• No results found

DIE NOODSAAK VAN 'N EMPIRIESE ONDERSOEK

3.5 'N VERGELYKING TUSSEN EMDR EN TPM

'N EMPIRIESE STUDIE OOR THEOPHOSTIC PRAYER MINISTRY(TPM)

4.2 DIE NOODSAAK VAN 'N EMPIRIESE ONDERSOEK

Die navorser het gekies om die handelingswetenskaplike benadering van die praktiese teologie in hierdie studie te volg (1.5.1). Een rede hiervoor is bloot omdat die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit, waar die navorser sy studie doen, graag by die handelingswetenskaplike model van Rolf Zerfass aansluit (vgl. De Wet, 2006:57). Die fakulteit hou egter nie die handelingswetenskaplike model as die enigste model vir die praktiese teologie voor nie. Lotter (2007:3-6) wys byvoorbeeld met sy intreerede op die modelle van Heitink en Getz as twee ander moontlikhede naas die van Zerfass en stel ook 'n eie model voor. Dit is egter insiggewend om te verneem dat praktiese teologie vandag hoofsaaklik binne die handelingswetenskaplike benadering bedryf word (Pieterse, Greyling & Janse van Rensburg, 2004:89, vgl. De Wet, 2006:59). De Wet (2006:60) spekuleer oor die rede waarom hierdie benadering soveel byval sou vind, en reken - waarskynlik heel tereg - dat dit 'n besondere raamwerk bied waarvolgens die teologiese tradisie, die praktyksituasie en die inset van ander geesteswetenskappe verreken kan word tydens prakties-teologiese ondersoek en vernuwing van die bedieningspraktyk.

Die een groot winspunt van die handelingswetenskaplike benadering, volgens die navorser, is dat dit die bedieningspraktyk baie duidelik onder die soeklig stel en laat meespreek in die vorming van teologiese praktykteoriee (Nel, 1991:30; Heyns & Pieterse, 1998:24-46). Nel (1991:30) stel dit soos volg:

Die praxis kan baie maklik as minderwaardig benader word. Binne die Gereformeerde tradisie met ons belydenis van die totale verdorwenheid van die mens (H K vrae 5 & 6) word die praxis van die mens, selfs die handelinge in diens van die Evangelie, by voorbaat as sondig en swak benader. ... Die saak waarom dit hier gaan is ... slegs om te beklemtoon dat in die beoefening van die Praktiese Teologie en die formulering van praktykteoriee dit absoluut noodsaaklik is om die praxis as gelykberegtigde vennoot in hierdie spannningsverhouding te erken.

Hierdie fokus op die bedieningspraktyk word dikwels afgespeel teenoor die diakoniologiese benadering wat die gevaar loop om in 'n "eenrigtingverkeer" beginsels vanuit die Skrif vir die praktyk te ontgin en dit via praktykteoriee na die praktyk deur te gee (vgl. Dreyer, 1999:53-54).

ondersoek word nie, dit daartoe kan lei dat nuwe voorstelle, suggesties en wenke vir die praktyk geformuleer word (in praktykteoriee) wat op ongekontroleerde aannames, vermoedens en spekulasies berus (vgl. Burger, 1991b:80; Pieterse, 1993:27; Dreyer, 1997:14-15). Die handelingswetenskaplike benadering verseker onder andere 'n "tweerigtingverkeer" tussen teorie en praktyk (Dreyer, 1999:54-57).

Aan die ander kant moet egter toegegee word dat die teoiogiese karakter van die praktiese teologie nie by die diakoniologiese benadering so maklik in die gedrang kan kom soos by die handelingswetenskaplike benadering nie, aangesien dit die Skrif as kenbron vir die teologie stewig omhoog hou (Janse van Rensburg, 2000:78; vgl. Dreyer, 1991:607-608). Die vraag na die norm van praktiese teologie is om verstaanbare redes 'n voortdurende brandpunt in die teoiogiese debat (vgl. Pieterse, 1993:100-103). Dreyer (1991:597-608) wys byvoorbeeld op die moontlike gevare in die empiriese teologie van Zerfass en medestanders, en stel 'n gewysigde model voor waarin die Woord van God nog duideliker die primere spreekstem het. De Wet (2006:79-84) maan ook dat verskillende nuanseringe en aanpassings nodig is alvorens die model van Zerfass met gerustheid in die gereformeerde perspektief benut kan word. Prof. Malan Nel, wat self die handelingswetenskaplike benadering benut (vgl. Janse van Rensburg, 2000:89), verdedig implisiet sy eie posisie deur die vertroue uit te spreek dat elke praktiese "teoloog wat God ... ernstig neem as die handelende Een wat met kerk en wereld op weg is," ook sy openbaring in en deur sy Woord met erns sal bejeen (Nel, 1991:32).

