë insluit.

- Duidelike doelwitstelling, tesame met toewyding en gedetermineerdheid.

- Die aanteken van datums van viering en mylpale wat met positiewe belonings gepaard moet gaan.

- Die identifisering van slaggate, snellers en herhalende patrone wat neig om terugvalle te veroorsaak.

- Die waarde van ʼn 90-dae weerhouding kontrak.

- Vestiging van nuwe positiewe en belonende gewoontes. - Toepassing van die drie sekonde reël (alert, avert, affirm).

- Beplanning rondom nuwe geestelike en fisiese ontsnaproetes wat weer tot die versterking van besluitneminsgmag lei.

- Hantering van die pyn van die verlede – om die persoon se verhaal te kry.

- Motivering en toerusting met die oog op toekomstige paraatheid (emosioneel, geestelik en fisies).

- Toekomstige vermyding van alle potensiële snellers en versoekings – die neerlê van grense.

- Riglyne rondom die vestiging van positiewe optimisme.

- Totale vernuwing van denke – kognitiewe herstrukturering wat, as gevolg van die ‘plastisiteit’ van die brein, moontlik is.

90