• No results found

HOOFSTUK 4 IDENTITEIT VAN SAW-DIENSPLIGGENERASIE

4.5 TEOLOGIEË, INVLOEDE EN RAAMWERKE WAT DIE AFRIKANER IDENTITEIT

4.5.2 Ander invloede wat meegewerk het tot Afrikaner-identiteitsvorming

4.5.2.4 Duitse invloed

ʼn Aspek wat dikwels ontken word of nie genoegsaam aandag kry nie, is die Duitse invloed. In die beginjare van die Europese nedersetting in die Kaap, was baie van Duitse afkoms.44

Hiermee word nie voorgegee dat die Afrikaner en die Duitsers se geskiedenis parallel en sinoniem is nie. Die Duitse kontakte en invloede word nietemin kronologies weergegee soos deur die navorser in die literatuur waargeneem. Pro-Duitse sentimente by die Afrikaner is moontlik die gevolg vanweë talle se sterk anti-Engelse gevoel, soos reeds vermeld.

Met die ontdekking van goud aan die Witwatersrand in 1886 was die meeste mynbase uitlanders (Bothma 2012:54). Dit het die Boererepubliek in konflik met die Engelse gebring. Paul Kruger, president van die ZAR, het gevolglik sy bande met Duitsland versterk en merk hieroor op: “As een nasie ons skop sal ander dit stop.” Verder het die Boererepublieke

ooreenkomste aangegaan waarvolgens wapens van Duitsland en Frankryk verkry is (Bothma 2012:66). In 1895 is ʼn traktaat van vriendskap met Duitsland gesluit. Tydens die Rebellie van 1914 wou Maritz Upington beset met behulp van die Duitse bevelvoerder van wat op daardie stadium as Deutsch-Südwestafrika (DSWA) bekend was. Upington is redelik naby die suid-oostelike grens van die gebied. Die bevelvoerder is egter inderhaas na die noorde ontbied vanweë vrese dat die Portugese vanaf Angola in die noorde SWA bedreig (Bothma: 2012:107).

Die grootste invloed op die Afrikaner is voor, tydens en na die Tweede Wêreldoorlog uitgeoefen. Bosch (1983) is hier ʼn belangrike bron. Hy (Bosch 1983:29) eien, naas

Reformed evangelicalism en Kuyperism, die Duitse invloed as sy derde faktor wat bygedra

het tot Afrikaner nasionalisme of “civic religion” soos hy dit ook noem. Opvallend is dat ook Asmal wat op die Duitse invloede gewys het, kwaai daaroor gekritiseer is en dit nodig geag het om in ʼn latere uitgawe kommentaar daarop te lewer in ʼn nawoord (Asmal & Roberts 1997:vii). Asmal se menings kom later weer ter sprake.

Bosch (1983:29) wys daarop hoe Neo-Fichteaanse Romantiese nasionalisme die grond voorberei het vir Nazisme. Fichte het transendentale idealisme gebruik om die glorie van die

44 Die navorser se ma se nooiensvan is Teichert, ‘n Duitse van. Sy oupagrootjie (haar oupa) het op 12jarige ouderdom,

saam met sy pa en oom vanaf Hamburg uit Duitsland in die land aangekom. Sy vertel hoe hy haar Duitse liedjies geleer het en ‘n Duitse klub in Pretoria besoek het. Hy is tydens die Tweede Wêreldoorlog geïnterneer aangesien hy nie van sy Duitse burgerskap wou afstand doen nie. Die navorser se vrou se nooiensvan is Hattingh, ook van Duitse herkoms.

Duitsers te beklemtoon. Hy was nie rassisties nie maar het die suiwerheid (purity) van die Duitsers beklemtoon. Klem is gelê op die eenheid van taal, kultuur en selfbeskikking. Ook Erasmus (2005:233) benadruk die standpunt:

Volgens Kuper (1994:539), Thornton (1988:20) en Wolf (1994:5) het die Duitse Romantiese tradisie gedurende die twintigste eeu ’n dominante vastrapplek in veral die Amerikaanse Antropologie gekry – tot so ’n mate dat die oorheersende standpunt oor kultuur in terme daarvan ontwikkel het. Hiervolgens is kultuur gesien as die organiese produk van ’n groep mense met taal as die unieke versinnebeelding van die karakter daarvan. Hierdie standpunt is/was sterk relativisties georiënteer, dit het kultuur gedefinieer as ’n duidelike, unieke, afsonderlike, historiese mag en dit is aanvaar dat kultuurkenmerke in ’n spesifieke geografiese gebied veranker en vermeerder. Kultuur was ’n volledige lewenswyse en het oor sy eie besonderse konfigurasie van waardes, insluitend ’n eie taal, beskik.”

