• No results found

HOOFSTUK 5 DIE PLAASLIKE BEVRYDINGSTRYD (SUID-AFRIKA), STREEKS

5.8 FW DE KLERK EN VEILIGHEIDSMAGTE/STEYN KOMMISSIE

PW Botha was Minister van Verdediging tot 1978. Hy was ook Eerste Minister en daarna tot 1989 Staatspresident. Heelwat navorsers en oud-soldate is tereg van mening dat hy die

SAW tot ʼn formidabele mag opgebou het (Esterhuyse 2009; Malan 2006). Hy het dit, veral met die hulp van mense soos Magnus Malan gedoen. Verder was hy intens betrokke by die wapenindustrie wat in die sanksiejare uitstekende wapens voorsien het. PW Botha – a

soldiers leader – was sigbaar by SAW-aktiwiteite en het buitengewoon baie vir hierdie

instansie gedoen.

Daar het ʼn persepsie onder sommige gewese veiligheidsmagte bestaan dat FW de Klerk en van sy luitenante die land ‘uitverkoop’ het. De Klerk self vermeld in sy boek dat hy deur PW Botha verkwalik is as sou hy tydens die WVK die veiligheidsmagte in die steek gelaat het (De Klerk 1998:373). Verder word die mening gehuldig dat hy self nooit die Weermag verstaan of ondersteun het nie. Enkele opmerkings ondersteun die stelling. De Klerk (De Klerk 1998:117), wat as Minister deel van die Staatsveiligheidsraad (SVR) was, erken in sy boek The last trek dat hy nie werklik deel van die Staatsveiligheidsraad gevoel het nie. Trouens, hy huldig die mening dat die Opskamer (operasiekamer) met al sy kaarte effe ‘oordrewe’ was. Sy aanname word bevestig deur Malan (2006:215) wat FW de Klerk beskryf het as ʼn ‘passasier’ tydens sittings van die liggaam. Dit impliseer dat FW de Klerk nie sinvolle bydraes tydens sessies gemaak het nie, deels omdat hy nie die ‘veiligheidsomgewing’ verstaan het nie en deels omdat hy nie werklik belanggestel het nie. Gevolglik kon hy nie sinvolle insette lewer oor operasies wat later skerp deur, onder andere, die WVK gekritiseer is nie. Hyself, terugskouend (p. 386) meen dat hy meer “vigilant”’ binne die liggaam sou gewees het tydens die PW Botha tyd as hy vandag sou kon kies. De Klerk (1998:114) meen in sy boek dat die klimaat rewolusionêr was. Die vraag onstaan of dit nie van kritieke belang was dat politieke leiers ʼn deeglike begrip van die funksionering van die Veiligheidsmagte en hul operasies moes hê nie, veral in so ʼn rewolusionêre klimaat. Chris Louw (2001:13) lewer grondige kritiek teen politieke leiers wat self geen militêre opleiding gekry het nie, se besluite. Hierdie besluite het die Veiligheidsmagte geraak, wat dit prakties moes uitvoer. Bothma (2012:101-113) wys daarop dat die Boeregeneraals, weliswaar in ander tye, nie net politieke leiers was nie maar inderdaad self die gevegsmagte aangevoer het. Byvoorbeeld, Louis Botha as Eerste Minister en Smuts, sy adjunk, het self die magte in 1914 teen die Duitsers in SWA gelei. Louis Botha het ook finaal die 1914-rebellie onderdruk deur self na Upington te gaan.

In moderne demokrasieë wêreldwyd is dit wel so dat geen staatsleier die magte aanvoer nie. Daarenteen is dit wel waar dat, byvoorbeeld, Fidel Castro, die leier van Kuba, ook ʼn briljante militêre strateeg was. Die Amerikaners weer heg baie waarde aan politici wat een of ander vorm van militêre diens gedoen het. FW de Klerk het redelik gou na sy aanstelling as president die Nasionale Veiligheidbestuurstelsel (NVBS) opgeskort, asook die kernvermoë

van die land prysgegee, aksies waarvoor hy gekritiseer is en wat hom as ‘sag’ laat voorkom het. Die een aspek egter wat veral die SAW negatief geraak het, is die sogenaamde Nag

van die Generaals.

