• No results found

HOOFSTUK 1 INLEIDING: PROBLEEMIDENTIFISERING EN METODOLOGIE

1.8 OORSIG OOR HOOFSTUKKE

Hoofstuk 2 Bybelse imperatiewe vir heling en versoening

Die studie is nie ʼn Ou of Nuwe Testamentiese studie nie. Die vertrekpunt bly egter die Bybel en gevolglik is die studie deurentyd vanuit ʼn teologiese oogpunt bedryf. Gedeeltes wat handel oor die nuwe identiteit in Christus (Fil. 3), geregtigheid (Amos en Job 29 en 31), skuld

en versoening (Heb. 9), post-konflik tydperk (Ps. 85), vergifnis (Matt. 18), ballingskap (Jer. 29), verootmoediging (2 Kron. 14), patriotisme (Neh.) asook gedeeltes uit Levitikus wat handel oor regstelling en die Jubilee, kom sterk onder die soeklig. Daar is van die uitgangspunt uitgegaan dat werklike versoening slegs moontlik is deur mense wat in Christus nuutgemaak is. Hulle kan die Bybelse beginsels verstaan en dit kan bekragtig word deur die werk van die Heilige Gees in hulle lewe.

Verder is die definisie en model van heling en siekte bekyk veral vanuit Louw (2008) se perspektief.

Vervolgens is Van der Walt (2003) se model van versoening gebruik. Dit sluit, onder andere, aanvaarding van aanspreeklikheid; verootmoediging, belydenis en bekering; skuld; vergifnis en restitusie in. Verder spreek die navorser aspekte soos geregtigheid, patriotisme en die verhouding met die ‘ander’ aan.

Hoofstuk 3 Stand van navorsing

Tans is daar ook ander navorsing wat gedoen is of aan die gang is. Die studie bied kortliks ʼn oorsig oor onder andere die volgende: Boeke wat oor die tydperk geskryf is – hetsy wetenskaplik of populêr, oudiovisuele opnames wat gemaak is, televisieprogramme wat vervaardig is, onderhoude wat gevoer is, konferensies wat gehou is, inisiatiewe rakende versoening wat gereël is, instansies wat voortdurende navorsing doen oor onder andere geregtigheid en versoening asook veterane verenigings se handelinge word bespreek.

Hoofstuk 4 Die identiteit van die SAW-dienspliggenerasie

ʼn Kort oorsig oor die ontstaan van die Weermag asook die ontwikkeling tot diensplig word gegee. Die Afrikaanse deel van die SAW-dienspliggenerasie het egter ʼn bepaalde identiteit gehad, hetsy bewustelik of onbewustelik. Die identiteit is veral gevorm deur bepaalde historiese gebeure wat van geslag tot geslag ingeprent en oorgedra is. Uiteraard is dit veralgemening maar tog sal dit deur die grootste gedeelte van Afrikaners aanvaar word. Die identiteit is verder versterk deur bepaalde godsdienstige en teologiese invloede asook ideologiese strominge. Hierdie identiteit het ʼn bepaalde lewens en wêreldbeskouing gevestig wat aanleiding gegee het tot die skep en regverdiging van apartheid. Die identiteit is veral deur die ouerhuis, skool, kerk, kultuurorganisasies en politieke partye verskerp.

Hoofstuk 5 Die plaaslike, streeks- en globale (internasionale) konteks van die SAW- dienspliggenerasie

Die SAW-dienspliggenerasie van 1966-1989 het homself binne drie oorvleuelende kontekste bevind. Eerstens was daar die plaaslike bevrydingstryd in Suid-Afrika waar gestry is vir burgerregte. Tweedens het die SAW betrokke geraak by ʼn streekskonflik met bevrydingsgroepe in SWA/Namibië se anti-koloniale stryd. Die betrokkenheid in SWA/Namibië het hom ingetrek in die streekskonflik van nie net SWA/Namibië nie, maar ook van Angola. Hierdie streekskonflik was egter deel van die Koue Oorlog, ʼn groter globale konflik wat deur die groot moondhede, naamlik die USSR en onder ander die Verenigde State van Amerika en Groot Brittanje gedomineer is . Angola het die speelplek van die olifante geword wat die gras vertrap het ten koste van die plaaslike bevolking. Die beskrywing van die gedeelte is belangrik om perspektief op die konflik te plaas.

Hoofstuk 6 Tempe-skietinsident

Die insident wat in September 1999 plaasgevind het, vier jaar nadat integrasie van voormalige strydende faksies begin is, het talle laat wonder of versoening moontlik is terwyl die vrede maar broos was. Die gebeure is streng gesproke deel van die nuwe, geïntegreerde Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW). Wat egter van belang is, is die realiteit dat die lede wat geskiet is meesal deel was van die SAW-dienspliggenerasie. Die gebeure word kortliks weergegee, nie as ʼn historiese beskrywing nie, maar om die insident te konstrueer. Onderhoude is met naasbestaandes en ʼn paar sleutelrolspelers gevoer ten einde te bepaal of versoening wel bereik is. Die insident was ʼn naskok van ʼn konflik wat al vir baie jare geduur het.

Hoofstuk 7 Empiriese navorsing

ʼn Vraelys is opgestel wat bepaalde sake rondom die SAW-dienspliggenerasie aanspreek. Dit sluit kategorieë soos Afrikanerskap, militêre belewenisse, versoening, apartheid, geregtigheid, bevrydingsbewegings, nuwe Suid-Afrika asook hulle rol in die nuwe dispensasie in. Daar is aanvanklik gemeen om gebruik te maak van die sneeubalmetode. Die maklikste en gerieflikste was egter Facebook-groepe van veterane wat oorweldigend gereageer het. Een honderd nege-en-twintig (129) vrae is opgestel, verdeel in nege kategorieë.

Hoofstuk 8 Ontleding van empiriese navorsing

Waardevolle inligting is verkry wat ontleed en geïnterpreteer is. Die inligting is gebruik om die teorieë en aannames te toets. Die inligting, kennis en perspektiewe is in Hoofstuk 9 gebruik om die pad vorentoe te help aandui.

Hoofstuk 9 Die pad vorentoe (Quo Vadis?)

Die hoofstuk poog om na aanleiding van insigte van vorige hoofstukke aan te dui hoe die gewese SAW-soldaat gehelp kan word op die pad van versoening en heling. Weer eens is gekyk na modelle van heling wat die eksistensiële krisisse wat SAW-lede beleef, aan te spreek. Daar word kortliks weer besin oor Afrikaner-identiteit en hoe hedendaagse Afrikaners identiteit ervaar. Verder word daar gelet op ander lande en groepe wat self tye van ernstige konflik beleef het en tans daarmee worstel.

Sonder om by partypolitiek betrokke te raak, probeer die studie aandui hoekom Suid-Afrika nie kon voortgaan op sy gekose apartheidspad nie.

Vervolgens word Van der Walt (2003) se model van versoeningaspekte uitgelig en van toepassing gemaak op die SAW en die Afrikaner. Dit sluit onder andere aanvaarding van aanspreeklikheid; verootmoediging, belydenis en bekering; skuld; vergifnis en restitusie in. Laastens val die soeklig op aspekte soos geregtigheid, patriotisme, die rol van die kerke, storievertelling, en die noodsaaklikheid om die ‘ander’ te leer ken. Uiteindelik word die vraag gevra of die SAW-dienspliggenerasie met Suid-Afrika versoen is. Die studie poog om teologies te help om ʼn moontlike pad vorentoe aan te dui.