Dit het die grond voorberei vir nasionaal-sosialisme en Nazi-Duitsland gedurende die 1930s. Bosch (1983:29), met Davies (1979:85) as bron, wys daarop dat prominente Afrikaners daar gestudeer het. Ook vooraanstaande teoloë soos Koot (JD) Vorster, broer van die latere Eerste Minister BJ Vorster, asook FJM Pogieter, wat per geleentheid apartheid as God se wil verklaar het, het daar gestudeer (Liebenberg 2010:251). Verdere inisiatiewe is deur die Broederbond geloods wat gereël het dat enkele studente studiemetodes in die opvoeding van die jeug moes navors (Wilkins & Strydom 2012:76). Onder hulle was Hendrik Verwoerd, Piet Meyer, Nico Diederichs en Geoff Cronje. Laasgenoemde het Tuiste vir die nageslag die lig laat sien. Die boek is opgedra aan sy vrou en ander Afrikaanse vrouens, want hulle, soos hy dit genoem het, is die bewaarders van die suiwer bloed van Afrikaners. Piet Meyer in ʼn artikel, Vooraand van ons vrywording (1941) wys hy op die nasionale idee wat begin posvat het teenoor die vorige eeu van liberale individualisme. Hy beklemtoon in die geskrif die organiese gemeenskap wat ʼn bepaalde taal, kultuur, land, tradisie, staat en bestemming het (cf. ooreenkoms met Fichte hierbo). Rakende sy denkrigting maak hy die skokkende stelling: “Purest manifestation in Italian Fascism and German National Socialism (1941:30). Victory is

imminent.” Op sy beurt laat Diederichs die lig val op nasionalisme as lewensbeskouing en

betoog dat net in die nasie ware vervulling te vinde is; liefde vir die nasie is die belangrikste; liefde vir die volk is liefde vir God; en die regering moet die gees van die mense weerspieël. Uit voorafgaande is dit duidelik dat die intellektuele raamwerk vir apartheid reeds voor die oorlog deur prominente en invloedryke Afrikaner-leiers in Duitsland waargeneem is.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het tot 300 000 Afrikaners hulle met die Duitse saak geïdentifiseer (Wilkinson & Strydom 2012:112). Dit was per se nie Nazisme in sy ekstreme vorme nie, maar het aanvanklik as ʼn anti-Engelse posisie begin.45 Die parlement het teen

die algemene verwagting in gestem dat Suid-Afrika deel sou word van die Geallieerdes (wat grotendeels deur die Engelse gelei is) om die Duitsers te beveg. ʼn Mens moet onthou dat die Rebellie ook nog vars in die geheue was. Die Rebellie van 1914 was juis gekant teen die inmenging en druk op die Suid-Afrikaanse regering om die Duitsers op aandrang van die Engelse uit SWA te dryf. Derduisende Afrikaners was lede van die Ossewa-Brandwag, ʼn pro-Duitse en anti-Semitiese organisasie. Nog ʼn beweging was die sogenaamde Gryshemde van Weichardt wat anti-Semities was (Van Wyk 1991:61). Van Wyk (1991:56) vertel van sy oom, ʼn NGK-predikant, wat beïndruk was met die Duitse doeltreffendheid en militêre vermoë na ʼn besoek aldaar. Die predikantsoom het swastikas op die grond geteken en die Heil

Hitler-saluut gegee. Afrikaners wat wel die oorlogspoging gesteun het deur by die mag aan

te sluit, is dikwels met vyandige oë skeef aangekyk (Van Wyk 1991:57). Verder het Radio Zeesen, ʼn Duitse radiostasie, anti-Britse en anti-Joodse propaganda na Suid-Afrika vanaf Duitsland in Afrikaans uitgesaai. Dit het bygedra tot ʼn pro-Duitse gevoel.46