Volgens Giliomee (2012:397) was Jannie Geldenhuys, Hoof van die SAW, bly oor die suiwering van die SAW se rol met die oorname van FW de Klerk. Die SAW is a-polities en dien die regering van die dag. Genl. Kat Liebenberg wat in 1990 as hoof oorgeneem het, was daarenteen erg skepties oor die ontbanning van die kommunisme – hy het na alles sy lewe daaraan gewy om kommunisme te beveg. FW de Klerk self was van mening dat die veiligheidsmagte te veel mag gehad het. Sy verhouding met hulle was volgens Pik Botha kil (Papenfus 2010:654). Volgens De Klerk was die Veiligheidsmagte soos twee honde wat te veel vryheid deur die eienaar gegee is en gevolglik amok in die woonbuurt saai (De Klerk 1998:264). Hy wou as nuwe eienaar dinge verander en daardeur sy gesag vestig (Papenfus 2010:654). Mandela het ook druk op FW de Klerk geplaas om die veiligheidsmagte te beheer. Nasionale Intelligensie (NI) het reeds in Januarie 1990 De Klerk oor onwettige militêre en polisieoptrede ingelig (De Klerk 1998:262). De Klerk (1998:204) het gevolglik Regter Louis Harms in 1990 aangestel om ʼn ondersoek na die bewerings in te stel. Die kommissie kon geen bewyse vind nie. Malan is na die Inkathagate-skandaal59 wat in Julie

1991 oopgevlek is, deur Roelf Meyer as Minister van Verdediging vervang.

Intussen het gerugte van ʼn sogenaamde derdemag die rondte gedoen. Veral Nelson Mandela het druk op FW de Klerk geplaas deur, onder andere, te beweer dat FW de Klerk dit self geïnisieer het. Regter Goldstone het op 16 November 1992 ʼn klopjag op die Direktoraat van Koverte-operasies, ʼn onderafdeling van MI (Militêre Intelligensie), uitgevoer (De Klerk 1989:262). Die klopjag het ondermeer bevind dat Ferdi Barnard, wat by die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) betrokke was, teen FW de Klerk se opdragte, weer aangestel is. Dan is daar ook gevind dat daar propaganda-aktiwiteite teen uMkhonto we

Sizwe (MK) was. FW de Klerk het gevolglik Genl. Pierre Steyn van Nasionale Intelligensie

aangestel om die bewerings te ondersoek. Militêre Intelligensie en Nasionale Intelligensie het nie oog om oog gesien nie. De Klerk wou sterk standpunt inneem teen elemente wat onregmatig optree en wat die onderhandelingsproses bedreig. Steyn het onder andere bevind dat daar wel ongemagtigde en onwettige aktiwiteite was (De Klerk 1998:262). Hierdie bevindinge was egter voorlopig en slegs mondelings alhoewel daar ʼn (tydelike/voorlopige) stafgeskrif opgestel was (Papenfus 2010:655). Sekere persone is geïdentifiseer wat betrokke sou wees by programme wat teen FW de Klerk se opdragte was. De Klerk het op

59Hiervolgens sou die regering klandestiene steun aan die IVP gegee het (De Klerk FW 1998:206). Malan maak ook hiervan

19 Desember 1992 ʼn noodvergadering van die kabinet belê. Die moontlikheid om, onder meer Genl. Liebenberg af te dank omdat hy teen FW de Klerk se opdrag om voormalige BSB-lede in diens te neem, inderdaad vir Ferdi Barnard aangestel het, was ʼn opsie. Iemand soos Minister Hernus Kriel het egter kapsie gemaak en genoem dat dit die SAW is wat dit moontlik maak vir die regering om te regeer en nie andersom nie (De Klerk 1998:265). Daar is ondermeer besin oor die moontlikheid van ʼn militêre staatsgreep. Tog is geoordeel dat dit nie sou gebeur nie. De Klerk het derhalwe generaals Liebenberg, Meiring en Van der Merwe gevra om self name te verskaf van personeel wat afgedank moes word. Hulle het 23 name gegee waarvan sommige nie eens op die aanvanklike lys van Pierre Steyn was nie. Tydens die Nag van die Generaals is die 23 senior offisiere afgedank. Uiteraard was baie ongelukkig hieroor. Hulle het gemeen dat die korrekte militêre prosedure sou wees om hulle te krygsraad (voor ʼn militêre hof te stel). Daar was selfs ʼn briewewisseling in die media tussen Genl. Thirion en FW de Klerk waarby Genl. Thirion ʼn skriftelike verskoning geëis het en dit van FW de Klerk gekry het (Papenfus 2010:654; Giliomee 2012:403). Waarskynlik wou laasgenoemde standpunt inneem en bewys dat hy in beheer is en nie sou duld dat teen sy opdragte opgetree word nie. De Klerk (1998:265) erken desnieteenstaande dat die SAW die regering se “ultimate power base” was, sou Operasie Vula van die ANC uitgevoer word, of massa-aksie handuit ruk of KwaZulu sou wou afskei.