Die navorser berus by Janse van Rensburg (2000:89-89) - 'n diakoniologiese protagonis - se gerusstellende oordeel oor beide Zerfass se model sowel as die benadering van iemand soos Heitink. Volgens Janse van Rensburg is daar 'n gesonde wisselwerking tussen teorie en praktyk in genoemde model, terwyl daar tog genoegsame erkenning gegee word aan die teoiogiese tradisie. Hy oordeel verder dat Zerfass se model wegstuur van die onaanvaarbare radikale toepassing van die kommunikatiewe handelingsteorie en postmodernisme wat in sommige benaderings voorkom. Heitink is 'n praktiese teoloog wat wegbeweeg het vanaf die diakoniologiese benadering (Janse van Rensburg, 2000:90) en alhoewel hy nie die Bybel nie, maar die praktyk as sy vertrekpunt vir praktiese teologie neem, erken hy ook (genoegsaam - volgens Janse van Rensburg) die waarde van die Bybel in sy teoiogiese arbeid. Wat die beskouing van Heitink (1983:21) aktueel maak vir hierdie studie, is sy besondere siening oor die verhouding tussen openbaring en wetenskap. "Theoretically God's revelation precedes man's experience. Yet, from the point of man's realisation of God, experience precedes revelation. This implies that our experience should always be checked and corrected by God's Word; it also suggests that the point of departure for practical theology is man's experience." (Janse van Rensburg, 2000:90.)

Theophostic Prayer Ministry - wat in 'n pastorale berader se praktyk ontstaan het en wat grotendeels rondom die ervaring van mense wentel - is in 'n proses van teorievorming, wat beteken dat die aandag toegespits word op die wisselwerking tussen die praktyk en teorie daarvan. Aan die een kant kan geredeneer word dat daar reeds heelwat oor die praktyk van TPM geskryf is (vgl. Hoofstuk 2) en dat bloot 'n literatuurstudie nodig is om hierdie praktykbeen verder te ondersoek en uit te bou deur middel van 'n teoretiese proses (vlg. Pieterse, 1993:28). Aan die ander kant klink die gemelde waarskuwings dat as die praktyk van die kerk - en daarmee inbegrepe ook die pastorale geloofshandelinge daarvan - nie self behoorlik ondersoek word nie, kan dit daartoe lei dat nuwe voorstelle, suggesties en wenke vir die praktyk geformuleer word wat op ongekontroleerde aannames, vermoedens en spekulasies berus (vgl. Burger, 1991b:80; Pieterse, 1993:27; Dreyer, 1997:14-15). Die praktyk van TPM (vgl. Hoofstuk 2) moet dus self ook nagevors word en die aangewese weg is 'n empiriese ondersoek. Pieterse (1992:328, 334; 1993:190) beveel aan dat die praktiese teoloe self hierdie empiriese studies sal doen en dat hulle nie eenvoudig die navorsingsgegewens van ander geesteswetenskappe oorneem nie.

Sonder om op hierdie stadium verder aandag te skenk aan die diepere problematiek van die praktiese teologie soos wat Pieterse (1992:325-335), Venter (1992), Dreyer (1997:13-30), Janse van Rensburg (2000), Louw (2003:33-54) en De Wet (2006:57-87) dit byvoorbeeld blootle en aanspreek, word hier volstaan met die aanwysing dat 'n empiriese ondersoek noodsaaklik is om verder ondersoek te doen na wat die praktyk, teorie en filosofie van TPM werklik behels en of dit reformatories-Skriftuurlik suiwer is.