Die deelname aan die oorlog het die Afrikaner erg verdeel. Smuts, wat die oorlogspoging gelei het, was in sekere kringe erg ongewild. Daar is gemeen dat dit England se oorlog is en is daar openlik met die Nazis gesimpatiseer (Wilkins & Strydom 2012:76). Subtiele propaganda is deur die Broederbond gemaak en studente is aangemoedig om in Duitsland te gaan studeer, soos reeds vermeld. Sommige persone was openlik pro-Nazi, onder andere enkele predikante asook heelwat onderwysers (Wilkins & Strydom 2012:77). John Vorster was assistent Hoofkommandant van die Ossewa-Brandwag, ʼn organisasie met sterk Duitse sentimente. Hy is tydens die oorlog te Koffiefontein geïnterneer. Asmal en Roberts (1997:32) haal Bunting (1969:96) aan wat John Vorster se opmerkings in 1942 weergee: “We stand for

Christian Nationalism which is an ally of National Socialism. You can call this anti-democratic principle dictatorship if you wish. In Italy it is called Fascism. In Germany it is called German National Socialism and in South Africa Christian Nationalism.”

Verwoerd het ook sterk Nazi-gesindhede gehuldig. As redakteur van die koerant Die

Transvaler, was hy verheug toe die Geallieerdes aanvanklik verliese gely het. Hy skryf soos

volg: “German victory wil free Boere from the yoke of British and Jews.” Hy is deur ʼn hof

45 Die navorser se skoonma se pa het ‘n groot portret van Hitler in sy huis gehad en hy was ‘n lid van die Ossewa-

Brandwag. Hy het as kind in ‘n kinderhuis op Ladybrand beland as gevolg van die Depressie.

skuldig bevind vanweë die Nazi-sentimente wat hy in sy koerant gehuldig het (Asmal & Roberts 1997:32).

ʼn Persoon wat homself geheel en al met Nazisme geïdentifiseer het, was die bokser Robey Leibbrandt.47 Hy het in 1936 aan die Olimpiese spele in Berlyn, Duitsland deelgeneem. Hy

was beïndruk met die Duitse nasietrots en dissipline. Hy is daar deur die Nazis gewerf om die oorlogspoging in Suid-Afrika te saboteer. Leibbrandt self noem egter dat hy Smuts om die lewe moes bring. Hy maak melding van sy kontak met die Ossewa-Brandwag, wat by hom wou weet of die Nazis wapens sou kon stuur (Leibbrandt 1961:115). Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die Ossewa-Brandwag gewapende aksie oorweeg het. Tog kon Leibbrandt en die Ossewa-Brandwag nie oor weg kom nie aangesien hy Hans van Rensburg gewantrou het. Leibbrandt (1961:122) skryf oor sy passie en sy strewe om onafhanklikheid vir die Afrikaner in ʼn nasionaal-sosialistiese staat binne die raamwerk van Adolf Hitler te bevorder. In anti-Semitiese gevoelens word Jode bestempel as die vader van die verpestende demokrasie en kommunisme. Hy reken dat hy geslaag het in sy pogings, aangesien duisende Afrikaners die ideaal van nasionaal-sosialisme as nuwe wêreldbeskouing deel (Leibbrandt 1961:191). Sy obsessie met Afrikanerskap, gevoed deur sy direkte kontak met Nazisme waar hy in die Duitse weermag as valskermsoldaat opgelei is, word so verwoord:

“Ek is niks, my volk is alles (p. 223); God met die Afrikanervolk. Lewe Blank Suid-Afrika, die vierkleur hoog’ (p. 231); Volk waaruit, waarin en vir wie hy gebore is (Leibbrandt 1961:232).