Pierre Steyn was in ʼn baie moeilike situasie aangesien sy ondersoek nie afgehandel was nie. Hyself het erken dat die aantygings nog nie getoets was nie (De Klerk 1998:265). Hy is deur sy kollegas as ʼn verraaier beskou, deure is in sy gesig toegeklap en hy was gedwing om vroeg uit te tree (Giliomee 2012:404).

Ironies genoeg het Nelson Mandela self tydens ʼn debat met FW de Klerk voor die eerste verkiesing hom daarvan beskuldig dat hy nie genoegsame getuienis gehad het om die offisiere af te dank nie (Papenfus 2010:655). Dit was juis Nelson Mandela wat druk op FW de Klerk geplaas het om die sogenaamde derdemagbedrywighede te ondersoek (De Klerk 1998:242; Giliomee 2012:404). Ook die WVK het FW de Klerk voor stok gekry met ʼn soortgelyke aanklag (De Klerk 1998:375). Dit is dus duidelik dat Nelson Mandela die saak polities tot eie gewin uitgebuit het.

Nog ʼn aspek wat aangesny moet word, is die politieke bedreiging van regs. Constand Viljoen het in 1985 afgetree as hoof van die SAW. Hy was ʼn hoogs gerespekteerde en professionele soldaat (Giliomee 2012:406) maar betree die politiek toe hy by die Afrikaner- Volkstaatbeweging aansluit. Hy was van mening dat die ANC steeds ʼn rewolusionêre agenda gehad het en dat FW de Klerk naïef was en voor ANC-eise swig. Sommige het gereken dat hy tot 50 000 voormalige soldate sou kon mobiliseer. Sy plan was om De Klerk

te verwyder en van voor af te begin onderhandel. George Meiring wat Viljoen opgevolg het, het in 1993 die NP en ANC oor so ʼn moontlikheid gewaarsku. Volgens Meiring het Viljoen aan hom genoem dat ‘ons’ die land in ʼn middag kan vat. Meiring se antwoord was dat dit moontlik was maar wat sou hulle die volgende oggend doen? Die buitelandse druk, binnelandse onrus en stagnante ekonomie sou steeds onveranderd bly (Giliomee 2012:407). Intussen het Mangope van Bophuthatswana, wat gevrees het dat die ANC sy land wil oorneem, Viljoen om hulp gevra. Gevolglik het Viljoen in Maart 1994 4 000 gewese soldate gemobiliseer en na Bophuthatswana opgeruk. Die idee was dat hulle wapens by die Weermag van Bophuthatswana sou kry. Intussen het die AWB se ongedissiplineerde Ystergarde ook opgeruk en is van hulle mense deur Bophuthatswana-soldate doodgeskiet. In hierdie harwar het Viljoen, die gedissiplineerde soldaat, afgesien van sy plan en sy manskappe onttrek. Die wesenlike moontlikheid dat die SAW teen voormalige lede sou moes optree is afgeweer. Blank sou teen blank geveg het. Mens wil nie eens die gevolge daarvan oorweeg nie. Viljoen het ten einde laaste die politieke pad gekies. ʼn Nuwe alliansie, die Vryheidsfront, is gestig, vir die 1994-verkiesing geregistreer en die tussentydse grondwet laat wysig deur die moontlikheid van ʼn volkstaat in te voeg. De Klerk (1998:310) skryf dat Mandela die regse gevaar besef het en persoonlik met Viljoen onderhandel het. Mandela het, volgens De Klerk, Viljoen laat dink dat Viljoen eerder as hy (FW de Klerk), die regse Afrikaners verteenwoordig. Sou dit waar wees, en dit blyk so, was Mandela se strategie suksesvol, om nie net die bedreiging die hoof te bied nie maar ook die regsgesindes deel van die verkiesing te maak.

Malan (2006:218) reken ook dat FW de Klerk die SAW tot sy voordeel kon gebruik het in onderhandelinge. Verder meen hy ook dat die opsegging van die kernvermoë as ʼn hefboom gebruik moes gewees het in die onderhandelinge asook, byvoorbeeld, om wapens internasionaal te bekom.

Hierdie kort oorsig van gebeure in die politieke gang van Suid-Afrika is wel geskiedenis. Dit kan nietemin bydra om perspektief en insig te gee rakende die SAW-dienspliggenerasie.