Hy oordryf waarskynlik as hy reken dat hy in sy missie geslaag het. Sy komplot om Smuts te vermoor het nie geslaag nie. Verder is hy gevang en ter dood veroordeel maar deur Smuts begenadig, waarskynlik omdat Smuts Leibbrandt se pa geken het. Ironies beweer Leibbrandt dat hy besonderse respek vir Smuts gehad het, wat hy beskryf as iemand met ʼn dinamiese persoonlikheid wat respek afdwing en vrees inboesem (Leibbrandt 1961:232). Leibbrandt word vrygelaat nadat die NP in 1948 aan bewind gekom het. Ook Labuschagne48

(2014) bevestig dat sy volk vir hom (Leibbrandt) alles was – ʼn aanduiding van ʼn fanatiese nasionalis wat eerstehands uitermate deur Nazisme gevoed is en daarvolgens gegroei het. Wilkins en Strydom (2012:78) se opmerking is gepas in die verband: “Racial separation

received new impetus from Nazism… Nationalists sympathetic towards ideas of pure Nordic race which would rule after getting rid of Jews and capitalists.” Malan het egter agter die

skerms teen die Ossewa-Brandwag geveg (Bosch 1983:32).

47 Max du Preez (Wilkins & Strydom 2012:xxxix) wys daarop dat Strydom wat ‘Super Afrikaners’ help skryf het ook ‘n boek

oor Robey Leibbrandt geskryf het, ‘For Folk and Führer’. ‘n Rolprent ‘The fourth Reich’ is ook oor sy lewe gemaak.

Dit is opmerklik dat veral Engelse veteraansoldate met hulle terugkeer van die oorlog af ʼn ooreenkoms gesien het tussen NP-beleid en die van die Nazi’s. In 1951 word die Torch

Commando deur oud-soldate gestig as ʼn anti-apartheidsaksie wat gepoog het om onder

andere byeenkomste van die NP te ontwrig (Van Wyk 1991:72).

Meyer, as Broederbondleier, moedig die Afrikaner aan om die minderwaardigheid, onvermoë, gebondenheid, uitbuiting en gedienstigheid teenoor die Engelse af te werp. Sy denke is in pas met die denke van Fichte wat ook sterk op die eie eer, geskiedenis, voorvaders, geskiedenis, geloof, opofferings, taal en ideale gefokus het. Gelykheid word bepleit vir die Afrikaners teenoor die Jode en Engelse (Wilkins & Strydom 2012:342).

Die invloed van nasionaal-sosialisme en Nazisme in Suid-Afrika sou aanhou lank na die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Alhoewel dit getemper is deur die protes en beswaarmakings van die wêreld en veral Europa teen sulke ideologieë, het die sentimente in ander vorme gebly (Asmal & Roberts 1997:172). Etniese suiwerheid het ʼn metafisiese basis verkry in Nazisme en die gedagtes het bly voortleef in Suid-Afrika (Bosch 1983:32; Smit 1983:147). Die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) met sy saluut en kenteken wat sterk herinner aan die Nazi-swastika, is maar een voorbeeld. Jode is verbied om aan die Transvaalse Nasionale Party te behoort, ʼn verbod wat in 1951 opgehef is (Asmal & Roberts 1997:after word vii).

Hoe beoordeel mens die Duitse invloed?

Dit is belangrik om daarop te wys dat daar nie ʼn gelykstelling tussen nasionaal-sosialisme, soos beoefen deur Nazisme, en Afrikaner-nasionalisme is nie. Eersgenoemde onder Hitler het gestreef na wêreldoorheersing en volksmoord (holocaust). Afrikaner-nasionalisme kan nie naastenby daarmee vergelyk word nie. Die koppeling is nietemin herkenbaar. Tog sal dit goed wees om te hoor wat Duitsers, wat teen Nazisme en die oorlog gekant was, te sê het. Dietrich Bonhoeffer, die briljante teoloog, midde-in die stryd oor die kerk se reaksie op, of ondersteuning al dan nie van Hitler, se standpunt is verhelderend. Hy was uiteindelik deel van ʼn komplot om Hitler om die lewe te bring, is gevang en tereggestel. Hy praat oor die Duitsers wat, myns insiens, treffende ooreenkomste met die Afrikaners toon:

Working upon confused emotions, National Socialists inside the Protestant denominations were beginning to distort the faith in order to accommodate within its framework the semi-religious mystique of National Socialism. Out of these politically oriented distortions, the so-called 'Faith Movement' was beginning to arise, whose members, later to be called the ‘German Christians’, were to play a

disruptive part in Church politics after Hitler came to power. The upholders of the Faith Movement declared that every nation should develop its individual form of the Christian Faith, for religion is rooted in the “soil” of the country and the “blood” of its people. The national faith of Germany was strong and heroic, God intended the Germans to unite under a powerful leader, to pour out their energy for the national good, and to keep the 'Aryan’ race to which they belong untainted of alien blood. Those who were later to become the ‘German Christians’ found a considerable attraction in these doctrines, which accorded so well with contemporary political emotions ... Bonhoeffer gave a sketch of the particular kind of religious militancy which attracted the people... (Bosanquet 1969:95).

Hierdie aanhaling spreek boekdele. Die aanloklikheid en verleiding van ʼn ideologie het ook die Kerk mislei. Die Kerk, ook in Duitsland, het kompromieë aangegaan en soms selfs die stelsel ondersteun. ʼn Teologie gefundeer op die grond en bloed van sy mense is nie langer suiwer nie. “German blood alone runs through German veins free from non-Aryan

contamination … in extreme cases we kill and drive out. Exclusion by elimination” (Volf

1996:74).

Dit is onbetwisbaar dat sodra die Christologiese oriëntasie prysgegee word en na ʼn nasionalistiese volksfokus verskuif word, word die wese van die evangelieboodskap gekompromitteer.

4.6 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is aangetoon hoe die identiteit van die Afrikaner gevorm is. Daar is gelet op die term identiteit. Gevolgtrekking: identiteit is nie staties, permanent of vas nie, maar kan verander en aanpas na gelang van historiese gebeure asook keuses. Die kwessie van die term Afrikaner, as gevolg van die assosiasie met die voor-1994 bestel, is bespreek. Dit blyk dat heelparty Afrikaners liefs ander terme, soos Afrikaanssprekendes, wat meer inklusief is, verkies, alhoewel ook dit nie algemeen aanvaar word nie.

Dit is moeilik om alle Afrikaners oor dieselfde kam te skeer, maar daar is tog bepaalde kenmerke waarvolgens hul identiteit gekonstrueer sou kon word. Histories beoordeel sluit dit die strewe na selfbeskikking, waaronder die Groot Trek as die Groot Storie aangedui kan word; laer trek in die aangesig van opposisie; die Slag van Bloedrivier met die voorafgaande Gelofte wat dien as bewys van Goddelike ingryping in die lotsbestemming van die Voortrekkers, asook die verbintenis van die gebeure met toekomstige geslagte; anti-Engelse sentimente wat ʼn hoogtepunt bereik het in die Anglo-Boereoorloë en daarna; ʼn sterk

godsdienstige toegewydheid met die kerk wat ʼn prominente rol gespeel het; die voortdurende stryd om voortbestaan in ʼn donker kontinent waar hulle in die minderheid was; die skep van helde om patriotisme en nasionalisme aan te wakker; ʼn beheptheid oor die handhawing van Afrikaans as taal; ʼn geneigdheid tot outoritêre optrede van die man se kant en ʼn kritieklose aanvaarding van gesag as komende van God; ʼn afskeiding van ander groepe net soos die Bybelse Israel; ʼn geneigdheid na verdeeldheid, of dit nou kerklik, polities of kultureel is; ʼn sterk liefde vir die natuur wat aangewakker is deur geslagte wat geboer het, vandaar die benaming Boer; die identifisering met die Europese stamlande; en laastens word die Afrikaner as gesinsmense gekenmerk.

Die agente wat gehelp vorm het aan die Afrikaner, was die gesin, Kerk, skole, politieke partye, kultuurorganisasies en organisasies soos die Broederbond, wat eintlik as die uitverkore geroepenes onsigbaar alle aspekte van Afrikaner-wees gestuur en bestuur het. Die Broederbond veral het die intellektuele raamwerk van Christelikheid en nasionalisme verskaf wat die regverdiging verskaf het vir die beleid wat uiteindelik as apartheid ook prakties beslag in Suid-Afrika gekry het. Die raamwerke was ʼn kombinasie van historiese gebeure asook ʼn vermenging van teologiese en ideologiese stukragte of strominge. Gewapen met hierdie identiteit aan die binnekant van die Afrikaner en die wapen in die hand, het die SAW-dienspliggenerasie die Totale Aanslae van binne en buite landsgrense tegemoet gegaan.